by

Vier Suid-Afrikaners vereer in Britanje

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

British Council

British Council

Die tema (of dan “markfokus”, soos hulle dit noem) tydens volgende jaar se Londen-Boekbeurs is South Africa: One Nation, Many Voices. Ter viering hiervan het die beurs vier Suid-Afrikaanse digters genooi om hulle werk te gaan voorlees daar in die koue Noorde.

Die vier Suid-Afrikaners is:

– Suid-Afrika se Poet Laureate, professor Keorapetse Kgositsile (ook bekend as Bra Willie),

– die ou strydros, Don Mattera,

– Phillippa Yaa de Villiers (aan my onbekend, moet ek bieg), en

– die pragtige Lebo Mashile.

Die Londen-Boekbeurs vind plaas van 19–21 April 2010, maar die toer van die Suid-Afrikaners gaan langer wees. Die projek staan bekend as “Beyond Words” en die Suid-Afrikaners gaan verhoë deel met Britse rappers, digters en musikante.

Soos Kgositsile sê: “Die uitruil van literatuur tussen kulture het ’n beter kans om die saad van begrip en vriendskap te plant as wat enige diplomatieke missie ooit sou kon hê.”

Wie is Keorapetse Kgositsile?

Professor Keorapetse Kgositsile (Bra Willie) is Suid-Afrika se Poet Laureate. In 1961 was Kgositsile een van die eerste lede van die African National Congress wat opdrag gekry het om die land verlaat. Tydens sy verblyf in die VSA het hy baie roem behaal in die Afro-Amerikaanse gemeenskap. Sy digbundels sluit in My Name is Afrika, Heartprints, To the Bitter End, If I Could Sing en This Way I Salute You.

In 2008 is die Nasionale Orde van Ikhamanga (Silwer) aan hom toegeken.

Wie is Don Mattera?

Donato Francisco Mattera is ’n joernalis, redakteur, skrywer en digter. Hy was ook ’n doring in die apartheidsregering se vlees. Mattera was ’n stigterslid van die Union of Black Journalists en van die Congress of South African Writers.

Volgens Mattera was dit Vader Trevor Huddleston wat aan hom gesê het die pen kán magtiger wees as die swaard. Aanvanklik was Mattera skepties, maar hy hét sy pen begin gebruik in die stryd teen apartheid en dit het gewerk. Die owerhede het gereageer deur sy huis te deursoek, hom te vang, te martel en vir tien jaar lank ’n verbanningsbevel op hom te bestel. Dit was gedurende hierdie tyd dat Mattera die gedigte geskryf het wat later opgeneem is in Azanian Love Song.

Wie is Lebo Mashile?

Baie van julle het seker al dié mooi girl in aksie gesien. Lebo Mashile is in 1979 in die VSA gebore en het op die ouderdom van sestien na Suid-Afrika teruggekeer. Daarna het sy Regte gaan studeer by Wits, maar die Kunste het geroep.

In 2004 maak sy haar filmdebuut in Hotel Rwanda en in 2005 publiseer sy haar eerste digbundel, A Ribbon of Rhythm, wat handel oor die lewe in die nuwe Suid-Afrika.

Haar gesig, gekoppel aan harde werk, maak egter wyer opspraak. Sy is as een van “South Africa’s Awesome Women of 2005” aangewys deur Cosmopolitan Magazine. In 2006 en 2007 is sy deur die Mail & Guardian aangewys as een van die Top 100 jongmense. In 2006 het sy ’n Noma ontvang en in 2007 is die City Press/Rapport Woman of Prestige Award aan haar toegeken.

Wie is Philippa Yaa de Villiers?

Phillippa Yaa de Villiers het grootgeword in Halfweghuis, naby Johannesburg. Sy het in Grahamstad en Parys gaan studeer en het lank in Los Angeles gewoon. Tans woon en werk sy in Kaapstad, waar sy vir die TV en die teater skryf.

Sy was vanjaar se wenner van die National Arts Festival/de Buren Writing beyond the Fringe-prys.

Wie borg dit?

Beyond Words word geborg deur British Council en die Arts Council England.

Besoek gerus The London Book Fair 2010 om meer te leer.

4 antwoorde op Vier Suid-Afrikaners vereer in Britanje

  1. Bebo het gesê op Oktober 30, 2009

    Ek is verheug vir Phillipa. Ek het graag na haar gaan luister as sy haar poësie voorgelees het, swart vrou met die Afrikaanse van, alleen daar in ‘n see van wit gesigte (taking a walk on the white side), waar sy altyd mooi asseblief en dankie sê vir ‘n sponsor vir die volgende digbundel.

    Dus ‘n Gedig van Phillipa vir jou vandag Izak, sodat sy nie meer ‘n totale vreemdeling vir jou is nie,

    One day the Hillbrow tower started to cry.
    Real tears poured down its sides
    collected in gutters,
    and ran down Banket street,
    and when
    the other buildings saw the tower’s sadness
    they started to weep in sympathy.
    Soon the whole city was sobbing,
    the tears joined other tears
    and filled the depressions and valleys.
    They covered the koppies,
    and collected in City Deep,
    cascading over Gold Reef City
    flooding Fordsburg
    and soaking Soweto.
    They flowed until they became a river
    that carried us into the night,
    where our dreams grew
    taller than buildings
    taller than buildings.

  2. Izakdv het gesê op Oktober 30, 2009

    Bebo, jou maak my dag! Dankie. Ek weet haar bundel se titel is “Taller than buildings” – nou sien ek hoekom!

    Baie, baie dankie!

  3. Bebo het gesê op Oktober 30, 2009

    Dankie aan jóú.

  4. sprokie het gesê op November 2, 2009

    Was lanklaas hier, lekker om jou weer te lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.