Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Viva Melt!

Junie 28, 2010 in Sonder kategorie

Melt het Vrydagaand sy digbundel, Oewerbestaan, bekendgestel. Dit was ’n koue, mistige aand in Stellenbosch – veel anders as die ekspansiewe landskappe waaroor Melt dig. Ek het ‘n paar foto’s geneem.

 

Die wyn was puik, die sop was heerlik, die brood was voortreflik.

Die boek het BAIE goed verkoop.

Maar, ons het nie nét geëet en gedrink nie.

 

Rachelle Greeff het ’n baie oulike “brief aan Melt” voorgelees – oor sy bundel.

 

Dorothea van Zyl het met baie trots die nuweling verwelkom.

 

Neïl Rademan het toonsettings gesing en … Melt het voorgelees!

Koop die boek, jy gaan nie spyt wees nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Nico Smit is oorlede

Junie 19, 2010 in Sonder kategorie

Nico Smit het vanoggend gesterf.

Smit was ‘n outydse NG Dominee en ‘n Broeder wat stelselmatig apartheid begin bevraagteken het. Hy het toe in Mamelodi-township gaan bly en daar gewerk. Om daar te bly was onwettig op daardie stadium. Die Nasionale Party en die NG Kerk was woedend oor Smit se optrede.

Smit het klaarblyklik vanoggend ‘n vriend se tagtigste verjaarsdag bygewoon toe hy inmekaargesak het.

Smit was ‘n held van die struggle, al sal Julius Malema dit nooit verstaan nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ek is in die Huisgenoot

Junie 7, 2010 in Sonder kategorie

My een week van roem en glorie het gekom! Ek is in die Huisgenoot. ’n Hele bladsy! Wow!

Nee. Dis nie oor hulle my en die skelmpie afgeneem het nie! Hulle het, om die waarheid te sê, dieselfde foto gebruik as wat ek hier vir my Avatar gebruik. Awie Badenhorst het dié foto geneem. (Ben du Toit, skrywer van God? Geloof in ’n postmoderne tyd, sê mos: “Daardie foto laat jou 25 IK-punte slimmer lyk as wat jy regtig is.”)

Nou ja. Ek is in die Huisgenoot! Foto en al.

My ma SMS ewe: “Het wragtie vanmore ’n Huisgenoot gekoop (en gehoop niemand sien my nie).”

Ag nee, wat. Deesdae is die Huisgenoot ’n gerespekteerde literêre naslaanbron. Koop die ding! En koop die boeke wat hulle bespreek!

So: Koop die Huisgenoot, mense. Die 10 Junie s’n, maar hy was Saterdag al op die rakke hier onder in die Kaap.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Hennie Aucamp op Leeskring

Junie 1, 2010 in Sonder kategorie

Daniel Hugo voer vanaand, 1 Junie 2010, ‘n onderhoud met Hennie Aucamp oor Aucamp se bundel Oor en weer.

Dit word uitgesaai op RSG. Die program is Leeskring en die onderhoud begin om 20h30.

Onthou: Dit is ook beskikbaar op die net: www.rsg.co.za

Jy kan dit luister via “live streaming”, of jy kan die MP3 aflaai en daarna luister op pad werk toe.

Moenie dit misloop nie.