Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

by izakdv

The Book Thief deur Markus Zusak

Desember 31, 2010 in Sonder kategorie

Ek het pas een van die groot boeke van ons huidige eeu gelees. The Book Thief deur Markus Zusak. Ek weet die eeu is nog jonk, maar hierdie een gaan op my lysie bly.

The Book Thief handel oor Nazi-Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Dit vertel die verhaal van ’n aantal brandarm Duitsers wat nie wou gehoor gee aan die drome van die meesterras nie.

Ja, hierdie Duitsers is ménse. Hulle ly onder Hitler. Hulle kry swaar vir die Jode se onthalwe.

Net soos daar in Suid-Afrika mense was wat al die jare die gekheid van ’n Afrikaanse Meesterras teëgestaan het, so was daar van hulle in Duitsland ook.

Ek kan nie werklik die boek resenseer nie. Ek kan net noem dat ’n Duitssprekende vriend en sy Indiese vrou dit gelees het toe hulle onlangs by ons gekuier het. Hulle was in vervoering en het nog ’n kopie gekoop wat hulle vir ons gegee het.

Ek kan verstaan hoekom. Dit is ’n meesterwerk.

Wees gewaarsku dat ek die eerste drie hoofstukke uiters irriterend gevind het – tot ek die spel begin verstaan het.

Hierdie jaar was wonderlik, maar ek het té min gelees en té min geskryf. Ek hoop dat ek én julle meer tyd gaan hê om te lees in 2011.

Mooiloop!

by izakdv

’n Kersstorie

Desember 25, 2010 in Sonder kategorie

Wees asseblief gewaarsku: Die volgende storie is nie vir sensitiewe lesers nie. Vir ’n sagter storie, lees liewer die Kersverhaal wat ek tien jaar gelede geskryf het: http://www.oulitnet.co.za/fiksie/idevries3.asp

 

Verduidelikende notas volg ná die verhaal.

____________________________________________________

Die rooibeksysie

Eers as betaalde hoer kon sy Kersfees geniet. Nie dat haar eerste Kersfees as de facto bene-oopmaker minder seks opgelewer het nie. Geensins. Maar sy het dit geniet. Nie juis die seks nie. Die Kersfees wel.

Eintlik begin ons nou by die einde. Die gelukkige einde.

Om die einde te verstaan, moet ons egter teruggaan na ’n ongewoon warm wintermiddag in die Boland.

***

Die begin van haar gelukkigste Kersfees tot op hede was taamlik vreemd. Die dokter het haar gevra om hom te ontmoet in die teekamer. Hy was vriendelik, maar het dit duidelik nie geniet om met haar opgeskeep te sit nie. Dié teekamer het hy aanvanklik gekies omdat hy gemeen het dat sy gesiene pasiënte, die waarvoor hy omgee, waarskynlik nooit hierheen sal kom nie. Die dilemma is egter dat hy té laat besef het dat manne júís hierheen sal kom om maklike meisies op te tel. En nou sit hy hier saam met ’n tert van digby die sewentien met ’n bek wat só dik aangeplak is van die lipstiffie dat haar intensies skynbaar redelik duidelik is. Die kort rokkie help ook nie juis nie.

’n Lui vlieg het op die plastiekblomme kom sit. Die plastiektafeldoek se rooi blokkies was eens op ’n tyd so rooi soos die meisiekind se lippe en die wit so wit soos haar boudjies, daar waar die bikini nog toemaak. Die dokter weet, hy’t haar al meer as een keer ondersoek. Afgeneem ook.

Sy kyk op na hom. Daardie oë. Hemel tog. Dís wat hy van haar afgeneem het. Haar oë, al moet hy ruiterlik erken dat die res van die lyf vir hom baie begeerlik is.

Bokkie-oë. Bokkie wat smeek “moenie my huis afbrand nie”.

“Vertel my van Chris.”

Hy wonder of Chris oud genoeg sal wees om die bokkie te onthou.

“Wel… Hy’s ryk. Dis een van die redes waarom hy in die transaksie belangstel.”

“Is julle reg om te bestel?” vra die kelnerin.

Die dokter se wenkbroue lig en die meisie vra vir hom, nie die kelnerin nie: “Mag ek rooi koeldrank kry?”

Rooi koeldrank. Hemel. Rooi koeldrank en skoolmeisies. Hoe onskuldig kan ’n kind wees ná sy al sóveel mans gelukkig gemaak het?

Hy knik.

“En dogter?” vra die kelnerin. Dogter. Dan het sy hom reeds herken. Die dekor sê dat jy niks in hierdie plek koop wat nie voorafverpak is nie, so hy bestel ’n Coke.

“En sy vrou?”

Dié keer kyk die meisie hom nie weer in die oë nie. Haar vinger begin streel oor die stof op die verblykte plastiekblaartjies. Dit laat die vlieg gesteurd opvlieg.

Sy’t lank vingers, amper deurskynend. Toe hy haar die eerste gevra het om kaal te poseer, het hy haar aangesê om haar bene kuis weg te draai, die hande beskermend oor die borsies te plaas en reguit vir hom te kyk.

Hy het die fokuspunt in die boonste, regterhoek gesit en die rooi kolletjie tussen haar oë laat brand toe hy die knoppie gedruk het. Die 24 mm-lens het gemaak dat haar oë ten volle in fokus is, maar die res van die lyf is effens sagter. Haar lang, dun vingers wat die parmantige borste bedek, is egter steeds duidelik.

Dit was hierdie foto wat hy aan Chris gestuur het.

“Haar naam is Selina. Sy’s mooi. Jy sal van haar hou. Sy’s ’n rekenmeerster. Baie slim.”

Na ’n kort rukkie voeg hy by: “Julle twee moet dit maar uitpraat, maar sy’s oulik. Ek hou van haar.”

Haar vingers maak die verbleikte blaartjies een-een skoon.

Hy’t al talle vreemde goed gedoen tydens sy loopbaan, maar iets wat vergelyk kan word met kinderprostitusie is nuut.

Van Chris en Selina het hy gehoor by ’n opskerpsessie. Een van sy stadskollegas het ’n praatjie gelewer oor alternatiewe huwelike – veral in die lig van vigs. Dié twee is voorgehou as ’n paartjie wat dit regdoen.

Daarna het hy die egpaar ’n slag genooi om met ’n paar van sy pasiënte te kom praat. Dit was ’n privaatsessie, by hom aan huis. Hy het meer van hulle gehou as wat hy ooit kon droom.

***

Chris gaan nou-nou by daardie deur instap. Dalk moet ons dus die meisie se storie ’n endjie verder terug gaan haal. Twee Kersfese gelede. Sy was al veertien en oud genoeg om die woord Kersfees te háát.

Die paar eenvoudige geskenkies – sokkies, skoolskoene, ’n T-hemp as sy gelukkig is – was nooit genoeg om die walging van dag weg te neem nie.

Klippies en Coke, by die liter, is in die grootmense se kele afgesmyt. Sy en haar halfboeties was slawe wat moes aandra, bontstaan en slae verduur – om van die woorde nie te praat nie.

Daardie middag was haar een oom daar. Hy was teen laatmiddag nog in staat om op sy bene te staan en hy’t haar badkamer toe gevolg…

Sy’s alleen dokter toe die volgende oggend, want sy wou nie ’n baba hê nie. “Ek het nie geld nie, oom,” was haar eerste woorde. “Maar ek wil eendag wegkom. Ek wil universiteit toe gaan. Ek wil nie ’n baba hê nie.”

Daar was maatskaplike werkers, selfs polisie. Haar pa-hulle het kennis geneem, maar dinge het nie veel verbeter nie.

Die dokter het uiteindelik aan haar gesê: “Jy’s altyd welkom. Kom sê as jy ooit weer hulp nodig het.”

***

Op klein dorpies dra mense baie hoede en hy, die dokter, is ook die plaaslike fotograaf. Dié meisie het ’n prys gewen vir iets, en só het hy haar verstommende vermoë om die kamera te k‎‎ýk vir die eerste keer gesien. Daarna het hy haar gevra om ’n paar keer vir hom te kom poseer. Altyd met klere aan en altyd met ’n maatjie aan die hand.

Haar foto was enkele kere in die koerant.

Dit was Big Jan wat haar, op haar sestiende verjaarsdag, die eerste kaal afgeneem en vir almal vertel het – selfs die foto’s is rondgewys.

Big Jan doen alles groot. Sy Mercedes S500 (Big Jan 1) is gróót. Sy Ford F100 (Big Jan 2) is nog groter. Sy huis op Hermanus (Big Jan se Pozzie) is een van die grootstes. Niks is egter groter as sy bankrekening nie, behalwe dalk sy maag. Die meisies staan dus tou om vir hom kaal te poseer. Jan is goed. Sy ligte is die beste op die dorp (maar hy neem nie skoolfoto’s nie – dis benede hom). Sy Canons is altyd die nuutste. Sy vermoë om te betaal is wyd en syd bekend.

Jan lol egter nie met sy meisies nie. Jan lol glád nie met meisies nie. Hoewel elkeen van die kroeë in elkeen van sy huise vol kaalfoto’s hang, wat hyself geneem het, was daar nog nie ’n enkele vrou wat kon sê Jan het haar bed toe geneem nie.

Die probleem is dat daar talle aspirantfotograwe ook op die dorp is – party is redelik goed, ander kan skaars hulle mik-en-drukke hanteer. Almal hulle het egter hormone. En dié girl staan toe skielik bekend as maklik.

***

Die feit dat sy nou ’n model met byvoordele is, bereik gou-gou die dokter se ore.

Iewers aan die begin van Maart is sy weer in die spreekkamer.

“Dáárdie meisie sit al weer hier,” sê die ontvangsdame laatmiddag.

Sy’s nog in haar skoolrok.

“Die kondoom het gebreek, oom. Ek sê nooit ‘ja’ as hulle nie ’n kondoom dra nie. Maar gister was … wel, hy was ’n rof.”

“Eers foto’s geneem?”

Sy bloos. “Ja, oom.”

“Die stories loop,” sê die dokter. Was daar dalk ’n tikkie jaloesie in sy stem?

Wanneer sy opkyk, is haar oë vol trane, maar haar kyk is daardie kamerakyk. “Hulle kan maar praat, oom. Ek so desperate, ek weet nie hoe anders nie. Ek spaar soveel as moontlik van die geld, oom. Hoe sal ek ooit uit hierdie vallei kom as ek nie geld het nie?”

Hy’t eers klinies begin: Eers die morning after pill, toe die vigstoetse, ook op die getroude boer wat laat een aand by sy huis verbygekom het sodat hy kon bloed trek. Albei was gelukkig negatief.

Hy’t haar daarna gevra om weer terug te kom en het ’n uur uitgeblok op sy boek – iets wat die ontvangsdame met onbedekte onvergenoegdheid bejeën het.

“As jy só aanhou gaan een van hulle vir jou vigs gee. Ek mag nie name noem nie, maar ek ken die vallei. En hier ís vigs. Meer dalk as wat jy wil glo.”

Sy het ’n rukkie lank stilgebly. “Wat is die alternatief?” het sy uiteindelik gelykmatig gevra. “As ek weet ek moet in die vallei bly vir die res van my lewe, drink ek vanaand nog pille. En ek gaan nie tien Disprins drink en jou kom opklop nie. As ek weer die blerrie welfare in my hare het, sit hulle my in ’n home. Hulle wou al. Dan sal ek my polse sny.”

“Ek sal jou ’n paar keer afneem,” het hy gesê. “Sonder die seks.”

 Sy wás ’n paar keer by hom. Haar totale gemak voor die kamera, en by hom, het gesorg vir ongelooflike foto’s. Haar oë was amper altyd die fokuspunt. Maar sy vrou was nie geneë daarmee nie.

***

Chris kom ingestap.

Die dokter staan op. Sy draai haar kop en beskou die man. Daar is lagplooitjies om sy oë, sy hare is kort geknip. Hy dra verbleikte jeans en ’n mooi T-hemp.

Sy staan op. Chris neem haar hand en bekyk die bloedrooi lippe. “Jy lyk soos ’n sysie,” sê hy en lag. “’n Rooibeksysie. Jou lippe is net so rooi en die lyfie is net so tingerig!”

Hy draai na die dokter en sê: “Op daardie swart en wit foto sou ek nooit kon raai haar lippe is só mooi nie!”

Chris bestel ’n koppie koffie en haal die kontrak uit. Sy kry een en die dokter ook. Die dokter lees syne aandagtig, sy sukkel om alles in te neem. Dis in elk geval reeds bespreek.

Chris-hulle soek ’n meisie om te help met die twee seuns. In ruil word die res van graad haar graad elf én graad twaalf betaal by ’n spogskool in die stad. Haar universiteitsfooie ook, as sy dan nog sou aanbly. Kos en verblyf is gratis. Daar is selfs sakgeld ook betrokke.

Iets anders, wat nie in die kontrak staan nie, is dat Chris se vrou nie sal omgee as die au pair ekstra dienste ook verrig nie. Mits dit eksklusief is.

Dié aspek is deeglik bespreek. Daar is geen verpligting op haar nie. Maar die ongeskrewe verwagting is gestel. Sy het haarself bereid verklaar.

***

Die maande het verbygegaan en Kersfees was op pad. Die seuntjies was opgewonde. Sy … bang.

Chris en Selina is glad nie soos haar pa-hulle nie. Chris is sag. Selina is die naaste wat sy ooit aan ’n ma gehad het.

Daar word selfs vir haar gevra of sy ’n wenslys het vir Kersfees.

“Dit sou goed wees as ek iets vir my boeties kan stuur…”

“Ons maak so,” sê Selina. “En vir jou?”

Toe sy vir ’n mooi T-hemp vra, knik Selina en vra: “Goed, maar wat wil jy régtig hê?”

Lipstiffie. Dit sou sy aan die begin gevra het, maar Selina het subtiele wenkies in grimering oorgedra.

Haar antwoord, uiteindelik, is: “Ek weet nie wat om vir julle te gee nie.”

“Niks,” het Chris en Selina gelyk geantwoord.

“Asseblief,” sê Selina toe. “Ons gee vir die kinders presente, ons wil asseblief nie dat jy moet geld spandeer op presente nie.”

***

Wat sy wíl sê, maar vrees dat dit te uitspattig sou wees, is dat sy graag sal wil vlieg. Chris-hulle woon naby die lughawe en die enorme vliegtuie wat gereeld oor hulle huis dreun, hou ’n bekoring in waarvan sy net kan droom.

Sy léés oor reis. Sy léés oor vlieg. Ook oor wat mense in vliegtuie se toilette doen.

“Het jy al die Mile High club gejoin?” vra sy een aand na Chris kom toenadering kom soek het.

“Nee,” lag hy. “Selina is nie een vir sukke goed nie.”

“En ander vroue?”

Hy lag. “Jy laat my soos Casanova klink. Ek het regtig nie so baie vroue al gehad nie. Ek en Selina is kieskeurig oor my partners.”

***

Vyf dae ná die gesprek oor Kersgeskenke en tien dae voor Kersfees, kry Chris ’n SMS van ’n vriend in Polokwane. Dié is ’n leraar in die arm gemeente, Mimosa, buite die dorp.

Kersfees in Mimosa soos beskryf deur ’n lidmaat: Hi Ds. Dit is so onveilig in Mimosa dat hul in die dag by ons plek ingebreek het en die TV gevat het. Nr 249 vir Des verlede Woensdag. Ons sit met kinders wat honger is en kinders wat verslaaf is en kinders wat wil hê wat anders kinders het. Hier is so baie inbrake, want net waar ek kom, praat mense van die inbrake. Jy, waar almal werk, het die probleem, want hulle kom na jou huis in die dag. Die bure, of mense wat sien, wil nie betrokke raak nie, want hulle wil nie getuies wees nie. Op soek na oplossing.

 

Chris wys haar die SMS.

“Dis omtrent só daar by ons ook,” sê sy sag.

 ***

 

Sy ken Chris goed genoeg om te weet dié ding ry hom.

“As ons kan geld insamel, wat ek sal kan doen, dan kan ons ’n klompie kameras opsit,” sê Chris twee dae later. “Maar eers moet ons met die mense gaan praat.”

Chris bel sy vriend. “Kom kuier,” sê dominee. “Kersfees is ’n goeie tyd. Dan is die mense hier. Ek weet nie van kameras nie, maar die mense sal bly wees dat iemand belangstel.”

“Wat van Kersdag self?” vra Selina toe hulle dit aan tafel bespreek. “Ek sal die kinders vat om by my pa-hulle te gaan kuier. Dan vlieg jy en sy op.”

“Ek kan saamvlieg?” Haar stem gee alles weg en Chris klim dadelik op die internet om twee Kulula-kaartjies te bekom. Op Kersoggend vlieg hulle reeds om 06h00 uit die Kaap. Op Lanseria huur Chris ’n motor en daardie nag slaap die twee van hulle in Polokwana se Protea hotel.

Selina glimlag, want die meisie se opwinding is aansteeklik. Dis selde dat sy só opgewonde raak. Gewoonlik is daar ’n wysheid om haar wat haar jare ver verbysteek.

***

“Ek gaan tog vir jou ’n Kersgeskenk gee,” sê die meisiekind daardie aand vir Chris.

***

Dit was ’n lang dag.

Hulle moes vroeg opstaan en die kinders het gisteraand gesukkel om aan die slaap te raak ná die geskenke uitgedeel is.

Chris het verduidelik dat die trollies die eerste uur baie gaan beweeg, dan gaan stil word. Die laaste paar minute voor die landing sou dit ook te besig wees.

Die lugwaardin hét gefrons toe hulle vinnig saam inglip. Dit was ontsettend klein daarbinne en sy’t uiteindelik gebuk.

Om Chris uiteindelik soos ’n seuntjie te sien grinnik toe hulle weer die veiligheidsgordels vasmaak, was die moeite werd.

Die grinnik het verdwyn daar in die township.

Sy’t veel ouer as Chris gevoel terwyl hulle daar in die stofstrate stap en die klein huisies binnegaan.

Die sitkamertjies wat só vol rusbank staan dat ’n mens skaars kan loop, was vir nie vir haar snaaks nie. Die feit drie of vier mense ’n bed deel, is iets waaraan sy gewoond is.

Chris, egter, het stiller en stiller geword.

Die gemeente het baie gepraat, maar dit was vir haar baie gou duidelik dat daar nie gou ’n oplossing sou kom nie. In sulke gemeenskappe is daar soveel magsbasisse wat eers bevredig moet word… Chris ken dit nie. S‎ý wel.

Selfs toe Chris voorstel dat hy Kentucky gaan koop vir die kinders, kon hy nie verstaan dat sy huiwerig was nie. Sý’t geweet wat kom, maar toe sy dit probeer verduidelik, kon sy sien hy moes eers belééf hoe desperaat armoede jou maak.

Die geveg wat uitgebreek het, die klappe wat die kleiner kinders gekry het, die vasberadenheid waarmee sommige jong volwassenes weg is met twee, dríé stukke – en die afwagtende gesiggies van hulle wat niks gekry het nie, was vir hom te veel.

Sonder om ’n woord te sê en sonder om haar saam te nooi, is hy weer weg. Dié keer het hy teruggekom met ’n voorraad wat heelwat meer sou gekos het as hulle hele trippie hierheen.

Chris, die sagte man wat bitter selde kwaad word, het persoonlik die sambok by die een ouderling gevat en dóódseker gemaak die kleintjies en die enkele ouer mense kry eers kos. Hy’t verbaas gelyk dat ’n sambok sóveel vrede kan waarborg. Talle van die jongklomp was gewapen met messe, maar sy blote woede was genoeg om hulle terug te hou.

Jy’t baie om te leer, Chris, het sy gedink.

***

Dié wegbreek sonder haar het vir ’n interessante oomblik gesorg. “Jy’t vroeg getrou,” was ’n tannie se kommentaar. “Ma’ wa’s die ring?”

Sonder om te dink, sy sê die meisie: “Ek’s nie die vrou nie. Sy vrou’s by die huis.”

’n Ongemaklike stilte het neergedaal, waarop een van die ouderlinge sê. “Jesus het plek vir almal. Kyk ma’ na sy familieboom. Da’ was stouhóúte meisies onder sy voormense. Stóút. Dink maar aan die vroue wat vir Josua laat sak het met ’n mandjie… En as hulle nie so stout was nie, was Jesus nie vandag gebore nie.”

“Amen,” klink dit toe soos ’n koortjie.

***

Die hotel! Dis die eerste keer dat sy in ’n hotel kom. Die kamers is enorm. Die bed is reusagtig. Die stort is… Die stort is soos iets wat sy al oor gelees het.

***

Chris is moeg. Hy’t haar laat stort en toe, soos ’n ou man, onder die water gaan inklim.

Hy beweeg nie, hy staan net daar en laat die water oor hom spoel.

Vir haar is die opwinding te groot. Nuuskierig begin sy snuffel. In die eerste laai wat sy ooptrek, lê daar ’n blou Bybel.

Versigtig steek sy haar hand uit. Chris-hulle is nie vreeslik kerklik nie. Sy sit haar vingerpunte op die blou omslag. “Dankie, Jesus,” fluister sy, “Dat jy vir my óók ’n plek het.”

____________________________________________________

Erkennings

 

Awie Badenhorst het die titel uitgedink. Hy het ook vermoed ’n meisie met rooi lippe in ’n plattelandse kafee sou moontlike verassings kon oplewer. Die res van die verhaal is myne – ek skat Awie sal verras wees wanneer hy dit lees.

 

Die SMS het ek nie uitgedink nie. Dit is verbatim soos ek dit ’n paar dae gelede van ’n goeie vriend, ’n dominee, in die Noorde gekry het. Ek het egter besluit om die naam van die township met enkele letters te wysig, bloot om die senders te beskerm.

 

Lesers wat Chris en Selina se huwelik beter wil verstaan, moet my bundel Byna Liefde in die hande kry.

by izakdv

Kerskous vir jonk en oud

Desember 22, 2010 in Sonder kategorie

Die volgende lysie boeke gaan vir ’n baie wye gehoor.

 

Vir die ampertieners, die tieners, hulle ouers en hulle grootouers, is daar twee klassieke werke wat splinternuut vertaal en pragtig uitgegee is:

 

1. Koning van Katoren deur Jan Terlouw is lank voor Harry Potter geskryf, maar raai wat: hier is ook sewe onmoontlike take wat uitgevoer moet word! Selfs Crito was heeltemal gek oor hierdie boek. Sy’t dit selfs aan haar gesin gegee om te lees. Dan moet julle weet!

 

2. En dan is daar Nils Holgersson se wonderbaarlike reis, deur Selma Lagerlof. Ons het almal die TV-reeks gesien oor die klein duimpie wat op die voël se rug vlieg, maar die boek is veel, veel beter. Dit is werklik ’n ervaring om hierdeur te werk. Koop dit en geniet dit!

 

Nou vir nog boeke wat ’n baie breë aanklank sal vind:

 

1. Volksgeneeskuns in Suid-Afrika is een van daardie onvergeetlike stukkies kultuurgeskiedenis. Vir hartkwale stel hulle voor: Brandnetels op brandewyn getrek, of: neem die penwortel van ’n kiepersol en trek die binneste soos tee. Of kyk hier! As iemand inflammasie het, sit paddas op jou lyf totdat hulle (dis die paddas) nie meer doodgaan nie. Dit is ’n teken dat die inflammasie gebreek is. Hier is nie minder nie as 8705 boererate in hierdie boek opgeteken. Party is bisar, ander is waarskynlik uiters bruikbaar. Dis ’n wonderlike kersgeskenk hierdie.

 

2. Op ’n totaal ander noot, maar met ewe veel kultuurhistoriese waarde, is Wat praat jy? deur Johanna de Wet. De Wet het honderde Afrikaanse gesegdes en vergete woorde aangeteken en verskaf die betekenis daarvan. Dis ’n heerlike teks wat baie goed verkoop.

Vir vroue en tienerdogters het ek die ander dag reeds oor Lukas gesels. Lees gerus my blog hieronder.

 

Vir die manne en tienerseuns het ek ok ’n paar boeke.

 

1. Kryt en Kordaat, deur Pieter Greeff. Dit is ’n ware verhaal oor ’n jong Afrikanerseun wat vriende word met ’n boesmanseuntjie. Saam-saam deurkruis hulle dan die Kalahari. Dis ’n spannende boek, want hulle trotseer leeus en gaan vir dae sonder kos en water; werklik ’n moet vir mense wat hou van aksiebelaaide avontuur.

 

2. Reminiscences of William Chapman. Dis ’n teks oor die ontdekker William Chapman. Hierdie ou was ’n jagter, ’n handelaar en ’n optekenaar van die fauna en flora. Hy was een van die eerste mense wat geskryf dat Afrikane glad nie onnosel is nie, dis net die wit mense wat moet leer hoe om met hulle te praat. Die boek lees soos ’n roman, behalwe dat alles waar is – die feite is deeglik nagegaan deur Nicol Stassen. Dis nie iets wat jy maklik neersit as jy in jag belangstel nie!

 

3. En dan twee boeke wat ek saam wil hanteer is: Gee my ’n man! deur Hannes Kloppers en Memories of a game ranger, deur Harry Wolhuter. Albei was veldwagters. Hierdie ouens het nie Toyotabakkies gehad nie. Hulle is op die rug van perde of kamele agter die leeus en die olifante aan. Dit is fassinerende leesstof vir mense wat lief is vir die natuur.

by izakdv

Kerskous vir die ietwat ouer kind

Desember 22, 2010 in Sonder kategorie

Vir die ietwat ouer kinders het ons vele boeke, te veel om hier te noem, maar ’n paar staan uit. Gaan krap maar in die boekwinkels. Klein voorblaaie vertel jou nie hoe pragtig die illustrasies is nie. Die volgende vier is almal volkleur:

’n Hond sal dit beslis nie wees nie (Martin Baltscheit) gaan oor daardie tweede boetie of sussie, en hoe hanteer die eerste kind dit. Skreeusnaaks, maar baie slim gedoen.

 

Oscar en die honger draak (Ute Krause). Die boeke vertel die verhaal van ’n seun wat die draak moet oortuig om hom aan te stel as kok, eerder as om hom op te eet! Jy gaan lê soos jy lag.

Ewe snaaks is Prinses Anna (Susan Opel-Götz) wat haar prins baie dringend moet kry, maar die einde is werklik verrassend. Hierdie prinses is nie ’n sissie nie en sy weier om op die liefde te sit en wag!

Praat van die liefde: Die ongelooflike liefdesverhaal van meneer Morf (Carll Cneut) is ’n kinderboek, maar so mooi dat grootmense dit ook sal verslind. Hoe gemaak as ’n sirkushond alleen raak en sy ware liefde gaan soek? Dis ’n pragtige boek, en beslis iets vir die Kerskous.

Vir die amptertiener staan Bettina Valentino deur Niki Daly uit. Bettina is mal oor kuns en beleef haar eerste verliefdheid wanneer ’n nuwe kunsonnie haar skool binnestap op sy kaal voete. Bettina Valentino is gemik op lesers van Graad 4–7. Dis ’n kort roman propvol illustrasies (in swart en wit).

Soek julle nie-fiksie vir jong lesers?

Gaan vra jou boekwinkel vir volgende twee tekste – hulle is in volkleur. Veral seuns sal gek wees hieroor:

1. Die storie van die wetenskap (ISBN: 978 1 86919 333 1)

2. Die storie van uitvindings (ISBN: 978 1 86919 364 5)

Julle kan luister hoe ek hieroor gesels, deur die potgooi van 21 Desember 2010 af te laai van RSG se webwerf. Daar is ook baie lekker gesprekke met NB en LAPA oor hulle boeke, so dis nie net my stem wat julle sal hoor nie! Hier is die skakel.

by izakdv

Kerskous vir die heel kleintjies

Desember 22, 2010 in Sonder kategorie

Hier is iets om die heel kleintjies plesier te gee: ’n Boekie wat sommer ’n motortjie ook is.

 

So, jy kan hulle lees, jy kan met hulle speel (soos ’n karretjie) en daar is selfs ’n sagte geluid. (Dis sag, want dit moenie vir ma en pa pla nie!)

 

Die Besige Brandweerwa het ’n piepô-sirene. Koop dit by Kalahari.

 

Die Trotse trekker se enjin skakel aan. Dis ook by Kalahari.

 

 

Julle kan die geluide hoor en luister hoe ek hieroor gesels, deur die potgooi van 21 Desember 2010 af te laai van RSG se webwerf. Daar is ook baie lekker gesprekke met NB en LAPA oor hulle boeke, so dis nie net my stem wat julle sal hoor nie! Hier is die skakel.

by izakdv

Leeskring op RSG

Desember 21, 2010 in Sonder kategorie

Christelle Webb-Joubert gesels vanaand, 21 Desember, met NB Uitgewers, Protea Boekhuis en Lapa Uitgewers oor idees vir Kersgeskenke, want wat is nou beter as ’n boek!

Luister ’n bietjie!

Dis 20h30 tot 21h00.

Vir die buitelanders, hier is dit: http://www.rsg.co.za/

by izakdv

Lukas vir die Kerskous

Desember 20, 2010 in Sonder kategorie

As jy iemand ken wat nie letterkunde lees, maar wel baie lief is vir Bybelstories en vir liefdesverhale, dan het ek net die boek vir haar Kerskous: Lukas, die geliefde geneesheer, deur Louise Prinsloo, lees soos ’n liefdesroman, maar is puik nagevors en vertel die storie van Lukas, die man wat waarskynlik die Lukas-evangelie en Handelinge geskryf het.

 

Lukas word geskets as ’n sterk ou – hy wen immers ’n stoeikompetisie en klap sommer gou-gou die plaaslike skurk se tande in ’n ander volgorde in. Hier is dus geen bleeksiel nie, hier is nie outsider-figuur wat sit en wroeg nie. O, nee. Lukas skop gat. Dit is eintlik verfrissend om ’n ware held raak te loop in ’n Bybelroman.

 

Lesers wat egter graag Karel Schoeman se werke lees, moet mooi dink voor hulle hierdie roman optel. Lukas is níé ’n historiese werk nie, dis ’n roman. Die roman is puik nagevors, maar dit is uiteindelik ’n lekkerleesroman.

 

Ek ken Louise al baie jare en was nou betrokke by die aanvanklike bemarking van die boek, so hoekom nou eers daaroor skryf op die blog? Dis maklik om te antwoord:

a) Dis tyd om oor Kerskouse te praat en hierdie boek smeek om in ’n tannie (of jonger leser) se kous te beland as jy reeds raadop is oor wat om te gee.

b) Frits Gaum het vanoggend ’n baie deeglike en geloofwaardige resensie daarvan in Die Burger. Kliek hier om dit te lees as julle buite die Kaap is.

 

Gaum het die essensie van die teks raakgelees en baie gebalanseerd daaroor berig. Talle ander resensente was of net gloeiend, of negatief. Neels Jackson se resensie in Beeld was besonder negatief. Ek gaan nou klink of ek Crito se sitplek wil vul, maar ek dink Frits Gaum het gewys hoe ’n mens so ’n boek moet aanpak. Waar Neels Jackson feitelik korrek was in sy kritiek, het hy die punt van die boek, en die teikenmark, heeltemal gemis. Jy skryf en publiseer ’n boek vir teikenlesers. Hierdie boek ding mee met Francine Rivers se “inspirational romance novels”. As jy weet hoe Rivers skryf, dan besef jy baie gou Karel Schoeman gaan nie daardie mark “entertain” nie.

 

Louise Prinsloo het haar navorsing baie deeglik gedoen en weet presies hoe om haar mark aan te spreek. Frits Gaum het s‎ý werk deeglik gedoen en baie mooi vertel waar Lukas, die geliefde geneesheer in die mark pas. Hy weet ook hoe om lesers wat nié in hierdie mark pas nie, mooi te vertel dat hulle die boek gerus kan lees, maar dit dalk nie vir hulle geskryf is nie.

 

Ek wil hierdie boek vir my skoonpa en sy vrou gee, asook vir my skoonsussie. Al drie is baie gelowig en soek altyd boeke wat inspirasie bied. Maar hulle is intelligent en hou nie van rubbish nie. Lukas is net reg vir hulle.

 

Lukas is te koop by Kalahari (tans op ’n lekker afslag).

 

Jy kan dit ook direk van Protea af bestel.

by izakdv

Min woorde vertel soms so baie hartseer

Desember 8, 2010 in Sonder kategorie

Eish. Lees ’n bietjie hierdie blog.

 

Ek ken Suki al van voor haar troue. Min mense weet van die groot aantal video’s en opvoedkundige boeke wat sy en haar man help maak het vir die skolemark. Daar was nagte wat ons op swart koffie en humor oorleef het. Ek het gewoonlik die stilfoto’s geneem, Suki sou heel dikwels model speel en Gavin sou die video’s neem.

 

Daarna was dit ure se redigering.

 

Haar eersteling se geboorte was ’n vreugde, en ek is per SMS ingelig toe die tweede se bestaan bevestig is. Nogal verspot skryf ek toe terug: Watter posisie? (Dit na aanleiding van ’n bloginskrywing wat sy vroeër gemaak het.) Haar antwoord was: Jy sal maar moet wag en sien.

 

Nou is die wag oor. En ons sal nie kan sien nie. Met bitter min woorde het sy baie hartseer op haar blog gestort.

 

Dink aan hulle, asb.

by izakdv

Jesus was HIV+

Desember 2, 2010 in Sonder kategorie

Die kuns van die Essay is deesdae aan die uitsterf, wat jammer is. As uitgewers waag ons nog nou en dan om mense se essays uit gee. Dink maar aan Dot Serfontein se vertellings. En van Hennie Aucamp, een van ons meesters, gaan daar in volgende jaar weer ’n pragboek verskyn.

 

In die plek van die essay het die blog egter gekom.

 

Nou, kom ons wees eerlik: Daar is uitstekende blogs, en daar is ander wat nie so uitstekend is nie. Goed en wel, maar hulle is daar en nie almal hoef essays te skryf nie. Die blog maak dit juis moontlik om korter, treffende werk daar te stel.

 

Dan is daar mense soos ek wat gefrustreerde skrywers is (ek werk so hard dat ek nie uitkom by my blog nie), dan steel ons maar ander se stories.

 

Ek wil julle dus verwys na ’n uitsonderlike blog met die titel: Did you know Jesus was HIV-positive?

 

Lees dit en geniet die feit dat Suid-Afrika sulke uitstekende skrywers het.