by

Bill Gates, kommunis, en ’n Yank se essay oor Die Antwoord

Januarie 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek sal netnou vir julle ’n idee gee hoekom Bill Gates ’n kommunis is en waarom Die Antwoord by Yale Universiteit nagevors word, maar eers: Ek het ’n ruk gelede pak gekry toe ek genoem het dat die kuns van die essay deur die blog vervang word. Hier is die blog waarin ek dit geskryf het.

  

Die vraag is natuurlik: Wat is ’n essay?

 

P. Haffter, voorheen ’n prof aan Unisa, het ’n baie insiggewende stuk geskryf in TT Cloete se Literêre Terme & Teorieë. Dié teks is deesdae grootliks onverkrygbaar, so ek gaan sy punte só opsom: 

  1. Die stam van hierdie begrip is die Latynse woord exagium, wat “bepeinsing”, “proefneming” of “probeerslag” beteken.
  2. Die Fransman Michel de Montaigne se “pogings” het, danksy ’n Franse fonetiese verbuiging van die Latyn, as Essais bekend gestaan. Hulle is in 1580 gepubliseer.
  3. Francis Bacon het reeds in 1597 ’n bundel Essayes or counsels civil and moral gepubliseer.
  4. Daniel Florio het Montaigne se werk in 1603 na Engels vertaal en hulle toe ook Essayes genoem, maar die Engelse en Franse baklei vandag nog daaroor of Engelse “essays” wel vergelyk kan word met Franse “essais” – albei partye dink skynbaar die antwoord is “nee”.
  5. Dit is dus moeilik om die essay te definieer.
  6. Haffter beweer dat talle mense in Afrikaanse essays geskryf het, sonder om hulle só te noem. In onse taaltjie het hulle bekend gestaan as “sketse, as briewe aan die pers of manifeste.”

Nou ja. Daar het julle dit. Die heel beste beskrywing van die essay kom, myns insiens, van ’n Duitser, A Gleichen-Russwurm, wat in Das literarische Echo geskryf het dat die skrywer van “Der Essai” nié ’n wetenskaplike betoog lewer nie, maar wel “gesels soos ’n gas in ’n voorkamer van ’n gekultiveerde huis.”

 

Bravo! Ek hou van die gesels-idee.

 

My kontensie is dat die bundels essays in die verlede soos kortverhale gebundel is en uitgegee is. Dié deel van my argument het dalk swak oorgekom, maar ek is bly dat dit debat ontketen het.

 

Petrus Pap het veral goeie argumente gehad. Hy het my verwys my toe na die WikiPedia se inskrywing oor die begrip blog.

 

Ek moet onmiddellik noem dat die WikiPedia vir my ’n vloekwoord is, want die meeste van hulle inligting berus op halwe waarhede en is geheel en al ongetoets. Petrus was egter korrek oor hierdie een, want die feite is, oor die algemeen, redelik netjies. Julle kan selfs gaan kyk na die Wiki inskrywing oor die essay, dit is óók taamlik deeglik.  

 

 Die voordeel van ’n Wiki-tipe teks is dat jy ’n veel breër insig kry oor die gemiddelde leser se idee – en dus definisie – van ’n onderwerp.

 

Die Wiki-teks noem byvoorbeeld dat essays nog baie gebruik word in toelatingseksamens in die VSA. Dit is korrek. Die feit is egter dat gemelde “essays” niks meer of minder is nie as die langvrae wat ons almal op skool moes beantwoord om matriek te slaag.

 

Waarom word daar dan so ’n ophef oor hulle gemaak op die Wiki? Wel, die rede is dat meer en meer assessering deesdae óf prakties is, óf per video en PowerPoint gedoen word. In Suid-Afrika geld die geskrewe “essay” nog in die meeste fakulteite, maar die alomteenwoordige selfoonvideo is hier ook besig om oor te neem.

 

Daar is ’n interessante kamee oor die toelatingsessay, en die teenpool, in die film Legally Blonde wanneer Elle Woods (die Reese Witherspoone-karakter) besluit om juis nié die essay te skryf nie, maar om haarself in ’n bikini te laat afneem terwyl sy met die fakulteit práát.

 

Die Amerikaners vind dit dus nodig om met hulle gebruik van die “essay” te spog – juis omdat dit minder en minder gebruik word.

 

Petrus Pap én Pruimtwak maak egter albei ’n baie belangrike stelling: Nie alle bloginskrywings is essays nie. Korrek. Ek vind egter wél dat daar sommige mense is wat so lekker met jou “gesels” op hulle blogs, terwyl ek só baie by hulle leer, dat ek nie anders kan nie as om my hoed vir hulle te lig.

 

Ek wil Berwick se blogs as ’n vreemde voorbeeld noem. Berwick skryf soms redelik min, maar die meeste van sy blogs is vreemde klein kunswerkies – ons sou sommige van hulle moontlik foto-essay kon noem. (Oor die foto-essay kan ek passievol raak, maar dis ’n ander aand se gesels.)

 

Oor wat ’n blog nou eintlik is, kan ons óók nog lank gesels.

 

Ek wil egter opsom: Die essay is moontlik iets wat jou laat dink, maar dis nie ’n akademiese artikel nie. Wanneer die Wiki-insksrywing oor die essay dus begin gesels oor “academic papers” en “discussion papers”, verloor hulle, myns insiens, die plot.

 

Mag ek julle dus bekendstel aan twee akademici wat blog en, myns insiens, inskrywings pleeg wat baie na aan essays is – indien hulle nie reeds essays is nie.

 

Die eerste is van Bert Olivier, ’n filosoof aan die Nelson Mandela Metropolitan University. Bert kan geweldig interessant gesels oor films, boeke en filosofie. Soms is sy goed taamlik akademies, maar dis altyd só dat ek dit ook kan verstaan. (En Bert word gewoonlik opgemerk in die nabyheid van ’n baie mooi vrou, wil ek tong in die kies noem. Hy’s nogal ’n babe-magneet…)

 

Dit is Bert wat vir ons vertel hoekom hy na Bill Gates en George Soros verwys as “liberal communists”. Dit klink gek, nie waar nie?

 

And yet, as every lover knows, Shakespeare’s “sweet sorrow” of Romeo and Juliet’s parting is all too real. So, too, the fact that liberal communists, who ironically call themselves by that phrase, are an all too tangible part of our world.

 

Lees gerus self die res. Dit ís baie interessant en handel oor ryk sakemanne wat ook filantrope is.

  

Die tweede blog waarna ek wil verwys lees dalk effens makliker, maar bly steeds ’n akademiese geselsie oor kopiereg. Ene Vance W, van Yale Universiteit (in die VSA) is gefassineerd deur Die Antwoord. Hy beskryf “Enter the Ninja” soos volg:

 

The visual makeup of their debut video “Enter the Ninja” is a hellish mix between the visuals of Roger Ballen and some sort of psychiatric ward version of a Keith Haring mural.

 

Hier is die res van die blog. Daar is foto’s in om sy standpunt te verduidelik.

 

Ek dink sy laaste twee sinne moet ek ook uitlig:

 

As Umberto Eco wrote in Postscript to the Name of the Rose “I think of the postmodern attitude as that of a man who loves a very cultivated woman and knows he cannot say to her, ‘I love you madly,’ because he knows that she knows (and that she knows that he knows) that these words have already been written by Barbara Cartland. Still, there is a solution. He can say, ‘As Barbara Cartland would put it, I love you madly.’”

 

Roger Ballen het, terloops, die regie behartig van Die Antwoord se “Wat Pomp”. Om meer oor hom te lees, hier is sy webruimte.

 

Keith Haring se werk is gewoonlik taamlik bont (Ballen is altyd donker en strak), maar van Haring se later werk het ook met monochromatiese effekte begin speel. Hier is Haring se webruimte.

 

Ek raak nou lankdradig. Ek sal probeer om more vir julle aan ’n aantal boeke bekend te stel wat moontlik toon die gedrukte essay is nog nie dood, maar wel op die rooidatalys.

 

Intussen sal ek maar aanhou om uitstekende blogs te lees.

 

Maar wat is ’n blog? Dis ’n ander dag se gesels!

2 antwoorde op Bill Gates, kommunis, en ’n Yank se essay oor Die Antwoord

  1. Neander het gesê op Januarie 5, 2011

    Goeie stuk.
    Of Bill Gates en Warren Buffett kommuniste en/of filantrope is, weet ek nie. Maar wat ek wel weet is dat hulle so baie geld maak dat dit hulle gewetes aankla en hulle sakkke brand.
    So hulle skenk baie vir allerhande sake, en beplan vir minder boedelbelasting ens.

    Ek dink jou opsomming van ‘n essay is dalk korrek.
    En ‘n blog is ‘n allegaartjie wat ook sy oorspronklike doel verloor het, want hier kry ons liefdes- en oorlogsverklarings in een.

    Geen kritiek, maar jy skryf bietjie lank:-)
    Split jou onderwerpe.

  2. mapome het gesê op Januarie 5, 2011

    Hi Izak,
    dis lekker om jou skryfwerk te lees. Hou so aan!

    Op skool was essay skryf altyd vir my lekker, dis jammer dat mens dink die kuns van essay skryf is besig om uit te sterf, maar ek dink tot ‘n mate is daar ‘n stukkie waarheid daaraan.

    @Murphy, dit wat jy sê is baie waar. Lesers is bang vir lang stukke lees, hulle sal eerder 10 kort stukkies lees as 3 lang stukke. Die probleem kom dat wanneer ‘n mens dan ‘n langer stuk skryf of blog, dit so damn goed geskryf moet wees dat dit die leser ingryp en verplig om die hele stuk te lees. Ek vind dat skrywers dan dikwels tot geweldige lengtes gaan om lesers te lok deur skokkende dinge te sê in hulle openings paragrawe, wat hulle nooit werklik verduidelik nie.

    Die feit dat mense huiwer om lang stukke te lees lei dan ook tot tydskrifte wat slegs gevul is met brokkies inligting. Mynsinsiens lees met brokkies slegs op die toilet.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.