Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Danksy Zapiro is geen woorde nodig nie

Februarie 26, 2010 in Sonder kategorie

Gepubliseer in The Times van 25 Februarie 2010.02.26

Sien nog Zapiro-sketse hier.

En moenie ZA-News mis nie! Kliek hier.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Madeleine van Biljon sterf

Februarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Die Burger berig vanoggend dat Madeleine van Biljon oorlede is.

Wat ’n verlies vir ons taal en kultuur, maar hoe dankbaar moet ons nie wees vir wat sy gedoen het nie.

Sy was ’n vermaarde joernalis en was baie nouer betrokke in ons letterkunde as wat mense besef. Madeleine Van Biljon se Oumaboek, Merely Madeleine en Geliefde leesgoed het, onder andere, uit haar pen verskyn. Sy en haar sus, Cecile Cilliers, was die “boeksusters” wat letterkunde onder TV-kykers se aandag gebring het. As vertaler het sy Deon Meyer en Marita van der Vyver aan die Engelse wêreld blootgestel.

Van Biljon was ook ’n koskenner en het lank vir die Sunday Times ’n kosrubriek behartig. Haar dogter, ook Madeleine, het dié streep oorgeneem en skryf as Nettie Pikeur.

Wat ek egter van haar onthou was dat sy reguit en eerlik was. In 1998 het daar ’n moerse herrie om haar kop losgebars toe Maretha Maartens haar gevra om vir Finesse te vertel hoekom sy nie ’n Christen is nie. Die arme Afrikaanse gemeenskappie aan die voet van Afrika is só geskud deur ’n gelyktalige suster wat bereid was om eerlik te wees, dat hulle die hoof van die ATKV-Dames afgevaardig het om ’n prys wat aan Madeleine oorhandig is vir haar werk in Afrikaans, te gaan terug vra. Alice Maartens, toentertyd president van die ATKV-Dames, het sommer self op haar koekvurkie geklim en die prys gaan terugvra. Sê Alice in Afrikaanse Wonderland toe dat Afrikaans en die Christendom onlosmaaklik een is en dat Madeleine dus asseblief die prys moet teruggee.

Nou ja. Selfs die feit dat Fritz Kok (grootbaas van die ATKV) en Hennie de Wet (destyds die hoof-uitvoerendebeampte van die FAK) tot Madeleine van Biljon se redding probeer kom het, kon nie die susters met hulle koekvurkies keer nie.

Die onchristelike Van Biljon Bastille is bestorm en vol roomkoekies gemors. Sies!

Nou ja.

Gegroet, Madeleine. Jou nagedagtenis leef voort!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Dick Francis is dood

Februarie 15, 2010 in Sonder kategorie

Ek het Dick Francis ontdek toe ek in die hoërskoolbiblioteek toegelaat is. Na ek een van sy boeke uitgeneem het, was daar geen keer aan my nie. Ek het al die ander in die bib ook gelees.

Richard Stanley Francis (gebore 31 Oktober 1920) se pa was ’n jokkie, en later stalbestuurder, so perde was daar van die begin van sy lewe af. G’n wonder nie dat Dick later óók ’n jokkie geword het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Francis in die Royal Air Force, maar daarna is hy terug stalle toe.

Tussen 1946 en 1957 het hy meer as 350 wedrenne gewen en was die Kampioenjokkie tussen 1953 en 1954.

In 1953 het die koninginmoeder hom gevra om vir haar te ry. Hy was haar jokkie tot aan die einde van sy loopbaan.

Gedurende dié tyd het hy ook die mees dramatiese oomblik van sy loopbaan beleef. Dit was in 1956, gedurende die Grand National (Brittanje se GROOT wedren). Francis het Devon Loch gery vir die koninginmoeder en was op pad na ’n oorwinning. Skielik het die perd net onder hom meegegee en geval.

Nóg ’n groot val, in 1957, het hom laat uittree, waarna hy sy outobiografie The Sport of Queens geskryf het. Vir sestien jaar lank was hy ’n perdeskrywer vir die Sunday Express, maar in 1962 verskyn Dead Cert, ’n riller wat oor perde gaan.

Die res, nou ja . . . Veertig boeke later sou ’n mens ’n heel ander biografie oor hom kon skryf.

Francis was nuuskierig, hy het navorsing gedoen, hy het gelees en gevra. Sy seun, Felix, onthou hoe opgewonde Francis kon word oor goed wat hy lees:

“The production of a Dick Francis novel has always been a mixture of inspiration, perspiration and teamwork. The first one was published when I was nine, and I grew up in a house where breakfast talk would be about the damage a bullet might do to a man’s guts rather than the more mundane topics of everyday life.”

Felix het hierdie gesprekke onthou en het op nasionale vlak vir Brittanje meegeding in skyfskiet en daarna het hy gaan fisika studeer.

Jonathan Derry, die fisika-onnie in Twice Shy, is duidelik op Felix gebaseer. (Terloops, Felix, die jongste van twee seuns, is heelwat groter as sy pa; hy sou waarskynlik nie ’n goeie jokkie gemaak het nie.)

In 1991 het Felix bedank en het voltyds vir sy pa begin werk – as navorser en as bestuurder van Francis se fortuin. Die gogga het hom só gebyt dat hy later begin saamskryf het. Vir die laaste drie romans waaraan Dick Francis gewerk het, Dead Heat, Silks en Even Money, was Felix ’n medeskrywer. (Ek wonder of hy sal aangaan op sy eie, ek vermoed egter hy sal.)

Dick Francis is gister, 14 Februarie 2010, oorlede.

Saluut, ou grote!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Engleish, our Engleish

Februarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek was vanaand by die bekendstelling van Engleish, our Engleish deur John Linnegar.

 

John is een van die mense by wie ek verskriklik baie geleer het oor die jare. As Engelse redakteur het hy nie regtig sy gelyke nie en deesdae gebruik hy sy kennis van die Rooitaal om ander op te lei.

Een van John se groot projekte is die opleiding van taalpraktisyns in die Parlement. Dis een van die redes waarom Hector Tshabalala, die hoofredakteur van die Parlementêre Taaldiensafdeling, die gesprek geopen het.

John deel die teks op in foute wat dikwels deur Afrikaanssprekendes gemaak word, soos om die komma verkeerd te gebruik, foute wat dikwels deur Afrikane gemaak word, soos die omruil van hy en sy, en dan die tálle foute wat gewoonlik deur Engelssprekendes gemaak word, soos: I had blister’s underneath me feet.

Die boek is werklik gebruikersvriendelik. Ek dink elke skoolkind, elke onnie en elke redakteur moet een hê. Die voorbeelde is verstaanbaar en alledaags. Elkeen van ons het al met hierdie goed geworstel. (Ek is byvoorbeeld opdrag gegee om een aan te koop vir ons Kaapse kantoor en nog een vir die Midrand-kantoor.) Ek het vir myself ook een gekoop.

The Book Lounge was stampvol, mense moes buite in die straat staan. Daar was letterlik nie meer plek in die winkel nie. Jip, en dít vir ’n boek oor Engelse grammatika! Ek dink dit sê iets oor die kaliber van die skrywer.

 

En dan is John nog verskriklik nice ook. (En ek weet ek mag nie ’n sin op en begin nie! Jammer, John! En nice!)

 

Selfs die eetgoed het saamgespeel. Awie Badenhorst, self ’n uitstekende redakteur, wou sommer begin woorde pak. (En dit was voor sy tweede glas wyn!)

As julle iemand ken wat sukkel om Engleish te bemeester, koop hierdie boekie.

As jy ’n redakteur of proefleser is, kan jy nie hiersonder klaarkom nie. Dit is een van daardie tekste wat sommer sigself aangemeld het as ’n standaardwerk.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Asof vir die eerste keer

Februarie 10, 2010 in Sonder kategorie

Wie onthou nie die eerste soen nie? Ek praat nou van sóén, nie ’n outanniekus nie. Of die eerste keer wat jy jou lover gestroop gesien het… gestroop van klere, gestroop van enige iets wat julle van mekaar weghou?

Ek, wat nou al 15 jaar met dieselfde geliefde getroud is, onthou dit nog. En soms, elke nou en dan, kyk ek nog so na daardie mooi lyf en sien haar raak, en raak lus, asof vir die eerste keer.

Vandag sien ek op LitNet iets wat my weer – asof vir die eerste keer – na die Groot Verseboek laat kyk het. Dit is ’n brief wat Nelson Mandela aan Tafelberg-uitgewers gestuur het nadat hulle vir hom kopieë van die Groot Verseboek, die Junior Verseboek en die Senior Verseboek present gegee het. Kliek hier as julle dit nog nie gesien het nie. (Dit was in 1975, lank voor hy almal se gunstelingoubaas geword het.)

My einste geliefde, wat ek so besing hierbo, het ’n paar weke gelede ’n belangrike mylpaal gevier (ek raak oud, sy word wys). Geliefde het toe vir Laurinda Hofmeyr gehuur om te kom sing vir ’n groot aantal van ons vriende.

Laurinda het talle stukkies uit die Groot Verseboek voorgedra, en die pragtige lied “Asof vir die eerste keer” gesing.

Ek en die geliefde het ’n vreemde, en wye, vriendekring. Talle het ’n ruk in die buiteland rondgeloop – of woon steeds daar. Wat my egter opgeval het, was hoeveel van hulle na die tyd vir ons gesê, of geskryf, het hoeveel hulle weer die Afrikaanse poësie geniet het – asof vir die eerste keer.

En, ja! Is dít nie wat ’n gedig moet doen nie? Dit moet vir jou iets, wat jy al lank ken, weer laat ervaar – asof vir die eerste keer.

Die Groot Verseboek is ’n skatkis, iets wat ek nie hoog genoeg kan aanbeveel nie. Dit kom deesdae in drie bande – jy kan hom ook geblik koop. Myne (geblik) is ’n konstante bron van vreugde.

Koop gerus jou eie kopie van die geblikte Groot Verseboek, en geniet die alledaagse, asof vir die eerste keer.

Laurinda se nuutste cd is ook nie te versmaai nie, kliek hier om dit te koop. (Dié mens sing die wonderlikste toonsettings van gedigte.)

My geleerde vriend, Awie, het dié foto’s van Laurinda geneem.

 

Dié einste Awie Badenhorst het gister ’n uitmuntende panorama in Buite van Die Burger gehad. Hier is ’n klein weergawe van die foto.

Die klein foto’tjie laat egter glad nie reg geskied aan sy oorspronklike foto nie. Kry gerus ’n kopie van Die Burger in die hande en beleef die prag van Oranjerivier wat afstort by Augrabies. (Julle sal dit geniet – asof vir die eerste keer 🙂

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Antwoord aan Boerseun

Februarie 8, 2010 in Sonder kategorie

Boerseun het nogal ’n interessante uitdaging voor my deur gelê – oor Zuma en kie. Hier is dit:

So is dit in Afrika. Die magshebbers maak soos dit hulle smaak en Zuma bewys dit net weer eens. Nou dat jy klaar gekla het sal ek graag wil hoor hoe jy ’n oplossing sien vir alles. Duidelik werk die huidige plan g’n stuk niks nie.

Ek antwoord graag: Die enigste oplossing gaan wees as die SA Kommuniste Party en Cosatu wegbreek uit die onheilige alliansie. Net soos die Nasionaliste gedink het hulle is onstuitbaar, so dink die ANC hulle is onstuitbaar. (Ek skuld Murphy nog ’n blog oor die NP se gedenkboek – ek het nie vergeet nie, Murphy!)

Die Nasionale Party het ’n vet middelvinger vir die wêreld gewys, Zuma en die ANC doen dit ook – hoewel in ’n mindere mate.

Die probleem is dat die ANC op hierdie stadium weet hulle kan nie verloor nie; dit maak nie saak hoeveel kinders Zuma nog gaan maak nie, of hoeveel nonsens Julius Malema nog gaan praat nie …

Kyk wat het in die vorige verkiesing gebeur: Cope is gestig en die DA het gegroei. Die ANC het egter feitlik dieselfde hoeveelheid stemme gekry, want die massas het Zuma gestem. Die verloorders? Die IFP, die ID, die FF+ en die ACDP.

So, ja, Boerseun, net soos Verwoerd, Vorster en Botha kon “maak soos hulle smaak” (jou woorde), so sit Zuma en Julius Malema heerlik en lag. Net soos die NP se stemme uit blinde lojaliteit na hulle gekom het, so gaan dit ook met die ANC.

Die oplossing? Sakeondernemings moet geld beskikbaar stel vir ’n Arbeidersparty links van die ANC. Sakeondernemings moet dus aktief met die SAKP en Cosatu begin onderhandel en dit vir hulle finansieel moontlik maak om die sprong te maak.

Dan, hopelik, sal ons dit regkry om die ANC in ’n koalisie in te dwing. Vra bietjie vir Pieter Mulder. Hy is die een ou wat al járe lank oor koalisies praat. (Terloops: Selfs as die nuwe Arbeidersparty in ’n koalisie gaan met die ANC, sal dit steeds beter wees vir ons as die huidige bestel, want hulle sal enige tyd kan uitstap.)

Julle dink seker ek is mal om te dink ons sakelui moet ’n Arbeidersparty steun? Wel. Kyk wat gebeur in die VSA. Besigheid was nog altyd agter die Republikeine… tot Bush die ekonomie só ver laat daal het dat selfs die sakelui besef het dat verandering nodig is.

Vra vir die NP ook: Die myne het van die goedkoop arbeid gehou, maar na ’n tydjie was hierdie land so na aan bankrotskap dat ons nie sou kon aangaan nie. Dis hoekom die sakelui begin geld stoot het vir die opposisie.

Kyk ook wat gebeur in Europa: Daar kry arbeiders nie verhogings as hulle nie bereid is om produktiwiteit te verbeter nie. Hier in Suid-Afrika is ’n verhoging skynbaar ’n reg. (Dis waar dat ons inflasie hoër is as Europa s’n, maar die meeste arbeidsgeskille gaan gewoonlik oor lone wat hoër is as die inflasiekoers.)

Demokrasie is ’n simpel ding, Boerseun. Kyk hoe lank was die NP aan bewind. Kyk hoe maklik het Bush gewen (die tweede keer). Kyk ’n bietjie hoe Sarah Palin haar tande begin slyp vir die Withuis.

Palin? Withuis? Goeie hemel!

Zuma is minstens intelligent… Ek kies sy umshini enige tyd bo haar takbokgeweer.

Kyk ook wat het in die VK gebeur: Dit was vir jare lank in die hande van die Konserwatiewe party. Toe kom Tony Blair aan bewind. Wat doen hy? Hy word ’n tweede John Major. Daar was geen verskil tussen Blair se Arbeidersparty en die Konserwatiewe Party nie. Ek moes myself soms knyp om te dink dat Blair wél die Arbeiderleier is.

In die VK is die Liberaal Demokrate die enigste “linkse” party. Hulle doen goed, proporsioneel gesproke, maar kan nie wen nie weens die kieskollegestelsel. (En om hulle links te noem is eintlik grappig, maar teen die moderne Arbeiders ís hulle links!)

In Suid-Afrika hét ons nie eens so ’n “linkse” party nie.

Daar is niks te kies tussen die ANC, DA, COPE en die ID nie. Al vier is gematigde partye in die middel van die spektrum. (Binne die ANC is linkses, soos Gwede Mantashe en Jeremy Cronin, en regses, soos Zuma en Malema. Die party self is egter in die middel – party sê selfs hulle leun na regs.)

Na regs het ons die IFP, FF+ en die ACDP.

Destyds het ons die PAC en AZAPO aan die linkerkant gehad, maar hulle is deesdae nie meer faktore nie.

G’n wonder ons mense weet nie vir wie om te stem nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Pictures of you

Februarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Pictures of you

Julle MOET, MOET, MOET hierdie stuk sien. Ek was gisteraand by ’n vertoning van Pictures of you in die Baxter. Waaragtig, mense, dis ’n belewenis.

Nie ’n woord word gespreek nie. Dis net mense (met maskers), marionette, musiek, klank en beligting – alles is geweldig simbolies, maar tog ook maklik om te volg.

Eintlik wil ek nie veel oor die stuk sê nie, want die idee is dat jy dit moet BELEEF. Die uwe is gelukkig – ek het al baie – en baie goeie – verhoogstukke gesien, en ek was self al op die verhoog … Tog moet ek julle sê hierdie een het my kop laat draai.

Dit handel oor ’n getroude paartjie se lewe en elkeen se onderdrukte drome.

Wees gewaarsku: Dit is GLAD NIE vir kinders nie. En dele daarvan is ontstellend.

Maar, mense, dis die moeite werd!

Marita van de Vyver skryf oor sulke poppe in Griet kom weer.

(Ek is – soos gewoonlik – weer ’n Johny come lately; iemand anders het al hieroor geblog, maar ek kon nie nou die skakel opspoor nie.)

Dit sal weer op Grahamstad wees. Hou julle oë oop in ander dele van die land.

Rob Murray en Liezl de Kock het die stuk geskryf, Rob Murray het die idees verder ontwerp en die regie behartig, hy het ook die ligte gedoen. Janni Younge het die maskers en die marionette gemaak. Die klank is deur James Webb gedoen.

Liezl de Kock en Dorian Burnstein speel die twee karakters.

Dit speel nog net tot 13 Februarie in die Baxter.

Profile photo of izakdv

by izakdv

My probleem met Zuma se 20ste kind

Februarie 4, 2010 in Sonder kategorie

Ek het lank gewag voor ek hieroor geskryf het, want ek wou eers mooi dink hoe ek nou régtig hieroor voel.

Kom ons stel eers ’n paar standaarde:

1. Ek sal normaalweg nie kla as iemand ’n affair het nie. Ons is menslik en wat in mense huwelike en daarbuite gebeur is gewóónlik nie iets waaroor buitestaanders hulle monde moet uitspoel nie. Trevor Manuel en Maria Ramos het lank saamgebly en is later getroud. Bravo. John Major het ’n skelmpie gehad. Toe ek dít uitvind, het hy sowaar meer menslik geword in my boek. (Major is ’n interessante mens, maar hemel hy was ’n vaal politikus!) ’n Affair kan ménse skade doen, dit kán huwelike seermaak, ja, maar dis privaat goed – NORMAALWEG. In Zuma se geval hét ek ’n probleem, maar ek sal later sê hoekom.

2. Ek het nie ’n probleem met ’n staatsman wat ’n verhouding het nie. Francois Mitterrand het al die jare wat hy aan bewind was ’n langtermynverhouding gehad met Anne Pingeot, dit terwyl hy getroud was met sy vrou, Danielle. Hy het kinders gehad by albei vroue. Dis belangrik om te besef dat sy affair in die ope was. Die twee vroue het van mekaar geweet, die kinders ook. As julle belangstel, kliek hier om foto’s te sien waar albei vroue, én die buite-egtelike kind, sáám langs Mitterrand se graf staan. Pingeot het by tye selfs vir Mitterrand vergesel op amptelike staatsbesoeke, hoewel sy nooit as “Eerste Dame” bekend gestaan het nie. (Van belang vir ons gesprek is dat die bestaan van hulle buite-egtelike dogter, Mazarine, vir jare nié bekend gemaak is nie.)

3. Ek het al te vore gesê dat ek geen probleem het met poli-amorie nie, maar dan moet dit die waardigheid van alle partye beskerm. Mitterrand se verhouding was een wat waardigheid verleen het aan sy wettige vrou én sy ongetroude geliefde.

4. Ek het per se nie ’n probleem met poligamie nie. Ek kan ook geen rede sien waarom ’n staatshoof uitgesluit moet wees van die tradisionele reg om meer as een vrou te hê nie. Ek het wel ’n probleem as die belastingbetaler vir elke nuwe flossie ’n moerse klomp geld moet uithaal.

5. Zuma is algehele, totale bleeksiel as ons hom met Salomo vergelyk. Die Bybel vertel, met trots, dat hiérdie knaap 700 wettige vroue en 300 byvroue gehad het. (Moet ook nie vergeet nie, seks met ’n slaaf was soos masturbasie deesdae is, dis iets wat jy sommer gou gedoen het as die amptelike kanaal (sic) nie beskikbaar was nie.) Gelukkige drommel.

Dus, kom ons wees eerlik: Daar ís talle redes waarom Zuma se orgaan ons normaalweg nie sou moes pla nie. Waarom pla dit mý dan?

Hier is ’n aantal redes:

1. Zuma kan dônerswil sê wat hy wil, maar hy laat dit voorkom asof dit heeltemal okay is om rond te pomp. Destyds het hy vir “Kwezi” gegryp oor sy ’n kanga gedra het, nou gaan maak hy ’n kind by nóg ’n vrou. Sorry, dié ou slaap rond. Ek sou hééltemal anders gevoel het hieroor as die presidensie al ’n jaar gelede laat blyk het dat Zuma ’n verhouding het met Sonono Khoza. Sy is mooi, sy is ryk, sy is geskei … fine. As hy dit dus doen met sy ander vroue se medewete, wel fine, gelukkige bliksem. Maar nou is die verhouding toegesmeer. Al wat ons dus weet, is dat Zuma al weer sy ding ingedruk sonder ’n FL. ’n Mens wonder of hy na die tyd gestort het? En, hier is die laaste hou in hierdie rondte, hoe de moer moet jy vir jong mans sê hulle moenie rondneuk sonder kondome nie, as die blerrie president dit hele tyd doen?

2. Zuma is ’n verregse blikskottel wat die regse kerke, waaronder Rhema, gebruik het om die verkiesing in te palm. Hy het homself skaamteloos tot pastoor verklaar, vir Rhema gaan dans, en al die nodige regse geluide gemaak. Hoekom leef hy nie daarvolgens nie? In ’n tyd waar die moderne kerke gay-regte goedpraat, poli-amorie probeer bevestig, saamwoon goedkeur, kies híérdie knaap die regse kerke se outydse sienings vir eie politieke gewin, maar besluit ook om nie hulle boodskappe uit te leef nie.

3. Om aan te sluit by punt 2: hierdie einste Zuma en sy “God squad” is besig om goed te sê soos: Daar moet minder seks op TV wees. Dié éinste Zuma en sy regering is ’n moerse gevaar vir persvryheid – en vir artistieke vryheid. En hy? Hoe leef hy? Zuma is ’n tipiese voorbeeld van iemand wat sý regte opeis, terwyl hy mý regte wil verminder.

4. Het Zuma al prostitusie gewettig? Nee, hy en sy verkrampte regterhand, Helen Zille, maak die lewe van prostitute al hoe moeiliker. In lande waar prostitusie gewettig is, is prostitusie veilig. Daar is al sedert die negentigerjare vertoë van talle organisasies om prostitusie te wettig, maar die regse blikskottels, soos Zuma, weier.

5. ’n President wat goed in die donker doen, is ’n teiken vir openbare kritiek. Kyk wat het met Clinton gebeur toe hy ’n sigaar gaan opruk het waar hy nie moes nie. Dis oor die stupid blikskottel dit ontken het, dat dit ’n skandaal geword het. Teddy Kennedy en sy broers het talle affairs gehad. Marilyn Monroe was by meer as een geleentheid in JFK se bed. (Gelukkige bliksem.) Teddy het egter hel gekry toe ’n prostituut dood is in sy motor en hy dit klaarblyklik probeer toesmeer het.

So. Sorry Zuma. Jy het gefaal. Trek twee onderbroeke aan.