Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Mooi wense vir 2009

Desember 31, 2008 in Sonder kategorie

Ek het hierdie foto die ander dag geneem in Kirstenbosch. Dis ‘n baie jong kolgansie.

Mag die nuwe jaar vir julle almal die geleentheid gee om op te styg – waarmee julle ook al besig is!

Profile photo of izakdv

by izakdv

The novelty of the novel

Desember 27, 2008 in Sonder kategorie

Een van die voordele van insomnia is dat ’n mens soms tyd kry om te lees. Ek wil graag ’n interessante teks met julle deel. Bert Olivier, die Baaise filosoof, het ’n stuk geskryf oor “the novelty of the novel”.

So lui die eerste paragraaf:

One of the most enjoyable things that one can share with one’s wife, husband, lover or partner, must surely be reading with and to each other. And what better form of literature to share in this fashion than the ever “novel” literary phenomenon, to wit, a novel. Sure, if both of you happen to be academic types, the odd philosophical or psychoanalytical text makes good reading together, too, but when it happens at night, before going to sleep, a novel is invariably the better, more enjoyable choice.

Dis nie ligte leesstof nie, maar dis baie interessant. Hier is die volledige skakel.

Profile photo of izakdv

by izakdv

gesiënde kersfees

Desember 25, 2008 in Sonder kategorie

Hierdie kaartjie is een van die redes waarom ek hoop het vir hierdie land.

Vir die wat nie weet nie: Die De Vriese woon in ’n oorwegend Moslemgebied; minstens 80% van al ons bure is Moslem. Verder is ek en die geliefde die enigste pale faces in ’n baie groot radius. Laastens praat talle mense Afrikaans as ’n tweede taal, maar nie as ’n huistaal nie.

So, as ’n mens se Moslembure vir jou só ’n kaartjie bring, kan ek nie anders nie as om die wense te deel met almal wat hier lees. Aan almal, dus:

gesiënde kersfees

mag die Jire jou gesin meer spaar vir die jare te kom.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Nog ’n bydrae tot die Breyten-debat

Desember 23, 2008 in Sonder kategorie

Na aanleiding van een van my skrywes oor Breyten Breytenbach se stuk in Harper’s, het ons blog-royalty, Die Prinses, geskryf:

Dankie Izak, ek is deurmekaar, want dit is ook maar net ‘n mindset. Die vraag is, is dit ewe maklik vir almal om kop omhoog te hou?

Ek het haar toe geantwoord, op daardie inskrywing, maar ek dink ek gaan die debat nou in die ope gooi.

Hier, dus, is my antwoord op haar. Kritiseer my gerus!

Prinses

Ek het baie vriende en familie wat reeds die land verlaat het. Ek verstaan. En ek moet erken dat daar dae was (en is) waar ek self na die tralies voor my venster sit en kyk en dink, moet ek vir die res van my lewe in ‘n tronk bly om veilig te wees?

Maar, om net eenvoudig / een-voudig / een-vlakkig te sit en kritiseer, wat help dit?

Ons MOET korrupsie ontbloot en kritiseer. Ons MOET Jacob Zuma se pogings om die reg te verkrag met sy duur prokureurs (waarvoor my belastinggeld betaal), kritiseer.

Maar dan kritiseer ons goed wat kan verander.

Die enigste manier waarop ons ‘n beter lewe vir ALMAL in Suid-Afrika kan bewerkstellig, is om ‘n beter lewe vir ALMAL te bewerkstellig.

Dit sluit in:

– ‘n Basiese betaling aan almal om kos op hulle tafels te sit.

– Beter polisiëring in die arm buurte, dus moet die polisie opgelei word en die slegtes gefire word

– Beter onderwys, dus moet vrot onnies gefire word

– Beter staatsdepartemente, dus moet lui, slapgat, nikswerd mense in die staatsdiens gefire word.

Ek het nie pyne daarmee as jy spesifieke goed rondswaai en internasionaal druk plaas op die regering om daaroor iets te doen nie.

Ek het wel ‘n pyn as ‘n mens cluster bombs gooi en mense beseer wat niks met die saak te doen het nie.

izak

Ten einde laas wil ek sê: Lees weer Lorinda se inskrywings oor die hangery in Engeland. Ek het baie daaroor gelees ’n paar jaar gelede. Hoe meer geweld die staat toepas, hoe meer geweld is daar vanaf die gepeupel. Hoe sagter die staat, sonder om op te hou om misdaad aan te spreek, hoe beter gaan dit in ’n land.

Lees ook gerus André Coetzee se Kom sit sommer by die tafel. Daarin skryf hy in detail vanwaar ons die geweld kan herlei.

Ons moet kritiseer, maar dan, voel ek, moet ons die probleme aanspreek.

Maar ons moet ook die positiewe raaksien.

Praat ’n bietjie met mense wat deur die Thatcher-jare in Engeland gebly het – droewig. Praat ’n bietjie mense wat vandag nog “homeless shelters” in Engeland bedryf. Lees Annesu oor die manier waarop mense uitreik na armes in Kanada.

Suid-Afrika was ’n gatlike plek vir 75% van ons bevolking vir baie jare. Daar was tye wat ek en my swart vriende in townshipkerkies gesing het: “We shall overcome,” maar nie geweet het wanneer nie.

Dus, voel ek, kyk hoe Stray Cat en ander mense help. Kyk hoe gee ander om, en spring in om te help.

Okay, genoeg gepraat!

izak

Profile photo of izakdv

by izakdv

Tutu se kinderboek: God’s Dream

Desember 22, 2008 in Sonder kategorie

Mag ek julle voorstel aan ’n wonderlike kinderboek? Desmond Tutu en Douglas Carlton Abrams het saamgespan om God’s Dream te skryf.

Carlton Abrahams doen gereeld sulke “collaborations” met bekendes, en hierdie een is regtig iets om te besit.

Die pragtige kunswerke is deur LeUyen Pham.

Ek wil nie te veel sê nie, want ’n mens moet die boek self lees, maar as jy iets weet van Tutu, sal jy weet dat versoening en medemensliefde die beeld is wat hy graag wil voorhou as hy oor God praat. Daarom sê die boek …


… dit maak nie saak hoe jy bid, of …


… hoe jou neus lyk nie.

Wenk: Ek het die goedkoopste weergawe van die boek op Kalahari gekies vir die skakels hierbo, maar Exclusive Books s’n is goedkoper. Hardloop om een te kry.

Maar: Selfs Exclusive’s s’n is egter duur, want die boeke word ingevoer.

Ek stook tans hard aan een van die groot plaaslike uitgewers om Afrikaregte te kry op die boek. En, het ek reeds gesê, Izak wil graag die Afrikaanse vertaling doen. (Ek sal dit gratis en verniet doen, het ek gesê, kry net die regte!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Beste Bretyten: Deel Twee

Desember 21, 2008 in Sonder kategorie

Breyten

Kyk hier! Dit is die land waarin ons bly: Opgefok, ja, maar kyk hoe gee mense om. Lees hierdie blog (Stray Cat s’n) en sê nog hier is niks positief nie.

Dis maar een van vele, dankie Hutton vir die skakel!

Natuurlik is hier baie om oor te huil. Maar vir elke misdadiger is daar 250 000 mense wat omgee.

Jou leser met die mongrelgesin.

NS:
As julle nie op Harper’s ingeteken is nie (soos ek), is hier ‘n skakel na Breyten se artikel.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Beste Breyten

Desember 21, 2008 in Sonder kategorie

Julle weet seker Breyten het weer Suid-Afrika oor die kole gehaal weens al die misdaad (om dit sag te stel).

Simon Barber se inskrywing “A response to Breytenbach“, op sy blog, is die moeite werd om te lees. Dit is sag, vriendelik en intelligent. En dit laat ‘n mens dink.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Strange nervous laughter

Desember 20, 2008 in Sonder kategorie

 

Gou vir julle van ’n heerlike, Suid-Afrikaanse roman vertel. Strange nervous laughter, deur Bridget McNulty, is iets soos chicklit met ’n helse klomp breinselle. Dis liefdesverhale, dit gaan oor mense wat liefde soek, verloor, weer vind en weer opneuk. Uiteindelik is daar ook diegene wat ware liefde vind en dan slim genoeg is om te hou wat hulle het.

Strange nervous laughter is intelligente, ligte leesstof. Ek glo nie ek het al ’n boek gelees wat presies só is nie.

Dis amper of jy Bernhard Schlink met Gabriel Garcia Marquez gekruis het en toe gesê het, skryf iets vir die ligte mark in die styl van Louis de Bernièrs. Schlink skryf intelligente liefdesverhale, terwyl Marquez en de Bernièrs die grense van die realiteit toets. Nie een van hierdie here skryf egter ligte leesstof nie.

Bridgitte McNulty het ’n ligte, Suid-Afrikaanse boek geskryf wat jy met groot gemak vir ’n vriendin kan gee vir Kersfees. Om die waarheid te sê: Dis die ideale geskenk vir ’n vriendin wat reeds alles het (veral as Byna liefde onder “alles” tel!)

Die boek lees ontsettend maklik en die stories is baie pret om te volg, maar daar is geen twyfel nie dat die outeur baie genot gehad het om haar lesers elke keer so effens wakker te skud, net om seker te maak ons raak nie té vasgevang in die storie nie.

In Strange nervous laughter word die skeiding tussen werklikheid en die bonatuurlike opgehef op ’n besondere manier. Wanneer Beth gelukkig is, sweef sy. Letterlik, haar voete raak nie grond nie.

Harry het weer ’n voorliefde vir gebreekte goed en gebroke mense is daarom ook aangetrokke tot hom. Waar hy ook al gaan, kom gesels gebroke mense met hom, en alle gebreekte objekte in die omgewing (koppies, pierings, wat ook al), kom na hom toe aangeskuifel en vergader aan sy voete. G’n wonder hy is ’n vullisverwyderaar nie, hy staan sommer op die trok, dan kom die goed aangevlieg na hom toe.

So, op ’n taalvlak speel McNulty met jou kop, sonder om die storie te bederf.

Mdu kan byvoorbeeld met walvisse praat.

En so kan ons aangaan.

Wanneer twee van die karakters op mekaar verlief raak (ek gaan nie sê wie nie), gaan hulle op reis deur die land en oral waar hulle gaan, strooi kanferfoelieblommetjies hulleself agter dié paartjie aan. (Ja, die blommetjies verskyn sommer net.)

Die agterblad sê:

An intriguing blend of lyricism, whimsy and wit, Strange Nervous Laughter is about love and friendship and relationships – and sex and food and Durban – and odd ways in which we sometimes behave.

Vir ’n verandering dink ek die agterblad som die boek baie goed op. Dit ís ’n sexy boek, maar in besonder goeie smaak. My ma sal die boek net soveel geniet as ek.

Strange nervous laughter is een van die lekkerste boeke wat ek in 2008 gelees het.

Profile photo of izakdv

by izakdv

kidofdoom

Desember 20, 2008 in Sonder kategorie

Wie ken Suid-Afrika se nuutste rockgroep, kidofdoom?

Die Mail & Guardian het ’n artikel oor hulle gedoen. Daar is ook twee videos, twee gratis MP3s en ’n fotogallery op hierdie blad.

Geniet dit. Ek probeer nog uitfigure of ek mal is hieroor, of nie, maar hulle is anders, en dit maak hulle al klaar beter as al die klone.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Gooi self skoene

Desember 19, 2008 in Sonder kategorie

Daardie skoene wil nie ophou vlieg nie.

Jy kan nou self skoene gooi na Bush. Ek het hom al agt keer raakgegooi! Die speletjie het die wonderlike naam: http://www.sockandawe.com/ (Wie kan die oorspronklike “shock and awe” onthou? As jy kan, sal jy dubbel so hard wil seker maak dat jy die moroon raakgooi.)

En kyk net wat het Zapiro gedoen daarmee, dis WONDERLIK!