Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Briewe uit donker Afrika

November 25, 2010 in Sonder kategorie

Philip de Vos se blog oor briewe tussen Odendaalsrus en die VSA is skreeusnaaks – en tog waar. Dit handel oor Hugh Robertson, later ’n vermaarde joernalis, en ’n meisie in die VSA. Dis ongelooflik snaaks. Wat meer is, Hugh Robertson lewer self kommentaar onder aan die blog – nog ’n rede om dit te gaan lees.

 

En raai hoeveel weeg die Groot Verseboek van 2000. Dis alles in die blog!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Awie maak opgang

November 23, 2010 in Sonder kategorie

My geleerde vriend, Awie Badenhorst, het hierdie ongelooflike mooi foto geneem wat vandag op die voorblad is van Buite wat in die Beeld en die Volksblad verskyn.

Gaan koop die koerant, dis die moeite werd om dit in al sy glorie te sien.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Womb tide

November 21, 2010 in Sonder kategorie

 

Womb tide, deur Lara Foot, is reeds in 1995 geskryf. Dit is egter vroeër vanjaar (2010) verwerk tot ’n mimiekstuk deur die wonderlike FTH:K. Uiteindelik kry dit ’n heel nuwe betekenis, en ’n lewe heeltemal onafhanklik van die oorspronklike stuk.

 

FTH:K werk hard daaraan om drama vir dowe mense en gehoorgestremdes toeganklik te maak. Hulle stukke is bekend vir maskers en die grootse, mimiekagtige bewegings wat die akteurs uitvoer. Hulle praat met hul lywe, nie hul monde nie.

 

Ek is werklik nie seker of die oorspronklike stuk heeltemal oorgedra word nie, maar dit maak nouliks saak. Ek het nie Foot se oorspronklike stuk gesien nie, so ek weet nie wat ek mis nie, maar ek weet wel wat ek bykry. Hier word goed op die verhoog gedoen op nuwe maniere en ’n heel nuwe taal kom hier ter sprake. Julle dink die orgasme in When Harry met Sally is iets ysliks? Wel, kyk bietjie wat hierdie ouens sonder woorde aanvang. Meer nog: Gaan kýk hoe ’n roereier skielik omskep word in ’n miskraam.

 

Die verwerking van Womb tide is effens uniek, aangesien hier meer klanke ter sprake is as gewoonlik, geen maskers nie en slegs een marionet. Hulle práát egter steeds nie. Dit bly tipies FTH:K en die regisseur, Rob Murray, se hand is duidelik te sien. (Dit is reeds die derde stuk wat ek van hulle sien.)

 

Womb tide handel oor ’n paartjie wat nie kan kinders kry nie. Dan daag die man eendag op met ’n kind. Gesteel? Wel, dalk, want die polisie moet uiteindelik ingryp. (Kyk maar self wat dan gebeur.) Omdat die stuk so oop is vir interpretasie, kom verskillende mense daarvandaan met verskillende idees. My vriend Awie het byvoorbeeld gewonder of die hele idee van ’n gesteelde kind nie dalk ’n droom is nie?

 

FTH:K se stukke stel hoë eise aan die teaterganger en ek sou dit nie as “lig” bestempel nie. Womb tide is egter komies by tye (dis Lara Foot, onthou) en ek geniet dit om uitgedaag te word. Gaan gerus en ervaar die teater deur die ore van ’n dowe. Dít, op sig self, is al rede genoeg om daar te wees.

Womb tide speel tans in die Baxter.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Interrupting Henry

November 17, 2010 in Sonder kategorie

Ek kan julle nie sterk genoeg aanbeveel om Interrupting Henry te gaan kyk nie. Dit wys nog net tot 20 November in die Artscape, so gou spring.

 

Die teks, deur Myer Taub, is skreeusnaaks. Die regie (deur Matthew Wild) is uitsonderlik en die akteurs uit die heel boonste rakke. Ek is nou al goed ingeleef in die teater, so wanneer ’n stuk mý so meevoer dat ek die karakters as ménse begin ervaar, moet jy weet . . .

 

Werklik, gaan kyk. Dit is een van daardie stukke wat nog wêreldwyd gaan draai – ek kan sien hoe goed dit in die West End of op Broadway kan werk. Julle sal wil sê: “Ek het dit gesien voor dit wêreldberoemd geraak het.”

 

Maar waaroor gaan hierdie stuk waaroor ek so liries is? Hier is ’n opsomming:

  •  Adrian Henry (totaal geloofwaardig – en waardig – vertolk deur Vaneshran Arumugam) wil ’n verskil maak, los sy pos in die rekenaarbedryf, gaan studeer T.I.E. (dis Teater in Education) en gaan werk in ’n tipiese staatskool.
  •  Smith (skreeusnaaks vertolk deur Theresa Iglich), die vuurvreter-sekretaresse wat oor die dood goeie, goed dooie skoolhoof lóóp, lig Henry in dat hy nie sonder ’n T.I.E. om sy nek in die personeelkamer mag kom nie en blaas sommer gou sy wiele af oor al hierdie moderne snert: The King and I is die stuk wat sal werk, dankie.
  • Die skoolhoof (só goed vertolk deur Ivan Abrahams dat jy eenvoudig dit self moet sien) is inderdaad ’n tipiese oubaas wat wag dat die aftrede moet kom. Met ’n sterk sekretaresse agter hom moet hy bloot opdaag, sy voet gemoedelik stamp en sy teelepel in die koppie laat klingel wanneer hy wil aandag hê. Hy gaan nie Henry se warshede steun nie, maar is ook te lamsakkig om dit teen te staan.
  • Travis Snyders (puik vertolk deur die jong Zed Jacobs) is ’n verloopte kind wat oor naweke óf by die skool wegkruip, óf mans in kroeë optel. Wanneer Henry ’n hoop gay-pornografie in Snyders se bank ontdek, gee hy, half onbeholpe, Anne Frank se dagboek aan die jongman. En dit wérk. Snyders leef hom só in in Frank se lewe, dat hy ’n toneelstuk oor haar dagboek aan die gang kry en dan die hoofrol wil speel.
  •  Elsa Brown (ontsettend geloofwaardig vertolk deur die beeldskone Julia Anastasopoulos) is die ander nuwe onnie en sý word betrek om die drama te maak werk.

 

Dink julle in wat gebeur as ’n swastika op die skool se verhoog verskyn en Travis Snyders net daarna in ’n rok presenteer. As julle dink dis snaaks, is julle absoluut reg: Gaan kyk self.

 

Tog, onder die klugtigheid wat soms na bo borrel, is daar ’n baie diep boodskap. Wat is die boodskap? Dalk dat ons almal maar liefde en aanvaarding soek. (Daar is ’n pragtige, teer liefdesverhaal ook in die stuk . . . )

 

Ek wil nie te veel weggee nie. Almal wat al ooit in ’n skool gewerk het, sal hierdie drama ontsettend veel geniet. Enige een wat al ooit Anne Frank se dagboek gelees het, sal net nog eens verstom staan hoe ver haar woorde se invloed ryk.

Dis elke sent werd – en ek het nog ’n glas rooiwyn ook gekoop by die kroegie – ’n lekker manier om ’n puik stuk te salueer.

 

As bogenoemde nog nie julle laat besluit het nie, kyk hierna: Die stel is ontwerp deur Angela Nemov. Wie? Al gehoor van Freshly Ground se “Chicken to Change?” (Dis op YouTube as jy dit nié ken nie.) Nemov was die video se regisseur. Al Freshly Ground se video van “Pot Belly” gesien? Nemov het die kunsregie gedoen.

 

Al Interrupting Henry gesien? Nog nie? Waarvoor wag jy?

 

Ek was daar saam met ’n klomp gay mans en daar was ’n kollektiewe “oe-hoe” toe die teatergangers die Arena betree. Nemov se stel is eenvoudig, maar werklik treffend. Die gewrigte het gewapper.

 

Toe ek oor The Night Doctor berig het, kon ek nie anders nie as om kritiek uit te spreek op die metastukke wat die gang van die stuk onderbreek het.

 

Interrupting Henry begin met ’n baie self-bewuste, gehoorgerigte monoloog. Ek dog toe: O gaats! Maar, helaas. Dit was heeltemal gepas – en die res van die stuk het baie goed gevloei. Die enkele metastukke wat wél elders ook voorgekom het, was so deksels goed gedoen dat jy nie anders kon as om dit geniet nie.

 

Bravo aan Taub se fyn aanvoeling vir die vloei van ’n stuk, en bravo vir Wild se puik regie.

 

Om ’n baie mooi aand te kroon, het Shaun Michau ’n klankbaan geskryf vir die stuk. Jip, dis nie net ’n visuele kragtoer nie, ouditief smokkel hulle ook met jou sinne.

 

Faheem Bardien se simpatieke beligting was slim, behulpsaam en kunstig.

 

Genoeg van my kant af. Julle sal nie spyt wees nie. Gaan ondersteun ons jong dramaturge. Dis lank nie meer ’n straf om ’n nuwe stuk te gaan kyk nie.

 

O, gaats. Ek gaan myself tog ’n naskrif veroorloof . . . Verlede week het ek ook die puik vertoning van Die Ryk Weduwee gaan kyk in die Klein Libertas. Dit was onder leiding van Juanita Swanepoel. (Elsabé Daneel was in die hoofrol.) Ek is daar weg met ’n warm gevoel oor die puik spelers wat ons in Suid-Afrika het.

 

Die meeste was hardebaarde en ’n mens kon dus amper niks minder as perfeksie van hulle verwag nie. Tog, dit was lekker om dit te beleef. (Die jong Stephanie Badenhorst, as die musiekjuffertjie, was die enigste groentjie, en ’n mens sou dit nie uit haar spel aflei nie.) Ná ek ’n paar aande later Interrupting Henry gaan kyk het, was ek nog eens trots om ’n Suid-Afrikaner te wees. Ons het puik talent.

 

Beide Die Ryk Weduwee en Interrupting Henry loop by tye in die kraal van die klug in – dít stel hoë eise aan die akteurs – veral as hulle kort daarna weer bitter ernstig moet wees.

 

Ondersteun ons plaaslike talent. Nie net vir hulle onthalwe nie, maar ook vir joune.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Where do lonely astronauts hang out?

November 10, 2010 in Sonder kategorie

Die een is te goed om nie te deel nie (kom van ’n vriendin in Nieu-Seeland).

 

My geliefde het dit aanvanklik nie gesnap nie, sy sê dis ’n grappie vir nerds.

 

Okay, ek is ’n nerd!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Toevallige Tekens op Vers en Klank

November 9, 2010 in Sonder kategorie

As julle werklik mooi gedigte wil hoor, luister gerus vanaand na Vers en Klank op RSG. Daniel Hugo lees gedigte voor uit Martjie Bosman se Toevallige Tekens.

 

Kyk ’n bietjie hoe opgewonde Andries (Roof) Bezuidenhout is oor Martjie se bundel.

 

En hier is my eie resensie daaroor.

 

Daar was Saterdag ’n bekendstelling van hierdie bundel saam met Johann Lodewyk Marais se nuwe teks Diorama. Mense was gaande oor die gedigte.

 

Luister self. Onthou jy kan ook die potgooi aflaai – en buitelanders kan luister oor die internet op www.rsg.co.za.

 

Viva pragtige poësie, viva!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Korrupsie 101?

November 3, 2010 in Sonder kategorie

Daar was in vandag se Burger ’n ontstellende beriggie deur Rajaa Azzakani. Azzakani vertel die volgende oor Zuma se nuwe kabinetaanstellings: 

  • Bathabile Dlamini, die nuwe minister van maatskaplike ontwikkeling, is voorheen skuldig bevind op ’n klag van bedrog wat R254 000 beloop het.
  •  Barbara Thompson, die nuwe adjunkminister van energie, is skuldig bevind aan bedrog van meer as R170 000.
  • Malusi Gigaba, die nuwe minister van openbare ondernemings, het onder skoot gekom toe hy in 2007 ’n onderneming bestuur het vanuit sy kantoor as adjunkminister van binnelandse sake.
  • Marius Fransman, die nuwe adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, word tans ondersoek vir die enorme bedrae geld wat sy departement aan konsultante betaal het toe hy nog die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke was.

Eish. Nou wonder ’n mens hoekom Zuma en Siyabonga Cwele so hard probeer om die nuwe wet op geheimhouding deur te voer. Dié einste Cwele se vrou is tans in die hof oor haar beweerde gebruik van dwelmmuile om kokaïen te smokkel.

’n Mens wonder hoe die kurrikulum van Toni Yengeni se leierskapskool daar uitsien? Dit wil al lyk of die volgende dalk op die eerstejaarprogram moet wees:

  • Korrupsie 101
  • Toesmeer 101
  • Blingaankope 101

Dis nou tot Zuma en Cwele hulle nuwe wet deurvoer, dan kan Toesmeer 101 verval en die kandidate kan meer tyd spandeer aan die ander twee.

 

O, die blye tyding!