Profile photo of izakdv

by

Marike se Laaste Dans

Julie 12, 2010 in Sonder kategorie

 

Marike se Laaste Dans handel oor ’n joernalis wat pas haar werk verloor het en dan, sommer skielik, in Marike de Klerk vasloop. Marike is natuurlik al ’n hele rukkie gelede vermoor, maar dít maak mos nie saak nie. Daar waar sy sit en wag in die groot ontvangsaal mág die dooies mos terugkeer – mits hul papierwerk op datum is. (Petrus se groot boek is skynbaar vervang met ’n meer puntenerige staatsdiens. Ek skat dit is ’n bewys dat die duiwel bestaan, maar ek dwaal af.)

Die dooie Marike leer die ontslane joernalis lééf. Marike kan vlieg, en sy leer die joernalis hoe. Marike kan tango. Marike kan ook geduldig luister na – en meedoen met – die joernalis se jongste dogter wat hip-hop doen.

Dan is daar vergifnis: Marike moet op ’n manier die man wat haar vermoor het weer in die oë kyk, maar sy is bang. ’n Joernalis aan die ander kant is mos gehard . . . Net soos Marike vir die joernalis leer leef, so moet die joernalis vir Marike leer hoe om vrede te maak met die dood. Daardie besoek aan Pollsmoor is tegelyk ’n hellevaart en ’n metafiksionele besoek aan Oz (dink aan die film). “Down Under” is dit egter nie en die ware besoek aan die hiernamaals – deur die joernalis – is veel minder traumaties as die besoek aan die tronk.

Lees self. Die tronkbesoek is glad nie walglik nie, net hartseer (soos tronkbesoeke gewoonlik is).

Waarom sou Marike juis die joernalis kies om aan te verskyn? Die teks bevat talle bespiegelinge hieroor, maar ek dink dis juis om die hoofkarakter iets van die lewe te laat smaak – voor dit te laat is.

Die hoofkarakter, nou werkloos, het twee dogters wat haar hele lewe is, maar ook op hul eie maniere haar selfbeeld knou. Dan is daar die toenmalige lover, ’n skrywer, wat ook huiwer, verskyn en verdwyn, maar nooit werklik léwendig word in die teks nie. Daar is dus baie redes waarom die hoofkarakter moedeloos kan wees – en sommige mense kies die dood onder sulke omstandighede. “Moenie,” kom die Marike-karakter sê: “Lééf! Ontdek jou vlerke! Dans die tango!”

Ek wil iets noem oor die ooreenkomste tussen Deborah Steinmair en die joernalis: Deborah is ’n interessante mens. Voorts ken ek Deborah se twee beeldskone dogters en ek was by haar en ’n skrywer aan huis toe hulle nog saamgebly het.

Dus? Is die teks biografies? Sommige dele dalk wel, ja. Maar, soos die twee Nagtegaals (Jackie en Reinet) hulle self geplaas het – as fiksiekarakters – in die roman In Limbo, so bestaan die joernalis in die teks slegs as fiksiekarakter. Hier is geen poging om ’n biografiese werk te skryf nie – hoewel talle stukke baie biografies skyn te wees. Nee, op ’n vreemde manier plaas Steinmair (ook ’n goeie skilder) haar lyf as objek vir die leser om na te kyk, maar ook as doek waarop ’n kunswerk kan vorm. Daarna, soos die kunswerk ’n eie lewe aanneem, verdwyn die model en die kuns word vooropgestel.

Marike se laaste dans is kort (effens te kort sê ’n boekaankoper die ander dag) en dit lees maklik.

Diegene wat Deborah ken, sal die eerlike spel rondom haar eie lewe bewonder, maar jy hoef nie vir Deborah te ken om die hoofkarakter se lewenskragtige, gevleuelde reise te geniet nie.

Marike se Laaste Dans het by Human & Rousseau verskyn. Die ISBN is 9780798151467.

5 antwoorde op Marike se Laaste Dans

  1. DroomKind het gesê op Julie 12, 2010

    Ek maak solank ‘n nota! Dankie

  2. bloukaap het gesê op Julie 12, 2010

    naand Izak

  3. Izakdv het gesê op Augustus 18, 2010

    Jy sal dit geniet, Annemari

  4. Izakdv het gesê op Augustus 18, 2010

    Maak so!

  5. Izakdv het gesê op Augustus 18, 2010

    Jammer dat ek so skaar is, Pruimtwak!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.