by

Die verdrinking van Josua van Eden

Januarie 12, 2009 in Uncategorized

9781415200650

Josua se naam is nie verniet Josua nie. Sy Bybelse eweknie waak mooi oor hom. En hy mag Van Eden wees, maar teen die einde van die boek vat hy ’n happie uit ’n kaal vrou en sy onskuld is vir altyd verby.

Jip. Daar is effens meer om die lyf in Carina Diedericks-Hugo se Die verdrinking van Josua van Eden as wat jy sommer sal optel as jy woerts lees. Danté se Goddelike Komedie is ’n sterk interteks, en van die karakters lees selfs filosofie.

Is dit dus ’n moeilike boek? Beslis nie.

Lees dit maklik? Ja.

Het Izak dit geniet? Ja.

Sal hy dit aanbeveel? Ja, maar dan moet jy weet wat jy koop.

Dis belangrik om te besef ek het lekker gelees aan die boek, want ek het enkele stukkies kritiek wat ek later sal deel. Voor ek hulle egter deel, moet ek eers iets sê oor die probleem wat ek, oor die algemeen, met literatuur het wat vir tieners geskep word.

Is daar iets soos “tienerboeke”?

Ek sukkel nog om te glo in tienerboeke. Kom ons neem die Harry Potter-reeks. Dis hoegenaamd nie kinderleesstof nie. En grootmense is ewe mal oor die boeke, want hulle is goed geskryf.

Die Fritz Deelman-reeks, Suid-Afrika se eie, was eweneens gerig ’n mark wat kon strek van laerskoollesers tot volwassenes.

Daar was boeke soos Chris Barnard se Danda en Danda op Oudeur wat heerlik gelees het, maar, juis, dit was blerrie lekker boeke wat ook deur volwassenes gelees is. Of wat van Jan Rabie se Seeboek van die Sonderkossers? Lekker!

Natuurlik was daar besondere reekse, soos Trompie, Die Uile, Die Buiter, Die Maasdorp-reeks en die Keurboslaan-reeks. Die probleem is dat ek hierdie boeke reeds teen standerd vier kisgeloop het, en toe maar oorgeskakel het na Engelse boeke vir volwassenes.

Daarteenoor het daar in die vorige eeu ’n hengse beweging ontstaan, wat “jeuglektuur” genoem is, waarmee ’n klomp volwassenes toe probeer het om kinderangst aan te spreek. Die resep van daardie boeke was eenvoudig:

– Die ouers was geskei, of die ouers was op pad om te skei.

– Die tiener is moerig, maar omdat jy nie vloek in Afrikaans nie, praat hulle keurig Afrikaans.

– Omdat Afrikaanse kinders nooit aan seks dink voor hulle trou nie, was hormone nooit in die prentjie nie.

Kortom, “jeuglektuur” in die ou Suid-Afrika was nie altyd suksesvol nie. Wie wil nou wroeg as jy Hammond Innes, Wilbur Smith en Dick Francis het?

En so het ek begin glo dat dit ’n mite is dat daar nooit ’n goeie “tienerboek” geskryf gaan word nie.

My kontensie was (is?) dat jy kinderboeke kry, en dan, daarna, goeie leesstof wat deur intelligente jongmense, of volwassenes, gelees gaan word. Selfs die werk wat deur NB en die Sanlamprys vir jeuglektuur gekies is, het dit moeilik gemaak om van dié standpunt af te sien.

Waar pas Barry Hough in? Streng vir kinders? Ek weet nie. Ek glo egter nie.

Kyk wie lees Marita van der Vyver se jeugboeke – laerskoolkinders. Wat lees hoërskoolkinders? As hulle lees, lees hulle Marita se boeke vir volwassenes.

Meer onlangs het mense soos Fanie Viljoen (Breinbkliksem) en Francois Bloemhof (Liefs nie vir kinders nie) dié idee begin uitdaag, maar, ek vrees, nie alle tieners was mal oor Bloemhof se boek nie. En Viljoen? Ek ken baie volwassenes wat sy boek baie geniet het.

Lapa-uitgewers het my egter bekendgestel aan ’n paar baie interessante boeke.

Een van die heerlikste boeke wat ek in ’n moewiese lang tyd gelees het, is Suurlemoen van Jaco Jacobs. Dís fantasties en ek weet jong tieners verslind dit.

Toko, van Leon de Villiers, is ook ’n grootse teks. Ek wonder wat tieners daarvan sal dink? Dis ’n bietjie soos Lord of the flies. Ek is mal daaroor, en intelligente (volwasse) tieners sal ook wees.

Verder is Anzil Kulsen se Zita reg in die kraal van tienermeisies.

Die punt is egter dat al drie Lapa-boeke wat ek hier genoem het, wel deur grootmense ook geniet sal word. En hoekom sou Kulsen se Zita vir tieners wees en Irma Joubert se Tussen stasies net vir volwassenes? Is dit net omdat Kulsen se boek dunner is en die hoofkarakters tieners is? Joubert se vrouekarakter is baie onskuldiger as Kulsen s’n.

So, die vraag bly: Is daar werklik tienerlektuur, of is dit ’n mite? Is alle goeie tienerlektuur nie dalk alreeds “cross-over lit” nie?

Ek dink dat dit eerder onnies is, wat bang is om oor seks te praat, wat die idee van “tienerstories” aanhang.

En dis juis daar waar Toko en Zita so uitstekend die bordjies verhang. In albei is daar verkragting en word openlik gepraat oor seks. Die feit is egter dit word baie fyn, en baie netjies, hanteer.

Ek moet ook op dié stadium dit duidelik maak dat ek deel is van die “conspiracy” omdat ek Lapa gehelp het met die saamstel van onniegidse by van hierdie boeke. Ek is dus geensins teen hierdie soort boek nie, inteendeel.

Tog, is dit werklik vir tieners?

Lapa adverteer self Suurlemoen met die teken 13+, hoewel ek weet dat vele intelligente jonger kinders dit wel baie gaan geniet. En ek sou ook nie té veel plusse aanlas nie, veral as jy dit in klas wil hanteer. Graad 8 (standerd 6), of net daarna, sal werk vir díe boek. As jy met ’n addisioneletaalklas werk, kan jy nog na graad 10 toe gaan. Maar, dís al redelik ver geplus.

Die Thomas-reeks

Carina Diedericks-Hugo sal onthou word as die skrywer wat vir ons aan Thomas bekendgestel het. Dis ’n prettige reeks en ek het elke boek gekoop soos hulle verskyn het. Later het ek ook onniegidse gehelp skryf vir ’n hele aantal van hierdie boeke.

Lapa adverteer hulle as 11+. Ek stem saam. Ek dink dat addisoneletaalklasse hulle tot en met graad 8 kan lees, dalk graad 9, maar nie verder nie.

Waarom werk die Thomas-reeks? Die Thomas-dude werk, want sy stiefma is oulik en sy pa is nice; hulle is dus normaal. Duh. Geen geskeide ouers wat mekaar verneuk nie. Die ouens speel met rekenaars, hulle het selfone, hulle loer na meisies, hulle … (asem op) … soen selfs teen die einde van die reeks ’n paar meisies. In die tweede laaste een wat verskyn het, is daar ’n suggestie dat die wilde meisie dalk, wel, jy weet, um, hoe sal ek nou sê, um, nogal tyd spandeer in die geselskap van mans, ag jy weet …

Maar dis dit. Iewers is daar ’n suggestie dat Thomas so snaaks voel toe Alex hom soen, maar … nee, nee, niks meer nie.

TERLOOPS: Ek is verlief op Alex. Daai girltjie kan, as sy sestien is …

 

Verder moet ons ook sê dat elkeen van Thomas se boeke tjokvol spanning is. En dís hoekom kinders van Thomas hou. Hy is die tipiese buurkind, en die spanning is uitstekend. Wat meer is, die skurke is olierig en lelik, die goeie ouens is goed. Daar is verassings, soos in die geval van Aqua.net, maar oor die algemeen is dit nie moeilik om kwaad van goed te onderskei nie.

Leesbaarheid en tieners …

Ek dink die ding wat Lapa se jeugboeke so suksesvol maak, is dat hulle juis so toeganklik is. Hulle lees vinnig en maklik. Dit is beslis so van die Thomas-reeks.

Toko is egter ’n moeiliker boek en Zita is nie maklike leesstof nie (en die mense vloek dat die biesies bewe). Tog, albei is dunner, en die hoofkarakters is tieners.

In die Thomas-reeks is die karakters nie almal altyd “volrond” nie (dis ou term, maar dit werk hier). Dit maak egter nie saak nie, want dis vir jonger kinders geskryf. Hoewel ek weer sê, as julle Alex se adres het…

Zita, Kunsel se hoofkarakter, is egter volledig geskets, en Toko, De Villiers se karakter, is baie, baie sterk geteken. Lees ook weer Jan Rabie, Chris Barnard en George Weideman se verhale, dan sien jy dat verhale oor tieners nie minder karaktersketse hóéf in te hou nie. Lees ook gerus Naomi Meyer se Ruik jy die filmster. Daai meisiekind groei nogal in die loop van die boek.

Oor die algemeen, egter, sou Thomas vir die spanning onthou word, nie vir die karaktersketse nie.

Terug na Josua van Eden

Dalk is Thomas Josua se grootste vyand. Ek kon nie help om Thomas te hoor praat terwyl ek Josua gelees het nie. Ek kan dink dat Thomas so sal uitdraai as Alex hom sou los.

Verder voel ek ook dat nie een van die karakters wérklik duidelik genoeg geskets is nie.

Maak geen fout nie. Die verleidingstoneel is pragtig. En meisie is werklik oulik. (Sy sê vir die eens onskuldige Josua dat hy moet vat wat hy kry, want daar was al mans voor hom, en daar sal ander na hom wees.)

Dêmit, dís die ding. Dis ’n meisie wat soms met die stem van ’n vrou praat, en dan sit en Purity eet. Okay, ek weet, daar is redes voor, en Carina spel hierdie redes duidelik uit. Tog …

Soos gewoonlik is haar uitbeelding van tieners baie raak, ook van tieners as seksuele wesens. En dis hier, net hier, waar ek gekierang gevoel het. Ek sou meer wou weet.

Dalk het Carina dit uiteindelik reggekry om die ware tienerboek te skryf. Die stem breek, die hormone bruis, die gedagtes is werklik interessant, maar … ’n deel van die lyf is nog jonk.

Lees dit. Veral as jy iets van tieners wil weet. As tieners jou egter irriteer, sal die boek ook.

Ek het die boek geniet, maar ek sien ook uit na Carina se eerste GROOTMENSBOEK. Ek dink dit kan wonderlik wees.

38 antwoorde op Die verdrinking van Josua van Eden

  1. Jy het my nou nuuskierig! Ek moet erken dat ek tieners met ‘n mate van agterdog bejeen… my eerste gevoel teenoor veral ‘n manlike tiener is om hom ‘n klap teen die kop te gee! Die vroulike tieners laat my hol, weghol… maar dan, dink ek aan my eie tienerjare en wil wil net lag… ek dink ek sal by die boek gaan inloer.

  2. hmmm. vrek intressant…. sommer baie geleer ook … dankie…

  3. Izakdv het gesê op Januarie 12, 2009

    HJ. Dis interessant. Laat weet wat jy dink.

  4. Izakdv het gesê op Januarie 12, 2009

    Dankie, Elza!

  5. gidivet het gesê op Januarie 12, 2009

    Izak, dankie vir jou insig. Ek het natuurlik al die “skool” reukse soos die uile verslind. Fritz Deelman is nogal baie interessant – ek het nou die dag weer die hele reeks gelees toe dit nuut uitgegee is met ‘n bietjie hedendaagse kommentaar deur die skrywer – daar het nogal baie van sy voorspellings in een of ander vorm waar geword.

    Ek het ook so halfpad deur die hoërskool oorgeskakel na Engelse boeke vir volwassenes. Nou besef ek hoekom.

    Het jy al die Alex Rider (Anthony Horowitz) boeke gelees? Ek geniet dit saam met my 9- en 11-jarige seuns.

  6. tronkie het gesê op Januarie 13, 2009

    Seeboek van die Sonderkossers en Fritz Deelman en Danda – jy vat my nou ver terug Izak. Ek onthou nou iets van ‘n ander boek – iets van ‘n blokhuis – ek was mal oor daai boek. Ek het nagte deur gelees vir my seuns – en nie een van hulle is ‘n leser nie – seker ‘n funny geen wat van die ander kant af deurgeslaan het.

  7. NARITHA het gesê op Januarie 13, 2009

    Lekker dag vir jou Izak 🙂
    ((((HUGS))))

  8. mmm…miskien sal ek dit lees.

  9. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    Gidivet, ek sal Alex Rider nou ondersoek, het nog nie gelees nie!

  10. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    The G, dis ‘n baie goeie keuse vir ‘n M!

  11. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    Hallo Beertjie!

  12. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    Geniet, Koos!

  13. Izak, ek stem glad nie saam met die term ‘tienerlektuur’ nie. Dit is volwaardige letterkunde. Ek dink die probleem kom in dat volwassenes wat dit skryf, vandag se tieners se intelligensie en ondervinding onderskat. Om werklik jou te kan indink, en dan te skryf as tienerkarakter, vat baie. En die wat dit wel die beste regkry, is die mense wat eerlik is oor die lewe, sonder om doekies om te draai. Ons wil ons kinders dalk te veel probeer beskerm teen realiteite, maar hulle sien dit tog in hul eie huise. En daarom het hulle, net soos ons, ontspanning ook nodig. Maar op ‘n vlak van letterkunde wat nie onderskat moet word nie. Want is die tiener wat lees, nie tog op soek na drome, eiewaardigheid en ontvlugting nie? En bowenal – om dalk ‘n antwoord te kry. En hierdie antwoord moet eerlik en realisties wees. Hulle kan nie gefop word nie.

  14. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    Sieltjie, ek het gehou van die dinge van ‘n kind. En, juis, jy’s reg, dis ‘n boek oor tieners!

    Seks? Daar was wel diegene wat die puriteinse norme uitgedaag het. Ek ken van hulle.

    Ek is ook soms spyt dat ek so preuts grootgeword het.

    Jy’s egter reg dat die konteks geskuif het, ons kinders verstaan eenvoudig nie die idee van “manne aan die grens” nie.

  15. Izakdv het gesê op Januarie 13, 2009

    Elizabeth, jy stel dit baie goed. Ek dink die probleem is dat baie mense weier om tieners soos volwassenes te hanteer.

  16. sprokie het gesê op Januarie 13, 2009

    Ek het dit ook onlangs gelees. Die eerste Afrikaanse ‘jeugboek’ waarin daar nie ‘n morele lessie opgesluit le nie. Ok, maar ek kom ook uit die donker eeue van jeuglektuur wat jy hier bo beskryf en het sederdien min tienerboeke gelees. Ek het wel ‘nie vir kinders nie’ van Francois Bloemhof gelees.

    Beide Bloemhof en Hugo skryf uit die oogpunt van ‘n tiener, maar skryf hulle werklik vir tieners? Ek dink nie so nie. Ek dink hulle skryf vir wie ookal dit ter harte sal neem, en dit is vir my great. Dit is immers waaroor volwaardige literatuur gaan.

    Ek dink egter daar is wel kinders wat ‘late bloom’. Ek self het Griet gelees toe ek 14 was, maar daar is baie mense wat dit nooit sal of wil lees nie, oor hul iets anders soek in ‘n boek. Meer aksie dalk, minder literere mumbo jumbo… En ek dink dit is miskien wat Joshua is, ‘n goeie storie, ‘n ernstige element, maar gemik op ‘n weier leesmark – Ernstige lesers, en mense wat lees vir die pret.

    Ek het ook gedink Joshua is ‘n baie volwasse ou, maar dit sal interessant wees om te weet hoe tieners die karakters ervaar….

  17. “Tiener” boeke is maar net boeke met “jonger” karakters in, ens. Dit word so gebruik vir bemarkingsdoeleindes. As jy vir tieners vra wat hulle van ‘n boek dink sal jy soveel verskillende antwoorde kry as wanneer jy vir “grootmense” vra wat hulle dink van ‘n boek! Sg “Jeuglektuur” is maar net ‘n “genre” want elke ouderdomsfase het sy/haar eie universele menslike uitdagings. Gebeure soos egskeiding sal byvoorbeeld (moontlik) ‘n groter impak he op ‘n “kind” van 12 as ‘n “kind” van 30 wat dalk al eie kinders het. Of nie? Karakters kom maar almal erens vandaan nes ons. Hulle het ook ‘n geskiedenis wat ‘n invloed op hulle gehad het, nes ons. As die karakter wat jou beetkry ‘n kind is, is dit ‘n “kinderboek”. Maar skrywers mag nie ‘n vervelige boek vir sy/haar lesers van ENIGE ouderdom skryf nie! 🙂

  18. Jare gelede, toe ek net begin skryf het, het baie, baie mense vir my (baie opreg en aanmoedigend, ek is seker) gevra wanneer ek eendag ‘n “regte” boek gaan skryf – wat ek aanneem vir hulle beteken het: ‘n boek vir volwasse lesers. Vreemd genoeg het almal die woord “regte” gebruik. Deesdae vra niemand meer nie. Gelukkig nie – want dit het my briesend gemaak 🙂 Ek was vas van plan om ‘n volwasse boek te skryf en dit “My regte boek” te noem 🙂 Miskien kan skrywers van “volwasse” boeke my ‘n antwoord gee: Vra mense vir julle ook wanneer skryf julle eendag ‘n kinderboek? Vreemd alles. Maar dis lekker en goed dat mense so gesels oor boeke en boekdinge.

  19. Hallo The G! Ja – jy moet gaan lees indien jy belangstel in die onderwerp. LAPA het ‘n interessante boek gepubliseer: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom – ‘n Gids tot die Afrikaanse Kinder- en Jeugboek deur Maritha Snyman en Gretel Wybenga saamgestel. Hier is die skakel en ‘n opsomming van die inhoud:
    LAPA UITGEWERS (012- 401 0700 : http://www.lapa.co.za/ http://www.lapa.co.za/mybasket/Product.asp?PublicationID=2023
    Opsomming:
    Hierdie gids vervul ’n wesenlike leemte ten opsigte van oorspronklike navorsing by resente tekste en genres oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke op alle vlakke.
    Dit is geskik vir die vakspesialis soos biblioteekkundiges, navorsers op die terrein van kinder- en jeugliteratuur en voor- en nagraadse studente aan tersiêre inrigtings, maar ook vir die algemene leser soos ouers, onderwysers en ander belangstellendes.
    Die boek is verdeel in ’n afdeling met artikels oor die kinderboekillustrasie, kindertydskrifte, bekronings, die vertaalde boek en reeksboeke, sowel as ’n poësie-, prosa-, en toneeloorsig.
    Die tweede afdeling bevat 123 outeursprofiele, alfabeties gerangskik.

  20. Izakdv het gesê op Januarie 18, 2009

    Prinses: Ek stem saam met hierdie stelling: “Ek dink hulle skryf vir wie ookal dit ter harte sal neem, en dit is vir my great. Dit is immers waaroor volwaardige literatuur gaan.”

  21. Izakdv het gesê op Januarie 18, 2009

    Martie! (Preller, neem ek aan?)

    Baie dankie. Dis wonderlik om van jou te hoor.

    Ek hoor wat jy sê oor tienerboeke, ook oor die dilemma van egskeidings. Die punt is egter, soos jy sê, uiteindelik is dit goeie leesstof wat tel. (Soos jy self ook doen!)

    Dankie! Ek gaan jou hier uitruk en in ‘n aparte inskrywing plaas. Sal hopelik more daarby uitkom.

  22. Ek gebruik bitter gereeld “Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom ” dit is inderdaad ‘n uitstekende gids. Van die boeke in die Engelse literatuur wat as jeuglektuur geskryf is maar uiteindelik vir volwassenes en kinders (dikwels met verskillende stofomslae) bemark is, is “Holes”, “The boy in the striped pajamas” en “The curious incident of the dog in the night-time” my gunstelinge!

  23. Izakdv het gesê op Januarie 19, 2009

    Ah, dankie, Boekevat. Ek gaan jou en Martie se aanbevelings aan die grootklok hang.

  24. Ja, ja, Boekevat. En “Catcher in the Rye” en “To Kill a Mockingbird” en “Lord of the Flies”. ‘n Mens sal seker nooit weet nie, maar ek is amper doodseker nie een van daardie boeke is geskryf “as ‘n boek vir kinders/jongmense” nie. Dit was net ‘n storie – ‘n mensstorie. Kinders is ook mense 🙂 Tieners ook. Soms het mense nogal blykbaar die idee dat “tieners” (veral) ‘n spesie op hulle eie is en eers “mense” word as hulle 18 is? 🙂 En as mens groepe mense so sien as ‘n homogene groep – dan IS jy dalk geneig om te wil “preek”. Daar is min boeke in Afrikaans in vergelyking met Engels, dus is ons dalk meer in staat om te “kategoriseer” – ook omdat die hoofmark vir “tienerboeke” die skole is. Maar hoe dit ookal sy, ons almal is pens en pootjies in die ding – en elkeen doen sy of haar ding en dis wonderlik!

  25. Daar is en bly ‘n kind in elkeen van ons! Is dit waar?

    CHILDHOOD

    In every man there lies hidden a child between five and eight years old, the age at which naïveté comes to an end. It is this child whom one must detect in that intimidating man with his long beard, bristling eyebrows, heavy moustache, and weighty look—a captain. Even he conceals, and not at all deep down, the youngster, the booby, the little rascal, out of whom age has made this powerful monster.

    PAUL VALERY

  26. Haai Izak – Ja. Dis ekke 🙂 Die “issue” in tienerboeke is dikwels “opsigtelik” omdat kinders direk daarmee deal of nie. Maar dit het ‘n sterk direkte invloed, gewoonlik, in hulle lewens. Miskien oor kinders so “magteloos” is en afhanklik van ander? Maar die “issues” is in alle stories – dis gewoonlik net meer “versteek” omdat ons as volwassenes gewoonlik probeer “vergeet” of dit verwerk ens ens. Of so iets. En ja, ja, altyd! ‘n Mens moet so goed skryf as wat jy kan – altyd! En of dit ‘n lekker avontuur/liefdesboek is en of dit iets meer kompleks/gelaag wil wees, maak nie saak nie. Hulle kap erens ‘n boom af om jou boek te druk! Die boom gee sy beste – jy moet ook! 🙂 Ai ja – die boekeding, ne – vir ons almal so na aan die hart – eintlik sommer pens en pootjies IN die hart.

  27. Wat lees tieners? Daar was destyds so ‘n simposiumding in Pietersburg daaroor. En die bevinding? Tieners lees alles (nes ons) Een kind het dit so mooi gestel – sy het begin lees met die rillers en daardie tyd was sy besig met Lord of the Rings. En natuurlik lees hulle almal Engels ook – vir die gretige leser is daar net eenvoudig nie genoeg Afrikaanse boeke nie. Later was daar nog ‘n simposium in die Kaap. Tieners was daar om self te praat. Thomas van der Walt van UNISA het gereel. Tieners lees alles! Na die tyd het ek vir een gevra, toe ek by haar verbyloop, of sy soms soos ‘n alien voel? Sy het my so gekyk, geknik en ja geantwoord. Al troos wat ek kon gee, was dat meeste van ons so voel en dat die gevoel nie weggaan nie 🙂 Dit was die een rede hoekom ek soos ‘n maniak gelees het as kind. Almal rondom my het gelyk asof hulle presies weet wat hulle doen, behalwe ek! Dus is ek ‘n alien 🙂 Maar in boeke was mense wat nes ek gevoel het. Wat ook verward ens ens was. Sjoe – dit was salig om daardie mense te kry. Later het ek tot my ontsteltenis agtergekom dat ander weer dink EK weet wat ek doen – hie hie. Menswees is nie maklik nie. Nie vir sissies nie. 🙂

  28. Jy doen baie goed vir boeke, Izak – so ‘n deurlopende “passionate” stem. Ek wil in Maart as alles goed gaan ook ‘n blog hier begin. Ek het 2 goete wat ek wil deel op so ‘n manier, maar ek maak nog klaar en rond af ens ens. Die nuwe tegnologieë is wonderlik – sit boeke ook weer in ‘n ander dimensie. Maar nou is dit eers weer Maandagoggend en moet ek ophou babbel 🙂 Ek raak so opgewen, soos jy kan sien – met inskrywing na inskrywing na inskrywing. Ek bly tot Junie hier by my dogter-hulle in Durbanville en my een kleinkind het my sopas bespring .. 🙂 Ai. Life!

  29. Hallo Blackeyedsuz. Jislaaik, ja. ‘n Mens lees mos wat jy wil – dis die lekkerte van boeke! En daarby is ek ook oud (amper antiek) maar my hart is baie jonk – so jonk dat ek kinderboeke skryf – nie omdat ek antwoorde het nie, maar omdat ek ook wonder! Nes kinders 🙂

  30. Izakdv het gesê op Januarie 20, 2009

    Martie, nou te vaak om te antwoord, maar dis lekker om van jou te hoor! Praat binnekort verder.

  31. Izakdv het gesê op Januarie 20, 2009

    Suz, as ons die dag ophou jeugdig wees, verloor ons die vermoë om die mooi raak te sien.

  32. Haai Suz, soos Izak jou noem! 🙂 vir die pers gedroggies. Ek wil hopelik in Maart hier begin blog. Ek het anderste (on-pers gedroggie-goed) goete wat ek so wil deel met ‘n blog. Ek het nog nooit geblog nie, so dit sal ‘n eerste keer vir my wees. Izak en julle het my nou lus gemaak. Ek is mal daaroor dat mense so iets van hulle lewens op ‘n blog-manier deel. Wat ‘n verruklike ouma het jy nie gehad nie!

  33. Izakdv het gesê op Januarie 20, 2009

    SwartoogSuz, dis ‘n wonderlike storie oor jou ouma! En ek stem, Martie moet maar ‘n bloggie kom oopmaak.

  34. Izakdv het gesê op Januarie 20, 2009

    Martie, hier’s plek, laat waai! Ek is ook ‘n Babalela!

  35. Izakdv het gesê op Januarie 20, 2009

    Dankie SwartoogSuz!

  36. Dankie Izak en Suz – vir seker altwee Babalelas – ek kan sommer sien! Hulle kom in alle shapes en sizes en ouderdommme. Ons praat weer.

  37. Suz – jou ouma ook 🙂 vir seker – Babalela!

  38. Izakdv het gesê op Januarie 21, 2009

    Inderdaad, Martie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.