Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Jackson Hlongwane is dood

Januarie 27, 2010 in Sonder kategorie

Die SABC het glo gisteroggend berig dat Jackson Hlongwane oor die naweek oorlede is. Hy was, na wat berig word, 99 jaar oud.

As dit waar is, het sy lyf het dus nou gevolg waar sy hart al lank al was.

Die oubaas se gedagtes was al baie lank al in die land van die mudzimi. In die laat negentigs, toe ek laas by hom aan huis was, was dit al moeilik om sy werklikhede en die gesprekke met die voormense uitmekaar te hou.

Hy was ’n verbasende kunstenaar en van sy stukke staan in die Sandton Konvensiesentrum. In 1995 is hy ook as “lewende kleinood” bevestig deur die Departement van Kuns en Kultuur. Sy werke word ook bespreek in die Nasionale Kurrikulum.

Tog het die gehalte van sy werk gewissel. Van sy sterk, enigmatiese kuns is wonderlik; ander stukke het kitsch voorgekom. As jy hom egter sou vra oor enige stuk, kon jy ’n ellelange lesing te wagte wees.

Ek het net een stuk van hom, waarvan ek hier ’n foto plaas. Toe ek hom vra hoeveel hy hiervoor wou hê, was sy antwoord dat ek vir Jesus moet vra. Hy maak nie pryse nie.

Ek het uiteindelik letterlik my beursie leeggemaak en vir hom die inhoud gegee. Hy het die geld aan ’n helper gegee en aangehou met sy lesing sonder om hoegenaamd belang te stel hoeveel dit was. Op dié manier is hy natuurlik soms ingeloop, want mense het met trots kom vertel dat hy aan hulle ’n stuk verkoop het vir so min as R20.

Ek wil een klein interessantheid noem: Die pers noem hom Jackson Hlongwane, en so het hy bekend geword ook, maar hy het nie self sy naam so geskryf nie.

Onder aan my kunswerk het hy met sy beduidende lelike handskrif geskryf: Jekisone Hlukwani.

Ek het baie gewonder hoeveel ons werklik van hom verstaan het. Ek was beslis nie fyn genoeg ingestel op die mudzimi se stemme om hierdie man se skoenrieme te kon vasmaak nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Christina Landman vs. Johannes Comestor?

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek hoop julle volg die wonderlike mini-seminaar oor die huwelik wat op LitNet aan die gang is. Kliek hier, as julle dit nog nie gesien het nie.

Ek wil egter baie spesifiek vir julle verwys na Christina Landman se stuk, en dan nog meer spesifiek na een opmerking wat sy gemaak het:

“Die afgelope tien jaar het ek dikwels (wit) mense in berading begelei wat in meer-partner-verhoudings is. Die man kan nie wettig met meer as een vrou trou nie, omdat hy moet kan bewys dat dit deel is van sy tradisie, en ’n wit mens kan dit natuurlik nie bewys nie. Daarom kom die man en sy twee partners ooreen dat hulle in ’n verhouding ingaan waar die man ’n intieme verhouding met twee vroue het wat van mekaar weet.”

Ek ken een van hierdie troikas wat deur Landman begelei is en is baie goed bevriend met die “tweede vrou” in hierdie spesifieke verhouding. ’n Deel van my navorsing vir Byna Liefde het van hulle af gekom. (Hulle drie woon deesdae in twee huise in dieselfde meenthuiskompleks.)

Vir Christina het dié drie die grootste respek.

Daar is egter ook talle ander modelle wat werk. Ek ken gay paartjies wat saam-saam kinders gemaak het. (Twee mans, twee vroue – een of meer kinders.) Al vier ouers aanvaar dan verantwoordelikheid vir hierdie kinders. Sulke verhoudings is natuurlik nie huwelike nie, maar wel alternatiewe vir die tradisionele huwelik.

En dan is daar poli-amorie wat sy eie voor- en nadele inhou. Sommige sogenaamde poli’s is bloot verveelde swingers. Lees ook die poli-ruimtes en jy sal agterkom hulle word maklik geteiken deur bordele. Maar, en dis belangrik, daar is talle ander verhoudings wat langertermyn, baie mooi, baie goed en poli-amoreus werk.

Wat my bring na die hooggeleerde Johannes Comestor se interessante perspektief op my blog oor Portrait of a marriage. (Lees Comestor se brief hier, en my blog hier.) 

Comestor is, soos Dan Roodt, iemand wat die wêreld lankal uitgepluis het en nou vir ons arme linkse drommels sit en wag om in te sien wat hy reeds weet. Ek kan dus nie myself verwerdig om teen sy geleerdheid te praat nie, maar ek wil tog vra: Lees asseblief Vita Sackville-West se eie woorde, en lees wat haar seun oor sy eie ouers se huwelik sê. Julle kan julle moeilik ’n mooier liefdesverhouding indink. (Lees ook asseblief Comestor, hy sê baie slim goed.)

Daar is talle biografiese vertellings oor Sackville-West.

Comestor noem byvoorbeeld Victoria Glendinning se Vita, the life of V Sackville-West. Lees dit gerus. (Ongelukkig is die boek nie op Kalahari beskikbaar nie, maar op Amazon gaan jy dit kry.)

In geskrifte óór Vita leer ’n mens heelwat meer van haar lewe as wat jy in Portrait of a marriage te wete sal kom, want laasgenoemde handel grootliks oor Vita se affair met Violet Trefusis – en dan ook oor die manier waarop Harold en Vita se huwelik sterker geword het deur die jare, ten spyte van hierdie soort verhoudings.

Virginia Woolf se verhouding word ook betrek, juis omdat dit toon hoe fyn Harold gesteld was op sy vrou se vermoë om lief te hê. (Lees ook Marietjie se kommentaar onderaan my blog oor Portrait of a marriage. Sy noem, via Elizabeth Hardwick, onder andere “Virginia’s famous frigidity” – iets wat Vita ook beleef het en, ten spyte daarvan, steeds ’n passievolle liefde, maar juis nie seksueel nie, vir Virginia ervaar het.)

Vita het heelwat meer vroue bed toe gevat as wat in Portrait of a marriage beskryf word. Daar word ook min detail gegee oor die talle mans in Harold se lewe (hoewel dit glad nie verswyg word nie).

Ek volstaan egter deur te sê: Hier is ’n model van ’n huwelik wat jare lank gehou het. Hoekom? Want dit is gebou op respek. Hier was twee gelykes wat werklik lief was vir mekaar.

Moenie vir my glo nie. Lees self wat hulle oor hulleself en oor mekaar skryf.

Comestor maak een ander opmerking wat ek graag wil aanhaal – een heelhartig wil ondersteun:

“Die tragedie van die huwelik is dat dit meesal jong, onervare, naïewe, weerlose mense is wat daarin vasgevang word.”

Inderdaad. In ’n land waar kinders gesê word hulle moet maagde wees tot hulle trou, en dan deur fundamentalistiese kerke voorgesê word wat ’n sogenaamde huwelik is, kan ek nie anders as om saam te stem nie.

En tog, weet julle, huwelike kán werk, maar dan moet albei vennote bereid wees om die mindere te wees.

Vita Sackville-West en Harold Nicolson se huwelik hét gewerk – al was dit bisar in talle mense se oë.

’n Dominee-vriend van my het die ander dag gesê: “Monogamie werk nie. Die kerk moet dus kyk na ander opsies.” Sackville-West en Nicolson het só ’n opsie uitgeleef. Terloops. Comestor noem dat die twee se seuns, Nigel én Ben, se huwelike misluk het. Lees gerus Nigel se eie woorde daaroor in Portrait of a marriage.

Ek wil afsluit met ’n ander slim man se woorde. PG du Plessis en sy vrou het die land vol getoer met die bekendstelling van PG se boek A married man’s guide to adultery. Tydens een van die sessies, in Louis Trichardt, vra iemand toe vir PG hoe hy en sy vrou na al die jare nog bymekaar is. Sy antwoord was dit vriendskap is. Die lyf, sê hy, raak minder belangrik soos die jare aangaan. Dis vriendskap wat tel.

Sela.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die ANC is siek

Januarie 21, 2010 in Sonder kategorie

Hemel mense. Ek het gister vir julle oor semiotiek vertel. Wel, pas gerus semiotiek op hierdie versameling leerbaadjies toe.

As julle my nie wil glo nie, kliek hier. (Lekker kapitalisties, nie waar nie? Wonder wat die ope mark sal dink hiervan!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Roos en ’n … 000s

Januarie 20, 2010 in Sonder kategorie

Helaas, dis een van daardie e-posgrappies wat ek moet deel.

En hoekom? Want dis so realisties. Ons doen so maklik goed sonder om aan die gevolge te dink. En hier is nou ’n les in semiotiek as jy al ooit een gesien het.

Wat is semiotiek? Dis die studies van tekens. ’n Goeie outeur sal altyd bewus wees van diepere betekenisse, of verskuilde betekenisse.

Geniet dit!

One of the city’s top cardiac specialists died. At his funeral, his

coffin was placed in front of a huge replica of a heart made of red

roses.

 

When the pastor finished the sermon, and everyone said their goodbyes,

the large heart opened up, the coffin rolled inside, and the heart

closed again..

 

It was a majestic tribute to the much loved cardiologist.

 

Suddenly, one of the mourners burst into a fit of laughter.

 

Irritated by his insensitivity, the man sitting next to him asked, “Why

are you laughing, Mister?”

 

The man replied, “I was just thinking about my own funeral.

I’m a gynaecologist….”

Profile photo of izakdv

by izakdv

Portrait of a Marriage

Januarie 14, 2010 in Sonder kategorie

 

Ek het pas ’n besondere boek gelees. Dis ’n ware liefdesverhaal. Portrait of a Marriage deur Nigel Nicolson vertel die verhaal van die uitsonderlik liefde tussen sy ouers (Vita Sackville-West en Harold Nicolson), en hulle onderskeie lovers.

Die boek is in vyf verdeel: In twee van die dele vertel Vita Sackville-West haar eie storie. In die ander drie dele gee haar seun, Nigel, vir ons die nodige agtergrond om sy ma se verhaal te verstaan.

Wat maak hierdie huwelik so spesiaal? Talle goed:

1. Hulle was werklik goed vir mekaar en was tot aan die einde baie lief vir mekaar.

2. Hulle het geweldig baie vir mekaar geskryf en daardie briewe het behoue gebly.

3. Albei van hulle was gereeld betrokke by ander lovers, en het dan openlik met mekaar daaroor gekommunikeer. Jip, hulle seun beskryf hulle huwelik as een van “mutual infidelity”.

Kan ’n huwelik so iets oorleef? O, ja. En dit kan sterker en sterker word as die twee vennote baie openlik is daaroor.

Ek het in Byna Liefde heelwat geskryf oor hierdie soort verhoudings en talle mense het gesê: Bog, dit kan nie werk nie. Wel. As jy nie mý navorsing wil glo nie, lees dan die ware verhaal van mense wat dit laat werk het – en wat verskriklik lief was vir mekaar.

Vita was biseksueel, Harold was skynbaar homoseksueel, al het hy en Vita twee kinders saam gehad.

Een van Vita se bekendste lovers was Virginia Woolf en talle kritici sê dat die hoofkarakter in Orlando op niemand anders nie as Vita Sackville-West geskoei is.

Portrait of a Marriage gaan egter oor twee ander affairs: Die eerste was tussen Vita en Rosemund Grosvenor, die tweede, en belangrikste, was tussen Vita en Violet Trefusis.

Van belang is egter dat hierdie affairs aanvanklik oorvleuel het, maar ook saamgeval het met die eerste jare van Vita en Harold se huwelik.

Vita en Violet het mekaar baie vroeg in hulle lewens ontmoet, en goed klaargekom, maar niks meer nie. Toe Vita egter ’n tiener was, het sy en Rosemund ’n passievolle affair gehad. (Rosemund se ma was Koning Edward VII se buite-egtelike lover.)

Rosemund skryf op ’n stadium vir Vita: “I do miss you darling, and I want to feel your soft cool face coming out of that mass of pussy hair.”

Maar toe Vita en Violet mekaar weer ontmoet, het alles vervaag: Vita en Violet wou met alle geweld bymekaar wees.

Die probleem is dat lesbiese verhoudings glad nie amptelike status kon hê in daardie tyd nie. So, Vita moes trou (met ’n man), so ook Violet en Rosemund.

Nou ja. Terwyl Rosemund en Vita nog passievol liefdemaak, raak Harold en Vita verloof. Toe kom Violet weer op die toneel en Vita raak heeltemal verlief of haar – maar trou met Harold.

As ek dit só beskryf, klink dit bisar, maar dit is een van die mooiste liefdesverhale wat jy nog te lese gekry het.

Wat meer is, Vita het besef dat daar ’n groot onjuistheid lê in die feit dat sy en Violet nie kon trou nie:

I hold the conviction that such connections will to a very large extent cease to be regarded as merely unnatural, and will be understood far better, at least in their intellectual if not in their physical aspect. (Such is already the case in Russia.) I believe then that the psychology of people like myself will be a matter of interest, and I believe it will be recognised that many more people of my type do exist than under the present-day system of hypocrisy is commonly admitted.

Inderdaad. Baie van my liewe lesbiese vriendinne (die jongetjies) het geen idee hoe wonderlik die nuwe Suid-Afrika is nie.

In haar seun se woorde:

She fought for the right to love, men and women, rejecting the conventions that marriage demands exclusive love, and that women should love men only, and men only women.

Vandag word poli-amorie steeds deur talle verdoem, maar diegene wat dit met sorg en ware eerlikheid benader, sal vir jou sê dat dit veel beter as jaloesie en geheimhouding is.

Wat my bespreking hier ter blogge glad nie kan vasvang nie, is die skoonheid van Vita en Harold se liefde vir mekaar. Hulle huwelik was inderdaad ’n rolmodel.

Vita Sackville-West en Harold Nicolson het albei talle boeke geskryf. Vita het die Hawthornden Prize (een van die twee oudste pryse vir Engelse letterkunde) twee maal gewen, terwyl Harold ’n ridderskap gekry het vir sy biografie oor George V.

Portrait of a Marriage is ten eerste ’n pragtige liefdesverhaal, ten tweede het dit meer draadwerk as ’n sepie. Ek kan dit hoog aanbeveel.

Portrait of a Marriage is ook deur die BBC verfilm – onder regie van Stephen Whittaker. Ek het dit nie gesien, maar dit is klaarblyklik baie goed gedoen.

Jy kan die TV-reeks koop by Kalahari, maar dis ’n Zone 1 DVD, so maak seker dat jou DVD-speler nie gesluit is nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Chéri

Januarie 13, 2010 in Sonder kategorie

Een van die teleurstellendste films wat ek in ’n baie lang tyd gesien het, is Chéri deur Stephen Frears (wat vir ons Dangerous Liaisons gegee het).

Die storie is goed, eintlik meesterlik. Ek is jaloers, want as ’n kortverhaal sou dit uitsonderlik gewees het. As film werk dit egter glad nie – veral omdat die kamerawerk ongelooflik vrot is.

Die uwe weet iets van fotografie en ek kan nie dink aan swakker fotografie wat ek al ooit beleef het in ’n kunsfilm nie. Meer as 90% van die tyd is die fokus heeltemal uit. Dan is daar die soetlike Vaseline-skote. (Op ’n stadium maak een van die karakters ’n grap oor Vaseline en ek wonder of dit in die oorspronklike draaiboek was.)

Michelle Pfeiffer is steeds pragtig, Kathy Bates was nog altyd ’n aanwins en die beeldskone Felicity Jones het die paar oomblikke wat aan haar gegun is, baie goed hanteer. Maar helaas, dis ’n film wat julle beslis nie op die groot skerm moet kyk nie, daarvoor het die vervaardigers te min moeite gedoen. Neem dit op DVD uit. Moenie geld mors op so ’n vrot produk nie.

Ek moet egter nog eens noem dat die storie eintlik goed is. Die wêreld van die courtesan is fassinerend en Frears wys ons dat dié vroue hoegenaamd nie hulpelose slagoffers was nie, maar wel uitsonderlik sakevroue. Talle studies het al getoon dat Frears korrek is, want vroue wat nie wou onderdanig wees nie, moes nie trou nie. En tussen non wees, of prostituut, nou ja …

So: Goeie storie, uitsonderlike vrot film. (En moenie luister na die 16SN-klassifikasie nie, daar is minder naaktheid in dié ding as wat daar in die meeste 10-klassifikasiefilms is.)

Jy’s gewaarsku. Kyk dit op DVD as jy in die storie belangstel. 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Julie & Julia.

Januarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Hier is iets vir alle bloggers.

Ek het die ander dag vir julle een van my resepte gegee, maar dis niks teen die mondwaterkookkuns wat wag in Julie & Julia nie.

 

Jip, ek het uiteindelik ook die film gesien. Dis werklik oulik. Ek beveel dit sterk aan!

Aan die een kant is dit lig en genotvol, maar aan die ander kant is daar ’n dieper boodskap wat deurkom: Jaag jou passies na.

Die film handel oor Julia Child, een van die eerste “celebrity chefs” op Amerikaanse TV. Dít op sigself is ’n film werd. Meryl Streep is (soos gewoonlik) meesterlik. Sy speel die baie “loud” Child met veel humor en deernis. Stanley Tucci, wat Paul Child speel, is eweneens voortreflik.

Hierdie gedeelte van die storie is werklik wonderlik.

Maar dan kom die moderne Julie Powel (wonderlik vertolk deur Amy Adams) en help ons om Julia Child te herontdek.

Julie is ’n blogger. En as blogger word sy bekend.

Ek kan werklik sê: Gaan kyk dit. Baie van ons (ek ook) sit met die spanning van werk om den brode, maar in die aand, of laatnag, kan ’n mens iemand anders word. Ons kan skryf, ons kan blog.

Julie Powel het oor haar fantasie rondom Julia Child begin blog. Beide Julie and Julia se stories wys ons dat daar lig aan die einde van die tonnel is as ons vasbyt en voortgaan met dít wat ons geniet.

Onthou, die film is op die waarheid gebaseer. Beide Julia Child en Julie Powell is werklik mense (Child is onlangs oorlede).

Dis ligte vermaak, maar ek kan dit baie hoog aanbeveel.

En hou aan blog!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Resep vir die nuwe jaar

Januarie 8, 2010 in Sonder kategorie

Die een is spesiaal vir Jan Nel. Hy het gekla (in ’n antwoord op my vorige blog) dat ek darem te rof was met sy oorlede markagent, genaamd Manto. Onder Manto het Jan glo besondere goeie verkope van aartappels, beet en knoffel gehad.

Nou, ja. Met die sokker om die draai en die hordes wat op ons gaan toesak, wil ek ’n bydrae lewer tot plaasgemeenskap en die kleinhandelaars in Suid-Afrika. Dis een van my resepte wat ek graag vir buitelanders kook.

Kom ons noem dit sommer Izak se Somerhoender, want as ek dit sou durf waag om dit iets soos 2010-hoender, of Wêreldbekerhoender, te noem, dan gaan FIFA een van hulle prokureurs op my sit. Sug.

Hoekom nou blog oor kos en nie boeke nie? Wel. Ou Jamie, die Naked Chef, verkoop baie meer boeke as ek. Dalk moet ek ook iets soos die Kaalkok gaan aanbied. Of nog beter: Kaalkok en vriende. Dink net hoe lekker sal dit wees om vir Sonia Cabano op so ’n TV-reeks te hê… Mmm. Die probleem is, my komkommer sal dan permanent in die pad van skerp messe bly staan.

So, dalk moet ek maar liewer aanhou skryf. Maar eers, Izak se Somerhoender.

Bestanddele

– Vier ontbeende hoenderborsies

– Een groot, sappige mango

– Agt tot tien lietsjies

– Drie eetlepels botter

– Twee lekker groot eetlepels gekapte knoffel

– Drie eetlepels suurlemoensap

– Een opgehoopte teelepel gekapte gemmerwortel (opsioneel)

– 100 ml soet sjerrie (opsioneel)

Voorbereiding

As julle (en die gaste) van gemmer hou, begin met Stap 1, maar as daar iemand wat is wat gemmer pes (snaaks genoeg daar ís intelligente mense wat nie van gemmer hou nie), los dan hierdie stap uit.

Stap 1

Kap die gemmer lekker fyn (skil eers die wortel af as jy die rou gemmer koop) en gooi dit in die sjerrie. (Die ideaal is om die gemmer oornag in die sjerrie te laat trek.

Stap 2

Skil die mango en sny dit in repe (so amper asof jy aartappels sny vir slaptjips).

Stap 3

Skil die lietsjies, halveer hulle en ontpit hulle.

Stap 4

– Gooi die botter in ’n pan.

– Maak die pan lekker warm en gooi die knoffel by.

– Sit die hoenderborsies in en braai hulle vinnig tot hulle bruin is aan albei kante.

– Draai die plaat na laag.

– Gooi die suurlemoensap, mango en lietsjies in.

– As jy die gemmerding gedoen het, gooi nou die sjerrie in die pan. (As jy BAIE van gemmer hou, kan jy die wortel ook ingooi, anders kan jy die sjerrie deur ’n siffie gooi sodat die gemmerwortel agterbly.)

– Laat die hele spulletjie saggies prut tot die mango en die lietsjie lekker warm is.

Bedieningswenk

Dié gedoente is heerlik op geelrys, maar dit werk ewe lekker met slaptjips. So, koop die aartappels by Jan, maak ’n beetslaai en laat waai!

Gesondheid!

(En koop maar liewer Sonia se kookboeke, dan hou julle my dalk van die TV af! Besoek haar webruimte hier: http://www.soniacabano.co.za/)