Jy blaai in die argief vir 2009 Februarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Outisme Praat

Februarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Daar was hierdie week twee baie interessante stukke in die pers oor outisme.

Die een, wat waarskynlik die meeste aandag geniet het, handel oor Ernie Els se openhartige gesprekke rondom sy outistiese seun.

Lees gerus hier. Dit is nou al ’n hele rukkie dat Els se golfsak ’n plakker dra wat sê: Autism speaks.

’n Ander, nog roerender, stuk kom van Mike Trapido, of te wel Traps soos sy blog bekendstaan. Traps is een van die mense wat ek die graagste lees, want hy kyk na die land se regstelsel as ’n kenner en hy skroom nie om populistiese snert aan die kaak te stel nie. (Hy is ’n prokureur.)

Traps is dikwels skerp en talle mense het al onder sy pen deurgeloop. Maar die ander dag het hy uitgekom en vertel dat een van sy eie drie seuns outisties is.

Lees dit hier. Dis eina.

Van julle weet nou al ek en die geliefde het aangeneem. Dit was ’n keuse, nie ’n biologiese rede nie. Talle mense sê gereeld: “Oe, julle het so ’n groot ding gedoen.”

Bull, man.

Weet julle, as ’n mens aanneem, kan jy kies. Jy kry ’n lysie wat baie lank is. Dit lyk so:

Ek wil nie:

– ’n Baba met gebreke hê nie

– ’n Prostituut se baba hê nie

– ’n Baba van ’n misdadiger … ens, ens, ens.

Ek en die geliefde het lysie eenkant toe gestoot en verklaar: “Ons het net een versoek. Ons soek ’n gesonde, HIV-negatiewe kind. Geslag, ras, niks van hierdie goed is is belangrik nie.”

“En,” het ek bygevoeg, “as die ma intelligent is, sal ek baie bly wees.”

Sien julle? Dis ’n selfsugtige ding om aan te neem.

Ons het presies dit gekry. Knaap is baie gesond, deksels oulik, het verskriklik baie energie, het pas ’n botand verloor en talle mense, nie net ek nie, dink hy’s intelligent. (Sy ma was ook intelligent, maar moet asb nie daaroor vra nie, want ek sal niks meer oor haar sê nie. Sy was baie, baie braaf en HIV+.)

Hoekom noem ek my eie, gesonde knaap in die lig van hierdie twee mense se outistiese kinders?

Twee redes. Omdat ek ’n moerse chicken is en gevra het, openlik, vir ’n gesonde kind. Daar is mense wat willens en wetens kinders met gebreke aanneem. Ek kon nie.

Ten tweede. Na die sukses van óns aanneming het ’n vriende van ons, G & B, ook aangeneem. (G is ook ’n blogger. Hy kan homself out as hy sou wou.) Die mooiste dogtertjie. Vriendelik en só cute.

Op twee het sy ophou praat … Julle kan raai.

Hemel mense. Outisme is nie pret nie.

My een nefie het Downs. Dit is erg genoeg. My geleerde vriend, Awie, se dogter is gestremd.

Ek?

Ek kan nie my ophou verkyk en verwonder aan die welgeskape, slim klein kabouter wat ses jaar gelede in my arms geplaas is nie. Al het hy vanaand ’n spul room in my hare gesmeer. En toe ek vies is en sê “Kyk hoe lyk my hare nou!” was sy antwoord: “Maar jy het niks meer hare ore nie. Kyk in die spieël.”

Dis woorde en logika wat die ouers van ’n outistiese kind nooit uit hulle knaap se mond sal hoor nie.

Ken julle Annelie Botes se Raaiselkind? Dit handel oor ’n ma se stryd met outisme.

Profile photo of izakdv

by izakdv

30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden

Februarie 27, 2009 in Sonder kategorie

As julle nog nie van Connie Braam gehoor het nie, sou dit julle die moeite loon om ’n bietjie oor haar te lees voor, of na, die lees van 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden.

Etienne noem haar, en haar boek, Operatie Vula: Zuidafrikanen en Nederlanders in die strijd tegen apartheid, agter in sy baie deeglike stel erkennings.

Zan de Melker is nie Connie Braam nie. Geensins. Tog is daar ooreenkomste. Een van Connie Braam se truuks was om die swart insypelaars “gewoond” te maak aan wit mense. En waar beter as binne in ’n wit vrou? (Haarself.)

Maar, Connie Braam sal veral onthou word vir die vermommings wat sy verskaf het aan die ANC se insypelaars. Sy kon enige iemand in iemand anders verander.

Julle het waarskynlik al resensies gelees oor 30 nagte in Amsterdam, so ek wil nie alles herhaal wat reeds gesê is nie. Ek sou graag ’n paar goed wil aanstip om julle nuuskierig genoeg te maak om die boek te lees, of te herlees.

Daarom wil ek op net twee aspekte van die boek konsentreer: Die diep interessante intertekste wat ons hier raakloop oor die sterk vroue en swak vaders, en die rol van die klein mensie in die groot geskiedenis (dalk selfs Geskiedenis met ’n hoofletter.)

Kom ons begin by laasgenoemde. Kan julle die wonderlike fliek Forrest Gump, van Robert Zemeckis, kan onthou? Die film is gebaseer op die gelyknamige roman deur Winston Groom. Indien julle dit gesien het, is julle al ’n hele entjie ver in die verstaan van 30 nagte in Amsterdam.

Die klein mensie se storie

Gump was ’n vaal seun en glad nie iemand wat voor in die ry was toe IK uitgedeel is nie, máár ten spyte daarvan was hy kwansuis ’n belangrike dryfveer in belangrikste dele van die Amerikaanse Geskiedenis (let op die hoofletter). Om maar twee te noem: Gump het vir Elvis geleer hoe om daardie heupe van hom te swaai (die pelvic movements waarvoor hy so bekend was) en Gump was verantwoordelik vir die val van Nixon deur Watergate te laat gebeur – aldus die film.

Waarom is Forrest Gump so ’n belangrike film in die Amerikaanse arsenaal? Amerika was nog altyd trots daarop dat die gewone mens in die VSA ook kan deel in die “American Dream”. (Dink ook aan iets soos The Jazz Singer van Richard Fleischer waarin Neil Diamond die hoofrol gespeel het.)

Wat Forrest Gump aan die “gewone mense” gesê het, is: Julle kan ook. Kyk, ek, Forrest kan, julle het ook die vermoë. Of, belangriker nog, Forrest Gump se boodskap was dat Amerika se grootsheid afhang van die bydraes wat gewone mense maak.

In 30 nagte in Amsterdam doen Etienne van Heerden iets baie soortgelyk. Hy gee Zan de Melker krediet vir die bekende Outspan-boikot, waartydens Suid-Afrikaanse vrugte geboikot is in die buiteland, en, word ons vertel, Zan was ook voor in die koor toe die anti-apartheidsbeweging Zuidafrika-Huis bestorm en talle ou boeke in die grag gegooi het.

Ek gaan nie te veel meer hieroor sê nie, want ek wil nie die storie weggee nie. Dis egter taamlik gou al duidelik dat Zan de Melker, die epileptiese Karoodogter, vir groter dinge bestem sou wees. Vind ook gerus uit hoe Zan haar lyf gebruik in die struggle. Lees self!

Die vraag is egter hoekom? Waarom van Zan ’n onbekende heldin maak, soos Connie Braam destyds was? Die antwoord lê in die ongemak wat 30 nagte in Amsterdam toon met die huidige bestel. Daar is ’n spul diknekke in die ANC wat die land en rykdom vir hulleself opeis omdat hulle in die “struggle” was. Moerse. Van Heerden se 30 nagte in Amsterdam vra: En wat van al die ander?

Die probleem met ons bloulig-bling-bling-brigades is dat hulle die indruk skep, of dit sommer sê, dat hulle geregtig is op die bling, omdat hulle eendag lank gelede iets vir die land gedoen het. Die punt is egter dat daar talle ander, baie eenvoudige mense is wat geweldig baie gedoen het, en nooit vermelding gekry het nie, nooit genooi is om in bling-konvooie rond te jaag nie, en ook nooit ryk geword het, of vrouens opgeëis het, soos Showerhead en sy crowd nie.

Zan de Melker word ’n ikon vir die klein mensie wat óók deel was van die bevryding, maar nooit eervol vermeld sal word deur die vetgatte wat vandag beheer verloor het oor die ANC nie. Daar is talle van hulle.

Soos Forrest Gump (die karakter), word Zan de Melker ’n metafoor vir al die ander wat op ’n manier onder die veiligheidspolisie deurgeloop het, of gehelp het, maar nooit medaljes sal kry nie.

Sterk vroue

Etienne maak melding dat die huise wat in 30 nagte in Amsterdam voorkom, weerspieëlings is van ’n aantal huise uit sy lewe. Tog, sê hy baie duidelik, dat die mense in die teks glad nie verwar moet word met sy eie gesin, of familielede, nie.

Dis dan goed so. Ek wil graag die rol wat die afwesige vader in hierdie teks vir ’n oomblik toelig.

Henkie woon by sy ouma. Henkie se pa is ’n senuweebol wat in die gestig beland.

Dít is interessant, want hierdie vader trek baie sterk op Etienne se ander struggle-roman, Kikoejoe. Lees gerus Kikoejoe weer en kyk hoe na hierdie twee vaders aan mekaar is.

Van Etienne se eie pa weet ek min, en dis ook nie belangrik nie. Die baie duidelike intertekste, en die hunkering na die Karooplaas as wrede idille is wél belangrik.

Saam met die swak vaders, staan die vroue in Van Heerden se werk gewoonlik baie sterk. Let ook op die rol wat die aristokratiese ou tannie speel in Asbesmiddag, daardie roman oor Skelmbos. Kyk hoe sterk is OumaOlivier ook in hierdie teks.

’n Mens sou ook na Seamus Butler, die neuroot en dié se pa (en seun) kon verwys in Die Stoetmeester, asook die rolle van die sterk vroue in húlle lewens. Reeds in Matoli is die plaas, die sterk vroue en die klein mensie se opstand al aanwesig.Selfs in Casspirs & Campari’s is dit die sterk vroue ágter Erwin wat hom bystaan deur dik en dun, wat maak dat hy kan volhou.

’n Mens kan geensins uit hierdie tekste aflei dat Van Heerden hier oor eie familie skryf nie, maar aangesien hy groot dele van sy oeuvre wei aan die sterk vroue, kan ’n mens nie help om die patrone raak te sien nie.

Persoonlik vs politiek

En só versterk Van Heerden die boodskap dat die stryd om geregtigheid nié behoort aan die enkele mans wat hulleself verryk deur die proses nie. Nee, kyk na die land se sterk vroue, maan hierdie tekste, húlle wat nooit geroem word nie.

Etienne van Heerden skryf nie borrelgom nie. Van sy tekste is selfs moeilik. Ek dink egter dat 30 nagte in Amsterdam een van sy meer toeganklike tekste is en dat hierdie karakters van sy sterkste is.

Dit is ook baie interessant om te sien hoe die klein mensie besing word in die teks en in die land se geskiedenis.

Net so terloops: Lees gerus in die geskiedenis hoe ’n jong Etienne van Heerden amok gemaak het op kampus met sy linkse idees. Kyk ’n bietjie wie het met die ANC onderhandel, lank voor die Broeders bereid was om hulle nekke uit te steek.

En kyk dan aan wie hy hierdie boek, en talle van die ander romans, opdra.

Sommer net interessant.

(Wat meer is, as julle een van die mooiste én tegelyk hartseerste paringsdanse ooit wil raaklees, gryp dan 30 nagte in Amsterdam.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Boeke wat kinders laat skater

Februarie 22, 2009 in Sonder kategorie

Mense, in die lig van die ongure boeke 🙂 wat ek vir die kinders aanbeveel op hierdie blog, wil ek tog ’n sober gedagte ook by julle los: Op Saterdag 14 Maart, 09h00, is daar ’n gesprek oor kinderboeke by die Woordfees op Stellenbosch.

Die titel is: Boeke wat kinders laat skater.

Die volgende mense gaan daar wees: Fanie Viljoen, Carina Diedericks-Hugo, Jaco Jacobs, Janie Oosthuysen, Martie Kruger en Martie Preller.

Kaartjies kos net R30.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Michael Rands se Praise Routine number 4

Februarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Micahael Rands is, net soos André S. Kamer, ’n komediant. As julle iets van komedie af weet, dan weet julle tydsberekening is alles. Ek was self al op die verhoog en ek weet dat jy elke aand anders speel, juis omdat ’n gehoor jou lei.

Skrýf jy egter humor, lees jou leser dit eers veel later. Jy moet dus bitter skerp wees om daardie sinne, die tye en die oomblikke net lank genoeg uit te rek, nie te gou te los nie, en ook nie te lank uit te rek nie. (My eie komiese skryfdebuut was in Alles goed en wel.)

Ritme en tydsberekening is alles.

Michael Rand se Praise Routine number 4 is nie ha-ha-humor nie; nee, dis donker humor hierdie.

Praise Routine number 4 begin met ’n jazzerige ritme; jy is nooit heeltemal deel van die beat nie.

’n Goeie jazzdrommer is nie ’n metronoom nie, inteendeel. Met jazz is dit die vermoë om die ritme so effens te klits, te meng, mee te speel en rond te gooi wat ’n goeie drommer van ’n swak een onderskei.

Praise Routine number 4 gaan nie oor musiek nie. Dit gaan oor ’n ou wat ’n onpaar voete het; ’n sewe en ’n elf. Hy moet dus altyd twee paar skoene koop. Behalwe nou as hy werk in daardie duur restaurant waar hy die Engelse pryssanger is wat die Xhosatekste vertaal. Daar dra hy diervelle en praat hy die Xhosavoorsanger na. Hy is ook kaalvoet as hy werk.

Die probleem is, hy haat sy werk. En omdat hy sy werk haat, rook hy te veel dagga.

Iewers tussen die newels ontmoet hy ’n beeldskone meisie wat hom wil afneem. En dan vra sy hom om sy klere uit te trek … en skielik is hulle ’n item. (Sy voete, nou ja, sy sien dit raak en steek dit nie weg op die foto’s nie.)

Sy trek in by huis wat hy van sy pa geërf het; sy maak skoon en sy koop vir hom skoene (twee paar).

Ongelukkig rook ons knaap hom heeltemal uit sy werk uit. En eendag, na ’n reenbui sy daggaplante ook verniel, kom hy op ’n been in sy tuin af. Hy glo, heel beneweld, dat die been vir hom baie geld kan inbring en hy probeer dit verkoop op ’n gemeenskapsmark.

Niemand koop die been nie, maar die opgrawing maak die instinkte van ’n entrepreneur wakker; dié besluit onse werklose hoofkarakter se huis is die ideale plek vir ’n jeughostel. Sy bied hom ’n deel van die wins aan, en trek in. Sy neem ook oor.

Teen hierdie tyd het die onsigbare drommer / skrywer spoed opgetel. Hy’s nie meer saggies in die agtergrond nie. Nee, hy sit en sweet soos hy die solo wil-wil oorvat. Die ritme is hitsig, dit wil oorslaan na iets uit die Suide van Amerika. Veral as ons vriend tydelik die dagga los en werklik die fotograaf begin geniet. Dan raak dit sexy. Vir ’n oomblik wil-wil jy ’n salsa begin hoor. Die ritme klop. Dit pols. Jy wil weet. Ons held hou op rook. Hy ontdek die wêreld weer. Weg is die dromerige jazz.

Maar iewers, en ek kan nie presies sê waar nie, kaap die drommer die stuk en begin harde rock en roll slaan. Nou kyk, in rock en roll is die drommer die ou wat alles aan mekaar hou. Hy sit nie verniet op agsteman nie, die drommer beheer die spel; dink metronoom. Kyk wat doen Roger Taylor (Queen) daar op nommer agt. Of David Grohl (Nirvana), veel later …

As dit ’n film was, sou ’n mens kon dink dat Woody Allen moes plek maak vir Quentin Tarantino. Alles verander. Die off-beat humor verval in harde, lawaaierige holderstebolder scénes waar rewolwers gesteel word, daggaplante gekweek word, junkies op krukke praat met ’n junkie wat glo hy was al op die maan… Die gek entererpeneur (of is sy slim?) neem oor in ons vriend se huis. Sy sleep hom selfs bed toe. Intussen blaas die hoofkarakter sy laaste geld op ligte wat sy daggaplante sal laat groei. Maar ook dít word stelselmatig van hom af weggeneem.

Teen dié tyd loei die elekrtiese kitare en die dromstel stamp ’n verwoede ritme uit. Ons is nou iewers tussen acid rock en heavy metal.

Met ’n .45 in sy hand stap ons held met ’n helder kop vol bravade op sy nemesis af, maar kan hy die pas volhou?

Heel subtiel laat die skrywer die klankbaan nog eens verander. Met die gesteelde pistool in sy hand, neem die held nog eens ’n behoorlike zol op, en stadig, ritmies, tik, tak, tik, tak loop ons vriend sy lot tegemoet.

Dit moet kom.

Praise Routine number 4 is tragikomies. Dele is vrek snaaks. En tog is daar ’n voortstuwende sin vir doem. Jy hoop die hele tyd die bliksem wil die wêreld aan die hand gryp, maar helaas. Teen die einde, op die heel laaste paar bladsye hoor jy dit: ’n marche de la mort. Die kitare is weg. ’n Makabere stel koperblasers het oorgeneem.

Dis nie ’n moeilike teks nie. Dit lees maklik en vinnig. Tog is dit ook nie ’n ligte briesie nie. Júís omdat Rands die “likable rogue” so goed skets, is hierdie teks iets om te lees.

As jy al dagga gerook het, weet jy: Die eerste deel is amazing. Later skop die bravado in, en dan… dan kom die duh gevoel die volgende dag. Praise Routine number 4 neem jou deur hierdie stappe.

Rands is ’n jong outeur, maar dis ’n baie sterk stem hierdie. Sy werk trek sterk op dié van Ivan Vladislavic: ongenaakbaar, sterk geskets en nie bang om heerlik vir sigself te lag nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Drome kom altyd andersom uit

Februarie 14, 2009 in Sonder kategorie

Die prinses het ’n interessante stuk oor moedertaalonderrig geplaas na aanleiding van die herrie wat oor Zita se Afrikaans losgebars het. Lees dit gerus.

Ek wil julle nou bekendstel aan ’n boek wat julle asseblief ver van die beswaarde IEB-onnies moet afhou, maar wel mag insmokkel in die skole in.

André Trantraal, Ashley Marais en Nathan Trantraal het saamgewerk aan hierdie boek. Dis ’n strokiesverhaal, of dan ’n strip.

Die Afrikaans is moeilik, dis die Afrikaans van die Kaapse Vlakte. (Wie’t gepraat van Kaapse Afrikaans? Hier’s nou iets om jou taalkennis te verbreed!)

Die taal is moeilik, maar interessant (moenie verder lees as julle skrik vir kruie nie).

Ek hoop julle wat dit beteken om mekaar te “spien”. (Mans kan ook gemelk word 😉

Die monoloog wat ek hier skryf, kom nét so uit die boksies in hierdie prentjie hierbo. Dis ’n volbladtekening wat ek kleiner gemaak het. Ene Christo is aan die woord:

– Ek en Paola spien nou al ampe ’n jaa.

– Is ‘ie langste wat ek al men ’n kin gespien ‘et, ’n ernstagge ding wat ek rêrag ‘ie wil opfok ‘ie.

– Waarie kak inkom, ek two-time ha. Die heeltyd.

– Wat ‘it erger maak is sy wiet dat ek dala ma sy sê nooit ienag iets ha oo nie.

– Hoe ek wiet, my suste Liesl is vriende met ha en hulle vetel mekaa alles.

– Dan kak Liesl ma tog tog ’n man yt al sê Paola fokkel.

– Liesl wys my Paola dink ek sal ha aireste los in plaas van om op te hou kak aanvang dai’s hoekom sy nooit iets sê nie.

– Ek sal nooit ‘ie.

– Sy gan vi my los, ma ek sal nooit vi ha los ‘ie.

Soos ek in ’n vroeëre blog geskryf het: Daar is nie iets soos Capey nie. Daar is vele variante van Afrikaans.

Ek plaas nog drie raampies uit die teks, dié keer kan julle self lees.

(Die teks, Drome kom altyd andersom uit, is deur Tafelberg uitgegee.)

Koop dit as julle in strippe in belangstel, maar moenie vir die onnies sê ek het julle daarvan vertel nie!

Ek wonder egter of skoolkinders nie die teks sal verslind nie? Hulle sal waarskynlik, mits ons dit nie voorskryf nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lukas Maree oor Anne Frank se Agterhuis

Februarie 14, 2009 in Sonder kategorie

As julle dalk Lukas Maree se pragtige brief oor ’n besoek aan die Agterhuis, Anne Frank se skuilplek, gemis het, hier is die skakel. Lees dit gerus. En, as julle nog nie Lina Spies se pragtige vertaling van die boek gelees het, koop dit.

Die meisie, wat haar liggaam se vrouwordjare moes deurbring in ’n klein ruimte digby die seun op wie se verlief is, wou ’n skrywer word. Sy kón met woorde speel. Op 12 Februarie 1944 skryf sy: Die son skyn, die hemel is diepblou, daar waai ’n heerlike wind en ek verlang so – verlang – na alles … Na gesels, na vryheid, na vriende, na alleenwees.

Ek het vroeër al oor die boek geblog. Volg gerus hierdie skakel as julle meer inligting en ander se interessante woorde oor die teks wil sien.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Blogito, ergo sum

Februarie 11, 2009 in Sonder kategorie

‘n Vriendin het die volgende foto vir my gestuur…

 
Beteken dit ek is tans nie?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Vuurkairos

Februarie 9, 2009 in Sonder kategorie

Sakkie vat net hier en daar grond. Skuus, dis hoekom ek nie hier uitkom nie!

Laurie Gaum het my bewus gemaak van ‘n interessante blog. Besoek gerus http://vuurkairos.wordpress.com/

Dis ‘n geestelike ruimte vir gay mens, of vir gayvriendelike mense, of vir vriende van gay mense. Johan Strydom administreer glo die blog.

Profile photo of izakdv

by izakdv

As you like it (I did!)

Februarie 5, 2009 in Sonder kategorie

Ek en Droomkind het vannaad gaan As you like it kyk. Dis ’n voorreg om die magie van die teater te kan beleef.

Willie Wikkelspies bly wonderlik; die regie deur Geoffrey Holland was uitsonderlik, die kostuums deur Dicky Longhurst was puik, en die stel is baie slim ingeklee deur die gemelde twee.

Hierdie romcom klop enige iets wat Hollywood kan opdis.

Profile photo of izakdv

by izakdv

André S. Kamer se 15 Universal laws of relationships

Februarie 4, 2009 in Sonder kategorie

André S. Kamer se 15 Universal laws of relationships begin met: “The existence of this book is almost 100% the result of the Oprah Winfrey Show.”

André sê ook dat hy drie ambisies het: a) Om ’n blitsverkoper te skryf, b) om op Oprah se show te wees en c) om finansieel onafhanklik te wees.

Net soos sy blog, is 15 Universal laws of relationships gevul met humor en interessante staaltjies. Dis geensins ’n outobiografie nie, maar ’n groot deel van die boek se trefkrag wentel om die persoonlike goed wat André deel en waaruit hy dan sy “universele” waarhede aflei.

Hier is ’n voorbeeld; André lys goedgunstiglik die top tien goed wat mans oor vroue weet:

1.

2.

3.

4.

5.

6.

7.

8.

9.

10.

Of, luister hier:

As jy direk na haar loop en sê: “Ek is wonderlik in die bed,” is dit direkte bemarking.

As jou vriende sê: “Hy is goed in die bed,” is dit advertensie.

As jy haar die volgende dag bel en sê: “Ek is goed in die bed,” is dit telebemarking.

As jy instap en sý sê: “Ek hoor jy is goed in die bed,” is dit brand recognition.

As jy vir ’n meisie deure oopmaak, vir haar rose koop en lekker bederf, maar steeds alleen huis toe gaan, is dit die realiteit.

Is dit nie great nie?

André verduidelik ook hoe die voorkop moet lyk, hoe die ore moet lyk, hoe ver die oë uit mekaar moet wees … en tog sê André jy gaan nie die perfekte persoon kry nie. Wees nóú al bewus daarvan. (Kies liewer die een met die beste motor.)

Ook, verklaar onse André, ’n man met ’n 4×4 se gereedskap is klein.

’n Groot deel van die boek word gewy aan hoe maniere om goeie seks te kry (bravo!), maar dis nie al nie. Daar is ook ’n aantal baie praktiese goed, soos: As julle al trouklokkies hoor, maak dóódseker dat julle heel eerste van alles ’n voorhuwelikse kontrak opstel. Of, as jy nou daardie flossie het en julle is mal verlief, dink mooi voor jy sommer jou vrou los, want min affairs hou langer as ses maande.

Daar is ook heelwat dieper goed in die boek. Wat maak jy as die vrou net daar lê en jy werk hard tydens seks? Wat is fout met haar? Nee, sê André, wat is fout met jóú? Wanneer laas het jy blomme gekoop, vir haar ’n bad ingetap…

Of: Wil jy die wêreldrekord opstel vir die langste seks? Okay, maar moenie verbaas wees as sy na ’n rukkie ’n tydskrif gaan lê en lees nie.

En, dink jy en die geliefde die Kama Sutra is boring? Lees André se oplossing in 15 Universal laws of relationships.

Jip. André noem die kind op die naam. Sy agste wet is vir vroue geskryf: Men do not change for the better after they marry. M.a.w. moenie met hom trou om hom te verander nie, it ain’t gonna happen.

Vir die mans is daar ook ’n aparte een, die negende: A thing of beauty is not a joy forever. André sê dis soos ’n nuwe motor: Na ’n tydjie ruik dit nie meer so lekker nie, en die skete begin wys… Maar, jy kan nog vir haar lief wees!

Sy dertiende is vir mans én vroue: If it sags or droops, fix it. Dus, gaan gym toe en bly fiks. Ek het André en sy vrou al ontmoet, en hulle doen dit duidelik.

Nog iets waaroor André uit sy eie lewe aanhaal, is die tweede wet: Alcohol is not the solution. Hy is baie eerlik oor sy eie stryd met alkohol en ontmoedig mense nie om dit matig te gebruik nie, maar as dit jou baas word …

Dus?

Wel, ek dink julle het afgelei dat ek die humor in die teks geniet het en dat ek waardering het vir dit wat André doen.

Ek is egter die verkeerde “mark” vir dié soort boek. Ek kyk nooit Oprah nie. Ek weier om Stephen R. Covey of Robert Kiyosaki te lees, want ek wil weet wat Warren Buffet en George Soros te sê het, of selfs Simon Marias van Allan Gray (nie John Gray nie). Ek stel ook belang in sosiologie, so die idee van verhoudings wat volgens universele wette loop, is vir my net so vreemd soos sewe wette om enige mens ryk en suksesvol te maak. Feministe sal waarskynlik ook rooi sien, eerder as sterre, oor enkele op- en aanmerkings in die boek.

Maar, dis nie punt nie. Talle mense waardeer ’n toeganklike, leesbare gids op die stormsee van die lewe. En hoekom nie?

As jy Oprah kyk, lééf volgens The Seven Habits of Highly Effective People en reeds besluit het dat Men Are from Mars, Women Are from Venus blerrie akkuraat was, dan is André S. Kamer se 15 Universal laws of relationships net die ding om weer die planete in jou universum te laat loop volgens die bane wat vir hulle uitgemeet is. Koop dan hierdie boek en maak van André ’n “best-selling author”.

Die boek lees maklik, is goed geskryf en is vol kwinkslae wat die streng reëls van die heelal relativeer, iets waarvoor ek baie waardering het.

Die agterblad waarsku duidelik:

This is not a textbook. It is meant to be read as fun and entertainment, but contains numerous gems to help you avoid the pitfalls that cause relationships to break down. Whether you are sixteen or sixty, new to dating or already in a relationship, this book will help you make the right decisions to ensure that you both have a lot of fun.

Fun. Dís dalk ’n goeie woord om André se boek mee op te som.

Wanneer André die dag op Oprah verskyn, gaan ek ook kyk!