Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Bettina Valentino besoek Laerskool Jan van Riebeeck

Augustus 24, 2010 in Sonder kategorie

 

As julle haar nog nie ken nie, moet julle ’n plan maak. Koop haar sommer nou.

Bettina is ’n eiewyse meisietjie wat nie hou daarvan dat haar simpel onnie sê sy moet altyd in pastelle verf nie. Sy wil swart en wit gebruik! Sy wil hê dat haar kuns iets moet beteken!

Bettina het op Vrydag 20 Augustus 2010 by Jan van Riebeeck Laerskool gaan inloer. Niki Daly en Philip de Vos was daar om haar te verwelkom. Niki Daly het die teks geskryf en geïllustreer, terwyl Philip de Vos die boek puik vertaal het na Afrikaans.

 

Susan Joubert, die skool se bibliotekaresse, het almal laat welkom voel.

Die hele storie is gereël deur Verushka van The Book LoungeVerushka se kennis van kinderboeke is ongelooflik.

 

Protea se bemarker, Xavier Nagel, het ook gehelp met die reëlings.

En die meeste van die Protea se Kaapse personeel was daar.

 

Niki het die leerders gewys dat kuns soms alledaags lyk – ’n bietjie soos ’n T-hemp.

 

Kubisme en ’n hele aantal ander kunsvorme is ook bespreek. Nie net het die leerders dus pret gehad nie – hulle het baie geleer ook. (Die hele boek is vol kuns, koop dit gerus!)

Die kinders was vasgenael.

Hulle moes selfs ’n stukkie oor die dadaïsme vertaal – dit was baie pret!

Uiteindelik moes die kinders self kuns maak.

 

Almal het deelgeneem, maar net een groep kon wen.

Hier is Niki Daly en Verushka by die wenners van die Bettina Valentino-kunskompetisie.

 

En hier is die wenprent.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Melt op RSG!

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Hier is ’n SMS van Melt wat ek pas ontvang het:

Gaan leen tog ’n draadloos as jy nie een het nie. Ek is Dinsdagaand om 22:00 op RSG met Margot Luyt. Dan hoor julle hoe klink die gedigte en ek voel sommer very important. Melt X

Dit sal wees Dinsdag 24 Augustus 2010. En die X is ’n soentjie, hoop ek. (Anders het Melt ’n groter aktivis geword as wat ek dink 😉

En, hou julle BookSA dop? Onse Melt was op die hoofblad vanoggend.

Gaan besoek gerus ons ruimte op http://protea.book.co.za/

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vaarwel aan die koeltorings by Athlone in Kaapstad

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

My vriend Awie was een van die fotograwe wat ontsettend moeite gedoen het om die koeltorings by Athlone se laaste oomblikke vas te vang.

 

Hier is ses van sy foto’s – hulle is beter as die meeste persfoto’s wat ek gesien het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

(Alle foto’s deur Awie Badenhorst. Onthou hom as julle ’n fotograaf nodig het.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Fiona Coyne deur Philip de Vos se lens

Augustus 21, 2010 in Sonder kategorie

Philip de Vos stuur vanoggend vir my ’n e-pos waarin hy sê hy het oor Fiona Coyle geblog. Lees dit self, ek kan nie dit oorvertel nie. Philip is ’n baie fyn woordkunstenaar en hierdie inskrywing is oor en oor die moeite werd. Hier is die skakel.

Philip het Fiona geken uit sy dae as operasanger. Hy het haar afgeneem vir Milieu. Ek het vanoggend weer deur Milieu gaan blaai. Gedruk en in swart en wit lyk Fiona nóg meer weerloos as op Philip se blog. Ken julle Milieu? Indien nie, is dit ’n moet vir enige boekrak. Kliek hier…

Wanneer julle Philip se inskrywing oor Fiona lees, sal julle ook die volgende deel van my blog verstaan.

Philip het op 11 Augustus vir my die volgende e-pos gestuur:

Net om te laat weet dat my blog op Versindaba nou een jaar oud is met 41 inskrywings vir dié wat lus het om dalk in te loer 

 

http://versindaba.co.za/category/skrywers-se-blogs/philip-de-vos-se-blog/

 

Ek het só daarvan gehou dat ek belowe het ek sal op my blog ’n skakel plaas na syne. Maar, die tyd, die tyd … 

Daarom doen ek dit nou. Lees asseblief Philip se hele blog. Die vorige inskrywing handel oor Mozart se skatologiese rympies. Voor daardie een behandel Philip die lewe van W.S. Gilbert (dink “Gilbert and Sullivan”).

Nou, ja. Dalk het Facebook en blogs ’n groter sosiale impak as wat ons dink. Ek weet ek is tans te stil, sorry Bobby & kie, maar … ek probeer!

(Ek hoop om binnekort meer te vertel oor wat Philip de Vos Vrydagoggend aangevang het – ek het foto’s om dit te bewys!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Reclining nude

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Nou, ja. Pruimtwak het my behoorlik op hol gesit met daardie mosbolletjies. Hiermee dan my tweede skryfsel oor mos.

Reclining nude

 

gerolamo marcello was glo die eerste

om die reclyning nude to plaas

in ’n staat van naakte onskuld

voor ’n ieder jan, piet en jagse klaas

 

maar

 

cacon, léger, chagall, matisse,

wheeler, casorati, bonnard en wiertz,

corot, de chirico, kirchner, gauguin (in swart)

millet, baudry, ingres, boucher en velazquez

 

húlle dop haar om

 

plaas die deelteken sekuur

en skilder tog so mooi

die welling, sag en soet

van ’n vrou se mosbollekker ronde boud

Profile photo of izakdv

by izakdv

@pruimtwak

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Ek kon nie help nie, ek moes deelneem aan Pruimtwak se uitdaging. Hier is my eerste rympie:

mos

 

mos glo mos gelos

vir die beskuite

mos glo mos gelos

net hieso, buite

 

mos groei glo mos

nie op rollende klippe nie

mos bly glo mos

nie ver van smakkende lippe nie

 

nou’s da mos nie beskuite nie

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vir alle sterk vroue

Augustus 18, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraand was ek by die opening van die eenpersoonstuk As die broek pas met Antoinette Kellermann in die rol.

Dit is ’n vertaling van Manfred Krage se Jacke wie Hose – ’n swaar stuk wat afspeel net voor en net na die Tweede Wêreldoorlog.

Marthinus Basson was verantwoordelik vir die regie en die stel. Julle kan dus dink dat alles puik was – Kellerman was natuurlik ook ongelooflik.

Gaan heen en gaan geniet dit – alle sterk vroue moet hulself soheentoe neem (okay, Droomkind, Krokodil en vriendinne?).

Die Afrikaanse stuk speel in die Fugard tot 21 Augustus en dan doen Kellerman dit weer in Engels van 24 tot 28 Augustus. (Die Engelse titel is Man to man.)

Gaan heen sterk vroue – en mans wat nie bang is vir broekdraers nie. Dis ’n wille stuk, maar dis ’n goeie stuk.

(Hoe bitter hartseer – en ironies – is dit nie dat ek dit skryf so baie kort na die dood van Fiona Coyne nie. Nie net was sy die kragdadige stem agter South Africa’s Weakest Link nie, sy wás in eie reg ’n fenomeen.)

Wel, Kellerman is ook ’n fenomeen. Gaan heen en gaan geniet ’n baie interessante stuk oor menswees, vrouwees én manwees …

Profile photo of izakdv

by izakdv

Louise Prinsloo op die radio

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek weet ek blog te min, maar ek slaap ook te min op die oomblik.

Lukas

Wil julle egter vertel van ’n stunning boek en ’n ewe lekker outeur. Lukas, die geliefde geneesheer, deur Louise Prinsloo, hoort in enige moeder se kerskous. Ek sal julle later meer oor die boek vertel, maar luister asseblief môre (Vrydag 13 Augustus) na die onderhoud wat Radio Namakwaland met Louise gaan voer.

 

Julle kan in elk geval nie die huis verlaat op Vrydag die 13de nie!-)

 

Die onderhoud word om 09h30 uitgesaai.

 

Luister daarna op die internet as julle buite die opvangsgebied woon.

 

http://radionamakwaland.ndstream.net/

 

Of koop die boek. Dis by alle goeie winkels te kry.

 

Ek sal later meer vertel.