Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Mike van Graan skop gat

September 29, 2010 in Sonder kategorie

Julle weet seker ek is mal oor die teater en Mike van Graan bly een van die produktiefste dramaturge in die hede.

 

Sy nuwe stuk, Is it because I’m Jack?, open by Aardklop vandeesweek. Gaan kyk, mense! Gaan kyk.

 

Vanaf 5 tot 16 Oktober speel dit in Kaapstad, by On Broadway (Langstraat 44). Dit begin glo om 20h30 elke aand, bel gerus die teater by 021 424 1194.

 

Hierdie drama het ’n baie interessante agtergrond, maar ek gaan Mike dit in sy eie woorde laat vertel:

  

One of the board members of Aardklop celebrates a significant birthday this year, and her husband used to run one of the country’s major banks. Being the arts patrons that they are, he decided to give her a play for her birthday and I had the honour of being commissioned to write this play. This was a gift not only to Estelle Dippenaar from her husband, Laurie, but also to me as a writer, as I was given carte blanche to write about whatever I wanted with the initial production costs taken care of too; a gift to the cast of four young, hot actors who will have work for at least a couple of months, and then of course, a gift to you, the theatre-going community!

 

Bravo Laurie Dippenaar!

 

Is it because I’m Jack? is bittersoet komedie oor Tim, eens ’n druggie en nou ’n katolieke priester, Jack, die macho reisskrywer, Anele, ’n Zim-vlugteling wat ’n lewe maak uit stand-up comedy, en Marty, die sakeman met die groot drome en die klein suksesse.

 

Wanneer ’n siekte hierdie groepie vriende tref, begin hulle skielik hulle eie lewens deeglik in heroënskou neem.

 

Die rolverdeling bestaan uit Clyde Berning, Morne Visser, Anele Matoti en Andrew Laubscher.

 

Ek gaan beslis my alie draai om daar te wees. Sien julle daar!

Profile photo of izakdv

by izakdv

A snake day

September 23, 2010 in Sonder kategorie

(Short story by Jabulani de Vries, Grade 1)

 

I went to the jungle and I saw a snake and the snake was friendly.

 

We went to his house to see his children.

 

Then a cow stood on the home and the home broke. The snake got lost and we couldn’t find them.

 

 

Ja, mense. Dis ’n vreeslike trotse pa hierdie. Al daardie duisende boeke wat ek en die geliefde voorgelees het, begin nou resultate lewer.

 

Die verhaal het ongelooflike patos – nie een van sy maatjies het so ’n keerpunt ingebou nie. As ek reg is, staan daardie oomblik, wanneer die koei die huis plat trap, bekend as peripeteia – wat letterlik “omdraai” beteken.

 

My seun is baie geïnteresseerd in slange. Aan die begin van die jaar het ek en hy ’n jong boomslang van die pad gered. (Ons het gaan fietsry en hy het die slang sien lê op ’n gevaarlike plek.) As ons ’n slang in die veld sien, is die knaap altyd opgewonde.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ek is famous!

September 21, 2010 in Sonder kategorie

Koop vandag Die Burger en kyk na my fotostorie op bladsy 2 van die Buite-bylae: “Kuikenmoord skud fotograwe”, waar ’n pelikaan rustig skoorsteenveërs se kuikens uit hul neste steel by Intaka, Century City.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Breyten aanvaar die Proteaprys

September 19, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraandaand het Breyten Breytenbach die Proteaprys vir Poësie ontvang vir sy digbundel oorblyfsel / voice over.

 

Breyten het besluit om die prys te aanvaar, hoewel hy ’n renons in pryse het, maar die geld het hy nie geneem nie. In plaas daarvan het Breyten gevra die dat die geld gebruik moet word om ’n fonds te begin om jong digters te help.

 

Lees egter self. Ek het sy hele toespraak bekom en plaas dit hieronder.

 

Net terloops, Breyten was gisteraand in New York, en het dus vir Alida Potgieter, sy uitgewer by Human & Rousseau gevra om namens hom die prys te ontvang. Sy het hierdie toespraak voorgelees:

 

Dames en here, ek is bly om by monde van Alida Potgieter hier in Calvinia by julle te mag wees. Sy was so gaaf om bereid te wees om wat ek te sê het vir julle voor te lees. Ek wil hê dit moet duidelik wees dat dit my woorde is, nie Alida s’n nie, ook die sydelingse opmerkings. (Dis natuurlik lafhartig van my om my onhebbelikheid in ’n ander se mond te lê.)

 

My dank aan Nicol Stassen, my mede-digters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, en die ander Proteaanse mense vir hierdie gebaar. Omdat dit van julle kom en omdat ek nog altyd respek en bewondering gehad het vir julle werk en veral vir wat julle met Versindaba vir die poësie doen, waardeer ek dit van harte Dis grootliks die rede waarom ek die prys aanvaar. Tog wil ek byvoeg – as ek my metafore mag mix – dat ek hoop julle lepelstele lank genoeg is om nie julle tonge te hoef verbrand of verpand nie, noudat julle by wyse van spreke vlooie onder ’n groter karos geword het. Ek terg maar. Ek weet julle sal julle onafhanklikheid behou en julle bergkoninkryk sal gedy soos Lesotho destyds toe Mosjesj sy brief vir koningin Victoria geskryf het.

 

Dankie vir die prys. Maar op die gevaar af dat dit mag lyk asof ek in die sop spoeg wil ek nietemin beswaar aanteken. Dis nou in die algemeen. Ek het dit al by geleentheid gestel dat die toekenning van literêre pryse ’n onding is. Mens kan mos nie na gedigte en digters kyk asof hulle in wedywering is en op so ’n manier ’n valse en oppervlakkige waardestelsel bevorder nie! Reklame, die mark, die dwingelandy van die spektakel wat die soeklig verplaas na die skrywer liewers as om dit op die gedeelde skryfwerk te hou – dis tog nie álles nie. Veel beter – dit het ek ook al voorheen bepleit – dat ander maniere gevind word om jong digters aan te moedig.

 

Kan mens dan nie ’n Fonds stig wat jonger genote en genieters ’n mate van finansiële onafhanklikheid sal bied nie, al is dit ook slegs vir die tydjie benodig om ’n bundel klaar te skrywe of ’n reis te onderneem? Gedigte skryf is ’n futiele aktiwiteit en op uitsondering na, soos in my geval, byna geheel en al sonder noemenswaardige geldelike beloning. Die vertaal van verse is nog meer ondankbaar en nog minder lonend. Dis hoekom ek glo jonger digters en vertalers behoort stelselmatige ondersteuning kry. En dat die steun uit ons eie geledere moet kom, nié van die staat nie. Die Suid-Afrikaanse staat (ek gaan weer my beelde meng) is die ANC se melkkoei, oftewel ’n vark wat almal nog uit huis en haard gaan vreet. Soos hulle voorgangers, het die huidige bestel geen aanvoeling vir die noodsaaklikheid vir ’n gemeenskap van kreatiwiteit wat grense bevraagteken en verstel nie: hulp uit daardie oord sal daarom altyd mondjiesmaat, voorwaardelik en partydig wees.

 

Ek argumenteer natuurlik nou nie dat ouer siele soos ek nie ook oor die weg gehelp moet word nie. Dis goed dat ons digters en skrywers wat as ware skimmel in die tuig geword het erkenning kry vir ons werk, al is dit by wyse van genadebrood – maar seer sekerlik nie pryse of beurse nie. Hoekom nie liewers ’n ryperd of ’n bungalow’tjie by die see of ’n geborgde bord kos een keer per dag by die Da Gama restaurant in die Kaap nie? Om ouer digters te wil beloon asof hulle nog vars werk lewer is in elk geval ’n teenstrydigheid. Mens kan mos nie groot drome skryf met ’n stywe lyf en ’n slap tong nie. Poësie is vir die drif en die alwetendheid en die skeppingsdrang van die jongeres (of dan dié, soos Yeats, wat te oud geword het om te onthou hy is nie meer jonk nie) – voordat die herhaalde veldslae van verloor en van twyfel jou lei na besinning se slagpale waar jy al mompelende jou woorde aftel soos bidsnoerkrale op soek na sin.

 

Sien, dis hoekom ek vir Nicol-hulle wil vra om hierdie toekenning van vanaand te stort in ’n fonds vir die aanmoediging van jonger digters. Indien so-iets reeds bestaan binne Versindaba se bestek, soveel te beter. So nié, wil ek julle in alle eerbied versoek om die bedrag eenkant te hou en ander instansies te vra om by te dra tot ’n steunfonds wat soos julle goed dink behartig kan word. Met die hoop dat julle die implikasies van daardie mooi woordjie behartig (be-hart-ig) in gedagte sal hou.

 

Indien ek nog ’n bietjie meer gebruik mag maak van die geleentheid, wil ek twee verdere sake aanroer. Die een, wat aktueel geword het, is dié van die beoogde Sensuurhof en die Stalinistiese wetgewing wat dit moontlik gaan maak vir alle sogenaamde Intelligensie-agente, en ander diewe en trogvrate ook, om hulle onbekwaamheid en gekonkel onder ’n kombers van geheimhouding en intimidasie weg te steek. Ek hoop almal van ons sal aanhou om hierdie beplande beheer van die Partystaat oor inligting wat deursigtig en vry bekombaar behoort te wees, hand en tand te beveg. Ons behoort ten minste te kan weet hoe en deur wie ons verneuk word. En moet tog nie dat ons op sleeptou geneem word met holle argumente van ‘kultuur’ of ‘meerderheid’ of ‘die volk’ nie…

 

Die tweede kwessie is Palestina. Mag ek glo dat die lot van onderdrukte gemeenskappe ons altyd na aan die hart sal lê? Ek is daarvan oortuig dat die besetting van Palestina, die besteling van die Palestiniërs se grond en huise en olyfbome en geld, en hulle daaglikse vernedering, dié groot internasionale morele uitdaging van ons tydvak is – soos die Holocaust of die oorloë in Viëtnam of Apartheid in vroeër jare. Ek glo dat ons as skrywersvolk alles wat ons kan behoort te doen om ’n toevlugsoord te bied vir Palestynse skrywers en kunstenaars.

 

Die bundeltjie wat vanaand aandag gekry het is hoeka, soos julle seker weet, ’n voortgesette gesprek met die persoon en die werk van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj – by wyse van ’n soort tweespraak. Mag dit julle belangstelling prikkel om na sy gedigte te gaan kyk. Ek weet daar is van sy boeke beskikbaar in die Protea Boekwinkel.

 

Vergun my om af te sluit met die gedeeltelike aanhaling van opmerkings wat Magmoed Darwiesj gemaak het in Ramallah by geleentheid van die besoek van ’n aantal skrywers. Ek was bevoorreg om deel te kon wees van die groep. “Wat is die plek van poësie in ons barbaarse tye?” het hy gevra. “Poësie is kwesbaar ten spyte van haar metaforiese steuning op die krag van sy en die fermheid van heuning. Broos, want die werk om die siel te verander en die hart groter te maak is langsaam en onsigbaar. Soos met die weerklank van ’n donker droom kan sy nie wegkom van haar beeld as die dogter van eensaamheid en die buitenste kant nie, al bind sy ook die intieme en die universele. Dit sal digters nie loon om daardie eensaamheid te ontken nie, nóg moet hulle dit verheerlik ; hulle moet liewers aanhou om ewige reisigers te wees tussen die binne en die buite. Dis aan hulle oorgelaat om die drag vrae oor die nut van poësie ligter te maak. Dis hulle wat die vreesbevangendheid van hulle kuns behoort te hernieu deur ’n nog groter skeppende angs – want hulle sal nooit vrygeskeld word van die poëtiese oopbloei nie .”

 

En hiermee volstaan ek. Met groete vir julle almal, met dank vir die mooi dinge waarmee julle besig is, en met spesiale dank aan my uitgewer wat by wyse van spreke die ekstra myl moes loop om vanaand namens my hier te praat.

 

Breyten Breytenbach,

New York, September 2010

 

Die prys is deur Nicol Stassen van Protea Boekhuis oorhandig. Dit is die sesde keer dat die Proteaprys oorhandig word en Breyten is die eerste persoon wat dit twee keer ontvang het. Sy vorige bundel, die windvanger, het dié prys in 2008 verower.


Vorige wenners van die prys is Charl-Pierre Naudé, Gilbert Gibson, Antjie Krog en Loftus Marais.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wie gaan my scoop?

September 18, 2010 in Sonder kategorie

Dames en Here

Later vanaand gaan ek die res van die media probeer scoop met hierdie blog. ’n Groot aankondiging kom vanaand tydens die galafunksie van die Versindaba op Stellenbosch.

Soos die gebruik is, word ’n paar mense vooraf ingelig wat moontlik te wagte kan wees.

’n Baie klein groepie boekmense sit dus al en toetsborde opwarm. Ek is een.

Ek wil egter aan ander bloggers ’n uitdaging rig: Kom scoop my! Ek mag niks sê, of doen, voor die aand nie om is nie.

Dit staan dus enige ander blogger vry om ook die aand by te woon en mý te scoop.

Wie gaan daar wees?

En vir enige een wat nié daar kan wees nie (Kobus Victor is die enigste Wes-Kapenaar wat ’n verskoning het), wel lees my blog en weet voor enige ander mens in die wêreld!

Ek moet al weer hardloop, maar mense, gisteraand se “Brief aan Suid-Afrika” was ’n belewenis.

Kom, kom kuier saam! Julle MIS iets.

Izak

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ons wen by die Woordveertjies!

September 15, 2010 in Sonder kategorie

Ai mense, soos ’n pa seker nie kan ophou glimlag oor die kinders se prestasies nie, so kan hierdie boekpa nie ophou glimlag as die boekkinders goed doen nie.

 

Protea, waar ek tans my brood verdien, het twee baie belangrike toekennings ontvang hierdie jaar by die ATKV se Woordveertijes.


Vanjaar se Woordwystoekenning gaan aan Annerlike Afrikaans, uitgegee deur, ja, Protea Boekhuis. Dr. Anton Prinsloo is die samesteller.

Dis ’n stunning boek, as julle dit nog nie onder oë gehad het nie, loer asseblief hierna!

 

Die beoordelaars het gesê: “Annerlike Afrikaans is nie maar net nog ’n woordeboek waarmee ’n skrywer sy publikasielys wou ­verryk nie. Dit is ’n naslaanbron vir die deskundige sowel as leek waarmee die Afrikaanse leksikografie, die Afrikaanse taalkunde en die Afrikaanse lekkerleesmark verryk word.”

 

Beter kon ek nie!

 

Die 2010 Dramateksprys gaan aan Willem Anker vir sy verhoogstuk Skrapnel. Dié drama is reeds vroeër vanjaar deur Protea bekom vir publikasie en sal in 2011 verskyn. (Anker het by die ontvangs van sy prys al klaar sy uitgewer bedank!)

 

Groete van huis tot huis!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Hoe doen blindes dit?

September 14, 2010 in Sonder kategorie

Dit is soms baie goed om net ’n slag te stop en te dink oor iets – iets so alledaags soos blindheid.

Ek het blerrie goeie oë en geniet dus boeke, fotografie en voëlskyk. (En dink net wat ek alles sal kan sien op Sandy Bay wanneer die weer mooi is!)

Ek het die ander dag verwys na Dr Wilhelm van Deventer. Daar was ’n berig oor hom in Sondag se Rapport. Kliek hier om die berig te lees.

Wilhelm probeer baie hard om mense te laat síén dat daar rede is om aan gestremdes te dink – dis hoekom hy hierdie veldtog voer.

En, snaaks, dink was presies wat my knaap die ander dag gedoen het.

Sondagoggend vra knaap:

“Pappa, hoe staan blinde mense op?”

“Hoe trek blinde mense aan?”

En toe: “Maar as hulle wil cool lyk, hoe weet hulle watter klere om aan te trek?”

Baie goeie vraag. Ek wonder hoeveel van julle weet?

Ek het op universiteit ’n blinde vriendin gehad en het baie by haar geleer.

Dis nou vir my egter vreemd om te dink hoe min van my vriende een of ander gestremdheid het. My een nefie het Downs. ’n Goeie vriendin het twee ouers wat albei doof is. ’n Ander het ’n stiefpa wat doof is. ’n Eks-kollega se man lei aan dieselfde kondisie as Wilhelm.

En?

Gestremdheid raak my dus nie. En dis erg, want, soos Wilhelm gesê het, daardie oorgang tussen gestremdheid en gesondwees is soms net ’n paar oomblikke. Vra vir Matthys Roets. Ek het so ’n maand gelede by ’n restaurant ingeval waar hy ook was. Dit was goed om te sien hoe goed hy regkom ver van die publiek se oë. (Ek het hom herken; hy weet natuurlik wie ek is nie.)

Praat van oë: Ek vra toe vir my seun of ek dalk een oggend sy oë moet toebind, dan kan hyself ’n bietjie voel hoe dit is om te moet opstaan, klere uitsoek en aantrek as jy nie kan sien nie.

Hy het ’n kort rukkie gedink en gesê: Nee, liewers nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Loslitdag / Casual Day

September 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag twee gedagtes met julle deel op Loslitdag, of dan wel Casual Day. St George’s Grammar School het die geld ingesamel en hulle leerders aangemoedig om geld te bring vir die organisasies wat gesteun word deur Loslitdag. Hulle het egter verder gegaan en ’n groen tema aan hierdie dag gekoppel. Dit was dus nie net nog ’n “civviesdag” nie.

 

 

St Georges is ’n privaatskool en hulle is trots daarop dat hulle die demografie van die Wes-Kaap weerspieël – in terme van ras en geloof. (Dit is ’n Anglikaanse Kerkskool wat baie trots is daarop dat hulle Moslems, Jode en niegelowiges ten volle akkommodeer.)

Hulle gaan verder: St George’s het ’n hele aantal gestremde leerders, waaronder kinders met Down’s Sindroom.

Die leerders is dus bewus van gestremdheid – en het gekies om die skool verder te druk om ook die stremming op die natuur te verlig.

 

Dit bring my egter by ’n tweede punt. Ek het die volgende skrywe ontvang van Dr Wilhelm van Deventer. Wilhelm is blind. Hy was ’n menseregteaktivis in PW en Vorster se dae (teen apartheid) en het onlangs die Noordwes-Universiteit gepak oor hulle hantering (al dan nie) van mense met ’n gestremdheid.

Dit het my laat dink.

DAAR IS NIKS LOSLIT AAN GESTREMDHEID NIE

 

Vrydag is Loslitdag! Uitstekendetradisie! Maar wat is loslit aan gestremdheid? Of is dit maar nog net een van daardie dae waarop ons as ’n grootliks oningeligte en onsensitiewe publiek die geleentheid het om ons gewetens te sus deur loslit te wees oor gestremdheid?

 

Kom ons koop ons plakkers, dra ons informele klere, maar doen dit in swart! Dis tyd om te rou oor die feit dat mense met gestremdhede na sestien jaar van demokrasie nog steeds aan die agterspeen suig, veral minderbevoorregte en multi-gestremdes.

 

En indien enigiemand onder die indruk is dat mense met fisiese, visuele, orale en gehoorgestremdhede so wonderlik regkom ten spyte van hul beperkinge, kom ons doen dan vanjaar alles op Loslitdag in ’n rolstoel, op krukke, sonder bril, met digte pluisies in ons ore, al hakelend, of deur nie ’n enkele word te praat nie.

 

Of, indien dit té veel gevra is, kom ons leef die dag deur met die bewustheid en etiket van “abnormaal” en “mal”, soos wat dit die geval met mense met geestesgestremdhede is. Maar, hoe sal ons weet, want ons steek hulle gerieflikheidshalwe weg agter institusionele hoë heinings en massiewe mure.

 

Die verskil tussen nie-gestremdheid en gestremdheid is slegs ’n oomblik