by

Dick Francis is dood

Februarie 15, 2010 in Sonder kategorie

Ek het Dick Francis ontdek toe ek in die hoërskoolbiblioteek toegelaat is. Na ek een van sy boeke uitgeneem het, was daar geen keer aan my nie. Ek het al die ander in die bib ook gelees.

Richard Stanley Francis (gebore 31 Oktober 1920) se pa was ’n jokkie, en later stalbestuurder, so perde was daar van die begin van sy lewe af. G’n wonder nie dat Dick later óók ’n jokkie geword het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Francis in die Royal Air Force, maar daarna is hy terug stalle toe.

Tussen 1946 en 1957 het hy meer as 350 wedrenne gewen en was die Kampioenjokkie tussen 1953 en 1954.

In 1953 het die koninginmoeder hom gevra om vir haar te ry. Hy was haar jokkie tot aan die einde van sy loopbaan.

Gedurende dié tyd het hy ook die mees dramatiese oomblik van sy loopbaan beleef. Dit was in 1956, gedurende die Grand National (Brittanje se GROOT wedren). Francis het Devon Loch gery vir die koninginmoeder en was op pad na ’n oorwinning. Skielik het die perd net onder hom meegegee en geval.

Nóg ’n groot val, in 1957, het hom laat uittree, waarna hy sy outobiografie The Sport of Queens geskryf het. Vir sestien jaar lank was hy ’n perdeskrywer vir die Sunday Express, maar in 1962 verskyn Dead Cert, ’n riller wat oor perde gaan.

Die res, nou ja . . . Veertig boeke later sou ’n mens ’n heel ander biografie oor hom kon skryf.

Francis was nuuskierig, hy het navorsing gedoen, hy het gelees en gevra. Sy seun, Felix, onthou hoe opgewonde Francis kon word oor goed wat hy lees:

“The production of a Dick Francis novel has always been a mixture of inspiration, perspiration and teamwork. The first one was published when I was nine, and I grew up in a house where breakfast talk would be about the damage a bullet might do to a man’s guts rather than the more mundane topics of everyday life.”

Felix het hierdie gesprekke onthou en het op nasionale vlak vir Brittanje meegeding in skyfskiet en daarna het hy gaan fisika studeer.

Jonathan Derry, die fisika-onnie in Twice Shy, is duidelik op Felix gebaseer. (Terloops, Felix, die jongste van twee seuns, is heelwat groter as sy pa; hy sou waarskynlik nie ’n goeie jokkie gemaak het nie.)

In 1991 het Felix bedank en het voltyds vir sy pa begin werk – as navorser en as bestuurder van Francis se fortuin. Die gogga het hom só gebyt dat hy later begin saamskryf het. Vir die laaste drie romans waaraan Dick Francis gewerk het, Dead Heat, Silks en Even Money, was Felix ’n medeskrywer. (Ek wonder of hy sal aangaan op sy eie, ek vermoed egter hy sal.)

Dick Francis is gister, 14 Februarie 2010, oorlede.

Saluut, ou grote!

17 antwoorde op Dick Francis is dood

  1. Ek het as skoolkind Dead Cert in ‘n Reader’s Digest Condensed Book gelees (was daarop ingeteken) Ek meen dit was in die eerste bundel wat ek ontvan het en was daarna ‘n gevangene van Francis. Dankie vir die inligting oor dy dood ek het dit nêrens anders dié naweek gesien nie. Wat my betref kon heelwat groot romansiers by hom gaan leer het oor die balans tussen intrige en karakter. En dan die fyn navorsing. Mn of meer in die tyd toe ek my eerse Sinclair ZX rekenaartjie gekoop het het sy boek oor die onderwerpt verskyn Kan jy glo daar was ‘n tyd toe ons inligting op kassetbandjies geberg het, pleks van flash drives en hardeskywe?!

  2. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Dankie, ek is bly jy deel my saluut!

  3. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Bertie. Ek het ook my eerste BASIC programme op kassette gestoor. Ek het op ‘n BBC geleer met ‘n RAM van 32kb.

    Ek stem oor die navorsing, karakters en intrige.

    Dankie!

  4. “We are a dying breed”(!)

  5. Dit was nou ‘n lekker lees. Dalk soek ek ook nou ‘n Dick Francis boek om te lees, Izak.

  6. Hy was n grote in sy genre- en meeste stadsbiblioteke had n veelvoud van sy boeke, almal amper horing-oud natuurlik. As ek my nie misgis nie was daar n jaar of twee terug n amperse skandaal met sy vrou se afsterwe toe daar beweer was dat sy eintlik baie van die skryfwerk gedoen het.
    Ai Izak- nou’t ons twee misdaadlegendes al verloor hierdie jaar. Robert B Parker, die skepper van Spencer (en later Jesse Stone) is ook onverwags aan n hartaanval dood in Januarie.

  7. Vetjan het gesê op Februarie 15, 2010

    Ek het nog altyd Dick Francis se boeke geweldig geniet, en het seker almal gelees. Time marches on.

  8. Ja, naa… Ek het ook al sy boeke verslind, baie keer meer as een maal. Ek het die afgelope Kersfees vir die eerste keer sy “Sport of Queens” gelees nadat iemand dit vir my gegee het as ‘n geskenk. Ek gaan hom mis.

  9. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    We are an aging generation …

  10. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Dis pret, Joanna, nie hogere kuns nie. Sommer net lekkerlees.

  11. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Sê jy, Petrus. Ek wonder hoe sy seun nou gaan maak?

  12. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Ek het nie sy SPORT OF QUEENS gelees nie. Sal graag!

  13. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Ek sal nie verbaas wees as sy vrou help skryf het nie – sy seun onthou dit immers as ‘n “spanpoging”.

    Ek ken Parker nie – sal moet ondersoek!

  14. WAT???? Jy ken nie van Spencer en Hawke en Susan nie??? *lag in my mou*- toemaar, dis nie ernstige misdaadfiksie nie- eintlik maar net moderne cowboystories. Parker het die gewoonte om sterk, edele helde te skep.

  15. Dis nou slegte nuus.

  16. Izakdv het gesê op Maart 8, 2010

    Inderdaad, Henry!

  17. Izakdv het gesê op Maart 8, 2010

    Sal moet gaan leer, Joe!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.