by

Hennie Aucamp oor Holocaust-dagboeke

Mei 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek wil julle graag verwys na ’n stuk wat Hennie Aucamp geskryf het: Holocaust-dagboeke, met spesiale verwysing na Die Agterhuis van Anne Frank.

Anne Frank was natuurlik maar een van baie wat dieselfde lot oorgekom het. Frank se eerlike, en welgeskrewe, relaas het die wêreld aangegryp, maar, sê Aucamp, dis belangrik om haar teen die groter agtergrond te lees.

Een van die mense wat sy lewe gewy het aan dié groter agtergrond, is Jacques Presser. Kyk wat sê Aucamp:

Hy was bekend as Jacques Presser en professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam. Hy was self ’n Jood en het ondergeduik en is nooit gevang nie. Sy vrou is wel op straat gearresteer … Sy is in die kampe dood en hy het ’n leeftyd gebuk gegaan onder die skuldelas van die oorlewende. Hy sal in Nederland altyd bekend staan as die skrywer oor die lot van die Nederlandse Jode in die Tweede Wêreldoorlog in sy monumentale tweedelige werk Ondergang waaraan hy 15 jaar gewerk het.

Dit is ’n wonder dat soveel Holocaust-dokumente behoue gebly het. Prof Spies meld in haar brief dat Etty Hillesum ’n poskaart aan haar vriendin Christine van Nooten op pad na Auschwitz uit die trein gegooi het, en dat dié kaart sy bestemming bereik het. Anne Frank se dagboek is nie deur die Duitsers vernietig nie, en het in die saak van haar vader bly lê waar dit deur Miep Gies gevind en ongelees vir Otto Frank bewaar is. Het die geskiedenis dalk sy eie ingeboude bewaringsmeganismes?

Anne Frank se dagboeke is nie die enigste getuienis van Nederlands-Joodse Holocaust-slagoffers nie. Etty Hillesum (1914-1943) en Abel J Herzberg (1893-1989) het ook dagboeke bygehou – Herzberg in Bergen-Belsen. Etty Hillesum het Auschwitz op 10 September 1943 bereik, presies op die dag dat haar ouers ’n gaskamerdood gesterf het. Haar eie dood op 30 November 1943 is deur die Rooikruis gerapporteer.

Maar die netwerk dagboeke uit die Holocaust sluit ook lande soos Pole, Roemenië en natuurlik Duitsland self in. Net twee dagboeke gaan hier uitgesonder word: dié van Victor Klemperer (1881-1960) en Mihael Sebastian (1907-1945).

Lees gerus die res.

Net nog twee opmerkings:

1. Aucamp vra: Sou Frank se storie minder nuuswaardig wees as dit gelukkig geëindig het? Ek wonder wat julle daaroor dink?

2. Wie van julle ken Zlata Filipovic se dagboek, uitgegee as Zlata’s Diary? Dit is ’n MOET. Dié teks speel af in Sarajevo, en die gebeure is nog baie vars in ons geheue.

6 antwoorde op Hennie Aucamp oor Holocaust-dagboeke

  1. katrina het gesê op Mei 24, 2009

    Hallo Izak – so van die vark op die fiets, gaan kyk bietjie na my laaste woordjie oor Zita 🙂

  2. Izakdv het gesê op Mei 24, 2009

    Ek maak so!

  3. bloukaap het gesê op Mei 24, 2009

    ek wonder juis of ons ooit sarajevo en ‘die gevolg’ ooit sal weet/hoor/besef

  4. Izakdv het gesê op Mei 24, 2009

    Blou Kaap, ja. Daar is baie stories wat nog nie vertel is nie.

  5. klarisabet het gesê op Mei 24, 2009

    Lest we forget…
    (Ek het Zlata’s Diary gelees, paar jaar terug.)

  6. Izakdv het gesê op Mei 24, 2009

    Wonderlik, nie waar nie, Klarisabet?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.