Jy blaai in die argief vir 2008 Julie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kry geld om voltyds te skryf

Julie 24, 2008 in Sonder kategorie

Mense, hier is nou ’n geleentheid wat julle nie moet laat glip nie. Die Academic and Non-Fiction Author’s Association of South Africa (ANFASA) loof jaarliks toelaes uit om mense te help om hulle boeke te skryf. Die idee is dat jy vir ’n tyd lank voltyds moet kan skryf – en hulle betaal daarvoor!

Onthou, dis nie-fiksie, opvoedkundig of akademies.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Oktober 2008.

Om te kwalifiseer moet jy ’n lid van ANFASA wees – iets wat die moeite werd is om te oorweeg as jy wel ’n kranige nie-fiksieskrywer is,

Kliek hier vir meer inligting en ’n aansoekvorm:

Die algemene blad is www.anfasa.org.za

Sterkte met die skryfwerk!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wen lekker pryse met jou gedig

Julie 24, 2008 in Sonder kategorie

Hier is nou ’n lekker manier om geld te maak met jou digkuns!

IBM Duitsland en die Internasionale Literatuurfees in Berlyn bied 500 Euro aan die drie beste gedigte geskryf volgens die tema “Goeie Hoop”.

Gedigte kan in enige taal wees, maar slegs Engelse gedigte kan in aanmerking kom vir die prys. Die organiseerders bied egter pryse aan vir vertaalde werk ook, so deelnemers word aangemoedig om gedigte in te stuur in hulle moedertaal saam met ’n vertaling. Die vertaling hoef nie deur die oorspronklike outeur gedoen te word nie.

Indien ’n vertaalde gedig wen, sal die vertaler ook deel in die prysgeld.

Dus, as jy goed kan dig, of iemand ken wat kan dig en jy kan goed vertaal, klop aan by die volgende webruimte: http://www.sawubona-musicjam.com/poemsofgoodhope

Wie sê daar is nie hoop vir digters nie?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Padvarke

Julie 23, 2008 in Sonder kategorie

 
Dit was die enigste padvarke waarvoor ek moes versigtig wees tydens my dae in die bos!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wie’s die warmste skrywer?

Julie 23, 2008 in Sonder kategorie

Hier is nou ’n lekker manier om weer die e-wêreld te betree na ek vir ’n paar dae net bokke, voëls en leeus gejaag het.

Can you twist is ’n bietjie soos realiteitstelevisie, net intelligenter. (Okay, realiteitstelevisie is nie eintlik intelligent nie, duh, my brein is nog in die bos.)

Die mense wat dit bedryf, sê dit gaan oor “six of the country’s hottest young female storytellers…” Nou, ja. Wie besluit het wie’s hot, weet ek nie. Maar die idee is baie oulik.

Hier is die skakel: http://www.canyoutwist.co.za/

Neem gerus deel. Dis pret.

Nou wonder ek, watter skrywers sou julle as “hot” (manlik of vroulik) beskou, en hoekom? (Julle mag maar sê Izak …)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Sebrastreep

Julie 23, 2008 in Sonder kategorie

Weer ter plaatse, maar die kop wil nog nie lekker by die stad aanpas nie. ‘n Kiekie van my vakansie …

Profile photo of izakdv

by izakdv

Koekie reis met ryskoekie

Julie 8, 2008 in Sonder kategorie

 

‘n Kar moet ‘n pad kan vat, koekerig of te not! Die foto is in die Kruger Wildtuin geneem.

Onthou julle Madlala se se droom oor die Eos? (Sien my blog oor die Sexpo.) Wel, die ou vriend van my droom steeds. So, die ander dag koop hy vir hom ’n kopie van TopCar. Alles goed en wel, tot hy lees wat hulle oor mý ryding sê. Ek ry ’n Toyota Avanza.

Daar staan dit toe: Like rice cakes. Bland, but it fills a need.

En waarvoor het ’n mens goeie vriende? Hy bel onmiddellik vir Kassie, vertel vir hom, en minute later is hulle op my voorstoep om vir my te kom wys.

Nou ja. My vorige motor was ’n derdehandse Diahatsu Cuore met ’n enjin van 1000 cc. Dit was ’n wonderlike motortjie, en ek het ’n langtermyngemiddelde van 5,6 liter / 100 km gekry. Ongelooflik.

Ongelukkig raak ons ander ou kar toe simpel en ek kon nie my vrou daaraan blootstel nie. Ons kry toe vir haar ’n Diahatsu Sirion, wat eweneens ’n uitstekende petrolverbruik het. Maar toe kon die De Vriese nêrens heen gaan nie.

Die De Vriese is nou eenmaal lief vir die buitelug en vir plekke waar gewone mense nie wil kom nie, so die paaie is rof. En, as jy nou al ooit ’n rowwe pad met ’n minimotor aangedurf het as daar ’n gesin en bagasie in is, dan besef jy hoekom ons toe maar besluit om van Izak se geliefde klein motortjie afstand te doen. (Wel, soortvan, my skoonsus het my cute karretjie gekry.)

Izak wou nooit ’n nuwe motor koop nie, maar toe ek die prys van tweedehandse bakkies begin navors, hou ek amper die klein karretjie vir myself.

Een van my pelle beveel toe aan dat ek na die Avanza kyk. Vir minder geld as ’n goeie tweedehandse bakkie, koop ek toe ’n splinternuwe Avanza. Met dié kar ry ek enige roete wat ek wil, hy sukkel nie met klippe nie en dit is deksels suinig op brandstof.

So, duh.

Laat Madlala lag.

En daarmee moet ek sê: Die kar is gepak. Die De Vriese gaan ’n bietjie avontuur soek. My skootrekenaar gaan saam, maar ek gaan hard probeer om weg te kom van die alledaagse. Dit kan dus ’n tydjie duur voor julle van my hoor!

Intussen, mense, dankie vir reis deur die kuberruimte saam met julle. Dis genotvol. Laat die potte kook. Ek gesels weer as die ryskoekie gehelp het om die muwwe gate in my brein toe stop!

(Terloops, as iemand die baas van Toyota ken, sê vir hom hier is ’n blogger wat ’n borgskap werd is!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die skeppende proses

Julie 6, 2008 in Sonder kategorie

   

Ja, ek het darem nie net “imaginary friends” nie. Herman van den Berg was saam met my op skool, in dieselfde klas. Slim kêrel gewees.

Ons loop mekaar nog so elke dan en wan raak en ek is ’n groot aanhanger van sy musiek. Kom ons wees nou eerlik, daar is ’n paar baie groot name in die Afrikaanse musiekwêreld: David Kramer, Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyer, Coenie de Villiers, Valiant Swart, Amanda Strydom, Koos Kombuis, Karen Zoid, Elsabé Zietsman, Anton Goosen … Nota Bene die stippels, want ek kan darem nie heeltemal ’n punt sit agter die sin nie. Ons onthou ook Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel. Moenie Koos se dogter, Karla en haar man, Roof Bezuidenhoudt, vergeet nie.

Ek is seker dat ek ’n paar minute na hierdie blog verskyn het, nog mense kan byvoeg, soos Jak de Priester, wie nog? Ek wil graag van ander ook hoor, want ek is seker ek het ’n paar belangrike mense weggelaat.

My vrou sal my skop as Lize Beekman nie ook verskyn nie. Het Mathys Roets uitgeval?

Okay, ek is dun ys! Waar is Piet Botha, Gian Groen en onse Johrné?

Die punt is egter dat hierdie ouens saam in een jaar waarskynlik minder cd’s verkoop as ’n enkele uitgawe van een of ander “danstreffer”.

Herman van den Berg moet ook hierbo genoem word. Hy is die tipe kêrel wat na die SAMA’s genooi word, maar hy moet om den brode werk. Musiekmaak kan nie betaal in ’n land waar die kunste so min ondersteuning kry nie.

Kyk ook maar na boekverkope. Ek weet ek preek vir die bekeerdes, maar daar is bitter min voltydse skrywers in ons land. Die meeste van ons sit laatnag agter ’n rekenaar en torring in die koue aan ’n nuwe verhaal. Ons verkope maak dit hoogstens moontlik om nou en dan lekker vakansie te hou om die gesin te vergoed vir die lang ure wat ons op ons eie sit en werk.

Dis hoekom ek ’n deel van Herman se nuusbrief met julle wil deel. Hy is op die punt of ’n nuwe cd klaar te maak. Dis wat hy skryf:

In April het die mal musikante in my huis gekonglomereer om die opnames te kom maak. Dit was absolute chaos. Daar was 12 kitare in 2 kamers, die hele sitkamer was vol van dromme en mikrofone, om elke hoek was daar ‘n musikant, daar was matte op teen die mure en die vloer was toegeslang van drade. Maar dit was een van die wonderlikste ervarings van my lewe.

Die benadering om by die huis op te neem is nie nuut nie. Sting en Bruce Springsteen is onder andere van die kunstenaars wat dit onlangs só gedoen het. ’n Groot struikelblok vir goeie opnames is dikwels die feit dat die musikante te veel speel omdat die geheelprentjie nie gehoor word nie, of dat die opnames te klinies word omdat die interaksie tussen musikante nie daar is nie. Ek het gehoop dat dit die musikante die geleentheid sal gee om die musiek beter te leer ken en om ’n gevoel van eenheid te kry, en ek glo dit is presies wat gebeur het.

Dit klink lekker gesellig, nie waar nie? En tog:

Na ’n paar tegniese struikelblokke uit die weg geruim is, het ons in erns begin dit reggekry om die musiek in drie dae op te neem. Dit was egter net ’n basis om vanaf te begin: Daarna het nog individuele opnames van verskeie instrumente gevolg en die “editing” van al die opnames het begin. Viole en koperblasers moet nog opgeneem word in die volgende twee weke, en dan kan die finale stemopnames, “mixing” en “mastering” gebeur. Ek moet erken, ek het die omvang van die hele projek onderskat. Die opnames van die musikante is maar ’n klein deel van die totale omvang. Ek sit nou al twee maande lank (deeltyds tot laat in die nag) in die studio agter die rekenaar.

Dis deels hoekom ek sit en blog. Aan die een kant is dit afleiding vir die alleen ure agter die rekenaar, aan die ander kant voel ek dat ek darem ’n klein bydrae kan maak ter ondersteuning van al die ander wat óók laatnag agter die skerms sit.

Nie almal van ons kan sing nie – julle wil my beslis nie hoor nie. Nie almal sal die Hertzogprys wen nie. Maar daar is heelwat van ons wat laatnag sit en swoeg.

Lekker blog, laatnagvriende.

En sterkte aan almal wat op een of ander manier sit en werk aan ’n projek. (Baie projekte waaraan ek werk is om den brode, of vir een of ander organisasie. “Skeppend” dalk nie, maar wel betekenisvol.)

Ek hoop om een van die dae meer te vertel oor die vrugte van my nuutste laatnagprojek. En, as Herman se cd reg is, sal ek ook laat weet.

Besoek gerus sy webruimte: www.hermanvdb.co.za

Daar is ’n paar gratis MP3’s wat julle daar kan kry.

Herman se bestaande cd’s is op Kalahari.net te kry. Hulle is die moeite werd! Kliek net op die prentjies hierbo, elkeen is geprogrammeer om jou na die Kalahari-ruimte te neem waar dié cd te koop is.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Toko en Breinbliksem

Julie 3, 2008 in Sonder kategorie

    

FB het ons almal koorsig laat droom na daardie fantastiese blog oor diere se sekslewens. Ou Kassie se vrou was veral beïndruk met die lesbiese akkedisse.

Na aanleiding van FB se blog, en die reaksie wat ek steeds kry op kinderboeke, wil ek Toko, deur Leon de Villiers, aanbeveel vir tieners (en volwassenes).

Toko, die hoofkarakter, woon in ’n premoderne, fiktiewe, patriargale bestel.

In Toko se wêreld word daar jaarliks ’n ritueel gehou. Dit is ’n inisiasieritueel, ’n bos-toe-gaan-ritueel. Die jong manne word poedelkaal gestroop en uit die dorp uitgejaag, bergop. Daar, op die berg, moet hulle ’n sekere tyd lank bly en manne word. Op die berg is daar egter geen reëls en geen wette nie. Die ergste goed kan gebeur en daar sal geen haan na kraai nie. Dis hoekom die jong manne die vorige jaar ’n seun gegryp en hom verkrag het op die berg.

Teenoor hierdie wilde klomp staan Toko, die kunstenaar.

Toko is ’n tienerboek vir kinders met sterk mae. Nie vir kleintjies nie, maar wel vir diegene wat al alles gelees het. Volwassenes sal dit eweneens baie geniet.

Ons is jaloers op die diere, maar dink net wat doen ons aan ons self. Watter ontgroeningstories kan ons nie vertel nie?

En tog …

Diegene wat meer weet van Kung Fu as die Panda, sal vir jou sê dat die vordering na elke vlak met ’n inisiasieritueel gepaard gaan. Dié rituele hoef nie sleg te wees nie. Dis wat ons maak van die rituele wat hulle goed of sleg maak.

Vriende van ons het ’n ritueel gehou waar die ma haar dogter “bergop” geneem het. Die ma, die dogter en ’n hele aantal ouer vroue het een aand in ’n hut op die berg gaan slaap pas na die meisie begin menstrueer het. Hulle het haar daar verwelkom in die wêreld van vroue, en ingelyf in die geheime wêreld van mans, deur stories te vertel en haar te laat verstaan waaroor dit nou eintlik alles gaan.

Onder die Sotho’s is daar ’n ou ritueel waar die vroue hulle dogters leer om hulle affairs só te bedryf dat hulle mans dit nie sal agterkom nie. Klink dit erg? In ’n tyd van Vigs dalk, maar in ’n tyd waar vroue min sê gehad het, en beslis moes kinders baar, is daar slim planne gemaak as die man nie die paal kon haal nie.

Toko vra allerlei vrae oor die soort magshonger gedrag van mans wat maak dat die diere hulle sal skaam vir ons.

Lees gerus Fanie Viljoen (van die Wolwehok) se LitNet-resensie oor Toko.

Ek is jammer ek kry so min tyd om hier te skryf, want daar is wonderlike boeke waaroor ek julle wil vertel. Sit sommer Fanie se Breinbliksem op die lysie, terwyl ons oor hom praat!

Albei boeke is op Kalahari.net te koop.

Kliek gerus vir Toko en hier vir Breinbliksem.

En dankie aan al die ander wat heerlike stories oor boeke vertel. Dit word erg waardeer! En dankie oor vir almal wat my reg help as ek belangrike goed vergeet, soos die ruimte Storiewerf! Op Storiewerf is wonderlike skakel na kinderboeke. Gaan besoek hulle asseblief!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Boeke vir lesende kinders

Julie 2, 2008 in Sonder kategorie

Ek het, uiteindelik, tyd gekry om ’n bietjie op die internet te krap op soek na boeke wat ek kan aanbeveel – en wat beskikbaar is.

Lapa se webtuiste het ’n afdeling vir gewy is aan 8 – 12-jariges. Kliek hier om hulle te besoek. Julle kan dan verder op elkeen van die boekies kliek om meer te lees.

NB het eweneens baie goeie aanlynkatalogusse. Hier moet julle egter die soektog verander deur heel bo die blokkie te kies vir kinders en dan weer “soek” te druk. Wees gewaarsku – hulle definieer kinderboeke redelik wyd, maar as jy eers ’n paar name het, kan jy in die boekwinkels of die biblioteek gaan krap.

Kliek hier om na elkeen van hulle uitgewers se katalogusse te gaan.

Tafelberg

Human & Rousseau

Kwela

Best Books

Exclusive Books het ook ’n aparte kinderlys wat ’n mens kan besoek.

Voorts het Exclusive Books ’n handleiding uitgegee wat werklik oulik is. Die titel is The Children’s Best Book Guide 2008. Dit kos net R6 en gee ’n kort beskrywing van elke boek. Die geld wat geïn word, gaan vir minderbevoorregte kinders.

Ten einde laas het ’n vriendin hierdie boek aanbeveel A Time to Read deur Mary Ruth K. Wilkinson en Heidi Wilkinson Teel. Hier is wat Kalahari.net daaroor sê.

In a Time to Read, Mary Ruth K. Wilkinson and her daughter, Heidi Wilkinson Teel, have compiled a helpful guide to children’s books. More than bibliography A Time To Read also includes essays on the nature of children, families, literature and story – and how these hold together in a Christian life, reflecting Mary Ruth’s 30 years’ experience teaching a literary and Christian approach to children’s books.

Ek ken laasgenoemde boekie glad nie, so ek noem dit net.