by

Kung Fu Panda

Junie 29, 2008 in Sonder kategorie

Ja, ja, ek weet! Maar ek en knaap het dit gaan kyk en albei van ons het dit verskriklik geniet. Ek is allergies vir die Kung Fu-flieks, want ek weet die mense se “toertjies” is alles deur die rekenaar bemeester, so Jackie Chan en dies meer is glad nie my kos nie. (Hoewel Chan dikwels self sy rolle met die tong stewig in die kies speel.)

Maar ek hou van Chinese noedels, en die held van die fliek kán kook. Lekker.

Grootmense weet reeds wat gaan gebeur: Vet panda (met Jack Black se stem) word held wat woeste boosaard verslaan. Niks meer nie.

Gelukkig het die skeppers van Kung Fu Panda ’n sin vir humor gehad, so die fliek spot met die genre, dit probeer glad nie ernstig wees nie. Hulle gaan so ver om Chan en Luci Liu op te neem in die film. Chan se stem is dié van Monkey en Liu is Viper.

So? Wel, die tyd het gekom om die nuwe leier van die Kung Fu opperwêreld aan te wys. Vyf diere ding mee om die prys en dan val ’n vet panda hom des moers tussen vegters. En hy word aangewys. Oeps.

Die vyf diere, Tigress (Angelina Jolie), Monkey (Jackie Chan), Mantis (Seth Rogen), Viper (Lucy Liu), en Crane (David Cross), verwys natuurlik na die verskillende style in die filosofie van Kung Fu. (En, terloops, Tigress is uiters rondborstig, á la Jolie!)

Die fliek verloop soos te wagte, maar dis die humor wat tel. En, as ’n mens fyn oplet, sal julle verstaan hoekom dit juis ’n baie vet dier moes wees wat die bosaard, Tai Lung (Ian McShane) sou kon verslaan. Tai Lung sou enige een van die ander kon uitoorlê as hulle té goed gebou was. Kyk maar self hoe Po, die panda, lê en giggel teen die einde.

Vir alle ouers wat die kinders op hamsterwieletjies wil laat hardloop, of self teen die mure wil uitklim, hier is ’n lekker manier om hulle ’n ruk lank besig te hou.

Vir diegene wat ’n werklik interessante en intelligente gesprek oor die film wil lees, kliek hier om Shaun de Waal se resensie te lees. Die resensie maak die fliek die moeite werd. Volwassenes sal baat daarby om De Waal se stuk te lees en dan self die fliek te sit en geniet.

7 antwoorde op Kung Fu Panda

  1. Magdavwyk het gesê op Junie 29, 2008

    Dankie vir die resensie…nou is ek nuuskierig. Klink werklik na iets ouliks.
    Lekker aand Izak.

  2. Izakdv het gesê op Junie 29, 2008

    Hi Max
    Formula, maar goed gedoen!
    izak

  3. hi izak

    ons wou dit vandag gaan kyk het 🙁
    hopelik deur die week, gaan nou eers daai resensie lees
    Lekker week vir jou
    xxx

  4. Izakdv het gesê op Junie 29, 2008

    Jou knaap sal mal wees daaroor!
    izak

  5. bigbigjoe het gesê op Junie 30, 2008

    Hoe oud is jou knapie Izak, en sal my amper-3 jarige die prent kan volg, enduit?

  6. Izakdv het gesê op Junie 30, 2008

    My knaap is al vyf. Ek het hom op drie al geneem na CARS en, behalwe vir ‘n piepiebreek, kon ons darem klaar kyk.

    Wees net bewus daarvan dat Tai Lung nogal kwaai is. Dit kan jou driejarige skrikmaak.

    Izak

  7. Izakdv het gesê op Julie 2, 2008

    Niel
    Jy sal dit geniet, juis omdat dit so lekker met die formule spot. Dis nie ‘n kunsfliek nie, net ‘n lekker fliek.
    izak

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.