Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zapiro en die Zuma-dokkie

Mei 27, 2009 in Sonder kategorie

Ons slim SABC het geweier dat julle dit sien voor die verkiesing.

Ons slim SABC het geweier dat julle dit sien na die verkiesing.

Nou maak die M&G dit beskikbaar.

Kyk hierdie video van Zapiro oor satire. Wees net bewus daarvan dat derduisende die ding saam met jou gaan kyk. Dis stadig vanaand. (Wie weet, more is dit dalk oopgeblaas deur ’n umshini!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Terugvoer

Mei 26, 2009 in Sonder kategorie

Neander het ’n interessante ding geblog oor Ida. Ek het vlugtig na haar verwys op my Google-inskrywing hieronder.

En Droomkind het die lepel opgetel en ’n heerlike stuk geskryf oor vroue en mans, na aanleiding van Nikiwe Bikitsha se artikel.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wat sê die Girls?

Mei 26, 2009 in Sonder kategorie

Girls. Wat doen ’n professionele vrou om ’n man te vang?

Hier is vrek wonderlike loslopers op hierdie blog. Wat dink julle van Nikiwe Bikitsha se idee dat vrouens mans afstoot?

We often claim that we want men to take care of us, shower us with attention and take charge, but we don’t know how to let them. Our upward mobility, fantastic careers and financial independence — while all hard-won — have made us rather bolshy. I’m not suggesting we should downplay our success and independence, but perhaps we need to be more mindful of the fact that men are trying to figure out the rules of engagement as much as we are.

Lees gerus self.

En mans. Wat dink julle?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die Gilgamesj-epos

Mei 25, 2009 in Sonder kategorie

Die Gilgamesj-epos word beskou as die heel oudste storie wat die mensdom besit. Tog is dit steeds relevant en so sexy soos Sex in the City.

Coenraad Walters het die epos hervertaal en verwerk vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor. Hy dra dit self voor Donderdagaand.

Waar? By die Breytenbach-Sentrum op Wellington.

Wanneer? 28 Mei om 19:30.

Hoeveel? Slegs R20.

Bespreek by 021 873 2786, of e-pos ellziena@breytenbachsentrum.co.za

Coenraad is ’n uitstekende voordraer. Moenie dit misloop nie!

(Terloops, sien julle hoe verskil e-pos en epos?)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Boeke gee jou vlerke

Mei 25, 2009 in Sonder kategorie

St George’s Grammar School in Kaapstad is besig met hulle jaarlikse leesprojek. Dié storie gaan nou al vir baie jare aan en elke jaar is dit ’n groot sukses.

Die laerskoolhoof stel elke jaar ’n uitdaging aan die kinders: As julle elkeen X-aantal boeke gelees het teen die einde van dié twee weke, sal ek iets simpel aanvang. (Vir die Graad R’s is dit 25 boeke – saam met die onnie en/of by die huis saam met pa en ma.)

  • Een jaar het hy ’n dag lank op die dak van die skool gesit en lees.
  • ’n Ander keer het hy sy hare afgeskeer.
  • Vanjaar jaar het hy belowe om skool toe te kom in sy pajamas en om daardie dag heeldag lank buite die biblioteek te sit en lees.

Die tema van die huidige projek is: Reading gives you wings.

Alle Graad R-kinders moes vanoggend vlerke dra skool toe en later die oggend het hulle ’n vertoning gereël met miniatuur helikopters wat met radiobeheer allerlei toertjies gedoen het.

Een van die boeke op die aanbevole leeslys is: IS DAAR PLEK OP JOU BESEM?

Dis geskryf deur Julia Donaldson en geïllustreer deur Axel Scheffler. Hulle is die mense agter die Goorgomgaai aka The Gruffalo.

En weer eens het Philip De Vos gesorg vir ’n wonderlike Afrikaanse teks.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lekker onderhoud oor LitNet

Mei 24, 2009 in Sonder kategorie

Het julle die onderhoud met Etienne van Heerden oor LitNet se tienjarige bestaan gesien in Rapport?

Hier is ’n opsomming:

En nee, LitNet is nié net vir intellektuele snobs nie – dit is vir elke internetgebruiker daarbuite – oud en jonk, hoofsaaklik Afrikaans.

Kliek hier, as julle nog nie gesien het nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Hennie Aucamp oor Holocaust-dagboeke

Mei 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek wil julle graag verwys na ’n stuk wat Hennie Aucamp geskryf het: Holocaust-dagboeke, met spesiale verwysing na Die Agterhuis van Anne Frank.

Anne Frank was natuurlik maar een van baie wat dieselfde lot oorgekom het. Frank se eerlike, en welgeskrewe, relaas het die wêreld aangegryp, maar, sê Aucamp, dis belangrik om haar teen die groter agtergrond te lees.

Een van die mense wat sy lewe gewy het aan dié groter agtergrond, is Jacques Presser. Kyk wat sê Aucamp:

Hy was bekend as Jacques Presser en professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Amsterdam. Hy was self ’n Jood en het ondergeduik en is nooit gevang nie. Sy vrou is wel op straat gearresteer … Sy is in die kampe dood en hy het ’n leeftyd gebuk gegaan onder die skuldelas van die oorlewende. Hy sal in Nederland altyd bekend staan as die skrywer oor die lot van die Nederlandse Jode in die Tweede Wêreldoorlog in sy monumentale tweedelige werk Ondergang waaraan hy 15 jaar gewerk het.

Dit is ’n wonder dat soveel Holocaust-dokumente behoue gebly het. Prof Spies meld in haar brief dat Etty Hillesum ’n poskaart aan haar vriendin Christine van Nooten op pad na Auschwitz uit die trein gegooi het, en dat dié kaart sy bestemming bereik het. Anne Frank se dagboek is nie deur die Duitsers vernietig nie, en het in die saak van haar vader bly lê waar dit deur Miep Gies gevind en ongelees vir Otto Frank bewaar is. Het die geskiedenis dalk sy eie ingeboude bewaringsmeganismes?

Anne Frank se dagboeke is nie die enigste getuienis van Nederlands-Joodse Holocaust-slagoffers nie. Etty Hillesum (1914-1943) en Abel J Herzberg (1893-1989) het ook dagboeke bygehou – Herzberg in Bergen-Belsen. Etty Hillesum het Auschwitz op 10 September 1943 bereik, presies op die dag dat haar ouers ’n gaskamerdood gesterf het. Haar eie dood op 30 November 1943 is deur die Rooikruis gerapporteer.

Maar die netwerk dagboeke uit die Holocaust sluit ook lande soos Pole, Roemenië en natuurlik Duitsland self in. Net twee dagboeke gaan hier uitgesonder word: dié van Victor Klemperer (1881-1960) en Mihael Sebastian (1907-1945).

Lees gerus die res.

Net nog twee opmerkings:

1. Aucamp vra: Sou Frank se storie minder nuuswaardig wees as dit gelukkig geëindig het? Ek wonder wat julle daaroor dink?

2. Wie van julle ken Zlata Filipovic se dagboek, uitgegee as Zlata’s Diary? Dit is ’n MOET. Dié teks speel af in Sarajevo, en die gebeure is nog baie vars in ons geheue.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Crito

Mei 23, 2009 in Sonder kategorie

Gepraat van missing link, het julle die debat oor blogger Crito gesien?

Hier is my bydrae, en hier is die res.

Wat dink julle?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die Missing Link

Mei 20, 2009 in Sonder kategorie


Google beweer die missing link is gevind. Wat dink julle?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Freddie Brandt, onbesonge, is dood

Mei 18, 2009 in Sonder kategorie


(Foto deur NVA verskaf)

Daar is party mense wat nooit op die titelblaaie van boeke verskyn nie, tog, sonder hulle, sou talle boeke maar gesukkel het – of nie gebeur het nie. Een so ’n mens was Freddie Brandt.

Freddie was die drywer by Nasou Via Afrika (NVA). Hy was vir sestien jaar verbonde aan die maatskappy en hy was tróts op sy werk.

Ek ken talle drywers wat nou regtig nie gaan moeite doen nie, of bot weier om sekere goed te doen. Nie Freddie nie.

’n Toenmalige kollega vertel hoe sy eendag vir Freddie gestuur het om voor ’n skrywer se deur te gaan sit totdat die manuskrip oorhandig word. Niks werk so goed soos ’n groot man op jou stoep wat sy voet sit en tik nie!

Ek het Dinsdag nog in Freddie vasgeloop. Toe ek hom die hand ryk, kry ek so ’n skaam glimlag oor ek hom sowaar onthou. (As Freddie skaam was, het hy sy kop na links gegooi en sy ken laat sak.) Natuurlik onthou ek hom. Genade.

Minder as 48 uur later is hy geskiet vir sy selfoon.

Sy jongste dogter is nog nie in die skool nie. Sy was mal oor haar pa en het talle male saamgery as Freddie die Kaap vol reis om boeke te maak gebeur.

Ag nee, hel man, dis nie reg nie.