Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Seuntjies!

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

Genoeg gewroeg vir eers. (Kassie sê my blog begin klink na die Mail & Guardian.) Dus, hiermee ’n oomblik uit my lewe.

Kleinman ontdek vanoggend miere in die eetkamer. Hy haat miere. Hy wil hulle vergiftig. Ek pleit vir ’n alternatief en belowe om hulle op te vee.

Ek gaan kry die nodige, net om terug te kom en te sien hoe kleinman ’n halfkoppie Sunlight Liquid op die miere uitgee.

Goed, hulle is morsdood, en dis meer organies, ek stem. Maar saam-saam besluit ons dat dit beter is om op te vee voor sy ma by die huis kom.

Ek sê ek gaan lappe kry, en verdwyn.

Ek kom terug en kleinman het reeds twee liter water op die seep gegooi.

Genade.

Ons vee op, maar hoe meer ons opvee, hoe meer skuim dit en hoe verder versprei die probleem. Verder is pa en seun albei kaalvoet, en ons hardloop heen en weer wasbak toe …

Na ’n paar minute sê ek: “Nee! Wag, ek gaan haal handdoeke.”

Vier groot handdoeke later begin ek en hy op en af skaats op die vloer. Dit werk. En kleinman sê: “Now the fun starts!”

Laat my dink aan Dr Zeus se The cat in the hat. Ek het gevoel soos die outjie wat van die pienk moes ontslae raak.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Tyd om weer te sê wat ander sê

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

Kyk ’n bietjie wat skryf Droomkind oor die onnie se rol in die klaskamer: sy lei deur ’n voorbeeld te stel.

Dan moet ek ook die Prinses se kommentaar oor my vorige inskrywing verbatim aanhaal:

hi izak, sjoe, ek het myself hopeloos verkeerd uitgedruk. ek het eintlik verwys na die rassistiese terme wat Katrina genoem het, en die ongemaklikhede wat dit veroorsaak. Met rockspaaider het ek eintlik verwys na wit rassiste. Ek is nie seker of ‘n tweedetaalspreker so maklik so ‘n konteks sal begryp nie, en kan dan moontlik weer negatiewe aannames maak heens die houding van die wit afrikaanses. Maar ok, ek is bietjie uit my diepte hier, het nie die boek gelees nie, so kan myself nie eintlik uitspreek nie.

wil maar net ‘n wanpersepsie regstel, ek is nie heeltemal so ignorant nie 😉

Prinses, ek het nie gedink jy’s ignorant nie. Ek het eerder gedink jou inskrywing wys hoe maklik die debat om die teks verkeerd verstaan kan word.

Ek wil ook noem dat dit ontstellend is om te hoor hoe “mense van kleur” mekaar uitvreet. Dis erg. Dis ongelukkig waar ook. In die laer klasse vind ons dit steeds in die townships. In die hoër klasse doen mense dit weer met opset. Prof Pete Mtuze, van wie ek al boeke uitgegee het, sal byvoorbeeld in ’n vergadering sy hande oplig en sê: “Ja, sulke kafferhande breek ook alles.” Hy is ’n wonderlike oubaas, maar hy weet ook hoe om mense onkant te vang op die regte tyd!

Dit sal beslis een van die redes wees waarom mense Zita verkeerd kan verstaan.

Dit bring my by ons anonieme onnie se volgende inskrywing:

Die debat oor Zita bly zoem oor die rassekwessie en hoe jammer ons die arme Zita behoort te kry. Stel jou nou vir ‘n oomblik voor dat jy ‘n tweedetaal-matriekklas se elementêre Afrikaans moet verbeter aan die hand van hierdie boek: elke sin moet vertaal word – nou twee keer aangesien jy dit ook van Noorkaaps na Standaarafrikaans moet omskakel. (Gelukkig kan jy lekker redigeringsoefeninge by die honderde daaruit haal!)

Goed, die arme Zita kry swaar en goed, sy kan nie help dat sy nie Standaardafrikaans besig nie. MAAR hoe verduidelik ek aan my arrogante Engelse leerlinge dat die storie dat ‘n arme bruin meisie haar kamer aan ‘n witte moet afstaan, eenvoudig nie oortuigend moontlik is nie? (Anzil was self nooit in ‘n nie-rassige of “wit” skool nie en dit wys.) Die debat loop op twee spore: die een argument is of dit ‘n “lekker”/”oulike” “skattige” boek is wat vir die oningewyde ‘n kykie in die lewe van Kieriekroek bied. Die ander, belangriker debat is of die roman geskik is vir T2-matriek indien ons in ag neem dat die idee van literatuurstudie op skool is om die T2-kind se taal en woordeskat te verbeter én hom bekend te stel aan literêre konsepte en konvensies.

Ten slotte: natuurlik sal ons die wa deur die drif trek. … Maar sal dit in hierdie geval ‘n verskil maak of ek die vrag eers afgooi?

Dankie, onnie. Ek het wel simpatie met van jou standpunte. Kan ek net een ding noem wat julle in die klas móét hanteer? Ons sien die storie deur Zita se oë. Zita hét ’n heilige wantroue in hierdie wit kinders – en dit kleur haar insig (sic). Kyk hoe sy dit self ontdek, én hoe Waldo dit aan haar uitspel.

Zita is ’n klein bitch, maak geen fout nie. En, ek wat al met sulke kinders gewerk het, weet hoe raak Zita (die teks) se beskrywing is van mense soos Zita (die karakter) wat skielik in so ’n situasie instap. Moenie die rassis in Zita misken nie, want dan misken jy ’n groot deel van die storie. Die teks gaan juis oor haar aanvaarding – van haarself. Kyk hoe lieg sy oor haar komvandaan. Eers as sy haarself (begin) aanvaar, kan sy die ander (begin) aanvaar.

En moenie ’n fout maak nie. Daar is baie Zitas wat vandag in die parlement sit en steeds ewe wantrouig is teenoor wit mense. Ek ontdek hulle ook in middelbestuursposte. Netso is daar ook die wit mense wat altyd sal kyk na die Zitas en sê: Affirmative action …

Die probleem is dat Zita ’n klein bitch is soos enige ander tienerdogter. Het jy al Hanna Montana gekyk, of die boekies gelees? Ek dink dis verpligte lees- en kykstof vir enige een wat Zita behandel. Ons is gou om Hanna as “tipies tiener” te beskryf, maar Zita is bloot rassisties.

Zita is uiteindelik ’n mikrokosmos van Suid-Afrika.

Maar goed. Sterkte. Ek hoor wat jy sê.

Vanaf rassisme na snobisme. Kyk ’n bietjie wat sê die Prinses oor mense soos ek … (dit dra ’n ouderdomsbeperking.)

Op ’n ernstiger noot: Droomkind en die Prinses het albei stories oor ware mense wat jou hart laat punt trek, juis omdat hulle buitestaanders is. Droomkind vertel van ’n meisie wat in die steek gelaat is deur haar ouers. Die Prinses vertel van ’n man wat my baie laat dink aan ’n karakter in JM Coetzee se Youth.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zita: Voorskryf of doodskryf?

Januarie 29, 2009 in Sonder kategorie

Ek het opsetlik nie kommentaar gelewer op die twee inskrywings gister nie. Nou wil ek egter my eiertjie lê.

Ten eerste is Zita ’n baie oulike boek en dit belig ’n deel van die samelewing wat ons, die ryk snobs, baie maklik afskryf. As jy tyd spandeer in die townships, kom jy agter Zita is nie ’n unieke wese nie. En, sou jy tyd spandeer met meisies en seuns wat, soos Zita, beurse gewen het om in duur skole te wees, dan besef jy hoe akkuraat die beskrywing is.

Ons samelewing het verskriklik gou ras vir klas verruil en ons diskrimineer tans weer heerlik – armes moet maar voertsek.

Op een punt moet ek sê dis ’n vreemde keuse vir ’n tweedetaalklaskamer: Die Afrikaans is moeilik. Ek het ’n gids gehelp skryf (wat te koop is) om Zita makliker te maak, en selfs ek het gesukkel met van die Afrikaans.

Maar, hier is my grootste probleem met wat nou losgebars het om die teks. Kyk wat skryf die Prinses, wat nog NIE die boek gelees het nie. Dis belangrik, want sy kwalifiseer dit self. Haar opinie kan net kom uit die standpunte van ander:

Maar tog, klink dit duidelik vanuit altwee se standpunte dat dit nie noodwendig die dimensie van Afrikanerkultuur is wat jy aan tweedetaalsprekers wil oordra nie. Ons weet al self ons is nie rockspaaiders nie, dalk is dit tyd dat die res van die reënboognasie dit ook agterkom.

Wie is die Afrikaner? Moet jy in Sandton bly en ’n 4×4 ry? Moet jy in Rondebosch bly en jou kind na ’n Engelse skool stuur?

Ek is nie besig om die Prinses af te kraak nie, maar juis omdat ek haar altyd so ’n vars briesie vind, gaan ek hierop kommentaar lewer:
– Het geen Afrikaanse meisie al kinders by meer as een man gehad nie?
– Is daar geen Afrikaanssprekendes wat in sinkhuisies bly en spiritus drink nie?
– Is Afrikaanse meisies nie soms regte klien bitche met hulle maatjies nie?
– Moet ons alle literatuur oor arm Afrikaners nou maar afkeur en weggooi?

Wat Zita so wonderlik maak, is dat dit ’n deel van die Afrikaanssprekende samelewing belig wat nié stem het in die glanstydskrifte nie. Hulle is te arm. En kyk vir Zita self, kyk hoe sý keer vir haar wickets as die mans attensies maak. Oral om haar raak kinders verwagtend. Sy wil nie. Sy wil nie ’n tweede Zita maak nie.

En dink julle dus bullshit dat Afrikaanssprekende meisies swanger raak op skool? Dink julle dis onwaar dat meisies daar in die klein dorpies geen toekoms het nie, en dus hulle genot nóú wil hê?

Dink julle dat daar geen Afrikaanssprekende meisies is wat nie weet hulle pa is nie?

Nee, magtig mense. Een van die doelwitte van die letterkunde is om aan die klein mensie, die stemloses, stem te gee.

Lees Zita, dis ’n pragtige, hartseer boek wat jou uiteindelik baie goed sal laat voel.

Kyk weer wat sê Katrina:

Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer.

Wat meer is, Zita is losweg op Anzil Kulsen se eie verhaal gebaseer. Dit het min literêre waarde, maar dit maak minstens dat sy weet waaroor sy skryf.

Die vraag is egter: Voorskryf? Kyk wat sê Katrina:

Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand ‘n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is ‘n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees.

Ek wil sê dat die grootste probleem van die voorskryfmark júís die voorskriftelikheid is. Ek glo nie een boek kan ’n hele land se kinders opgewonde maak nie.

Ek sou beslis wou sien dat Zita vir baie lank nog op die lys van boeke moet wees vir leerders om te lees. Ek dink egter ons moet ophou om een boek voor te skryf en dit alleen te dek. Gee leerders keuses, en gee hulle die geleentheid om wyd te lees.

Laastens wil ek sê: Lees Zita. Dis ’n besondere teks. Julle sal armer wees as julle nog nie die koue Noord-Kaap in ’n sinkkaia deur haar oë beleef het nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zita: Katrina klim ook in

Januarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Katrina, ook ’n IEB-onnie, het ook pas haar stuiwer by die anonieme onnie se idees kom voeg.

Hallo Izak – gaan woes hier aan die begin van die jaar. Zita! Aspekte wat die anonieme onnie hier genoem het stem ek mee saam, met ander nie. Zita sou ‘n uitstekende boek gewees het in ‘n ander milieu, dink ek, maar dis beslis ‘n turksvy wanneer ‘n mens voor ‘n klas staan, soos ek, waar ‘n mens alle kulture het. Iemand het iewers gesê dat ‘n mens nie die volwassenheid van tieners moet onderskat nie, wat inderdaad so is, maar daar is sekere kwessies wat groot ongemak veroorsaak. Ek het reg aan die begin probeer om aan die seuns (dis net seuns!) te verduidelik waarom ‘n sekere boek waarskynlik voorgeskryf word, naamlik om hulle bloot te stel aan ‘n wêreld wat hulle vanuit hulle bevoorregte perspektief nie ken nie. Maar, dit versag nie woorde soos ‘koelie-gevreet’ nie en elke keer wat ek dit lees, is daar ‘n onderstroming, al probeer ek dit so neutraal moontlik hou en binne konteks van die boek plaas. Die Noord-Kaapse Afrikaans is inderdaad heeltemal anders as Wes-Kaapse Afrikaans, wat dus jou les in ‘n vertaalsessie laat ontaard om te probeer verduidelik. En ja, die boek help nie om goedgesindheid teenoor die taal te bevorder in die politieke klimaat waarin ons leef en met die agtergrond van skuldtoekenning op grond van taal nie. Dit is egter nie nuut in die klaskamer nie en ‘n mens leer om dit te hanteer. Ek sou nie sé dat die roman nie literêre meriete toon nie. Wat ek egter wel dink, is dat wie ook al dit voorgestel het, nie werklik nagedink het oor die samestelling van die leerders nie. Dit sou beslis beter vir Eerste Taal gewerk het. Ek het nie ‘n probleem met Zita se wêreld en haar vlak van beskaafdheid nie – sy het immers in Kieriekroek grootgeword en leer om haarself in ‘n nuwe wêreld te moet handhaaf. Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer. Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand ‘n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is ‘n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees. Die gebreke is egter nie ‘n vrypas om martelaar te speel nie – ag nee, ek hoop my kollega sien iewers vorentoe lig in die tonnel! Trek maar die wa deur die drif, al is dit met kreun en steun.

Wat seg julle?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zita: ’n Onnie deel klagtes

Januarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Uiteindelik was daar iemand wat die moed gehad het om na vore te kom en te sê waarom sy/hy ’n probleem het met Zita. ’n Annonieme onnie het die volgende op my blog geplaas; ek plaas dit net soos dit aan my gekommunikeer is:

Vanuit die oogpunt van ’n hoogs ervare onderwyser wat Zita aan nie-moedertaalsprekers van alle kleure en geure moet “verkoop”, wil ek graag my stuiwer in die (w)armbeurs gooi:
Die boekie is vir my ontoepaslik omdat
1. die taal ongeveer 60-80% nie standaardafrikaans is nie. Nog minder is dit behoorlike Kaaps. Die verwronge sinskonstruksie maak al ons taallesse oneffektief omdat dit presies dít wat ons by ons leerlinge (“leerders”) probeer inskerp, ongedaan maak;
2. die stereotipering skreiend en die skeldname soos “koelie” ongemotiveerd;
3. ons in die T2-omgewing (EAT) reeds ’n hewige stryd voer om die Engelsspekendes se meerderwaardige houding jeens die “rockspiders” en hul “taaltjie” te verander en ’n roman waarin hierdie persepsies van die Boer as gevoellose onderdrukker versterk word, ons heldhaftige pogings kelder;
4. die roman weinig, indien enige literêre meriete toon en baie min om die lyf het buiten die “liefde oor die kleurgrens”-cliché;
5. die kitsoplossing hoegenaamd nie oortuigend of gemotiveerd is nie;
6. die verontregte hoofkarakter wat veronderstel is om innerlike beskaafd te wees in weerwil van haar omstandighede, inderdaad kômmin en verwaand voorkom – bv. wanneer sy haar eetgerei aan tafel met die servet poleer as teken dat sy “beter gewoond is” (Emsie Schoeman, waar’s jy?)!

… ens,ens,ens,ens. Ter afsluiting: Ons werk ons vrek aan vraestelle, skryfopdragte, navorsing, ens. gekoppel aan die voorgeskrewe roman. Die kool is bloot nie die sous werd nie. En vir die sogenaamde “uitkomste” van literatuurstudie soos uiteengesit in die dokumentasie, kan jy eenvoudig nie ’n tabbertjie uit hierdie sog-oor knip nie (om Shakespeare se uitdrukking te misbruik).

Graag wil ek egter noem dat Zita juis NIE clichématige Kaapse Afrikaans bevat nie. Baie mense besef nie dat Noord-Kaapse Afrikaans baie anders is as sogenaamde “Capey” nie. Dis ’n mite dat daar net twee tipes Afrikaans is: Trônsvôlse Stôndôrd en Capey. Selfs in die Kaap wissel die “Kaapse” dialek baie.

Maar goed, juis omdat Zita Noord-Kaaps gebruik, kan ek goed verstaan dat dit soms moeilik “vertaalbaar” is in ’n tweedetaalklas.

Hoe ook al: Dis ’n behoorlike skrobbering wat hierdie onnie vir Zita gee. Stem julle saam?

Skryf, asseblief! Ek hoor graag wat julle dink.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wat ander sê

Januarie 27, 2009 in Sonder kategorie

Vanaand praat ek weer deur ander se woorde.

André S Kamer het Byna liefde gelees en dit met ’n boks sjokolade vergelyk. Kliek hier om te sien wat hy daaroor dink.

Droomkind het ’n besondere kommentaar gelewer oor mense wat lees, al dan nie. Kliek hier om haar blog te sien daaroor.

En dan wil ek gou Boekevat se uitstekende stuk kommentaar plaas wat sy vroeër op my blog geplaas het (die beklemtoning is myne):

Ek wil graag drie perspektiewe op die stelling gee. As skrywer, as besorgde ouer en as leser.

As skrywer is dit vir my redelik duidelik dat geen uitgewer by sy volle positiewe deesdae iets gaan uitgee in die naam van jeuglektuur/ tienerfiksie as dit nie binne die sogenaamde ‘ervaringsveld’van die leser val nie. Dit beteken dat die boek oor jongmense en hulle relevante issues moet gaan en dat daar geskryf moet word in die taal wat jong mense praat.

Kyk gerus wat een van NB-uitgewers se voorvereistes vir die voorlegging van ‘n teks is: “Dui asseblief die ouderdom van die teikenleser aan: kleuter (1½ tot 4 jaar), jong kind (5 tot 8), ouer kind (9 tot 12), tiener (13 tot15) of jong volwassene (16 tot 18).”

Verder sal jy as skrywer ook moet dink in watter genre jy jou boek wil skryf. Word dit ’n reeks vir meisies (dink maar aan Gosspi Girl, The Traveling Pants, ens.), of word dit dalk iets in die afdeling “fantasie” (dink Harry Potter, Artemis Fowl en die vampierreeks van Myer wat almal teenswoordig so op hol het). Ja, en uiteindelik kan jy dit ook oorweeg om sommer net ’n boek te skryf oor iets wat jou inspireer solank die karakter net die regte ouderdom het en die regte taal praat. As jy gelukkig is en die uitgewer hou daarvan word dit dalk op skool voorgeskryf. Is die boeke noodwendig goeie literatuur? Soms wel en soms nie. Maar glo vir my, die reekse gaan jou beursie ’n hupstoot gee.

As besorgde ouer wil ek graag dat my kinders wêreldburgers word met die breedste moontlike perspektief op literatuur. Om dit te kan doen moet hulle van lees hou. Om die internet te kan gebruik moet hulle, so terloops, ook van lees hou! En om universiteit toe te kan gaan ook.

Hoe kry ek ’n kind so ver om te begin lees? Dit is natuurlik nie ’n maklike ding om te doen nie en daar is baie kinders wat sukkel met disleksie en ander leesprobleme. Maar ja, jy skep vir hulle ’n wêreld van boeke en stories. Jy koop hulle om met lekker reekse en strips / comics. En jy kry hulle so ver om in meer as een taal te lees. En jy lees self sodat hulle kan sien hoe dit gedoen moet word. Jy lees ook vir hulle.

Maar ek smokkel ook so ’n bietjie met hulle koppe en ons kyk saam na flieks van al die groot werke: Oliver Twist, Pride and Prejudice, The Secret Garden, Rebecca, Romeo & Juliet, ens. Op dié manier word hulle smaak ook beïnvloed.

Die punt wat ek wil maak is dat my kinders se leesgewoontes op veel meer as net hulle leeftyd afgestem word. Ek kyk na wat in hulle lewens aangaan, wat se emosies hulle ervaar en hoe hulle stokperdjies lyk en dan gaan soek ek boeke wat daarby pas. Soms lees my kinders dit, soms nie. Hoe op dees aarde onderskei jy tussen dit wat kinders tussen 13-15 wil lees en dit wat jong volwassenes tussen 16-18 wil lees? Ek het nie ’n idee nie.

Ek het nie meer kinderboeke gelees op hoërskool nie. Lank nie meer nie. Toentertyd het ons ook nie jeuglektuur voorgeskryf gehad nie. Tensy Bart Smit, Ons wag op die Kaptein en A Town called Alice jeugboeke was. As leser kon ek op leeftyd 14 al redelik goed oordeel dat ek van great stories hou. Dit maak regtig nie saak hoe oud die hoofkarakter is en welke tipe woorde hy gebruik nie. Ek dink nie dat ek so uniek was nie. Dit beteken nie dat ek my neus nou optrek vir jeuglektuur nie. Allermins!! Maar ’n mens moet mooi dink voor jy ’n ouderdomsgroep aan ’n boek gaan hang. Waar pas die volgende lysie dan byvoorbeeld in? Romeo & Juliet, Great Expectations, The Book Thief, The secret diary of Adrian Mole, The secret life of bees, Little Women, Don Quichotte, Extremely Loud And Incredibly Close, ag en so kan die lysie aangaan …

Eintlik is daar nie ’n oplossing vir die jeugliteratuur-penarie nie… Buitendien moet ’n mens onthou dat uitgewers primêr besighede is wat daar is om wins te maak en dat die beste belang van die leser nie altyd ’n prioriteit in hulle gedgates is nie. Die selfde behoort nie van diegene wat besluit watter boeke vir skole voorgeskryf moet word, gesê te kan word nie..

Laastens wil ek noem dat Jaco Jacobs, jeugskrywer en uitgewer by Lapa, in die jongste koopgids van Lapa vyf voorstelle maak oor hoe om kinders te laat lees. Ek som dit hier op. Skryf gerus aan Lapa as julle die volledige teks wil hê. Die blad word gratis versprei. Hier is Jaco se vyf punte. Die opskrifte is verbatim syne, die opsommings is myne, maar sy idees:

1. Laat kinders self boeke kies

2. Moenie ’n boeksnob wees nie
(As hulle lees, laat hulle lees, enige genre!)

3. Raak betrokke
(Lees self, veral die boeke wat hulle lees, kry meer van die skrywers se boeke waarvan jou kind hou.)

4. Stel ’n voorbeeld
(Lees self, wýs dis lekker.)

5. Leer én speel
(Kies boeke wat pret is, anders gaan hulle rekenaarspeletjies speel.)

Mooiloop. En dankie. Ek leer baie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Toorberg, Wikkelspies en die “classics”

Januarie 26, 2009 in Sonder kategorie

Niemand het die verwysing na Toorberg aangegryp nie. Nou sal ek maar die vrae vra. Die boek is steeds op sommige voorgeskrewe lyste.

Nou is die vraag: Moet kinders op skool al bekendgestel word aan die klassieke werke in ’n letterkunde, of moet ons vir hulle ’n liefde gee vir lees?

Anders gestel: Moet hulle Breinbliksem of Toorberg lees? Zita of Die uurwerk kantel? Moet die Engelse kinders Romeo and Juliet doen, of Strange Nervous Laughter van Bridget NcNulty? (Sien my resensie van laasgenoemde as julle dit nog nie gelees het nie.) Things fall apart, of Praise Routine number 4? (Laasgenoemde, van Michael Rands is heerlik, en hartseer. Ek gaan dit binnekort resenseer.)

McNulty en Rands is kontemporêre, Suid-Afrikaanse skrywers, soos ook Fanie Viljoen en Anzil Kulsen. Gaan loer ’n bietjie op Fanie se blog hoe kontemporêr sy Onderwêreld is.

My Engels-onnies in Pietermaritzburg het my leer Engels praat en skryf (gelukkig, want ek werk deesdae in Engels) en hulle het ons lief gemaak vir lees. Jeffrey Archer was op die spyskaart, nie Shakespeare nie.

En weet julle wat? Ek lees en kyk graag Shakespeare. Hoekom? Ek is lief vir lees. Dis hoekom.

Ek het Toorberg al in standerd sewe gelees (op my eie, nie as voorgeskrewe boek nie). En ek het dit geniet. Heelwat van my vriende het dit ook gelees en geniet. Dit kán dus op daardie ouderdom reeds tot jongmense spreek.

Maar is dit ’n skool se plig om kinders die oertekste te leer? Op universiteit moet mense die klassieke tekste lees, ja. Maar op skool?

Hier is mý antwoord. Ek dink daar is ruimte vir albei. Kinders wat oor die algemeen nie lief is vir lees nie, sal Toorberg nie geniet nie. Gee dan liewer vir hulle iets soos Deon Meyer (enige een). Toorberg, soos enige van Meyer se werke, is ’n speurverhaal. Maar, Toorberg is ook ’n literêre verhaal. Vir die sterk kinders moet ons Meyer én Toorberg doen. Net soos die sterker klasse Eugene Marais én Loftus Marais se gedigte moet lees. (Loftus gebruik sommer woorde soos kak in sy gedigte, iets wat die verfynde Eugene nie sou doen nie 😉

“Die Engelman” (uit Byna Liefde) is byvoorbeeld hierdie jaar een van die voorgeskrewe verhale in matriek. Ek is bly daaroor, maar ek dink dit sal bitter jammer wees as sterker kinders nie ook aan Jan Rabie se kortverhale, of meester Abraham s’n, blootgestel word nie. En wat van Riana Scheepers? Sy is een van die klassieke stemme in ons letterkunde. Rachelle Greeff? Wie nog?

Wat dink julle?

Terloops: The Tempest speel tans in die Baxter. Anthony Sher en John Kani speel daarin. Bliksem, mense, wie beter? Van Kaapstad af vlieg hulle na die Royal Shakespeare Company se Courtyard Theatre in Statford-upon-Avon vir die begin van hulle toer deur Engeland.

En As you like it wys in Maynardville se opelugteater.

Ek wil albei gaan sien. Wie kom saam?

Soos die Kombi, wat sestigsmusiek speel, vir die Jeep sê, in Cars: “Respect the classics, man!”

Profile photo of izakdv

by izakdv

Zita van Anzil Kulsen en die pôpo wat op pad is waaier toe

Januarie 22, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek het ’n scoop belowe, en hier is dit: Daar is IEB-ouers wat kla oor Anzil Kulsen se Zita voorgeskryf is in matriek. Niemand anders nie as Fanie Olivier het my gebel en gesels oor die IEB se keuse. Hy is genader deur ouers wat baie ontsteld was daaroor.

Katrina het juis oor dié boek geskryf:

Ek lees en beleef jeugverhale in die klaskamer en miskien kyk ’n mens anders daarna as jy dit vanuit die perspektief van die tiener probeer oopbreek, amper asof jy jou indink hoe ’n tiener dit sou ervaar en dit vanuit hulle perspektief benader. Soos Zita, bv. wat hierdie jaar vir IEB matrieks voorgeskryf is.

Ek sou baie graag wil hoor hoe Katrina dit ervaar.

Fanie is besig om met die rolspelers te praat, so ek het min inligting. Die vraag is egter: Hoekom?

Ek is mal oor Zita. Regtig. Ek dink dis ’n wonderlike boek. In h’t korte handel dit oor ’n meisie wie se ma drie kinders by drie mans verwek het. Zita se pa was duidelik ’n Indiër en daarom staan sy bekend as die “koeliemeid”. Hulle woon in die armdorp. Haar ouma is permanent dronk van brandspiritus. En dan wen Zita ’n beurs om na die “wit skool” te gaan waar sy lank nie tuis voel nie.

Nou goed: Die Afrikaans is dalk uitdagend vir tweedetaalkinders. Ek stem saam. Fanie kon egter nie sê presies waaroor die klagtes gaan nie – hy was steeds besig om dit te ondersoek. Was dit die Afrikaans? Groot dele is in Platafrikaans en die mense vloek hard.

Is dit die feit dat Zita se ma so baie boyfriends had?

Of is die kinders gewoon gatvol vir nóg ’n storie oor ’n kind wat moet inpas?

Erger nog, het die kinders dalk van die boek gehou, maar die ouers nie?

Nou, goed. Die boek se karakter hét issues: Sy soek haar pa, sy wantrou die wit kinders, sy wantrou haar boyfriend se attensies … Is dit die rede?

Kyk wat sê Elizabeth jeugwerk:

Izak, ek dink tog enige boek moet geskryf word met ’n spesifieke teikengroep in gedagte. Sekere boeke sal altyd oorvleuel in hierdie verband, nes die genres, maar die intensie van ’n goeie skrywer behoort aspekte aan te raak wat byval sal vind by sekere ouderdomsgroepe. En beslis, vir tieners, niks wat prekerig klink nie!

Het Zita dus nie die teikengehoor getref nie? Sou Zita vir sommige prekerig klink?

Die Prinses sê byvoorbeeld oor Die verdrinking van Jousa van Eden:

Ek het dit ook onlangs gelees. Die eerste Afrikaanse “jeugboek” waarin daar nie ’n morele lessie opgesluit le nie. Ok, maar ek kom ook uit die donker eeue van jeuglektuur …

Ek pes ook prekerige boeke, dis hoekom ek saamstem met die prinses oor Josua van Eden. Ek weet egter die ouers gaan kla as daardie boek voorgeskryf word!

Kyk wat Willemien sê oor die uitdaging aan skrywers:

Ek dink om boeke te skryf spesifiek vir tieners is ’n baie moeilike taak, omdat die boek so geskryf moet wees sodat tieners kan “relate” sonder om “corney” te klink. Slang word gereeld verkeerd gebruik en dit sit tieners af. Ek stem saam met Prinses oor die sosiale kwessies, behalwe dat van die boeke te veel kwessies gelyk probeer aanspreek en gereeld klink of dit mense wil skok, wat vir my simpel is. Dis maar net wat ek dink:)

Ek glo nie Zita preek nie. Maar is ek nou een van die fuddy duddies wat nie meer in voeling is nie? Ek glo ook nie die plat Afrikaans is sleng nie. Maar is ek al te gekondisioneer?

Elizabeth dink wel dis moontlik om belangrike goed aan te spreek sonder om simpel te wees, kyk hier:

Die tendense wat in vandag se tienerletterkunde heers, bevat die moderne, sosiale kwessies. Lees Marita [van der Vyver – IdV] se Hanna Hoekom ook. Sy kry dit goed reg om vanuit die perspektief van ’n tiener te vertel. Die werklikheid van egskeidings, homoseksualiteit en politiek daarin lei jeugdiges na ’n beter begrip daarvoor. Op ’n komiese wyse.

En dis wat Martie Preller sê oor die probleme wat aangespreek word in tienerboeke:

Die “issue” in tienerboeke is dikwels “opsigtelik” omdat kinders direk daarmee deal of nie. Maar dit het ’n sterk direkte invloed, gewoonlik, in hulle lewens. Miskien oor kinders so “magteloos” is en afhanklik van ander? Maar die “issues” is in alle stories – dis gewoonlik net meer “versteek” omdat ons as volwassenes gewoonlik probeer “vergeet” of dit verwerk ens ens.

So, nou is ons terug by die probleem oor “jeugboeke” en “grootmensboeke”.

Willemien sê:

Ek en my maats het al daaroor gepraat en tot die gevolgtrekking gekom dat ons graag boeke gelees het waar die karakters net so bietjie ouer as ons was, want dit het ons iets gegee om oor te droom. Bv. in die laerskool het ons Reënboogrand-tieners gelees. Later in die hoërskool (so gr. 10) het ons “grootmensboeke” begin lees, soos Marita van der Vyver. En niemand van ons was eers in dieselfde provinsie op skool nie, maar het dieselfde tipe patroon gevolg.

Sou dit dus beteken ons moet liewers weer Toorberg voorskryf? Dis ’n goeie boek, maar is dit vir kinders?

Onse Prinses sê hieroor:

Beide [Francois] Bloemhof en [Carina] Hugo skryf uit die oogpunt van ’n tiener, maar skryf hulle werklik vir tieners? Ek dink nie so nie. Ek dink hulle skryf vir wie ookal dit ter harte sal neem, en dit is vir my great. Dit is immers waaroor volwaardige literatuur gaan.

Ek dink egter daar is wel kinders wat “late bloom”. Ek self het Griet gelees toe ek 14 was, maar daar is baie mense wat dit nooit sal of wil lees nie, oor hul iets anders soek in ’n boek. Meer aksie dalk, minder literêre mumbo jumbo… En ek dink dit is miskien wat Joshua is, ’n goeie storie, ’n ernstige element, maar gemik op ’n wyer leesmark – ernstige lesers, en mense wat lees vir die pret. Ek het ook gedink Joshua is ’n baie volwasse ou, maar dit sal interessant wees om te weet hoe tieners die karakters ervaar….

Ek dink Martie moet die laaste sê hê. Dis wat sy sê oor die gehalte van die werk wat voorgeskryf moet word:

’n Mens moet so goed skryf as wat jy kan – altyd! En of dit ’n lekker avontuur-/ liefdesboek is en of dit iets meer kompleks / gelaag wil wees, maak nie saak nie. Hulle kap êrens ’n boom af om jou boek te druk! Die boom gee sy beste – jy moet ook! 🙂

Ek stem saam, Martie.

Laat weet wat julle dink, veral as julle al Zita gelees het. Sou julle dit in ’n klas wil behandel?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Martie gryp die handskoen

Januarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Ha! Ek het gewens iemand wil die guts hê om my aan te pak oor jeugliteratuur, en niemand anders nie as Martie Preller het die handskoen opgetel, die rapier gelig en geskryf!

Ek gaan meer as een inskrywing afstaan aan haar gedagtes.

Ten eerste: Wat lees tieners? Dis hoe Martie hierdie vraag beantwoord:

Wat lees tieners? Daar was destyds so ‘n simposiumding in Pietersburg daaroor. En die bevinding? Tieners lees alles (nes ons). Een kind het dit so mooi gestel – sy het begin lees met die rillers en daardie tyd was sy besig met Lord of the Rings. En natuurlik lees hulle almal Engels ook – vir die gretige leser is daar net eenvoudig nie genoeg Afrikaanse boeke nie. Later was daar nog ‘n simposium in die Kaap. Tieners was daar om self te praat. Thomas van der Walt van UNISA het gereël. Tieners lees alles! Na die tyd het ek vir een gevra, toe ek by haar verbyloop, of sy soms soos ‘n alien voel? Sy het my so gekyk, geknik en ja geantwoord. Al troos wat ek kon gee, was dat meeste van ons so voel en dat die gevoel nie weggaan nie 🙂

Dit was die een rede hoekom ek soos ‘n maniak gelees het as kind. Almal rondom my het gelyk asof hulle presies weet wat hulle doen, behalwe ek! Dus is ek ‘n alien 🙂

Maar in boeke was mense wat nes ek gevoel het. Wat ook verward ens ens was. Sjoe – dit was salig om daardie mense te kry. Later het ek tot my ontsteltenis agtergekom dat ander weer dink EK weet wat ek doen – hie hie. Menswees is nie maklik nie. Nie vir sissies nie. 🙂

Oor die idee van “tienerlektuur” is daar baie gestry.

Elizabeth sê:

Izak, ek stem glad nie saam met die term “tienerlektuur” nie. Dit is volwaardige letterkunde. Ek dink die probleem kom in dat volwassenes wat dit skryf, vandag se tieners se intelligensie en ondervinding onderskat. Om werklik jou te kan indink, en dan te skryf as tienerkarakter, vat baie. En die wat dit wel die beste regkry, is die mense wat eerlik is oor die lewe, sonder om doekies om te draai. Ons wil ons kinders dalk te veel probeer beskerm teen realiteite, maar hulle sien dit tog in hul eie huise. En daarom het hulle, net soos ons, ontspanning ook nodig. Maar op ‘n vlak van letterkunde wat nie onderskat moet word nie. Want is die tiener wat lees, nie tog op soek na drome, eiewaardigheid en ontvlugting nie? En bowenal – om dalk ‘n antwoord te kry. En hierdie antwoord moet eerlik en realisties wees. Hulle kan nie gefop word nie.

Martie se antwoord hierop is:

“Tienerboeke” is maar net boeke met “jonger” karakters in, ens. Dit word so gebruik vir bemarkingsdoeleindes. As jy vir tieners vra wat hulle van ‘n boek dink sal jy soveel verskillende antwoorde kry as wanneer jy vir “grootmense” vra wat hulle dink van ‘n boek! Sg. “jeuglektuur” is maar net ‘n “genre” want elke ouderdomsfase het sy/haar eie universele menslike uitdagings. Gebeure soos egskeiding sal byvoorbeeld (moontlik) ‘n groter impak he op ‘n “kind” van 12 as ‘n “kind” van 30 wat dalk al eie kinders het. Of nie? Karakters kom maar almal êrens vandaan nes ons. Hulle het ook ‘n geskiedenis wat ‘n invloed op hulle gehad het, nes ons. As die karakter wat jou beetkry ‘n kind is, is dit ‘n “kinderboek”. Maar skrywers mag nie ‘n vervelige boek vir sy/haar lesers van ENIGE ouderdom skryf nie! 🙂

Sieltjie sonder sorg het egter ’n waar ding gesê:

Ek lees nou vir die eerste keer Dinge van ‘n kind van Marita vd Vyver en wonder hoe tieners dit nou ervaar, want dit speel mos in die 70’s af.

Meer as dit, niemand het ooit, selfs destyds nie, dit ’n tienerboek genoem nie. Was dit omdat dit oor tieners gegaan het wat tieners was toe óns tieners was?

Blackeyedsuz sê oor die dilemma van die verskillende genres:

Het al baie oor die gewonder, want as volwassene kan ek steeds nie wag vir Francois Bloemhof se boeke (watter genre ookal) om te verskyn nie. Ek was gaande oor Zita, en Joshua van Eden.

Barrie Hough het my nog altyd geroer, en hoewel sommige mense gekant is teen die “lessies” wat Barrie soms ingegooi het was sy skryfwerk relevant, toe én nou. Vir grootmense en tieners.

Ek dink ek verkies dalk die term “jeugboeke”, want ek is oud maar steeds baie “jeugdig” in die hart.. 🙂

Hierop het Martie geantwoord:

Hallo Blackeyedsuz. Jislaaik, ja. ‘n Mens lees mos wat jy wil – dis die lekkerte van boeke! En daarby is ek ook oud (amper antiek) maar my hart is baie jonk – so jonk dat ek kinderboeke skryf – nie omdat ek antwoorde het nie, maar omdat ek ook wonder! Nes kinders 🙂

Ek is nog nie klaar nie, want ek het intussen ander, lekker sappige inligting ingewin. Word vervolg.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Oor ‘n wonderlike ouma

Januarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Julle MOET lees wat BlackeyedSuz oor haar ouma geskryf het. Dieselfde ouma wat kon skinnydip.

Dis pragtig, maar gaan haal eers die snesies!