Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Sien jou by die Boekbeurs!

Julie 27, 2010 in Sonder kategorie

Protea Boekhuis nooi jou graag om aan te sluit by ons aktiwiteite tydens hierdie jaar se Kaapse Boekbeurs in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum.

 

Geselligheid met Protea Boekhuis

Saterdag 31 Julie 16h00

By ons stalletjie (B10)

Kom snuffel deur ons stalletjie, ontmoet ons skrywers, gesels met hulle en vra hulle om jul boeke te teken! Drink ’n glasie saam met ons en wag … party mag dalk selfs iets lees vir ons! (Ons stalletjie is naby die Poësiekafee.)

 

Poësievoorlesing

Saterdag 31 Julie 17:00 – 18:00

In die Poësiekafee

Kom luister na:

  • Cas Vos
  • Joan Hambidge
  • Daniel Hugo

 

Hulle sal jul boeke teken!

 

Koning van Katoren

Sondag 1 Augustus 15:00 – 15:45

In die Poësiekafee

’n Jeugroman wat lank voor Harry Potter geskryf is en tog toon hul hoofkarakters interessante ooreenkomste? ’n Blitsverkoper en jeugboek wat deur ’n politikus geskryf is? Inderdaad. Koning van Katoren is een van Europa se beste verkopers van alle tye. Politieke intrige, persoonlike leed en ’n nasie wat in opstand kom? Klink dit opwindend? Kom luister dan!

 

Die praatjie is gerig op volwassenes en op die jongklomp wat slim genoeg is om te weet dat volwassenes, soos die ministers van Katoren, baie keer hulp nodig het! Daniel Hugo, die vertaler, vertel ons wat dit verg om hierdie karakters te laat lewe in sy eie taal. Die jeugromanskrywer, Carina Diedericks-Hugo, sal die gesprek lei.

 

Poësievoorlesing

Sondag 1 Augustus 16:00 – 17:00

In die Poësiekafee

Kom luister na:

 Louis Esterhuizen

  • Jelleke Wierenga
  • Zandra Bezuidenhout
  • Melt Myburgh

 

Hulle sal jul boeke teken!

 

Marjorie van Heerden oor wiskunde in kuns

Maandag 2 Augustus 09:30 – 10:00

Kinderzone

Die bekende, geliefde kinderboekillustreerder, Marjorie van Heerden, wys die jongklomp hoe hulle vorms kan gebruik om hul eie fantastiese tekeninge te maak.

 

Hoekom praat grootmense so snaaks?

Maandag 2 Augustus 10:00 – 10:30

Kinderzone

Hoekom praat grootmense so snaaks? is ’n boek deur Keina Swart, ’n onnie, wat die jongspan laat verstaan hoe idiome werk – sonder dat hulle agterkom hulle leer iets.

 

Koning van Katoren

Maandag 2 Augustus 10:00 – 10:45

In die Poësiekafee

’n Jeugroman wat lank voor Harry Potter geskryf is en tog toon hul hoofkarakters interessante ooreenkomste? ’n Blitsverkoper en jeugboek wat deur ’n politikus geskryf is? Inderdaad. Koning van Katoren is een van Europa se beste verkopers van alle tye. Politieke intrige, persoonlike leed en ’n nasie wat in opstand kom? Klink dit opwindend? Kom luister dan!

 

Die praatjie is gerig op volwassenes en op die jongklomp wat slim genoeg is om te weet dat volwassenes, soos die ministers van Katoren, baie keer hulp nodig het! Daniel Hugo, die vertaler, vertel ons wat dit verg om hierdie karakters te laat lewe in sy eie taal. Die jeugromanskrywer, Carina Diedericks-Hugo, sal die gesprek lei.

 

Weet nie waar ons is nie?

Ons is in stalletjie B10 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. Stap na links, agter. Ons is naby die Poësiekafee.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die Benederyk

Julie 16, 2010 in Sonder kategorie

Ja, ek het uiteindelik Die Benederyk klaargelees.

Maklik was dit nie, maar dan skryf Ingrid Winterbach (aka Lettie Viljoen in haar jeug) nie boeke vir die prulmark nie. Geensins. Ek was die ander dag weer in een van ons land se voorste boekwinkels, toe draai die gesprek juis na Ingrid Winterbach. “Sy is die beste romansier in Afrikaans!” was die winkelbestuurder (self ’n vermaarde skrywer) se kommentaar.

Ek het so effens hieraan gekou en toe darem gevra dat André P. Brink, Etienne van Heerden en Elsa Joubert minstens as gelykes gesien moet word. Ek is ook nie seker of ons Marita van der Vyver se bydraes moet geringskat nie. Dit ter inleiding, want dit is belangrik om te besef dat daar heelwat redes sou kon wees waarom mense opgewonde kon raak oor dié boek.

Die storie? Aaron Adendorf is ’n skilder. Nogal goed. Hy het elke derde jaar ’n solo-uitstalling by bepaalde galery. Hy leef van sy kuns. Dit gaan dus goed met hom. Maar dan gebeur twee goed:

1. hy kry ’n kômin nuwe buurvrou (wat kan aanhaal uit Paradise lost); en

2. die eienaar van sy galery word siek.

Dalk moet ons ’n derde byvoeg: Aaron word nie jonger nie en die kunswêreld is op soek na nuwe, jong helde.

Gooi op hierdie palet boonop ’n broer met verbale diarree, dan raak dit ’n vreemde, selfs moeilike, leeservaring.

Aaron is ’n kúnstenaar en hy lewer voortdurend kommentaar op die kuns wat gedurig vervlak na die gemeenplase. Terselfdertyd word Die benederyk ’n metafoor vir woordkuns wat gewoon weier om die knie te buig voor toeganklikheid.

Ja. Ek het dit gelees. Ek het dit ervaar. Ek het dit beleef. Ek kan dit sterk aanraai vir mense wat besef Lettie Viljoen is nog springlewendig en wat weet Ingrid Winterbach is ’n skrywer waarvan ’n mens moet kennis neem. Dit is egter nie ’n boek wat jy die hand van ’n ambivalente leser moet stop nie.

Ek is nie seker of ek alles in die boek verstaan het nie, aanvaar dus maar my bydrae met ’n knippie sout. Ek het wel gedink die einde laat ’n sprankie hoop.

Koop, lees en ervaar woordkuns wat verseg om gemeenplasig te raak.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Marike se Laaste Dans

Julie 12, 2010 in Sonder kategorie

 

Marike se Laaste Dans handel oor ’n joernalis wat pas haar werk verloor het en dan, sommer skielik, in Marike de Klerk vasloop. Marike is natuurlik al ’n hele rukkie gelede vermoor, maar dít maak mos nie saak nie. Daar waar sy sit en wag in die groot ontvangsaal mág die dooies mos terugkeer – mits hul papierwerk op datum is. (Petrus se groot boek is skynbaar vervang met ’n meer puntenerige staatsdiens. Ek skat dit is ’n bewys dat die duiwel bestaan, maar ek dwaal af.)

Die dooie Marike leer die ontslane joernalis lééf. Marike kan vlieg, en sy leer die joernalis hoe. Marike kan tango. Marike kan ook geduldig luister na – en meedoen met – die joernalis se jongste dogter wat hip-hop doen.

Dan is daar vergifnis: Marike moet op ’n manier die man wat haar vermoor het weer in die oë kyk, maar sy is bang. ’n Joernalis aan die ander kant is mos gehard . . . Net soos Marike vir die joernalis leer leef, so moet die joernalis vir Marike leer hoe om vrede te maak met die dood. Daardie besoek aan Pollsmoor is tegelyk ’n hellevaart en ’n metafiksionele besoek aan Oz (dink aan die film). “Down Under” is dit egter nie en die ware besoek aan die hiernamaals – deur die joernalis – is veel minder traumaties as die besoek aan die tronk.

Lees self. Die tronkbesoek is glad nie walglik nie, net hartseer (soos tronkbesoeke gewoonlik is).

Waarom sou Marike juis die joernalis kies om aan te verskyn? Die teks bevat talle bespiegelinge hieroor, maar ek dink dis juis om die hoofkarakter iets van die lewe te laat smaak – voor dit te laat is.

Die hoofkarakter, nou werkloos, het twee dogters wat haar hele lewe is, maar ook op hul eie maniere haar selfbeeld knou. Dan is daar die toenmalige lover, ’n skrywer, wat ook huiwer, verskyn en verdwyn, maar nooit werklik léwendig word in die teks nie. Daar is dus baie redes waarom die hoofkarakter moedeloos kan wees – en sommige mense kies die dood onder sulke omstandighede. “Moenie,” kom die Marike-karakter sê: “Lééf! Ontdek jou vlerke! Dans die tango!”

Ek wil iets noem oor die ooreenkomste tussen Deborah Steinmair en die joernalis: Deborah is ’n interessante mens. Voorts ken ek Deborah se twee beeldskone dogters en ek was by haar en ’n skrywer aan huis toe hulle nog saamgebly het.

Dus? Is die teks biografies? Sommige dele dalk wel, ja. Maar, soos die twee Nagtegaals (Jackie en Reinet) hulle self geplaas het – as fiksiekarakters – in die roman In Limbo, so bestaan die joernalis in die teks slegs as fiksiekarakter. Hier is geen poging om ’n biografiese werk te skryf nie – hoewel talle stukke baie biografies skyn te wees. Nee, op ’n vreemde manier plaas Steinmair (ook ’n goeie skilder) haar lyf as objek vir die leser om na te kyk, maar ook as doek waarop ’n kunswerk kan vorm. Daarna, soos die kunswerk ’n eie lewe aanneem, verdwyn die model en die kuns word vooropgestel.

Marike se laaste dans is kort (effens te kort sê ’n boekaankoper die ander dag) en dit lees maklik.

Diegene wat Deborah ken, sal die eerlike spel rondom haar eie lewe bewonder, maar jy hoef nie vir Deborah te ken om die hoofkarakter se lewenskragtige, gevleuelde reise te geniet nie.

Marike se Laaste Dans het by Human & Rousseau verskyn. Die ISBN is 9780798151467.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Aesop’s Fables

Julie 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag vir julle aanraai om AESOP’S FABLES te gaan kyk in Die Fugard. Dit is ’n wonderlike, snaakse en uiters lewendige vertoning. Die speelvak eindig 17 Julie (al sê die plakkaat dis ’n week vroeër.)

Die kostuums is fantasties. Die musiek is wêreldklas en die toneelspel is knap. Mhlekaszi Andy Mosiea was besonder vaardig (heel pateties, dus) in die naamrol, terwyl Simphiwe Mayeki die klassieke antiheld was – en tog kon jy nie anders as om van hom te hou nie. Zolina Ngejane, as Hermes, was eweneens indrukwekkend.

Wat meer is, Eric Abrahams is die vervaardiger van dié stuk. Wie? Onthou julle die film Kolya wat in 1996 die Oscar gewen het vir “Best Foreign Language Film”? Nou, ja. Eric Abahams het dit vervaardig.

Jip, Abrahams is ’n Suid-Afrikaner wat deesdae nou saamwerk met Die Fugard.

Die regisseur is Mark Donford-May wat ook die regisseur was van u-Carmen eKhayelitsha, ’n film wat ’n Goue Beer gewen het by die Berlyn Filmfees.

So, julle is in goeie hande.

Die Fugard is ’n besondere teater en ek sal in die vervolg baie maklik geld uithaal om daar te gaan sit.

Terloops – dis baie, baie kindervriendlik. Ons sewejarige knaap het op die punt van sy stoel gesit en kyk. Daar was heelwat ander kinders ook in die gehoor. Tog is daar geen twyfel nie dat dit grootmense is wat meeste sal put uit die baie slim manier waarop ’n horingou Grieks fabel weer nuut en vars gemaak word in Kaapstad.

En vir pa’s (en sommige ma’s): jy gaan sukkel om ’n playboyhasie op die verhoog te sien wat beter lyk in stywe kleertjies as Poseletso Sejosingoe. Oef. Sjoe.

Vir meer inligting, besoek gerus http://www.thefugard.com/