by

Asof vir die eerste keer

Februarie 10, 2010 in Sonder kategorie

Wie onthou nie die eerste soen nie? Ek praat nou van sóén, nie ’n outanniekus nie. Of die eerste keer wat jy jou lover gestroop gesien het… gestroop van klere, gestroop van enige iets wat julle van mekaar weghou?

Ek, wat nou al 15 jaar met dieselfde geliefde getroud is, onthou dit nog. En soms, elke nou en dan, kyk ek nog so na daardie mooi lyf en sien haar raak, en raak lus, asof vir die eerste keer.

Vandag sien ek op LitNet iets wat my weer – asof vir die eerste keer – na die Groot Verseboek laat kyk het. Dit is ’n brief wat Nelson Mandela aan Tafelberg-uitgewers gestuur het nadat hulle vir hom kopieë van die Groot Verseboek, die Junior Verseboek en die Senior Verseboek present gegee het. Kliek hier as julle dit nog nie gesien het nie. (Dit was in 1975, lank voor hy almal se gunstelingoubaas geword het.)

My einste geliefde, wat ek so besing hierbo, het ’n paar weke gelede ’n belangrike mylpaal gevier (ek raak oud, sy word wys). Geliefde het toe vir Laurinda Hofmeyr gehuur om te kom sing vir ’n groot aantal van ons vriende.

Laurinda het talle stukkies uit die Groot Verseboek voorgedra, en die pragtige lied “Asof vir die eerste keer” gesing.

Ek en die geliefde het ’n vreemde, en wye, vriendekring. Talle het ’n ruk in die buiteland rondgeloop – of woon steeds daar. Wat my egter opgeval het, was hoeveel van hulle na die tyd vir ons gesê, of geskryf, het hoeveel hulle weer die Afrikaanse poësie geniet het – asof vir die eerste keer.

En, ja! Is dít nie wat ’n gedig moet doen nie? Dit moet vir jou iets, wat jy al lank ken, weer laat ervaar – asof vir die eerste keer.

Die Groot Verseboek is ’n skatkis, iets wat ek nie hoog genoeg kan aanbeveel nie. Dit kom deesdae in drie bande – jy kan hom ook geblik koop. Myne (geblik) is ’n konstante bron van vreugde.

Koop gerus jou eie kopie van die geblikte Groot Verseboek, en geniet die alledaagse, asof vir die eerste keer.

Laurinda se nuutste cd is ook nie te versmaai nie, kliek hier om dit te koop. (Dié mens sing die wonderlikste toonsettings van gedigte.)

My geleerde vriend, Awie, het dié foto’s van Laurinda geneem.

 

Dié einste Awie Badenhorst het gister ’n uitmuntende panorama in Buite van Die Burger gehad. Hier is ’n klein weergawe van die foto.

Die klein foto’tjie laat egter glad nie reg geskied aan sy oorspronklike foto nie. Kry gerus ’n kopie van Die Burger in die hande en beleef die prag van Oranjerivier wat afstort by Augrabies. (Julle sal dit geniet – asof vir die eerste keer 🙂

5 antwoorde op Asof vir die eerste keer

  1. Die eerste soen. Ek het ‘n vriend met wie ek intellektueel verkeer en ons het al baie gekuier en groot gedagtes oor die lewe geruil. Ons het mekaar maar net oor die rand van ‘n koffiebeker bewonder.

    Toe eendag, net toe ek loop, druk hy my saggies teen die muur vas sodat ek nie kan wegbeweeg nie en hy soen my innig en teer en ek vermurwe in sy arms. Ek sou in elk geval nie beweeg het nie. Ons monde het perfek op mekaar gepas en tyd het stil gestaan.
    My asem stop, my hart klop teen snelpas en amper het ek breinskade gekry. Sy hand het teen my rug opgegly en dit het trillings deur my gemoed gestuur.

    Ek was nog nooit so gesoen nie…

  2. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Dis PRESIES waarvan ek praat! Dankie Nefertiti.

  3. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Dankie, Annemarie!

  4. jvdw4 het gesê op Februarie 15, 2010

    Dankie Izak – ek het die Mandela brief geniet ek wens dat meer mense soos jy ‘n liefde vir die verskuns kan hê – dan sal dit al klaar beter gaan met ons land! Die kunste het tog maar net ‘n manier om iets in ons op te hef na ‘ hoër vlak. Ek gun ook die kleinvreugdetjies van die verskuns vir almal – veral as jy ‘n gedig kan tref wat jou hartsnare of verstaan of sienswyse kan roer.

  5. Izakdv het gesê op Februarie 15, 2010

    Ek stem 100% saam, Johan!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.