Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Goeie resensie van JB Roux

Mei 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil graag kommentaar lewer op JB Roux resensie van Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes. Kliek hier om dit te lees.

Roux het myns insiens twéé goed reg gedoen.

Ten eerste het hy ’n kenner van die genre genader om seker te maak hy kyk na die regte goed en daarna het hy boek gelees en berig oor sy ervaring daarvan.

Roux het ’n sekere juffrou H genader, wat glo satire ken. Dié het nogal  kritiek gehad op die teks. Sonder skroom het Roux dié kommentaar geplaas, maar toe ook vrae gevra oor die kritiek. (Roux se resensie is ook effens satiries!)

Uiteindelik het Roux die teks gelees as léser en gevind dit lees baie lekker. So het hy dan ook gesê:

Selfs met inagneming van ’n “kenner” se notas oor satire, word Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes onvoorwaardelik aanbeveel vir enigiemand wat Afrikaans kan lees.

Voorts het hy die roman geweeg aan ’n interteks, André P. Brink se Oom Kootjie Emmer en die Nuwe Bedeling. Hy het dus sy eie kommentaar en kritiek getoets teen ’n waardige mededinger – en ook daaroor berig.

Ek wonder wat ander oor dié resensie sê?

Ten eerste is dit nie “tradisioneel” nie. Ten tweede betrek dit die lééservaring en berig daaroor, sonder om die tegniese aspekte af te skeep.

Ek dink Roux het presies vir enige een vertel of sy/hy die boek moet koop, al dan nie.

Soek jy donker, snydende satire, gaan hierdie een dalk nie werk nie. Soek jy humor wat lekker lees en draaksteek met die spul heilige koeie van ons verlede, koop dit.

Dís wat ’n resensie moet doen, dink ek.

Wat sê julle?

(Terloops: Dis ’n Protea-boek en ek is verbonde aan Protea, laat dit gesê word. Ek het egter nie die boek gelees nie, so ek kan oor die boek self nie kommentaar lewer nie. Ek voel egter dat ek oor die resensie kan kommentaar lewer, soos ek al dikwels te vore gedoen het.)

Die teks is te koop op ons webruimte, kliek hier.

Maar, onthou, die beste ding wat jy vir die Afrikaanse boek kan doen is om na jou naaste boekwinkel te gaan en te vra: “Het julle al Raadslid Hamersma se voorvinger wys wes van Marius Ackermann? Die ISBN is 9781869193201. Nie?! Bestel dit dan asseblief!”

Profile photo of izakdv

by izakdv

Iets ver en nuut

Mei 19, 2010 in Sonder kategorie

André Pretorius is een van daardie gelukkige mense wat sy passie en sy talente saam-saam kan inspan. Hy is ’n baie onderhoudende skrywer, hy is mal oor reis, hy woon in Londen en verdien genoeg om te reis, en dan daaroor te skryf.

Is julle klaar jaloers? Wel, goed, maar koop dan sy boek, Iets ver en nuut, en deel in sy vreugdes.

Joan Hambidge het ’n pragtige resensie van Iets ver en nuut in Maandag se Burger geskryf. Kliek hier om dit te lees.

Hier is maar ’n kort aanhaling uit Joan se resensie:

Besonder mooi is die ­foto’s in die boek waarvan die foto van die Boeddhistiese ­mon­nik met sy bidsnoer puik is. ’n Mens kom natuurlik veel te wete van die reisende ek in hierdie versameling en soms word die ­leser ook aangespreek as ’n “Geagte leser” sodat jy as’t ware hierdie ooggetuie-verslag meemaak. Dis ’n lekker boek. Inderdaad vir die leunstoel-reisiger bedoel. Stede het persoonlikhede en elke reisiger gaan uiteraard anders na ’n bepaalde stad kyk.

As julle wil luister na André Pretorius, kliek dan hier en laai die MP3 af van sy gesprek oor sy reise, en oor hierdie boek.

Joan praat tereg oor die foto’s – die boek lees lekker én dit kyk lekker. Teen ’n voorgestelde rakprys van R140 is dié boek een van die beste waarde-vir-geld-reise wat jy nog teëgekom het.

Julle kan die boek aanlyn koop op Protea se boekwinkel (kliek hier), maar die beste ding wat jy vir die Afrikaanse boek kan doen is om na jou naaste boekwinkel te gaan en te vra: “Het julle al Iets ver en nuut van André Pretorius? Die ISBN is 9781869193553. Nie?! Bestel dit dan asseblief!”

Ons is baie trots op ons goeie verbintenis met Exclusive Books, Wordsworth Books, Bargain Books en die talle onafhanklike winkels in die land. Ondersteun hulle asseblief.

En geniet hierdie genotvolle, mooi boek. (Daar is ook staaltjies in van André wat wynproe terwyl hy ’n marathon hardloop; en moenie vergeet van die keer toe hy met bitter min om sy lyf na ’n openbare bad in Boedapest is nie!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Suid-Afrikaanse skrywer oorlede in lugramp

Mei 14, 2010 in Sonder kategorie

Foto uitgereik deur 30° South

Bree O’Mara, die skrywer van Home Affairs, is Woensdag oorlede toe ’n vliegtuig van die Libiese Lugredery in Tripoli neergestort het.

O’Mara het in 2007 die Citizen Book Price ingepalm met Home Affairs.

Haar plaaslike uitgewer, 30° South, berig dat sy op pad Londen toe was om ’n groot kontrak te gaan teken vir die regte op haar nuwe roman, Nigel Watson, Superhero.

Sy word oorleef deur haar man, Chris.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lolly Jackson se lewe geboekstaaf

Mei 8, 2010 in Sonder kategorie

Lolly Jackson, die eienaar van Teazers, is Maandagaand vol lood gepomp – net soos jy in die flieks sien.

Sy lewe was ook meer soos film as wat myne ooit sal wees.

Drie jaar gelede is daar ’n biografie oor hom geskryf – met sy hulp.

Stripped, soos oorvertel deur Vincent Marino, is te koop by Kalahari.

Kliek hier vir die boek by Kalahari.

Ek het nie die boek gelees nie, maar dit mag interessant wees. Onthou net, Lolly Jackson het die proewe afgeteken, so die donkerder kant van sy lewe gaan nie in hierdie boek verskyn nie.

Koop die Mail & Guardian van 7 – 13 Mei 2010 om meer van die ander kant te hoor. Ilham Rawoot en Lisa Skinner was drie weke gelede nog in Lolly se kantoor, en berig daaroor.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Marita van der Vyver in The Book Lounge

Mei 7, 2010 in Sonder kategorie

Marita van der Vyver praat Donderdag 13 Mei by The Book Lounge in Kaapstad.

Haar nuwe boek, Dis koue kos skat, word bekendgestel en, gelyk daarmee, ook die Engelse weergawe, Just Dessert, Dear.

Enigeen kan dit bywoon, maar dan moet jy gou spring. As jy al by die Book Lounge was, dan sal jy weet dit kan vol raak daar.

Om jou plekkie te bespreek om vir Marita van aangesig tot aangesig te sien, bel 021 462 2425 of skryf aan booklounge@gmail.com.

Gou spring!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Melt Myburgh die rockster

Mei 5, 2010 in Sonder kategorie

Ons het gister begin met voorverkope van Melt se komende digbundel, Oewerbestaan.

Mense, hier kom ’n ding. Die boekwinkels se ore spits as Melt se naam genoem word.

Rock, rock, rock die establishment, Melt!

Profile photo of izakdv

by izakdv

As

Mei 3, 2010 in Sonder kategorie

“Kelner! Daar is vulkaniese as in my sop.”

“Ja, meneer, daar heers tans ’n vliegverbod.”

*

 

Konteks is alles. Oor ‘n paar maande sal niemand meer hierdie grappie vang nie.