Jy blaai in die argief vir 2009 Maart.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Pienk!

Maart 14, 2009 in Sonder kategorie

 

’n Interessante eer het my te beurt geval. Byna Liefde is een van drie boeke wat gekies as die amptelike “pienk boeke” vir hierdie jaar se Pienk Loerie Mardi Gras.

Gaan loer gerus na die ander twee, wat julle goed ken, en na dié jaar se pienk kunstenaars.

Of, spring op die gaymobiel en gaan neem deel, as jy so gerat is.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Erik en die Kido-dinges: My seun se eerste roman

Maart 12, 2009 in Sonder kategorie

Ek kry gereeld navrae oor leesstof vir die kleingoed. Wel. My seun het pas sy eerste roman afgedraf. Pa het gelees, hy het met groot oë geluister na en hom verkneukel aan Erik en die Kido-dinges van Leon de Villiers.

Knaap is ses en om deur ’n jeugroman van 63 bladsye met bloedweinig prentjies te sit, wil gedoen wees. Maar dan is Leon de Villiers ’n meesterverteller.

Dis ’n wonderlike boek met baie lesse vir Pa en Ma.

Erik slaan die boelie wat sý vriend gekarnuffel het. Dan laat sy pa hom die hondebolle optel as straf. Luister hoe begin die boek.

Baie kwaad kyk Erik na die groot, geelbruin hondebolle voor hom. Yslike, stinkende hondebolle. Tamaaie, pap hondebolle.

Watter seuntjie sal nie nou al ril van walging nie?

Erik besluit uiteindelik hy is moeg vir sy gesin. Hy wil ’n ander gesin hê. Sy pa en ma laai hom dan af by die Kidoteek. Daar kan ouers hulle kinders ingee en ander uitneem.

Alles goed en wel, tot Erik besef wat in ander gesinne se lewens gebeur.

Gelukkig kan hy dan die ánder ouers weer inruil by die Oudoteek.

Julle kan raai waar hy weer teregkom, máár eers na sy ouers jammer gesê het dat hulle nooit na hom geluister het nie.

Hierdie roman het ook ’n ander spesiale ding in ons gesin laat gebeur. My knapie weet hy is aangeneem en het daarom ’n groot skeidingsangs – groter as ander kinders. Ons het deurentyd, terwyl ek en hy die boek gelees het, vir mekaar vertel dis ’n oulike storie, maar eintlik is dit nonsens. Want, het ons ooreengekom, as hy eers my seuntjie is en ek sy Pappa, is dit vir altyd en altyd en altyd en altyd en altyd en altyd!

Boeke leer dus nie net die ouers om te luister nie, hulle leer ook die knapies om krities te dink oor alles wat hulle hoor en in boeke lees.

Leon de Villiers is een van my gunstelinge. Ek glo nie dié boek is meer in die handel beskikbaar nie, so probeer maar die biblioteek.

Mý kopie het in 2003 by Lapa verskyn, ISBN: 0 7993 3165 1.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ware liefde: Die oorplantinguitgawe

Maart 10, 2009 in Sonder kategorie

Ek het die ander dag die Avanza laat diens by McCarthy in Kenilworth. Die man wat my gehelp het, was ’n vreeslik sagte, ordentlike omie. Hy het koel gebly toe die drukker oppak en was deurentyd professioneel en uiters vriendelik.

Sy naam is Abdul Kathrada.

Enige iemand? Nee, ek ook nie. Abdul was die omie agter die toonbank, die vriendelike man wat uit sy pad gegaan het om my motor so gou as moontlik reg te kry.

Totdat hy sê hy sal die motor gaan haal en vir my bring, dan hoef ek nie te sukkel nie; want ek hang toe rond en kom op twee koerantknipsels af oor Abdul Kathrada.

Dié man het al talle medaljes verower by die Wêreldspele vir mense wat oorplantings ondergaan het.

Abdul het 30 jaar gelede ’n nier van sy suster ontvang en het sedertdien fiks en gesond gebly.

Google ’n bietjie sy naam – ek het. Hy is ’n verstommende mens.

Hoekom glip hy in my blog in? Want sommige mense se stories is soveel beter as wat ek kan uitdink.

Lank lewe, Abdul Kathrada, lank lewe!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ware liefde: Die Backstage-uitgawe

Maart 8, 2009 in Sonder kategorie

’n Paar van julle het nou al my verhaal “Once threw a party” gelees in Byna Liefde. Wel, hier is ’n storie oor ware liefde wat ’n week gelede afgespeel het. En, ja, óók backstage. Lees gerus verder.

David Bedella het sterstatus verkry met sy vertolking van die plastiese sjirurg Carlos Faschola in die Britse TV-reeks Holby City. Hy was ook die Maitre D in Batman begins en die skriba in Alexander. Maar naas Carlos was een van sy bekendste onlangse rolle die duiwel in Jerry Springer The Opera.

Dít is heel ironies, wat David is ’n baie aktiewe Christen wat dikwels na homself verwys as die “pastor’s wife”. Hy en sy genoot, Presley Sutherland, is al ’n hele paar jaar lank getroud. Presley woon en werk tans in Kaapstad.

David het intussen ’n cd, The Dean St. Sessions, bekendgestel.

En dis juis waar hierdie bloginskrywing vandaan kom.

David woon en werk tans baie hard in Londen. Presley arbei vir ’n dominee se salaris in Suid-Afrika en hy word in Rande betaal. So, Video-Skype is hulle manier om snags vir mekaar nag te sê.

Dit is ook oor Skype wat David vir Presley elke aand vertel het hoe sy nuutste projek, twee hengse konserte op een nag in die Leicester Square Theatre, verloop. Die konsert was ’n lewendige weergawe van die cd. ’n Deel van elke kaartjie wat verkoop is, het gegaan aan die Terrence Higgins Trust, wat HIV-navorsing doen.

Presley het gereeld kom vertel hoe fiks David tans is en hoe “the lines on his face is that of a dancer again. He looks younger now.”

Ah, die liefde.

Een van die BBC se vervaardigers het besluit om die hele projek, van A-Z te verfilm. Die hele idee is om aan die gehoor te wys wié is almal betrokke by so ’n vertoning, hoe hard die sangers en dansers werk, en natuurlik hoe alles óp die verhoog én daarna verloop.

Maar, David moes dit alles aan Presley vertel oor Skype. Intussen het Presley vir David vertel hoe die dienste en bedrywighede rondom GayPride hier in die Kaap verloop.

David se konserte was op Maandag 2 Maart om 20h00 en weer 23h55. Net dit. Net dié twee in Londen, in die Leicester Square Theatre.

Presley se groot diens was Sondagaand 1 Maart om 0700. In Distrik Ses in Kaapstad.

Wel, wat David nie geweet het nie, was dat Presley direk na die diens lughawe toe is en die eerste beskikbare vlug Londen toe geneem het.

’n Paar minute voor 20h00 was hy by die teater. (Van die vervaardigers het geweet van Presley se planne, niemand anders nie.)

Natuurlik was die vertoning “stunning” en natuurlik was daar na die tyd ’n klop aan die deur van David se kamer.

Die kameras het al gerol toe Presley instap …

Profile photo of izakdv

by izakdv

Google se huldeblyk aan Dr Seuss

Maart 3, 2009 in Sonder kategorie

Het julle, soos ek, gewonder oor Google gister? Ek was nuuskierig genoeg om te wil uitvind. Dit was sy verjaarsdag.

Theodor Seuss Geisel is op 2 Maart 1904 gebore. (Hy is in 1991 oorlede.)

Lees gerus meer oor hom.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Verhoudings met grense; Jy bly my kind

Maart 3, 2009 in Sonder kategorie

 
(Coenie Kukkuk en Louise Prinsloo teken bewonderaars se boeke by die bekendstelling van In ’n neutedop.)

Hierdie blog handel eintlik oor ’n radioprogram, meer eers die volgende, baie persoonlike stukkie inligting: Die mens en die geskryfde is altyd ’n interessante ding. Ek het Coenie Kukkuk leer ken toe ons kortverhale gesoek het vir In ’n neutedop. Coenie het ’n baie interessante verhaal oor ’n hartoperasie geskryf.

Vannag, terwyl julle hier lees, lê Coenie se ma in ’n kritieke toestand – wagtend op ’n hartoperasie.

Anne Kukkuk praat môreaand (4 Maart) op die radioprogram, want dis ’n maand gelede opgeneem. Luister gerus môreaand RSG. (Vir diegene buite Suid-Afrika, kliek op www.rsg.co.za en die Kaap is Afrikaans!) Dink dan ook asseblief aan Coenie en Anne. (Coenie is die redakteur van GaySpeak.)

Verhoudings met grense
Woensdag, 4 Maart 2009
RSG – 21:00-22:00
Aanbieder – Suzaan Steyn

Een van die grootste skokke vir enige ouer is om te hoor jou kind is gay. Ouers vertel van die emosies wat hulle ervaar en die worsteling wat baie moes deurmaak om die nuus te verwerk. ‘n Kundige het ook raad vir ouers oor hoe om dit te hanteer en daar word gekyk na die godsdienstige aspek.

Gaste:

Dr. Eddie Wolff – Kliniese sielkundige van Johannesburg

Lidia Theron – Skrywer van die boek JY BLY MY KIND oor haar worsteling om haar gay dogter te aanvaar (uitgegee deur Hemel en See Uitgewers)

Anne Kukkuk – ma van ‘n gay seun aktief in die gay gemeenskap

Ds. Cassie Carstens – NG-predikant en pa van ‘n gay kind

Dr. Jean du Plessis – Kliniese sielkundige, self gay en betrokke by ‘n taakspan van die algemene sinode van die NG-Kerk oor homoseksualiteit. Skrywer van die boek OOR GAY WEES, deur Tafelberg uitgegee

Pieter Oberholzer – Inclusive and Affirming Ministries, ‘n ondersteuningsgroep op Stellenbosch vir ouers van gay kinders

Profile photo of izakdv

by izakdv

David Philip (et al)

Maart 2, 2009 in Sonder kategorie

Let op die et al in die titel. Later meer oor hulle.

David Hugh Philip is 16 Februarie 2009 oorlede, maar sy naam sal bly voortbestaan op die rugkante van talle boeke.

David Philip en sy, Marie, het David Philip Publishers begin. Hulle het swaargekry en het aanvanklik die hele onderneming vanuit hulle huis bedryf.

Een van die ikoniese oomblikke in dié maatskappytjie se lewe was toe die vragmotor die eerste keer opdaag om ’n werklike groot besending boeke op te laai by hulle pakstoor (die garage).

“Bring maar die vurkhyser,” sê die bestuurder.

“Goed,” sê Marie en verdwyn. Daar gaan die garage se deur oop en Marie verskyn met die kruiwa – hoogvol gelaai met boeke.

Maar waarom? Waarom het David Philip ’n werk by Oxford University Press laat staan en sy eie paadjie geloop?

Malcolm Hacksley, die Direkteur van die National English Literary Museum in Grahamstad, het die volgende gesê by sy begrafnis.

David was interested primarily in publishing good books that were relevant in the South African context – social, political and cultural. (…)

And he watched, with growing dismay, how the National Party government consolidated its control over every aspect of the physical and, particularly, the intellectual life of the country. To sustain the ideology of apartheid, it was necessary to prevent the transmission of ideas. But there could be no accommodation between censorship on one hand and morally responsible publishing on the other. The choice facing publishers was between confrontation and capitulation. While the larger companies all played it safe and made their money on school textbooks, the small oppositional publishers tried defiance, and paid the price of their boldness. The voices of many, particularly black writers and thinkers, were silenced – by banning, by exile, by death. In 1976 Nadine Gordimer said “the lively and important group of black writers who burst into South African literature in the fifties and early sixties disappeared from it as if through a trap door.”

Nurtured in the old Cape Liberal tradition, David and Marie refused to allow the expression of alternative views to be silenced. Believing in “the truth of the imagination,” David cashed his pension and he and Marie launched David Philip Publishers, with the avowed intent to publish “Books That Matter for Southern Africa”.

(…) After the Soweto uprising on 16 June 1976, Sipho Sepamla’s poetry collection The Soweto I Love was banned. David issued a press statement, saying: “Whether we like what we hear or not, we should at least be able to know how the people of Soweto have responded to these events. Here is the articulate voice of an internationally recognised poet telling us what it is like in Soweto – and the authorities will not let us hear him. Do we realise what is happening to us?”

Moet ook nie vergeet nie hoe mense soos Koos Human, by Human & Rousseau, skrywers soos Breyten Breytenbach en Etienne le Roux ondersteun het teen apartheid se sensuur nie. Hulle was ook, lank terug, ’n onafhanklike maatskappy.

Die belangrike punt is egter dat die onafhanklike stem nie moet stilbly noudat die ANC oorgeneem het nie. In die woorde van David Philip:

“The role of an oppositional publisher doesn’t disappear just because the government changes. Publishers of integrity are, or ought to be, endemically independent, always prepared to give voice to criticism of the establishment, always the supporters of freedom and creativity, holding open the doors for discussion and debate.” (Ook aangehaal deur Malcolm Hacksley.)

Suid-Afrika het wonderlike klein uitgewerye gehad. Daar was Hond en Raven Press, wat saam met David Philip wonderlike werk gedoen het.

Meer onlangs was daar Queillerie, wat toe oorgekoop is. Ukelele het ’n rukkie lank bestaan.

Vandag is daar ook Penstock en Hemel & See wat goeie werk doen.

En wat van Praag? Dink van Dan Roodt wat jy wil, Praag se lys is ’n belangrike toevoeging tot Afrikaans.

En moenie Protea vergeet nie. Protea is lank nie meer “klein” nie, maar hulle vul gapings waar ander, groter uitgewers dit nie kan vat nie.

En dan is daar Genugtig!

Ek kan meer mense gaan opnoem as dit moet, maar die punt is: Klein uitgewerye kan op hulle voete dink, gedurig verander en boeke maak in ’n oogwink. By Bateleur het ons In ’n neutedop in ’n paar nagte aanmekaar gesit. Vandag, by die moerse maatskappy waar ek werk, spandeer ek meer tyd aan één boek in vergaderings óór daardie boek, as wat ek kon spandeer aan die maak van ’n goeie boek by ’n klein maatskappytjie. (Wat toe ook oorgekoop is.)

Moenie groot uitgewerye te gou loop nie. Hulle spandeer ’n enorme deel van hulle begrotings aan die maak van boeke wat ’n verskil sal maak, al maak dit nie ekonomiese sin nie. Maar dan hou hulle mense soos die uwe só lank in vergaderings dat die boek al amper oud is as ek eendag daar uitloop.

Mense. Mag die gees van David Philip voortleef en mag daar nog talle klein maatskappytjies wees wat die status quo uitdaag en goeie boeke uitgee wat saak maak.

Lees gerus ook die stuk wat Malcom Hacksley in Die Burger geskryf het oor David Philip.

(Malcolm se toespraak, waaruit ek hier grepe aangehaal het, is deur PASA versprei.)