Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Dana Snyman is ’n doring

Maart 29, 2010 in Sonder kategorie

Ek het vanmiddag laat eers my Rapport gaan koop en op die Boekeblad een van die heerlikste resensies gelees wat ek nog raakgeloop het.

Dana Snyman, een van ons groot reisskrywers, het Paul Alberts se pragtige boek, Buite die hekke van Eden, in die bakkie gelaai en gery.

Die idee was dat hy ’n resensie daaroor moes skryf. In plaas daarvan het hy ’n brief aan Paul Alberts geskryf. Dié brief is in Rapport geplaas. Lees gerus die brief hier.

Nou, julle ken my al. Ek is by geleentheid ’n bietjie dwarstrekkerig en het eenmaal ’n Noordelike Akademikus baie kwaad gemaak toe ek beweer dat daar geen resep is vir ’n goeie resensie nie. “Inteendeel,” het ek gesê, “elke boek is uniek en dis juis resensente wat vars en nuut kyk na die resensie as medium, wat my opgewonde maak.”

O, gonna. Toe is die gort gaar. Madame het haar opgeruk en gesê: “Nou wat moet ek my studente dan leer? Ek leer hulle dan juis hoe om resensies te skryf.”

“Bravo,” was my antwoord. “Jy móét hulle leer wat gewoonlik in ’n resensie staan. Maar dan moet jy hulle vrylaat om iets heel anders aan te vang.”

“Gmf,” was Madame se enigste antwoord.

Wel, ek vrees ek staan steeds by my standpunt. En as julle Dana se brief lees, sal julle sien hoe ’n resensie hééltemal kan wegbreek uit die norm en daarom júís die kol tref.

Net soos Paul Alberts ’n mens heeltemal nuut laat kyk na die hartseer in ons land, so laat Dana ’n mens heeltemal nuut kyk na dit wat gewoonlik in die Boekeblad staan.

Bravo Dana Snyman!

Buite die hekke van Eden, deur Paul Alberts, is deur Protea Boekhuis uitgegee. Ek kon dit nie op Kalahari opspoor nie, bel maar die uitgewer, of een van hul winkels.

Profile photo of izakdv

by izakdv

FTH:K wen twee Fleur du Cap-toekennings

Maart 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek het ’n ruk gelede vertel van ’n baie interessante stuk wat ek gesien het, genaamd Pictures of you.

Pictures of you is pas twee keer bekroon by die jaarlikse Fleur du Cap-toekennings. Rob Murray het die een toekenning gekry vir Beste Beligting, terwyl Janni Younge ’n toekenning gekry het vir die maskers wat sy gemaak vir Pictures of you en vir Quack!

 

Quack! is ook ’n FTH:K-produksie. Dit wys tans by die Out of the box-fees.

Ek gaan kyk.

Sien julle by een van die volgende vertonings:

– Vrydag 26 Maart 2010 om 19h00

– Saterdag 27 Maart 2010 om 17h00

Kaartjies is slegs R50. Dit speel in die Arena – in Kaapstad.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vertaalwerk of Lost in Translation?

Maart 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek weet nie hoeveel van julle al Google Chrome se vertaalknoppie gedruk het nie. Dis handig wanneer jy agterkom dat een of ander beeldskone seksbom in Pole iets oor Izak de Vries te sê gehad het … moet ek terugskryf, of het sy vir almal vertel ek is die grootste *&*&* op aarde? (Vloekwoorde vertaal nie lekker nie.)

Ek het, sommer vir die grap, Willemien Brümmer se heerlike stuk oor Sonde met die bure vertaal. Daar is ’n rede voor: Protea is bekend daarvoor dat hulle outentieke tekste probeer uitgee. Brümmer sê dan ook:

Dis verblydend dat die outentisiteit van hierdie teks in dié jongste uitgawe deur Protea Boekhuis bewaar is. Soos wat in die redaksionele nota voor in die boek staan, is pejoratiewe onveranderd gelaat en spellings en leestekens nie gemoderniseer nie.

’n Redakteur kan maklik ’n werk so “vertaal” na Standaardafrikaans dat die oorspronklike teks verlore gaan. Net soos Google Chrome gemaak het met Brümmer se teks. Hier is die begin van die Brümmer-teks:

Sonde met die bure

Skrywer: CJ Langenhoven

ISBN: 9781869193232

Uitgewer: Protea

Publikasiejaar: 2009

Bladsye: 96

 

Klik hier en koop Sonde met die bure nou by kalahari.net!

 

In my kindertyd, selfs later as tienderjarige, was die vaal sementolifant op ons familieplaas buite Ladismith in die Klein Karoo ’n sentrale karakter in my verbeeldingswêreld. Dié olifant, wat deesdae net ’n bietjie hoër staan as my knieë, het in my ouma Engela se dae soos ’n waghond op die voorstoep gestaan, waar hy uitgekyk het oor die dam en die Otto Hager Kerk in die verte.

 

Ná my geboorte, toe my ouma reeds die tydelike met die ewige verwissel het, is hy na ’n “veilige hawe” in die “spookkamer” verskuif – die studeerkamer aan die donker kant van die huis waarin Pappie, Langenhoven se grootmaakpa, skynbaar destyds gesterf het. Hier het die olifant hom in ’n spesiale hoekie tuisgemaak – die einste “spookhoek” waarin ons dikwels toe-oë gestaan het om te kyk of ons armhare regop staan. Dit was asof die olifant ’n geheime pakt had met die spoke, omdat verdigsel en werklikheid in elk geval ’n manier het om in die Klein Karoo te vervloei. Veral op ’n plaas wat ná Pappie se dood deur Langenhoven geërf is.

Google het besluit om CJ Langenhoven na Dan Brown te vertaal, en ’n rukkie later word selfs Mandela by die teks betrek. (Sien die laaste paragraaf.) Kyk net hier:

Probe with the neighbors

Author: Dan Brown

ISBN: 9781869193232

Publisher: Protea

of publication: 2009

Pages: 96

 

Click here to buy Sonde with neighbors kalahari.net now!

 

In my childhood and even later as teenager, was the dull sementolifant on our family farm outside Ladismith in the Klein Karoo a central character in my verbeeldingswêreld. The elephant, which is now only a little higher than my knees, my grandmother Elizabeth’s days as a watchdog standing at the front, where he saw over the dam and the Otto Hager Church in the distance.

 

After my birth, when my grandmother has temporarily with eternal interchangeable, is he a “safe haven” in the “spookkamer” move – the study of the dark side of the house where Pappie, Langenhoven’s grootmaakpa, then apparently died. Here’s the elephant in a special corner settled – the very “spookhoek” which is often when we stood eye to see if we armhare bristle. It was as if the elephant “had a secret pact with the ghosts, because verdigsel reality and certainly a way to live in the Little Karoo to liquefied. Especially on a farm which Pappie after Mandela’s death are inherited.

 

Nee, wat. Goeie vertalers en redakteurs sal steeds hulle geld verdien. Koop liewer Sonde met die bure en lees hierdie onkreukbaar lekker boek – onvertaald!

Profile photo of izakdv

by izakdv

E-boek nou in sagteband!

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

Die kosmos het ’n sin vir humor. Kyk mooi na die ironie in hierdie advertensie.

Ek het dié advertensie op die Amerikaanse webruite Slate.com raakgeloop en onmiddellik ’n screen shot hiervan geneem.

Wys jou, ’n leesbare boek verkoop sigself!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die rekenaar en die e-boek

Maart 17, 2010 in Sonder kategorie

Awie het hierdie foto en die onderskrif aangestuur.

 

Scientists from the RAND Corporation have created this model to illustrate how a “home computer” could look like in the year 2004. However, technology will not be economically feasible for the average home. Also scientists readily admit that the computer will require not yet invented technology to actually work, but 50 years from now scientific progress is expected to solve these problems. With teletype and the Fortran language the computer will be easy to use.

 

Ek wonder nogal waarvoor daardie stuurwiel nodig sou wees?

Vyftien jaar na hierdie foto geneem is, was daar ’n helse revolusie in die rekenaarbedryf. Die Sinclair ZX-80 is gebore. En wow. Die tuisrekenaar was klein genoeg om op ’n lessenaar te staan.

 

Ek en Bertie du Plessis het juis die ander dag nostalgies geraak oor ons eerste rekenaars. Hy het ’n ZX gehad. Ek het op ’n BBC leer programmeer. My BBC het 32k geheue gehad en ons het al ons programme op ’n kassetspeler (soos in tape recorder) gestoor.

Interessant? Inderdaad, maar nóg interessanter is Sir Clive Sinclair se sienings oor die huidige rekenaars. Hy voel hulle is swak ontwerp en mors hulpbronne. Lees gerus sy sienings hier.

Wat my bring by die e-boek. Mense. Die papierboek is nog lank met ons, baie lank. Maar, hou hierdie ruimte dop. Die e-boek is deesdae reeds ’n feit en die tegnologie vorder geweldig vinnig. Ons is reeds by die ZX verby, die vraag is: Gaan ons Apple, of gaan ons Windows? Of wat van Google? Hoe klink open source? 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Herman van den Berg en die twee Klassen-broers

Maart 11, 2010 in Sonder kategorie

Musiekliefhebbers in Gauteng moet julle ore spits! Herman van den Berg tree Saterdag (13 Maart) op saam met David Klassen (perkussie) en Theo Klassen (kitaar/baskitaar.)

Hulle speel in die Pierneef-teater in Pretoria.

Bespreek by (012) 329-0709 of info@pierneefteater.co.za 

Ek het Vrydagaand (5 Maart) vir Herman gehoor saam David Klassen en Matthys Maree. Dit was ’n belewenis!

Komaan, julle kla altyd as ek net berig oor goed in die Visdorpie. Gaan luister ’n slag na uitstekende Afrikaanse musiek in Pretoria.

Ek het ’n paar jaar terug vir julle vertel oor Herman, kliek gerus hier.

Ek dink Herman het intussen meer beleë geraak. Op veertig begin sy stem nou volrond raak en dis ’n plesier om hom lewendig te sien saam met ’n groep goeie musikante.

David Klassen is baie veelsydig. (Vrydagaand het een van die vroue aan my tafel gesê hy multitask heeltemal te goed vir ’n man!)

David tree ook gereeld saam met Laurinda Hofmeyr op.

Theo Klassen is David se broer. Hy is ’n musikant in eie reg en sal Herman se eie kitaarspel goed aanvul.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Gabeba Baderoon se wonderlike stuk

Maart 10, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil julle baie graag aanmoedig om die bekroonde digter, Gabeba Baderoon, se mooi stuk te lees oor kuns. Sy skryf dit in respons op Lulu Xingwana se volgehoue onvermoë om die gevolge van haar optrede by Innovative Women te verstaan.

Waar ek egter (opsetlik) satiries gewerk het, kyk Baderoon digterlik en filosofies daarna. Dit is werklik die moeite werd om dit rustig te lees.

Hier is die laaste paragraaf:

 

Minister, I would like to imagine a different outcome to this controversy. I want to imagine you will come back to the images you walked away from, and look deeply at what you thought you didn’t want to see. I imagine you rethinking received ideas about art and pornography (the great poet and activist Audre Lorde gives us some beautifully nuanced insights on this) and arriving at a hard-earned transformation. I think of you reflecting on your responsibilities as the guardian of the nation’s best impulses in art and culture – which is not to limit but to enable such work. Then perhaps this experience of looking again at the thing you didn’t want to see will have brought you closer to the most radical and expansive possibilities of art.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ons kunstenaarskap is in gevaar

Maart 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek is baie bly dat die pers – so ver as in Engeland – vir Liewe Lulu hel gegee het oor haar moroonagtige optrede by die uitstalling “Innovative Women”.

Een van haar raadgewers het klaarblyklik vir haar vertel dat daar menseregte in Suid-Afrika is, en nou beweer sy dat sy glad ’n probleem het met gay mense nie.

Nou waaroor het die minister dan so breinloos opgetree? Hier is die antwoord: “a long overdue debate on what is art and where do we draw the line between art and pornography”.

Nou, dôner mense, hoe Nasionale Party kan ’n mens wees? Klink dit nie presies soos iets wat PW Botha sou gesê het nie?

Gaan kyk self. Hier is ’n paar van die foto’s – daar is letterlik nie een wat ek nie vir my seun sal wys nie. En my seun sal ook nie dink hulle is snaaks, of vreemd, nie.

Gaan ek volgende hoor dat die skilderye van kaal vroue, of die mooi beelde van kaalborsmeisies, wat in my huis is, ook verbied gaan word? Gaan boeke soos Fanny Hill ook volgende uit my huis verwyder moet word?

Ons kan nie en moenie toelaat dat die huidige, verregse spul dinosourusse ons werk wegkalwe nie.

Hoeveel kunstenaar is nie verban in die ou Suid-Afrika nie? André Brink, John Miles, Etienne Leroux … ag, ons kan aangaan met hierdie lysie.

As ’n minister van Kuns en Kultuur sulke uitsprake maak, terwyl haar baas, Prez Showerhead Z, vir ons vertel dat hy minder seks op TV wil sien, wel, dan moet ons baklei.

Mense vra dikwels hoekom die uwe, wat mal is oor vroue, dan so in gayregte belangstel? Dis oor regte, dis hoekom.

As ek nie baklei vir almal se regte nie, kan ek nie aandring op my eie nie.

En, as kunstenaar, dring ek aan op artistieke vryheid. Vir artistieke vryheid sal ek aanhou baklei.

Sien gerus ook Coenie Kukkuk se Facebook-stuk oor die onderwerp.

Vir ’n meer volledige dekking oor Liewe Lulu se kleitrappery, lees gerus hierdie artikel in die Mail & Guardian.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Aardbewing in Chili

Maart 4, 2010 in Sonder kategorie

As ’n foto gelyk is aan ‘n duisend woorde, dan is hierdie skakel gelyk aan ’n novelle.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lulu se sensuur

Maart 2, 2010 in Sonder kategorie

Daar doen liewe Lulu dit toe weer. Die dierbare dame het glo besluit lesbiese kuns is pornografies en onsedelik. Shame.

Ek dink dis tyd dat gay-aktiviste aandring dat Lulu Xingwana verwyder moet word uit haar portefeulje. Coenie Kukkuk gaan beslis ’n e-pos van my kry.

Volgens Die Burger het Zanele Muholi geld ontvang van die departement en het, as ’n gebaar, toe vir Liewe Lulu gevra om die uitstalling te kom open.

Liewe Lulu het klaarblyklik haar ongekunstelde self gewys en uitgestorm. Haar persoonlike assistent moes glo die toespraak voorlees.

Dit is ’n skande. Ons kan nie só ’n verkrampte persoon toelaat om kuns en kultuur te vertrap nie.

Hoe langer die ANC aan bewind is, hoe meer raak hulle soos die Ou Nasionale Party.

(Die Nuwe Nasionale Party het egter darem vooraf hulle mense uitgestuur en gedink oor goed. Hernus Kriel, ’n gekunstelde persoon, het al ’n veel meer gewaagde uitstalling geopen – ek was daar, dis net dat ek nie onmiddellik die kunstenaar se naam kan onthou nie.)

 Sies Lulu. As hierdie berigte waar is, is jy ’n skande.

(Om van die foto’s te sien, kliek hier.)