Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Taller than buildings deur Phillippa Yaa de Villiers

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

Ek het vroeër vandag gebieg dat ek nog nooit van Phillippa Yaa de Villiers gehoor het nie (sien vorige inskrywing). Haar digbundel is se naam is Taller than buildings.

Bebo, ’n onbekende weldoener, skryf toe die volgende in antwoord op die blog, wat ek baie graag met ’n wyer gehoor deel:

Ek is verheug vir Phillipa. Ek het graag na haar gaan luister as sy haar poësie voorgelees het, swart vrou met die Afrikaanse van, alleen daar in ‘n see van wit gesigte (taking a walk on the white side), waar sy altyd mooi asseblief en dankie sê vir ‘n sponsor vir die volgende digbundel.

Dus ‘n gedig van Phillipa vir jou vandag Izak, sodat sy nie meer ‘n totale vreemdeling vir jou is nie,

One day the Hillbrow tower started to cry.
Real tears poured down its sides
collected in gutters,
and ran down Banket street,
and when
the other buildings saw the tower’s sadness
they started to weep in sympathy.
Soon the whole city was sobbing,
the tears joined other tears
and filled the depressions and valleys.
They covered the koppies,
and collected in City Deep,
cascading over Gold Reef City
flooding Fordsburg
and soaking Soweto.
They flowed until they became a river
that carried us into the night,
where our dreams grew
taller than buildings
taller than buildings.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vier Suid-Afrikaners vereer in Britanje

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

British Council

British Council

Die tema (of dan “markfokus”, soos hulle dit noem) tydens volgende jaar se Londen-Boekbeurs is South Africa: One Nation, Many Voices. Ter viering hiervan het die beurs vier Suid-Afrikaanse digters genooi om hulle werk te gaan voorlees daar in die koue Noorde.

Die vier Suid-Afrikaners is:

– Suid-Afrika se Poet Laureate, professor Keorapetse Kgositsile (ook bekend as Bra Willie),

– die ou strydros, Don Mattera,

– Phillippa Yaa de Villiers (aan my onbekend, moet ek bieg), en

– die pragtige Lebo Mashile.

Die Londen-Boekbeurs vind plaas van 19–21 April 2010, maar die toer van die Suid-Afrikaners gaan langer wees. Die projek staan bekend as “Beyond Words” en die Suid-Afrikaners gaan verhoë deel met Britse rappers, digters en musikante.

Soos Kgositsile sê: “Die uitruil van literatuur tussen kulture het ’n beter kans om die saad van begrip en vriendskap te plant as wat enige diplomatieke missie ooit sou kon hê.”

Wie is Keorapetse Kgositsile?

Professor Keorapetse Kgositsile (Bra Willie) is Suid-Afrika se Poet Laureate. In 1961 was Kgositsile een van die eerste lede van die African National Congress wat opdrag gekry het om die land verlaat. Tydens sy verblyf in die VSA het hy baie roem behaal in die Afro-Amerikaanse gemeenskap. Sy digbundels sluit in My Name is Afrika, Heartprints, To the Bitter End, If I Could Sing en This Way I Salute You.

In 2008 is die Nasionale Orde van Ikhamanga (Silwer) aan hom toegeken.

Wie is Don Mattera?

Donato Francisco Mattera is ’n joernalis, redakteur, skrywer en digter. Hy was ook ’n doring in die apartheidsregering se vlees. Mattera was ’n stigterslid van die Union of Black Journalists en van die Congress of South African Writers.

Volgens Mattera was dit Vader Trevor Huddleston wat aan hom gesê het die pen kán magtiger wees as die swaard. Aanvanklik was Mattera skepties, maar hy hét sy pen begin gebruik in die stryd teen apartheid en dit het gewerk. Die owerhede het gereageer deur sy huis te deursoek, hom te vang, te martel en vir tien jaar lank ’n verbanningsbevel op hom te bestel. Dit was gedurende hierdie tyd dat Mattera die gedigte geskryf het wat later opgeneem is in Azanian Love Song.

Wie is Lebo Mashile?

Baie van julle het seker al dié mooi girl in aksie gesien. Lebo Mashile is in 1979 in die VSA gebore en het op die ouderdom van sestien na Suid-Afrika teruggekeer. Daarna het sy Regte gaan studeer by Wits, maar die Kunste het geroep.

In 2004 maak sy haar filmdebuut in Hotel Rwanda en in 2005 publiseer sy haar eerste digbundel, A Ribbon of Rhythm, wat handel oor die lewe in die nuwe Suid-Afrika.

Haar gesig, gekoppel aan harde werk, maak egter wyer opspraak. Sy is as een van “South Africa’s Awesome Women of 2005” aangewys deur Cosmopolitan Magazine. In 2006 en 2007 is sy deur die Mail & Guardian aangewys as een van die Top 100 jongmense. In 2006 het sy ’n Noma ontvang en in 2007 is die City Press/Rapport Woman of Prestige Award aan haar toegeken.

Wie is Philippa Yaa de Villiers?

Phillippa Yaa de Villiers het grootgeword in Halfweghuis, naby Johannesburg. Sy het in Grahamstad en Parys gaan studeer en het lank in Los Angeles gewoon. Tans woon en werk sy in Kaapstad, waar sy vir die TV en die teater skryf.

Sy was vanjaar se wenner van die National Arts Festival/de Buren Writing beyond the Fringe-prys.

Wie borg dit?

Beyond Words word geborg deur British Council en die Arts Council England.

Besoek gerus The London Book Fair 2010 om meer te leer.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zuma se testament het aan die lig gekom

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

Mike Trapido het pas JZ se testament opgestel.

Kliek hier en giggel saam.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Richard Scarry se My eerste GROOT Woordeboek

Oktober 28, 2009 in Sonder kategorie

Scarry - My eerste groot woordeboek

 

Ek bring vandag nuus van nóg ’n nuwe woordeboek – wat ook op ’n baie betroubare lees geskoei is. Richard Scarry se My eerste GROOT Woordeboek is pas deur Protea Boekhuis uitgegee. Dié boek is so nuut dat nóg Kalahari, nóg Exclusive Books, nóg Protea dit op hulle webruimtes het.

Die uwe het sy kopie Donderdag in Exclusive Books, in Menlyn (Pretoria) gekoop, so dit is reeds beskikbaar. Ek moes egter die boek afneem op die omslag vir julle te wys.

Hande op: Wie onthou hierdie boek uit julle prille jeug? My hand is op. Ek het een gehad. As my geheue my nie in die steek laat nie, het Human & Rousseau dit uitgegee en Leon Rousseau dit self na Afrikaans vertaal.

Hierdie weergawe is egter splinternuut. Carina Diedericks-Hugo het dit vertaal. Julle ken Carina se werk. Sy het die wonderlike Thomas-reeks geskryf, en was ook verantwoordelik vir die baie interessante teks Die verdrinking van Josua van Eeden.

Dit het tot gevolg dat ’n ritssluiter, heel tereg, ’n zip genoem word in dié boek. Moet my nie verkeerd verstaan nie – die Afrikaans is baie keurig. Dis net, wel, Carina praat Kinderafrikaans. En sy doen dit goed.

Hoe vergelyk My eerste GROOT Woordeboek dus met My eerste HAT?

Ten eerste is die GROOT Woordeboek groot. Verder is die prentjies natuurlik van Richard Scarry en dít alleen is ’n goeie aanbeveling om die boek in ’n kinderhand te stop. Tog moet ek waarsku dat My eerste GROOT Woordeboek nie werklik ’n woordeboek is in die ware sin van die woord nie. Dit behandel ’n hele reeks idees tematies. Daar is geen alfabetiese en leksikografiese indelings soos in My eerste HAT nie. My eerste GROOT Woordeboek sal dus help met woordeskatontwikkeling, maar dit sal nie werklik die jong leser bewus maak van die waarde van woordeboeke nie.

En knaap? Aanvanklik was hy effens langtand toe hy agterkom daar is nie ’n storie in die Scarry-boek nie, maar hy het gou van die prentjies begin hou. En, presies soos die uitgewers dit beplan het, was dit nie lank nie of hy het die woorde onder die prentjies begin lees.

Watter een kies jy dus? My eerste GROOT Woordeboek of My eerste HAT?

As jy kan, kies albei. As jy egter ’n kind wil blootstel aan die gebruik van ’n woordeboek, sou ek beslis die Baba HAT aanbeveel. Vir voorlees (jonger kinders, dus) is die HAT ook baie meer gebruikersvriendelik.

As jy egter iets soek vir ’n knaap in Graad 1, koop die GROOT Scarry-boek.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die HAT maak babatjies

Oktober 23, 2009 in Sonder kategorie

http://www.kalahari.net/books/My-Eerste-HAT/632/34711784.aspx

Nooit gedink woordeboeke kan snaaks wees nie? Nooit gedink daar is donker onderstrome en gevaarlike avonture in die woordeboekkantore nie?

Nie gedink woordeboeke kan babas maak nie?

Boe! Dink weer. My Eerste HAT het pas verskyn. Dis gemik op kinders, so die HAT-Makers het dit op my knaap getoets.

Wel, knaap is GEK daaroor. Werklik GEK.

Die rede? Dis nie ’n stugge ou omie van ’n boek nie. Dis ’n super-duper cool kabouter van ’n boekie.

Die rympies is aards, snaaks en op kinders gemik – poefie en piepie staan wel in hierdie woordeboek.

Jy kan dink hoe my seun giggel as een van híérdie woorde voorkom!

Maar die sukses kom eintlik van ver af. Die idee kom van Nederland af waar hulle die Van Dale laat babas maak het. (Van Dale is Nederlands se HAT. Hande op wie een het? Ek het een.)

Die Nederlandse Baba Van Dale het mense aan die praat – en lees – gesit. (Daar is distrikte in Nederland waar elke kind op sy/haar tweede verjaarsdag ’n Baba Van Dale van die staat ontvang. Nou wonder jy hoekom hulle lees en ons nie.)

Woordeboekmaker extraordinaire, Jana Luther, het toe met Daniel Hugo saamgespan en hulle het ’n pragboekie saamgestel. Ek was baie gelukkig om ’n promosiekopie te kry, en dis hoekom ek weet sewejarige seuntjies is net so mal daaroor soos hulle ouers.

Koop nou. Dis ’n ideale Kersgeskenk vir kinders van twee tot tien.

(Terloops, weet julle die HAT ’n blog? Kliek hier.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Dark continent my black arse

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

Sihle Khumalo - Dark continent my black arse

 

Ek weet nie hoeveel van julle Sihle Khumalo se boek Dark continent my black arse ken nie, maar ek wil dit baie hoog aanbeveel.

Ek het destyds gesien Petrus Pap hou van die boek. (Lees sy resensie hier.)

’n Goeie vriendin – swart, wonderlik, slim en baie mooi – gaan toe vreeslik te kere oor die boek en leen haar kopie vir my.

My vrou gryp toe eers die boek en krul van die lag soos sy deur die boek vorder. Uiteindelik kry ék dit toe in die hande.

Ek was so twintig bladsye in die boek in, toe besluit ek, ek wil my eie hê. Koop toe my eie, geen Natasha s’n terug, en lees. (Op my eie reise.)

Ek verloor toe my kopie op ’n vliegtuig en koop te warempel nog een.

Kyk, dié ou is moerse goed. Hy skryf met soveel humor dat ek gedurig gesit en giggel het op vliegtuie en op lughawens – en dit wil gedoen wees. Ek kon werklik nie wag om weer tyd te kry om verder te lees nie.

Die wonderlik ding van Sihle Khumalo is dat hy gemaklik is in sy eie vel. Hy’s ’n “darkie” (sê hy self) en hy raak die moer in vir mense wat nie hulle werk doen nie. Afrika het ongelukkig genoeg sulkes.

Maar Afrika het ook wonderlike mense.

En dís wat hierdie boek so wonderlik maak: Die ou kan die balans hou tussen krities wees op wat verkeerd is in Afrika, en hy kan prys lewer op dit wat werklik fantasties is.

Dit alles kom nou jou toe met donker humor.

Beslis iets wat jy moet lees.

(Sihle Khumalo het intussen meer geskryf – ek wil die volgende boek ook nog lees.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ander dink ook Naweek is lekker

Oktober 19, 2009 in Sonder kategorie

Twee bloggers het my voorgespring en baie goeie resensies van Naweek geplaas.

Naghings was eerste. Dié ou lees wyd – kyk ’n bietjie waaroor hy alles berig op sy blog. Verder ken hy ook sy musiek. As hý dus beweer “Naweek is vir die jonger leser wat Fokofpolisiekar vir Afrikaanse rockmusiek was”, dan sou ek sê julle kan maar weet hier’s ’n lekker ding! (Kliek hier vir sy resensie.)

Droomkind was tweede – sy het dit gelees na aanleiding van Naghings se gesprek. Nou, julle weet ek het ’n sagplekkie vir dié intelligente onnie, so die feit dat haar resensie óók sê dis ’n goeie boek, versterk my oproep dat julle dit moet lees. Sý beweer Maanhaar (die hoofkarakter in Naweek) is ’n nuwe soort tragiese held. En weet julle wat? Ek dink sy’s reg. (Kliek hier vir haar resensie.)

Laastens ’n verskoning: Jammer dat ek so min uitkom by “blogetiket” – soos antwoord en kommentaar lewer, en dies meer. Om egter te beweer dit gaan vinnig by die De Vriese, is soos om te sê mense praat oor Julius Malema.

Die uwe is al weer op pad Gauteng toe – die vliegtuig se motore draai al. Hopelik sal dié besoekie oor ’n paar jaar beter dosente in ons FET-kolleges tot gevolg hê. (Sê Izak met ’n droom in sy oë.)

Lekker lees en lekker blog.

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Naweek met Toast Coetzer

Oktober 17, 2009 in Sonder kategorie

Naweek deur Toast Coetzer

As julle wil weet wat om volgende naweek te doen, hier is ’n voorstel: Spandeer dit saam met Toast Coetzer.

As jy die ou wil gaan opsoek, cool. As jy egter besluit sy baard is te kielierig in jou nek (of jy doen nie mans nie), koop dan sy Naweek. Jy gaan ’n naweek lank baie plesier hê.

Naweek is ’n spanningsroman wat ’n mens nogal laat dink. Daar’s heelwat seks in, baie dwelms, ontsettend veel alkohol en woeste rock ’n roll.

Klink dít na ’n wilde naweek? Sê jy.

Coetzer se hoofkarakter het egter ’n probleem: Nie alles verloop hierdie naweek so glad soos hy dit wou hê nie. Maanhaar, ons fiktiewe held, is op die kruin van sy musiekloopbaan. Hy het alles: Vroue, geld, ’n vinnige motor, getroue ondersteuners … Noem maar op. Hy het dit.

Dié naweek loop dinge egter skeef.

Wil jy meer weet? Vat volgende naweek af en lees Naweek. Jy sal nie spyt wees nie!

(As julle ’n baie deegliker bespreking van Naweek wil lees, kliek hier.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Santa Shoebox

Oktober 15, 2009 in Sonder kategorie

Die Santa Shoebox-projek is al ’n paar jaar aan die gang. Hierdie jaar is dit ’n nasionale projek en hulle mik groot

Ek het berig ontvang dat daar steeds 3 000 kinders is wat nog nie allokasies het nie.

Wie kan help?

Ons gesin skenk drie boksie hierdie jaar – verlede jaar het ons dit ook gedoen.

Wil julle dalk help? Dis maklik. Die amptelike nota lui soos volg:

IN SUMMARY PLEASE NOTE AND AGREE TO THE FOLLOWING:
– The box must be a medium sized shoebox
– The lid and box must be decorated and wrapped separately
– The lid must be secured with an elastic band and not sealed
– The following are required items: tooth brush and tooth paste, soap and wash cloth, educational supplies, clothing, sweets and a toy
– The boxes are to be dropped off on the date and at venue as per my drop off area.

(Die “my drop off area” is een wat jy kan kies op die webruimte.)

Julle het nog hierdie naweek om iets te doen!

Besoek www.santashoebox.co.za om meer te wete te kom.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Herta Müller wen die Nobelprys

Oktober 9, 2009 in Sonder kategorie

’n Taamlik onbekende Duitse skrywer, Herta Müller, het die Nobelprys vir Literatuur gewen in 2009.

Slegs vier van Müller se negentien boeke is in Engels beskikbaar – en nie een van hulle op Kalahari nie. Op Amazon het ek The Appointment, een van haar romans, raakgeloop, maar dié is uit druk. (Ek kan my net die produksiekantoor by Picador indink – iemand is op hierdie oomblik besig om die beste drukker op te spoor om so gou doenlik aan die werk te spring – as hulle net die blerrie PDF’s kan opspoor!)

Sy het ’n harde lewe gehad. Haar ma is vir vyf jaar lank aangehou in ’n strafkamp in die Ukraïne – Herta was saam met die ma daar in daardie kamp.

Haar mees onlangse roman, Atemschaukel, verwys na die strafkampe. (’n Schaukel is ’n skoppelmaai, en Atem is asem. Dit sal interessant wees om te sien hoe dié twee bymekaarkom in ’n roman.)

Sy het haar loopbaan as ’n vertaler in ’n fabriek begin, maar is afgedank toe sy geweier het om op haar kollegas te spioeneer.

Haar eerste boek, bundel kortverhale, is verban in Roemenië. Sy en haar man, Richard Wagner, het kort daarna gevlug na Wes-Duitsland. (Wagner is ook ’n romanskrywer.)

Nou sal ek haar moet begin lees!