Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wat van die kinders?

November 30, 2009 in Sonder kategorie

Ons land sit met ’n moerse krisis. Talle ouers gaan nog dood weens vigs en daar is honderdduisende kinders wat ’n huis soek. Hier is ’n stukkie inligting wat julle mag interessant vind:

Nearly 495 000 Aids orphans are in foster care, but the government is encouraging more adoptions so orphans can have permanent families.

But only a tiny fraction of the Aids orphans, about 1 900, were adopted by South Africans last year, a drop of nearly 13% from the previous year.

Dit kom uit die Mail & Guardian. Lees die volledige artikel hier.

Van julle weet dit dalk, maar ek en die geliefde het besluit ons neem aan, ons maak nie nog kinders nie. Knaap is nou al sewe jaar lank deel van ons lewens en wat ’n voorreg is dit nie.

Die staat se dienste is uitstekend. (Dis nou as jy nie ’n vrot kol tref nie, sug.)

As enige een meer wil weet oor die proses, gooi ’n boodskap hier op die blog, ons gesels aflyn verder. Ook as jy vrot kol getref het – laat weet, dan help ons gatskop. (Ek weet van enkele (wit) ouers wat deur (swart) dikgatte weggejaag is omdat hulle nie aanneming oor die kleurgrens wil aanmoedig nie – of net te f**n lui is om hul werk te doen. Maar daar is MEER mense wat oorval word met vriendelikheid, en behulpsaamheid, as jy die kanale volg.)

Ek is ernstig, laat weet as ek kan help.

Gay ouers, enkelouers, getroude paartjies, ongetroude paartjies – almal word oorweeg en word oor dieselfde kam geskeer.

Ons het tálle (en ek bedoel baie) vriende wat kinders aangeneem het.

Dis werklik ’n voorreg. Ek help ook die Durbanville Kinderhuis, en enkele ander instansies, want ek weet ek kan nie daar wees vir elke kind nie.

Maar mý seun maak ’n moerse verskil aan mý lewe!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Seks en liefde maak snaakse bedmaats

November 27, 2009 in Sonder kategorie

Ek kom pas terug van The myth of Andrew & Jo deur Gideon van Eeden. Dit was die tweede van vier produksies – die stuk word nog ontwikkel vir ’n langer speelvak (waarskynlik oorsee ook).

Mense, dis knap.

Andrew en Jo se partners luister nie regtig meer na hulle nie. Dan begin hulle na mekaar luister en … slaap saam.

Oeps.

Veral baie oeps as Jo swanger word.

Hoe gaan twee gay mans pa staan vir die kind? En wat van die baie butch lesbiër aan Jo se sy? Waar pas sy in? (Sy is immers die enigste man in hierdie vreemde verhouding.)

Uiteindelik gaan die stuk oor verhoudings en mense wat mekaar nodig het.

Dit is VREK snaaks. Dink net wat gebeur as ’n drag queen en ’n butch dyke begin baklei oor ’n rugbywedstryd. Julle wil dit sien. (Raai wie wen.)

Daar is egter diepte ook. Die butch dyke is nie verniet opgewonde oor ’n luiperd wat net ’n luiperd wil wees nie. Hier gaan dit oor mense wat soek na menswees.

As julle al ooit Harry Mulisch se De ontdekking van de hemel gelees het (in Engels beskikbaar as The Discovery of Heaven), dan sal julle weet hoe ver engele soms sal gaan om ’n kind te laat gebeur. Gideon van Eeden se stuk het ’n baie soortgelyke gevoel. (Gaan luister ’n bietjie hoe God se vroulike stem klink!)

Daar is Saterdag 28 November nog twee vertonings: 16h00 en 20h15 in ArtScape / KunsteKaap.

Gaan kyk. Dis wonderlik.

(Vir die res van die land, wees op die uitkyk vir Gideon van Eeden. Hy is besig om naam te maak.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

The Myth of Andrew and Jo

November 27, 2009 in Sonder kategorie

Wat gebeur as ’n man en ’n vrou … seks het?

Wel, soms gebeur ’n baba.

Goed en wel. Maar wat as die man en die vrou albei gay is, en albei deel is van ’n vaste (gay) verhouding? Daardie één hetero-aandjie saam sal niemand mos van weet nie?

Behalwe as hulle ’n baba kry.

Gideon van Eeden is een van ons belowendste jong dramaturge. Hy woon ’n groot deel van die jaar in Amsterdam, want sy meisie is daar, maar wanneer hy terug is by die huis, gebeur allerlei lekker goed – soos hierdie drama.

Ek wil vanaand gaan kyk. Die speelvak is bitter kort, hopelik kom dit terug vir nog.

Dis in die Artscape, die prys is R30.

27 Nov 09 20:15

28 Nov 09 16:00

28 Nov 09 20:15

Die stuk duur ’n uur en ’n half.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Waar is my private parts?

November 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek het gelukkig reeds my eerste koppie koffie ingehad toe Knaap vanoggend vra: “Waar is my private parts?”

In ons huis is daar nie geheime nie, hy weet hoe sy ma lyk sonder klere (baie mooi, dankie) en hy bad soms saam met dogtertjies wat kom kuier. Ek weet dus dat daar ’n rede is vir so ’n vraag.

My antwoord, dus, is toe maar heel saaklik: “Jou penis en jou balletjies.”

“O,” sê Knaap en dink.

Toe volg hy op en vra: “Hier, of hier?” Daarmee wys hy eerste na sy naeltjie en tweede na sy skrotum.

“Onder,” sê ek. “Jou penis en jou balletjies is wat ’n mens jou private parts noem.”

Daarmee breek ’n moerse glimlag op sy gesig uit: “Dan hét Michael Jackson daar gevat toe hy gedans het.” En daarmee doen hy die perfekte MJ crotch grab.

Tóé besef ek eers: Dis duidelik dat een van die onnies probeer om die danspassies met “navel grabs” te laat gebeur. En pa, te onnosel en te eerlik, stuur toe weer ’n hele generasie seuntjies onder toe. Ek kan net dink wat by die skool gesê gaan word: “Maar my pa sê dis hier!”

Profile photo of izakdv

by izakdv

This is it NOT

November 23, 2009 in Sonder kategorie

 

 

 

My knaap is mal oor Micheal Jackson. Hy dans soos Jackson, hy luister na Jackson se musiek. En hy spandeer ure op YouTube om sy eie danspassie te verfyn.

 

Dus, hoe kon pa dan nou nié vir hom vat om This is it te gaan kyk nie?

 

Ek was mal oor die film, maar Knaap, glad nie. Hy kon nie verstaan wat aangaan nie. Ek dink ’n metafilm is iets waarvoor jy meer volwasse moet wees.

 

Ek was nog nooit ’n vreeslike Jackson aanhanger nie, maar raai wat gebeur toe? Daar sit ons in die teater. Pa geniet hom gate uit. Knaap is verveeld.

 

Ons moes uitloop, want Knaap kon dit nie meer hou nie. Dis nie YouTube waar jy kan kies wat jy wil sien nie.

 

Dêm. Vir my was dit dus: This is it NOT.

 

Ek het egter die stuk wat ek wel gesien het, baie geniet. Beligting en choreografie bly iets waaroor ek opgewonde kan raak. MJ was ’n meester choreograaf.

 

Die skerm was ook groot genoeg dat ek kon sien wat die musikante doen. By tye het ek verby die dansers gekyk en die musiekfabriek dopgehou.

 

Nou ja. Ek dink ek gaan eendag die DVD in die hande probeer kry. Ek sou egter sê: Kyk dié een op die groot skerm as julle kan (sonder ’n knaap wat wil huistoe gaan)!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Uit die onnie se perspektief

November 20, 2009 in Sonder kategorie

Droomkind se blog oor die boekbedryf is baie interessant. Lees dit gerus.

Onthou, sy is ’n onnie en sy het ’n hele ruk vir ’n uitgewer gewerk.

Lees gerus! Ek kan dit nie beter stel nie. 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vang hulle jonk EN OUD in die VSA

November 19, 2009 in Sonder kategorie

Ek het gister berig oor die leesprogam in Britse skole. Pearson VSA het ’n heel ander manier om kinders aan die lees te kry. Hulle hou sogenaamde Family Book Nights.

Dié soort aande word gehou in gemeenskapsale, dorpsbiblioteke en kindersorgfasiliteite. Die plek (hetsy biblioteek, skool of gemeenskapsaal) ontvang ’n volledige klein biblioteek wat gerig is op leesontwikkeling. Dié minibib bevat boeke van Penguin, Puffin en Dorling Kindersley.

Pearson se werknemers neem dikwels deel aan hierdie aande, wat aangebied word in Engels en in Spaans.

Die ouers word sáám met die kinders genooi en die noodsaak van leesontwikkeling op ’n baie vroeë ouderdom word deeglik onderstreep. Die fasiliteerders vertel ook aan ouers hoe belangrike (en lekker) dit is om saam-saam boeke te leer ontdek.

Elke geleentheid duur ongeveer twee uur en volg vier stappe.

Stap 1

Dit begin met pret, verversings en gesonde versnaperings.

Stap 2

Daarna word ’n boek gelees wat spesiaal vir dié geleentheid geskep is. Die kinders word aangemoedig om hulleself en hulle onnies te identifiseer in dié boek, terwyl daar op ’n ligte wyse vir die ouers gedemonstreer word hoe om sélf die kleinspan boekvaardig te maak.

Stap 3

Gesinne maak nou hulle eie boeke. Ouers en kinders neem foto’s van mekaar en hulle kry allerlei mooi prentjies wat hulle kan inplak. Siedaar, ’n eie boek wat uniek is aan daardie gesin!

Stap 4

Nou kry almal geskenke! Aan elke gesin word ’n geskenkpakkie uitgedeel met ’n klompie klassieke kinderboeke uit die Penguin-stal, tesame met inligting oor hoe om jou kind te stimuleer. Dié pamflette word deur Pearson se Early Learning-program verskaf.

Is julle ook jaloers? Dalk, dalk, dalk kan ons ook eendag in Suid-Afrika vir kinders leer dat boeke cool is!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Mr Big vir die Britse kleinspan

November 18, 2009 in Sonder kategorie

Ek weet julle dink Mr Big hoort in Sex and the City. Wel, dink weer. Mr Big gaan van nou af kinderhartjies bly maak in Brittanje.

Hoe werk dit? Pearson UK bedryf ’n gemeenskapsprogram genaamd Booktime. Booktime werk die afgelope vier jaar reeds saam met die Department for Children, Schools and Families in Brittanje en skenk dan boeke aan kaboutertjies in 20 000 Britse skole.

Hierdie jaar word twee boeke geskenk. Mr Big, deur Ed Vere, en ’n bloemlesing wat spesiaal geskep is, naamlik die Booktime Book of Fantastic First Poems, onder regie van June Crebbin.

Vang hulle jonk, is die boodskap in Brittanje.

Kan ons ook so iets doen in ons skole?

Profile photo of izakdv

by izakdv

StellenboschWriters.com vier tien jaar

November 13, 2009 in Sonder kategorie

Tien jaar gelede het Rosemarie Breuer ‘n webruimte begin om een en ander te vertel oor een van haar passies – boeke.

Rosie en haar man het kort te vore na Stellenbosch verhuis. Die internet was nog nuut, maar dit het Rosie nie afgesit nie. StellenboschWriters.com is gebore.

 

Vandag, tien jaar later, is die ruimte reeds meer as 800 bladsye diep. Daar het selfs ’n boek ontstaan uit hierdie ruimte, genaamd Stellenbosch Writers.

Besoek gerus www.StellenboschWriters.com. Dis mense soos Rosie wat maak dat skrywers boeke verkoop.

(Rosie administreer ook www.stellenboschbirds.com.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die Noorde se skrywers en hul regte

November 12, 2009 in Sonder kategorie

Ek het laas berig oor The Academic and Non-Fiction Authors’ Association of South Africa (ANFASA) se werkswinkel in die Kaap. Talle mense het gevra wanneer dit dan na die Noorde toe kom.

Wel, dis op pad.

ANFASA en Van Schaik bied ’n werkswinkel vir skrywers in Potch aan. Hulle sal jou help met die groot woorde in kontrakte, en ook vir jou vertel hoe om jou werk voor te lê.

Wanneer?

16 November 2009

Waar?

Kamer G06

Gebou C1, Institutional Building

Potchefstroom-Kampus

Noordwes-Universiteit

Hoe laat?

10h30 tot 12h30

Wie praat?

Monica Seebeer, van ANFASA, sal praat oor die klousules in ’n kontrak en die gevolge wat sodanige klousules kan hê vir die skrywer.

Daarna sal Julia Read, van Van Schaik, praat oor die beste manier om ’n manuskrip voor te lê en wat om te verwag wanneer die manuskrip aanvaar is vir publikasie.

Wie om te kontak?

Marietjie Halgryn

(018) 299 4852

marietjie.halgryn@nwu.ac.za