Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vier Manto se dood met ’n boek

Desember 29, 2009 in Sonder kategorie

My ma het my geleer dat, as ’n mens niks goeds te sê het oor iemand nie, dan bly jy liewer stil. Dis hoekom ek nog niks oor Manto se dood gesê het nie.

Ek wil egter twee boeke en ’n koerantberig noem wat hulle eie stories praat. Koop die boeke en vier die feit dat sy ons nie meer kan terroriseer nie.

Die eerste wat ek wil noem, is Johny Steinberg se boek Three-Letter Plague.

Steinberg is ’n bekroonde skrywer en julle kan dus weet dat die teks, keurig uitgegee deur Jonathan Ball, die moeite werd gaan wees om te lees.

Three-letter Plague handel oor ’n MIV-kliniek wat begin is deur Herman Reuter. Die kliniek het egter allerlei probleme opgetel vanuit die gemeenskap – en vanaf Manto se boelies in die provinsie.

Steinberg vertel egter die storie uit die perspektief van ’n jong man wat gaan hulp soek het by die kliniek. Julle kan dink hoe moeilik dit is vir iemand wat dit waag om te gaan hulp soek, en dan kom die staat en neuk die mense op wat jou lewe wil probeer red.

Die volledige titel is: Three Letter Plague: A Young Man’s Journey Through a Great Epidemic.

Koop dit gerus.

Die tweede wat ek wil noem, is Dare to Care.

Dit Thys von Mollendorff se storie. Hy het verkragtingslagoffers behandel met teen-vigsmiddels – volgens die staat se eie riglyne. Toe fire die MEC van Mpumalanga hom.

Hy het na baie jare die hofsaak gewen, en dit is sy storie dié.

Dare to care deur Thys von Mollendorf is baie anders as Three-letter plague, maar beslis die moeite werd om te lees as jy in dié goed belangstel.

Besoek die webruimte http://www.dare-to-care.co.za/ om hierdie boek te bestel.

Laastens ’n kort artikel oor ’n meisie, tienermeisie Bianca, wat elke dag moet pille drink omdat Manto geweier het om haar ma te behandel. Lees dit gerus, kliek hier.

Dit is so onnodig. My seun se biologiese ma was ook MIV-positief, dis hoekom sy hom laat aanneem het. My knaap is egter heeltemal gesond, want sy ma was gelukkig om mense te ken wat haar behandel het tydens sy geboorte.

Manto is nie meer nie, maar mense soos Bianca sal lewenslank met haar skaduwee moet saamleef.

(Sien julle, ek het niks leliks oor Manto gesê nie 😉

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kerswense

Desember 23, 2009 in Sonder kategorie

As ek die Bybelstorie reg verstaan, het die woedende God van die Ou Testament dit op Kersdag reggekry om die wêreld deur die oë van ’n kind te ervaar.

Mag daar vir julle hierdie Kerstyd ’n stal, ’n stroom of ’n stoel wees waar julle ook ’n oomblik lank weer goddelik, en dus kind, kan word.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Velcro en die Islam

Desember 22, 2009 in Sonder kategorie

Enige iemand wat aanvaar dat godsdiens ’n statiese, onveranderbare proses is, moet gerus lees wat Yazeed Kamaldien skryf oor sy ervaring van die hajj. (Kliek hier.)

Kamaldien vertel op ’n eenvoudige, dog intelligente, manier hoe die tradisie van die hajj moes ruimte maak vir moderne eise – sonder om die essensie van die rituele prys te gee.

Dis hoe hierdie goed werk. As jy mooi gaan kyk, het talle religieuse tradisies ’n oorsprong in die verre verlede. Die ritueel word nog uitgevoer, maar die oerkonteks is dikwels nie meer bekend nie.

Kamaldien is ’n moderne, gelowige Moslem. Hy verstaan die ritueel en die konteks daarvan.

Moet ander gelowe ook vernuwe?

Baie mense wat hier blog, het in ’n Christelike milieu grootgeword. Dink ’n bietjie oor ons eie rituele. Kersfees is om die draai en baie van ons vier dit sonder om die oorsprong van die tradisie te probeer onthou. (Daar was beslis nie Kersliggies in Betlehem se strate nie – tog is my seun betower deur die liggies. My seun dring ook aan om op Kersaand koekies en melk onder die Kersboom te los!)

Aan die eenkant herdenk ons ’n Bybelstorie, aan die ander kant herdenk ons die paganistiese fees van die ligte. Die fees van die ligte, wat die oorsprong van ons Kersversierings is, het óók ’n dieper betekenis.

Uiteindelik, dink ek, is al hierdie rituele ’n manier om ons te help om meer vir mekaar om te gee. 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die Kaapstad-stadion in perspektief

Desember 13, 2009 in Sonder kategorie

Gerrit Brand het ’n paar mense gevra om hulle idees oor die nuwe Kaapstad-stadion te gee. Lees gerus wat hulle sê: Kliek hier.

Ek het hierdie foto Vrydagaand van Tafelberg af geneem. Dit plaas die stadion in ’n sekere perspektief. Daarom wil ek my bydrae ook maak tot Gerrit se debat:

Kom ons begin vir ’n oomblik by die positiewe, voor ons die hartseersnare tokkel.

1. Suid-Afrika het bewys ons kan meeding met China en binne ’n oogwink stadia bou wat wêreldklas is. Ek ken ’n hele aantal ingenieurs en kontrakteurs wat betrokke was by die bou van die stadion en hulle is – met reg – trots op hulle werk. (Ek noem China, want hulle is besig om op groot skaal hulle dienste aan die res van die wêreld te adverteer.)

2. Ons het bewys dat ons op datum kan lewer. Waar is al daardie doemprofete wat sê Afrika kan nie tyd hou nie?

3. Ons het die infrastruktuur. Weet julle hoe groot van die hyskrane is wat gebruik is vir die bou van die stadion? Iets soos die 800-t Demag CC 2600 rusperhyskraan word deur ’n hele vloot vragmotors van punt na punt vervoer.

4. Ons het ons ekonomie ’n hengse hupstoot gegee. Die regering bly die grootste bydraer tot ons land se ekonomie. Het julle gesien Suid-Afrika is nie meer in ’n resessie nie? Dis grootliks te danke aan enorme regeringspandering op hierdie soort projekte in ’n tyd toe alle ander lande se ekonomieë ernstig geduik het. Dis ons belastinggeld wat vir daardie stadion betaal het – dis dus ons geld wat weer in die ekonomie terug geploeg is.

5. Die argitektuur is heel skaflik. Ons kon ’n tweede Voortrekkermonument gekry het.

Daar is egter ook negatiewe goed.

1. Hulle het ’n pragtige atletiekstadion en fietsrybaan moer toe gestuur – en die nuwe stadion is te klein vir sulke geleenthede. Dit is ’n baie klein stadion, slegs 68 000 sitplekke, met ’n bitter klein speelveld. Behalwe vir sokker, rugby en popkonserte is dit nutteloos.

2. Dis stadion moes in Athlone gewees het. Dis ’n baie arm buurt wat sou kon doen met ’n biljoen. Daar staan reeds ’n stadion, dit sou baie beter wees om daardie stadion op te gradeer en die sokker te laat plaasvind in die hartjie van ’n sokkermalomgewing. (Die De Vriese het baie lank in Crawford gebly, ’n klipgooi van die Athlone-stadion af. Ons weet hoe mense uitgesien het na die koms van die wêreldbeker – en nou sit hulle steeds droëbek.)

3. Een van die ingenieurs wat die nuwe stadion gebou het, sê koste per sitplek (uitgewerk oor die duur van die wêreldbeker heen) is meer as ’n miljoen rand. Jip. Meer as R1-miljoen vir elke keer wat iemand gaan sit (en dis as elke liewe sitplek uitverkoop is.)

4. Al daardie ligte kos geld. Waar is die sonpanele en windlaaiers om dit te dryf?

5. Vier biljoen rand kon baie ander projekte befonds het – wat ook die ekonomie kon help.

Wat dink julle?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Loeloeraai CJ Langenhoven word waar danksy Branson

Desember 11, 2009 in Sonder kategorie

 

Het jy al ooit gedroom van ’n ruimtevaart? Ek het.

Toe ek klein was, het daar ’n plakkaat van die maanlanding in my kamer gehang. Daardie plakkaat hang nou in my seun se kamer.

Die klein seuntjie in my het elke beweging van Mark Shuttleworth dopgehou. Ek het selfs die voorreg gehad om deel te neem aan ’n telekonferensie met Mark terwyl hy in Star City was. (Ons was op die agtiende vloer in die Naspers-gebou – dis darem taamlik na aan die hemel!)

Julle kan dus ook dink hoe ek CJ Langenhoven se Loeloeraai geniet het.

Nou, skielik, is dit moontlik om my droom waar te maak. Ek kan – teoreties – môre op ’n ruimtetuig klim en die aarde se atmosfeer verlaat. Dis nie eens nodig om jare se ondervinding op te doen nie.

Regtig? Ja, regtig.

Richard Branson het pas SpaceShipTwo aan die wêreld bekendgestel. Dis ’n wonderlike stukkie tegnologie. As julle meer wil weet, lees hier.

Wow.

Die enigste probleem is die prys. Elke liewe Afrikaanslesende persoon sal ’n kopie van Byna Liefde moet koop voordat ek ná aan daardie kaartjie sal kan kom.

Daarom dat ek maar weer na Loeloeraai gegryp het. Ek kan dit bekostig. Iemand het dit selfs gratis op die web gelaai (onder die verkeerde idee dat kopiereg verval het – dit het nie.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kleinsus en Kopenhagen tref dieselfde snaar

Desember 8, 2009 in Sonder kategorie

Twee, nee drie, totaal onverwante artikels het my opgeval in Maandag se koerante. Kom ons lys hulle, dan vertel ek julle hoekom hulle al drie in my blog te lande gekom het.

Die eerste is ’n stuk wat in Die Burger verskyn het onder die opskrif: Kleinsus is óók die bliksem in.

Die tweede is ’n redaksionele hoofberig wat vandag in 56 koerante in 44 lande verskyn het. Jip, al ses en vyftig koerante het dieselfde berig gedra: Maak erns met die aarde se klimaat.

Derdens ’n artikel oor ’n nuwe Bentley wat minstens R1,4 miljoen kos en slegs 4 km per liter brandstof kry.

Nou vra julle: Wat de ongeluk?

Wel, kom ons begin by Kleinsus. Sy sê vir die Boetmanne: Julle het vir die NP gestem. Kyk mooi om julle rond. By elke verkeerslig is ’n Buti. Buti is lankal gatvol vir arm wees. Buti soek werk. Buti kan ’n AK kry en, sê Kleinsus, Buti gaan dit nie teen sy eie kop druk nie.

Sinies?

Ek is mal oor siniese mense.

Waarom dan opgewonde raak oor Kopenhagen? Enige sinikus sal jou sê dis ’n spul warm lug daardie. (Ek sal in ’n ander blog die kwessie van aardverwarming aanraak – dis ’n hele kwessie op sy eie.) Die belangrikste aspek is egter dat Kopenhagen handel oor ryk lande wat hulle rykgatinwoners so ver moet kry om minder te mors. Niks anders nie.

Dan vra ek jou, waarom sal Bentley hulle kar groener maak deur die verdomde ding op biobrandstof te laat loop? Biobrandstof is een van die grootste euwels wat ons kon uitdink, want dit vat kos uit die armes se monde. Waar eens mielies vir kos geplant is is, word nou mielies en peule vir olie geplant.

’n Buti sonder kos het nie tyd vir ’n Bentley wat sy mielies eet nie – dankie Kleinsus.

 

Ken julle Simon Geer se boek? Die titel is: Going Green: 365 Ways to Change Our World.

 

 

Simon sê boeke en stories, dis ’n begin. Lees vir jou kind stories en jou lewe sal al klaar baie minder morsig wees.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Chris Louw die gekruisigde

Desember 4, 2009 in Sonder kategorie

Ek het Woensdagaand lank gesels met iemand wat Chris en sy gesin baie goed geken het. Omdat die gesprek so bitter privaat was, gaan ek die meeste verswyg, maar twee goed wil ek deel.

Ten eerste, ons weet nie regtig hoekom nie. Selfs Chris se vrou en dogter weet nie werklik wat op daardie oomblik gebeur het nie – wees dus versigtig vir die media se stories.

Ten tweede iets wat die titel van hierdie blog bewerkstellig het: My vriend is ’n teoloog – en Chris was nie ’n gelowige mens nie. Tog was Chris gereeld in kontak met hierdie vriend van my. Een dag het Chris hom – baie moedeloos – gebel en gesê: “Ek weet niks van die teologie nie, maar ek weet hoe dit voel om gekruisig te word.”

Chris was ’n mens wat baie maklik seergekry het – en dikwels “gekruisig” is deur Afrikaanse sentimente en deur die nuwe diknekke wat nie ons demokrasie wil onderhou nie.

Helaas.

Ek wil graag afsluit deur ’n aantal skakels te noem:

Andriette Stofberg, wat destyds die Boetman-brief in Beeld geplaas het, se brief aan Chris is vol deernis en weemoed.

Kammakazi het ’n baie aangrypende huldeblyk aan Chris gedig.

’n Klompie skrywers, waaronder Breyten Breytenbach en André P. Brink, het ’n ope brief geskryf oor Chris se dood.

Oubout wil proaktief iets doen – juis om te keer dat daar nie meer ongevalle is nie.

Adriaan B praat oor sy hartseer.

Hennie van Deventer onthou die positiewe Chris en die brandbek-Chris (kyk self na die spotprent oor laasgenoemde).

Laastens, heel gepas, Chris in sy eie woorde: Lees die laaste rubriek wat Chris voor sy dood geskryf het.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Mooiloop, bebliksemde Boetman

Desember 1, 2009 in Sonder kategorie

As ek nou ’n digter was, soos Kammakazi, sou ek ’n gedig wou skryf. Ek is nie. Daarom dus net ’n kort nota waarin die hartseer van ’n ontydige dood bekla word.

Chris Louw het styl gehad. Om homself met ’n AK die lewe uit te help, sê nogal iets oor hom.

Jip, Boetman kon ’n bliksem wees.

Ek het baie met hom te doene gekry in die tyd toe die Boetman-debat losgebars het. LitNet was ’n kardinale aar vir Chris se woede op daardie tydstip.

En dis juis daar waar Chris my een oggend wou toets. Hy vuur weer een van sy branders af, maar teken dit Chrisjan en … stuur dit van sy buurman se rekenaar af.

Nou, enige een wat iets weet van die joernalistiek, weet dat jy jou bronne mooi deeglik nagaan. Daar is kodes wat ons volg. Chris was bekend daarmee. In die tyd toe die ANC ’n verbanne organisasie was, moes jy weet waarna om te kyk, anders kon ’n apartheid-dude namens die ANC ’n verdoemende verklaring uitreik. (Vandag doen Julius dit sommer.)

Chris was die moer in toe ek sy brief in twyfel trek, en stuur toe van sy eie rekenaar af ’n moerse opvolgbrander teen hierdie klein snotkop!

Ek het maar koel geantwoord dat ek bloot die protokol volg wat hy, Chris, ook sou toepas onder die omstandighede.

Ek het die toets geslaag. Chris was daarna altyd vriendelik met my.

Nou ja. Dis maar een staaltjie en dit vertel niks oor die wonderlike werk wat Chrisjan Louw in Suid-Afrika gedoen het nie. Sy dryfkrag en sy hardkoppige geloof in ’n demokratiese Suid-Afrika het baie gehelp om die warse Afrikanerpsige te help draai.

Ek vermoed sy teleurstelling in die diknekke wat die demokrasie wil kaap, het bygedra tot sy dood. Sy gekose wapen sê iets vir ons.

En nou is hy dood. ’n Spies het geval – Chris sou geweet het wat dit beteken.

Ek weet nie hoekom hy dood is nie. Ek weet net dit is hartseer dat ’n man met soveel talent uitgewerk is uit die SABC.

Hamba Kahle, Boetman. Laat die donderslae dreun oor Pretoria.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Leë eiers vs groen dildo’s

Desember 1, 2009 in Sonder kategorie

Die wenner van hierdie jaar se “Literary Review Bad Sex in Fiction Awards 2009” is Maandagaand om 21h30, Suid-Afrikaanse tyd, aangewys.

Ek weet wie die wenner is, maar eers die volgende …

Talle literêre skrywers het, verkeerdelik, verwag dat Philip Roth se roman The Humbling dit sou kry. In die toneel wat glo vir Roth hierdie vreemde eer sou verdien, tel die hoofkarakter, Simon, en sy lesbiese vriendin, Pegeen, ’n meisie in ’n kroeg op en neem haar huis toe vir ’n threesome.

Pegeen haal dan ’n groen dildo te verskyn en, aldus Roth:

This was not soft porn. This was no longer two unclothed women caressing and kissing on a bed. There was something primitive about it now, this woman-on-woman violence, as though in the room filled with shadows, Pegeen was a magical composite of shaman, acrobat and animal. It was as if she were wearing a mask on her genitals, a weird totem mask, that made her into what she was not and was not supposed to be. There was something dangerous about it. His heart thumped with excitement – the god Pan looking on from a distance with his spying, lascivious gaze.

Nou ja. Dit was toe nie die dildo nie.

Nee, dit was Jonathan Littell se roman, The Kindly Ones, wat met hierdie “eer” weggestap het. En watter passasie is tydens die bekendmaking van die prys voorgelees? Hier is dit:

I came suddenly, a jolt that emptied my head like a spoon scraping the inside of a soft-boiled egg.

Helaas.

Die kortlys was:

Paul Theroux: A Dead Hand (Ek kon nie help om te dink die hand is dood van te hard werk nie!)
Nick Cave: The Death of Bunny Munro
Philip Roth: The Humbling
Jonathan Littell: The Kindly Ones
Amos Oz: Rhyming Life and Death
John Banville: The Infinities
Anthony Quinn: The Rescue Man
Simon van Booy: Love Begins in Winter
Sanjida O’Connell: The Naked Name of Love
Richard Milward: Ten Storey Love Song

Julle kan ook ernstiger artikels lees in Literary Review, kliek hier: