Jy blaai in die argief vir 2008 Augustus.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Look at me

Augustus 31, 2008 in Sonder kategorie

  

Ek het gister baie vinnig verwys na Marlene le Roux se pragboek, Look at me. Maar toe moes ek al weer hardloop.

Mag ek ’n lansie breek hiervoor? As julle dit nog nie gelees, en gekoop, het nie, is dit dalk nou ’n goeie idee om dit te doen.

Ek gebruik nie maklik woorde soos “inspirerend” of “positief” nie, want dan begin dit te veel klink of ek dagstukkies vir oumas bespreek, maar, genade mense, dis ’n mooi boek dié.

Lucie Pavlovich het wonderlike foto’s geneem en Marlene le Roux het elke vrou gevra om haar eie storie te vertel. Party van die stories gee jou koue rillings.

Elke storie vertel ’n verhaal van hoop.

As jy regtig nie weet wat om vir daardie spesiale persoon vir Kersfees te koop nie, sou ek dié een aanbeveel. (Dis nou as daardie persoon reeds Byna Liefde besit!)

Dis ’n wonderlike boek. Jy gaan nie dieselfde persoon wees as jy dié boek klaar gelees het nie. Te koop by Kalahari, of ander goeie winkels.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Baie dankie

Augustus 30, 2008 in Sonder kategorie

Haai, baie dankie, Maankind! En aan alle ander. Ek het nou eers bewus geword van my prys.

Dis darem altyd lekker. Dankie!

Ja, ek lees graag ander blogs, dis tog deel van die gemeenskap, nie waar nie? Maar soms sukkel ek om by te hou. Dis hoekom ek nou eers sien dat ek ’n “silwer” gewen het!

Hoekom nou eers? Wel hier is die subtitel van die blog:

Twee dae (nee meer) in die lewe van ’n blogger

Donderdagoggend:

Donderdag 0530

Opstaan en voorberei. Help met kleinman en …

0700

Vertrek op ’n mal rit na die ander kant van die stad. Maandag was ek in Midrand. Ons het 0700 opgestyg en teen 0845 was ons in Johannesburg, dink ek wrewelrig terwyl ek in die verkeer sit op pad na my vergadering.

Gelukkig het Kaapstad FINE MUSIC RADIO (101.3 FM).

0835

Ek bereik die plek waar die man sê ek moes wees. Geen teken van genoemde uitlaatpypherstelplek nie. (Kyk die mooi woord, iets vir Scrabble!)

0850

Steeds geen manier om die man op te spoor nie. Ek bel hom. Sy instruksies wás verkeerd, maar ek weet nou waarheen.

0857

Ek ontmoet die man en die slim ingenieur.

Die man skryf boeke. Die slim ingenieur help ons.

0907

Ons gaan drink koffie

1000

Klaar. Na volgende vergadering

1030 – 1100

Nog koffie saam met volgende slim man.

1100 – 1400

Voort kantoor toe. Berei voor vir vergadering met grootbase.

1400 – 1600

Vergadering met grootbase. Ouch, skedules druk!

1600 – 1645

Probeer nog ’n projek red.

1645

Vir die eerste keer in dae vertrek ek voor vyf huis toe. Moet gaan help kos maak.

1715

Kom by huis.

Speel met seun.

Kook kos, vir ons en vir ons Poolse gaste. (Hulle is wonderlik, het Dinsdagaand gekook, was gereeld skottelgoed.)

Hoor George Weideman is oorlede

1830

Speel ’n dodemis (op die cd-speler) vir George

Eet, gesels, speel met seun, my vrou lees ’n paar van George se gedigte voor

1730

Laai die Poolse gaste in die motor en ry na ArtScape, het kaartjies bespreek vir Steriel

2010

Niemand by die teater, niemand by die kaartjieskantoor. Iemand anders in die Artscape sê die vertoning is gekanselleer.

Deksels.

Ons kyk na Marlene le Roux se wonderlike foto’s wat deel maak van Look at me. As julle nog nie boek gekoop het nie, doen dit nou!

2115

Kom by die huis. My seun word wakker oor ons skielik opdaag en hy kry ’n tweede asem. My vrou se eerste asem is lankal op.

Ek lê by knaap.

2200

Uiteindelik slaap Knaap. Genade.

Maak koffie vir my en die geliefde.

Sy werk aan stuk vir Vrydag.

Ek lees George Weideman se gedigte en skryf ’n brief aan hom

2356

Ek plaas my blog en berei voor vir Vrydag

Vrydag 0530

Op. Pak oorskiet kos. Help geliefde om uit die huis te kom vir haar vergadering.

0645

Maak knaap wakker. Trek hom aan, maak sy tenkie vol.

0720

Vertrek skool toe.

0820

Kom by die kantoor aan, begin vure doodslaan.

0900 – 1300

Opleiding.

1300 – 1545

Probeer my werk op datum kry.

1545 – 1630

Sosiale verkeer. Kroeg is oop, ons vier ’n reeks boeke wat pragtig gekom het.

1630 – 1745

Werk, want die volgende sperdatum kom nader

1815

Daag by die huis op.

Begin help met die kos.

Poolse gaste help ook. Hulle is wonderlik

1900

Nog gaste arriveer. Onder ander twee tieners.

Ons kuier.

1000

Doodmoeg. Kruip in die bed saam met knaap om hom tot rus te bring. Hy’s hiper na die kuier en die aandag.

Saterdag 0630

Vroulief moet gaan werk.

Ek stort, eet ontbyt en begin skottelgoed was.

0730

Knaap word wakker. Is nog moeg en moerig. Skottelgoed nog nie klaar nie.

1100

Skottelgoed feitlik klaar, gaste het kos, Knaap is in ’n redelik bui.

1110

Ons ry KIKS toe, daar is ’n uitstalling van alles wat oop- en toemaak. Ek het komplimentêre kaartjies gekry. Dis koud en nat, dis iets om Knaap mee besig te hou.

1145 – 1300

Is in die KIKS. Knaap is steeds bedonnerd.

1300

Knaap kan nie meer nie. Maak Poolse gaste bymekaar en ry huis toe.

1330

Knaap herinner my daaraan dat ek beloof het hy kan ’n DVD uitkies. Het reeds die afrit gemis en hy is knorrig. Ek ry met ’n ompad en kom by die winkel uit.

Hy kies Garfield.

1400

Moeg en honger. My liewe genoot het gerookte snoek en vars brood gekoop. Knaap kyk DVD.

Ons eet. Ek was die res van die skottelgoed.

1445

Die ander vertrek na die winkels. Ek bly agter om te begin werk (nie aan my eie boek nie, helaas, ek moet eers ’n werkboek red.)

1700

Ek maak my blog oop om te sien of enige iemand intussen kommentaar gelewer het. Sien Philip en Lorinda se gelukwensing en lees Melt se blog. Genade, dis nou lekker.

Begin skryf aan “Dankie”.

1730

Gesin daag op.

1825

Ek kry weer kans om te skryf aan dié blog.

Hier’s dit!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Hallo George, dis Izak hier

Augustus 28, 2008 in Sonder kategorie

Aan: George Weideman

Plek: Hierna

Van: Izak de Vries

Plek: Steeds hier

Datum: 28 Augustus 2008

Beste George

Ek hoop die paadjie wat jy net na drie vanoggend moes stap, was besaai met geel, glimmende Namakwablomme. Ek glo nie die engele sou so stupid wees om vygies te gooi nie, want hulle is blerrie glibberig.

Wat my nou eintlik bring by die rede vir my voorbarige skrywe: Ek dink jy moet sê dat hulle vir jou ’n moerse groot boerpampoen moet bring. Laat hulle dié ding omskep in ’n koets. Jy weet, so ’n lekker groot langslapgatlimo van ’n pampoenkoets wat langs die straat sy vinne wys. Dan kan jy ook gaan blomme kyk. Jy sal niks wil saamvat nie, ek weet. Jy sal net weer kan síén dit wat jy die afgelope paar jaar moes onthou.

Sê vir die engele (ek weet nie hoe slim hulle is nie) dat hulle vier groot volstruismannetjies moet inspan. Hulle hakskene is hoeka nou so lekker rooi, hulle sal ’n hondegaloppie kan looi.

“Skink, Galiepie, skink!” moet jy vir die butlerengel sê, terwyl julle op pad is, “Skink ’n doepa vir droefte.” Die heuningbier smaak mos soeter, hoe dieper jy dit moes verduur, nie waar nie?

Gaan kýk weer na daardie vygies, die halfmense en die ongelooflike madeliefies, melkbos, kokerboom en vingerpol; blommetjie gedenk aan my!

Slaan die sweep as die volstruise steeks raak. Skilliewip Skilliewap, laat hulle voete klap! Bontplesier en Swaarkry! Boesmanland, Namakwaland, klipkoppies en rooiduinsand.

Ek weet die jare het begin om stowwerig op jou tong te lê. Die paljasblaar het sy skadu nou eenmaal op jou gegooi… Soveel anderste as James Dean, nie waar nie?

Ek was altyd verstom oor hoe goed jy kan beskryf, al was jy feitlik blind die laaste ruk.

Maar nou kán jy mos weer. Gooi af daai bril, stop die koets en ry die

s

 k

  u

   i

    n

     s

      t

       e

af, woeps!, op ’n botterboom.

Ek weet jou klein kandas gaan jou mis. Sy sal haar moet terugtrek in die armsorgskermpie wat jy vir haar gebou het. Maar dis ’n annerlike dans wat jy nou moet dans.

Jou bielies van boklammers is ook lank nie meer muistandmeisiekinders nie, en jy lank nie meer ’n square in hulle oë nie. Soos jy eens met jou pa, gaan hulle die homo faber in jou nog lank onthou.

Ek ook.

Gedigte, dan, is wegvlug van die waarheid. Dis hoekom ek vir oulaas jou werk soos ’n hamerkop vergader en aan jóú bied. Ek is nog te nat agter die ore om hierdie brief stewig hok te slaan. Aanvaar dit maar as ’n glanspamflet.

Dankie, George, dat jy my ’n bladsak vol versies gelos het, polfyntjies vir die onthou. Jy had darem die vermoë om ’n blom blommer te maak, om klam sand aan ’n boer se velbroek te laat kleef in die land van die watersoekers.

Vaarwel! Vlieg ’n songeel streep oor die stoep!

Izak

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ballade van ’n mynwerker

Augustus 27, 2008 in Sonder kategorie

  

Dit was Johannes Kerkorrel, daardie profeet waarna niemand wou luister nie, wat begin het met die ambagstorie.

In sy lied “Ballade van ’n mynwerker”, van die cd Bloudruk, is daar ’n verteller wat sê:

Ek werk hier in die myn
die droogte het ons plaas gebreek
(…)
ek leer hier vir my ambag
miskien gaan ek eendag weer boer

Die res van die lied gaan oor die jong man wat een maal ’n maand wegbreek om te gaan drink saam met die “veterane van oorlog” en dit “vir die kans om net eenkeer te leef”.

Ek het Kerkorrel gesien tydens sy instant blue karma-toer toe hy Bloudruk bekendgestel het. Dit was die beste van vele optredes waarin ek hom gesien het.

Vir die kans om net eenkeer te leef … Ai.

Kalahari verkoop op die oomblik hierdie cd teen ’n gek prys. Kliek hier om te bestel.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Nog iets oor “appies”

Augustus 26, 2008 in Sonder kategorie

Ek het duidelik ’n aar raakgeboor hier. Ek wens egter dat ek met meer gesag kon praat oor die onderwerp, maar ek vrees ek is self nog redelik in die donker hieroor.

Ek sal aan Melt voorstel dat ons dalk vir Dr Florus Prinsloo vra om lig op die onderwerp te gooi. Hy was tot onlangs in die departement van Arbeid en is tans verbonde aan die Seta vir mynwerkers.

Hoe ook al, daar was interessant kommentaar op my vorige skrywe en ek wil graag kommentaar lewer daarop.

Petrus Pap was eerste:

Izak , die Setas is ‘n absolute en totale gemors. Die geld word opgeslurp deur burokrate, en gaan nie vir opleiding nie.

Ag, nee, Petrus! Ek het dan die ander so lekker geëet op die MerSETA se onkoste!

Op ’n ernstiger noot: Helaas, ja. Dis juis die punt. Hulle kon sweerlik ’n appie se eerste jaar betaal met die kos wat daardie dag uitgedeel is!

Op ’n positiewer noot moet ek sê die nuwe wette wat verlede week gepromulgeer is, waarvan die Skills Development Act een was, wil lyk of hulle die geld beter gaan beheer, lees byvoorbeeld Hoofstuk 3 afdeling 14, 14A en 15 in dié verband.

Om die wet te lees, kliek hier:

Vir die elektroniese weergawe,

En hier vir die PDF.

Petrus Pap het ook gesê:

Verder, die ou tegniese skole bestaan nie meer nie. Kyk of iets soos houtwerk êrens in ‘n skool aangebied word …

Nog eens reg. Die idee is egter dat die FET Colleges hierdie rol moet oorneem. Ja, daar is tans baie probleme met die kolleges, maar die vak “Carpentry and Roofwork” se kurrikulum is die ander dag heeltemal hersien en gaan nou van vlak 2 (Graad 10) tot vlak 4 (graad 12) aangebied word.

Lorinda het gesê:

Is daar iets soos ‘n apprenticeship sisteem in SA? Dit blyk steeds die beste of mees koste effektiewe metode te wees. Baie interessante skrywe.

Lorinda, daar is tans beslis apprenticeships, maar na die vorige regering besluit het om die opleidingskolleges van die spoorweë, en dies meer, toe te maak, het die aantal mense wat ’n ambag voltooi het, drasties gedaal.

Ek is ongelukkig nie die regte persoon om te vra nie, maar as jy die wet wat ek hierbo genoem het nagaan, sal jy sien hoofstukke 4 en 5 maak voorsiening vir leerlingskappe en ander vorme van indiensopleiding.

Daar is tans nog onsekerheid oor die presies aard van ’n “leerlingskap” en hoe dit van ’n vakleerlingskap (die “appie-stelsel”) verskil, maar die idee is baie beslis dat daar meer geld en tyd spandeer gaan word aan opleiding binne en buite die werkplek, maar veral dat opleiding in diens van ’n maatskappy uitgebrei moet word.

Cat_Woman vra:

R300 000 vir n enkele persoon??!!!

Wel, dis nie mý syfers nie, maar dink ’n bietjie aan iemand wat opgelei word op baie duur metaalwerkmasjiene. Of dink aan die hoeveelheid beton wat iemand in die konstruksiebedryf moet gebruik – om nie te praat van die hout en die aluminium wat gebruik word vir die skutte om beton in te plaas nie! En dan is daar die staal wat as versterking moet dien …

Of dink aan die prys van hout en hoe duur dit nie moet wees om ’n skrynwerker op te lei nie.

Dorina sê toe:

Dit is darem snaaks ek kyk soms na bv van die sekuriteitsmense wat ‘n paar maande leer (die meeste) en dan sulke salarisse kry omdat hier tans in ons omgewing te kort by myne is aan sekuriteitsmense. Dit gaan maar oor te kort en aanvraag, né?

Korrek, Dorina. En dis die punt, daar is tans besonder goeie geleenthede vir jongmense, ons moet net wegkom van die idee dat ’n graad jou outomaties gaan laat werk kry.

Ek het niks teen grade nie, maar ek wil baie graag dat ons jongmense die waarde van praktiese opleiding sal besef, maar meer nog, dat ons (as ’n samelewing) sal ophou neersien op mense wat met hulle hande werk. Ons het sulke mense verskriklik nodig.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ambagslui

Augustus 25, 2008 in Sonder kategorie

My blog oor die gebrek aan opgeleide blouboordjiewerkers het vrae ontlok wat ek nie kon beantwoord nie, maar ek het nou nuwe inligting gekry. Die Departement van Arbeid het die volgende statistiek bekendgestel:

  • In 1970 het 5 000 nuwe ambagslui hulle ambagte voltooi. Daarna het die getalle elke jaar geklim.
  • In 1986 ons die piek bereik en 13 000 nuwe ambagslui is opgelei.

Toe staak die staat (NP-regering!) hulle opleiding en die getalle val drasties. Dit was feitlik nog net die myne en enkele ander instansies wat mense opgelei het as ambagslui.

Verlede jaar het net 3 500 mense hulle ambagtoetse geslaag, maar die toekoms lyk darem beter.

Aangesien elke maatskappy in die land (met ’n omset van meer as R200 000) ’n bydrae van 1% van hulle salarisrol moet afstaan as ’n opleidingsbelasting, kom daar verskriklik baie geld in vir opleiding. Die bedrag wat op dié manier geïn is, het in die 2006-boekjaar alleen R4,5 biljoen beloop.

Dit kos na beraming R300 000 om ’n enkele persoon op te lei.

Daar ís dus geld. Hierdie geld word aan die sogenaamde SETAs oorbetaal, en die SETAs betaal weer die maatskappye wat hulle werkers oplei. Verder is daar belastingvoordele verbonde aan die opleiding van werkers.

Daar is klaarblyklik tans 20 000 mense in opleiding. Ons kom dus daar.

Verder is vier nuwe stukke wetgewing verlede week deur die parlement goedgekeur. Dié vier wette poog om die opleiding van almal, van voorskools, tot die punt van ’n ambag, asook alle grade en alle diplomas te koördineer.

Danksy dié nuwe wette, en samesprekings tussen die Departement van Onderwys en sakelui, begin die rol van die FET Colleges (in Afrikaans VOO-Kolleges) ook duideliker word. Dié kolleges lewer nie ambagslui nie, maar hulle studente kan wel vinniger in die onderskeie ambagte opgelei kan word. Iemand met ’n sertifikaat van so ’n kollege (gelyk aan matriek), sal sekere prosesse in die opleiding vinniger kan baasraak.

Daar is dus hoop, maar ons het steeds twee probleme:

  • Ten eerste moet ons genoeg opgeleide mense soek wat kan oplei, en
  • ten tweede lok ontwikkelde lande steeds meer en meer van ons ambagslui na hulle toe.

Nog twee stukkies inligting:

  • In Pole styg jou salaris na gelang van jou opleiding, wat beteken dat mense met ’n PhD soms sukkel om werk te kry! Pole het egter ook ’n groot tekort aan ambagslui, so die ambagslui wat agtergebly het, verdien ontsettend goed.
  • En in Frankryk sukkel mense in hulle twintigs tans geweldig om werk te kry, want werknemers soek glo ondervinding.
Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Afrikaanse brief uit Duitsland

Augustus 25, 2008 in Sonder kategorie

Maankind het ’n wonderlike brief geplaas as kommentaar op my blog oor Afrikaans in Pole. Om dit te lees, kliek asseblief hier en rol onmiddellik af, verby my eie inskrywing, om by Maankind se brief te kom.

Dis die bietjie moeite werd!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Barack Obama dra nie das nie (en dis ’n probleem)

Augustus 24, 2008 in Sonder kategorie

  Obama<< >>Mda  

Diegene wat nou al lank my blog lees, sal weet ek is ’n groot Obama-ondersteuner. Op ’n manier was die feit dat Hillary ’n vrou is nie genoeg om my van haar te laat hou nie.

Maar weet julle wat? Ek is benoud oor Obama se kanse. Hoekom? Lees Zakes Mda, dan sal julle sien.

Ek gaan nou-nou iets oor Mda sê, maar eers net gou die volgende:

  • Obama is uiters gewild onder liberale, vrydenkers. As jy ’n graad het, van die VSA is en jonger as 40, is die kanse baie groot dat jy gaan Obama stem. Maar as jy nie ’n graad het nie …
  • Obama gebruik die internet en die selfoon. McCain en die televisie-evangeliste gebruik die televisie.
  • Obama dra nie ’n das op die voorblad van sy boek, The Audacity of Hope nie. Duh? Wel. Kyk ’n bietjie na die televisie-evangeliste. Hulle dra almal das. En wie is televisie-evangeliste se mark? Arm, werkersklasmense sonder grade.
  • Obama sal nie sing “Bomb, bomb, bomb Iraq” nie. McCain het. Die gemiddelde Amerikaner wil graag “them towelheads” in hulle moer stuur.
  • Obama gaan nie vir Putin en sy marionetpresident met kernwapens dreig nie. Die gemiddelde Amerikaner dink steeds dat kernwapens nie skadeloos gemaak moet word nie.
  • Obama is swart.
  • Obama skryf boeke. Die meeste Amerikaanse kiesers kyk televisie.

Wat kan McCain vir die werkersklas bied? Niks. Net mooi niks. Onder die twee Bushe het die werkersklas feitlik alle sosiale veiligheidsnette verloor.

Wat kan McCain vir die “swart” (lees Indigenous American, Afro-American en Hispanic American) kiesers bied? Die antwoord begin met f en dit eindig met l.

Waarom stem so baie blouboordjiewerkers en swart Amerikaners dan vir McCain? Lees Zakes Mda se Cion om te verstaan waarom McCain ’n baie goeie kans staan om te wen – tensy Biden baie, baie sterk na vore kom en McCain behoorlik begin opdôner. (Ten tyde van hierdie skrywe is Biden nog nie amptelik bevestig nie.)

Mda se Cion is ’n vernietigende, maar tog simpatieke, blik op die Rednecks in die VSA. Die verteller is ’n swart man, ’n Suid-Afrikaner, iemand wat self werkersklas is. Met Cion wys Mda vir ons dat die VSA nie ’n gesofistikeerde land is nie. Die gemiddelde Amerikaner is oorgewig, ’n TV-slaaf en baie bang vir mense wat anders is as hulle.

Europeërs het, na die Tweede Wêreldoorlog, andersheid gevier. Hulle het jongmense aangemoedig om met buitelanders te trou, hulle was nuuskierig oor mense en kulture wat hulle nie ken nie. Europa verander tans, maar hulle is steeds ligjare voor die VSA.

Daar is wonderlike, ongelooflike Amerikaners. Ek is baie gelukkig om intelligente Amerikaanse vriende te hê. Ek volg die Obama-kampanje reeds sedert 2004, maar gaan dit werk?

As dit waar is dat Biden die VP gaan wees, dan moet Obama hom toelaat om, gepak en gedas, kru en hard op McCain af te kom. Biden moet toegelaat word om, op sy tipiese voet-in-die-mond-manier, daagliks met McCain die spot te dryf.

Die waarheid is dat Obama se charisma en brein nie genoeg is om die VSA te verlos van derde Republikeinse termyn nie. As jy wil weet hoekom nie, lees Zakes Mda.

Terloops, Cion is ’n opvolg op die wonderlike Ways of dying, maar jy hoef nie Ways of dying te lees om Cion te verstaan nie.

Die boeke is by goeie boekwinkels en Kalahari.net te kry. Hier is ’n paar skakels wat kan help.

The Audacity of Hope: Thoughts on Reclaiming the American Dream

Dreams from My Father: A Story of Race and Inheritance

Ways of Dying

Cion

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Kompliment uit Pole

Augustus 23, 2008 in Sonder kategorie

Ons het tans twee wonderlike vriende op besoek. Pawel en Matylda kom uit Pole en hulle werk in Poznan. Albei is akademici.

Het julle geweet dat daar twee Poolse universiteite is wat Afrikaans aanbied? Pawel, ’n baie slim man met ’n PhD en Postdok, praat vlot Afrikaans. En hy lees baie Afrikaanse boeke.

Toe ek Byna Liefde aan hom wys, sê hy: “A, nie so depressief soos die ander Afrikaanse boeke nie!”

Lekker. Nie alle Afrikaanse boeke maak my depressief nie, maar dis die beste woorde wat hy daaroor kon spreek!

My uitgewer het my herinner dat die boek tans nog in aantog is na die boekwinkels. Dit sal op 2 September by alle goeie boekwinkels wees.

Intussen kan ’n mens dit bestel by Exclusive Books en by Kalahari.net. (Kliek net op die skakels.)



Exclusive Books



Kalahari.net

Terloops, Pawel het Vodka gebring. Ek het ’n klein glasie in, maar dit het al die winterkoue verdryf!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Themba is dood

Augustus 23, 2008 in Sonder kategorie

Ek moes gisteraand vir Madlala bel en sê ons pel, Themba, is dood. Dit kan amper nie wees nie. Themba is een van die grootste en sterkste mense wat ek ken. Nee, wat ek geken het.

In mal jare van die burgeroorlog in die Mbali-township, net buite Pietermaritzburg, was Themba ’n voorloper en voorvatter. Ek en hy het ’n ruk lank vir ’n NRO gewerk in Pietermaritzburg.

Themba Sibeko was selfs vir ’n baie klein rukkie my baas. Dit het my oneindige plesier verskaf om vir hom “baas” te sê. Vir hom het dit geweldig geïrriteer. Kort daarna is hy na die Natalse Parkeraad toe en was hy dus van hierdie lastige werknemer ontslae!

Daar, in Mtunzini waar hy gewerk het, het ek en my geliefde by hom en sy eerste vrou gaan kuier. Themba het vleis gebraai en ons twee het soos goeie boere tot laatnag na die kole sit en staar oor ’n bottel wyn.

My slim vriend het hom opgewerk in die Natalse Parkeraad en hy was later gestasioneer in hulle hoofkantoor. Themba het gou in menslike hulpbronne begin spesialiseer en het toe verder geleer. (Hy was uiters intelligent, maar moes na matriek om den brode begin werk.)

Die konstruksiemaatskappy Stefannutti & Bressan het hom met die hand gekies en daar het Themba geweldig vinnig opgang gemaak. Ten tyde van sy dood was hy een van die alternerende direkteure van die maatskappy.

Sy huwelik met Mama het nie uitgewerk nie, maar hy het weer getrou.

Ek het die mooiste foto’s van hom op sy tweede huwelik met Nozipho (een is hierbo geplaas – ek het dit nie geneem nie).

Themba was 38 jaar oud. Ons het lekker baklei oor Zuma, maar verder was hy ’n wyse sielsgenoot.

Hy laat sy pragtige Nozipho en drie klein kindertjies agter.

Nee, hemel, dit was te gou!

Hamba kahle, mfowethu. Siyakuthanda. Ngizokhala manje.