by

Bob Dylan, Breyten Breytenbach en die fiktiewe ander

Junie 6, 2008 in Sonder kategorie

   

Mense, bederf julleself en gaan kyk I’m not there voor Ster Kinekor dit van die rol afhaal. Dis ’n wonderlike en verbysterende fliek.

Ek en Madlala het dit gaan kyk, en daar was nie veel ander mense in die teater nie, so ek vrees Ster Kinekor mag begin dink aan die einde van die speelvak.

Wat my opgeval het, was dat die meeste mense (vyf) ouer as ek en Madlala was. Hulle het dus iets van Bob Dylan kom soek.

Die ander twee het heel agter gesit en ek sweer hulle het op ’n stadium liefdegemaak daar in die agterste, donkerste ry. En hoekom nie? Hulle was in hulle vroeë dertigs, duidelik verlief en die teater was feitlik leeg. Ek was skoon jaloers.

Okay, so die woorde “Bob Dylan” het uitgeglip. Ja, dit is oor Bob, en nee, dis glad nie oor Bob nie.

Eintlik is dit deksels moeilik om te verduidelik wat dit was, en hoe dit inmekaar steek. Die maklikste is dalk om te noem dat hierdie fliek oor ses karakters gaan:

– Jude Quinn, ’n drugged out superster met ’n moerse mop hare, meesterlik gespeel deur Cate Blanchett.

– Arthur Rimbaud, ’n drugged out karakter wat pas in hegtenis geneem is, wat allerlei wyshede kwytraak, gespeel deur Ben Whishaw.

– Jack Rollins, ’n rock ’n roller wat tot bekering kom, gespeel deur Christian Bale

– Billy the Kid, as Billy the Kid, deur Richard Gere

– Woody Guthrie, ’n meesterlik klein swart sanger, briljant vertolk deur Marcus Carl Franklin, en

– Robbie Clark, ’n drugged out filmster gespeel deur Heath Ledger.

Ja. Dwelms is nogal ’n belangrike karakter in fliek.

En Cate Blanchet is darem iets om te waardeer. Magtig.

Die beeld wat geskep word van hierdie vreemde karakters is nie positief beeld nie. Klaarblyklik was Bob Dylan nóú betrokke by die maak van die film, hoewel hy nie gelys word as ’n skrywer nie.

Die feit is egter, Dylan kom nie baie mooi daarvan af nie. Die meeste karakters openbaar ’n baie donker kant (van Dylan?). So misbruik Robbie Clark almal om hom, ook sy pragtige vrou, Claire, gespeel deur die beeldskone Charlotte Gainsbourg. Jude Quinn is te spaced out om nice te wees, Jack Rollins is te gelowig om ’n Rollin’ Stone te wees, en Woody Guthrie hardloop weg van die polisie.

Billy the Kid is natuurlik ook ’n karakter met ’n vreemde verlede, maar hy bring darem hoop in dié sin dat hy die skurke uitdaag en hoop gee aan die arme mense in ’n dorpie vol vreemde karaters. Tog waarsku Jude Quinn ons: You know, I didn’t come out of some cereal box. There’s no one out there who’s gonna be converted by a song.”

So, helaas. Alice Fabian, gespeel deur die immergroen Julianne Moore, verduidelik vir ons dat die folk-beweging gekaap is deur geld, en dat geld mense wegdryf van hulle wortels af.

Ek sou dwelms ook hier ingooi. Die fliek preek nooit, maar as jy darem nie geraak word deur die manier waarop Quinn (Blanchet) uitrafel nie, weet ek nie.

I’m not there se regisseur is die Todd Haynes. Die draaiboek is geskryf deur Haynes en Oren Moverman.

En nou vir deel twee van dié resensie.

As julle hierdie fliek gesien het, en dit geniet het, moenie van ons eie groot digter, Breyten Breytenbach, vergeet nie. Breyten se jongste boek, A veil of footsteps, het baie negatiewe reaksies gekry onder die Engelse pers. Die Afrikaanse pers het, soos gewoonlik, weer al die verkeerde goed rondom Breyten se werk belig. En op LitNet, vrees ek, het dinge heeltemal handuit geruk.

Nou dat ons almal rustiger is, en ek Bob Dylan as metafoor kan gebruik, wil ek weer ’n eier lê vir A veil of footsteps. Onthou, die subtitel is: Memoir of a nomadic fictional character.

Ek wil werklik sê: Gaan kyk die Bob Dylan fliek, of neem dit op DVD uit, of KOOP die dônerse DVD, want jy gaan dit waarskynlik meer as een keer moet kyk om dit te verstaan. Dan lees jy Breyten se boek. En KOOP asseblief die dônerse ding! Die uitgewersbedryf het jou geld en ondersteuning nodig. Bowendien gaan jy dit meer as een keer moet lees om dit te verstaan.

Maar goed, A veil of footsteps is moeilik, en Breyten kom lelik tweede daarin. Of is dit Breyten? Nes Dylan tweede kom in I’m not there. Of is dit Dylan?

Maar hoekom? In dié geval is dit Breyten self wat oor iemand, genaamd Wordfool en talle ander soortgelyke karakters, skryf. Die subtitel kon werklik geheet het: Memoir of a number of nomadic fictional characters.

Lees self en besluit self, maar doen jouself die guns om eers I’m not there te kyk. Dan sal jy reg wees om ’n soortgelyke acid trip mee te maak in A veil of footsteps.

In A veil of footsteps probeer die verteller byvoorbeeld vir ons vertel dat Breyten nooit ’n politieke gevangene was nie, maar dat hy in hegtenis geneem is omdat hy met dwelms gesmokkel het.

Mense, dis nie verniet dat Dylan een van die grootse Amerikaanse digters is nie, en almal weet Breyten is een van die reuse in ons klein, maar uitstekende letterkunde.

Digters goël met woorde.

Goeie skrywers plaas altyd iets van hulleself in die pot, maar dra soveel maskers, dat die leser nooit sal weet waar feit en fiksie eindig nie.

Doen jouself die guns. Kyk I’m not there en lees dan A veil of footsteps.

Dis moerse om te sien hoe digters hulleself wegsteek agter fiktiewe karakters.

Nie een van die twee is ligte letterkunde nie, maar albei is uiters genotvol. Verryk jouself deur te kyk hoe digters verkleurmannetjie speel.

A Veil of footsteps is te koop by Kalahari.

7 antwoorde op Bob Dylan, Breyten Breytenbach en die fiktiewe ander

  1. hellokietie het gesê op Junie 7, 2008

    hello Izak 🙂

    Klink na ‘n plan om my e-bucks op die boek te spandeer !

    lekker naweek

  2. Izakdv het gesê op Junie 7, 2008

    Hi Krok
    Dis ‘n besondere boek, nie maklik nie, maar baie interessant.
    Izak

  3. Izakdv het gesê op Junie 7, 2008

    Kietie
    Ek is maar ‘n evangelis vir die boek, jong. Enige verkope vir enige plaaslike letterkunde is wonderlik.
    Soos die Dylan-fliek, is die Breyten-boek nie spookasem nie.
    Maar dis murg vir ‘n ou en ‘n vrou se pype!
    Izak

  4. soniacabano het gesê op Junie 8, 2008

    Uitstekende plasing, Izak, dankie vir die moeite wat jy gedoen het!

    Jy verdien meer as ‘n pluimpie vir jou resensies, jy verdien sommer ‘n paar randjies ook!

  5. Izakdv het gesê op Junie 8, 2008

    Hi Sonia
    Dis maar brood op die water, jong!
    Groete
    Izak

  6. jjanajj het gesê op Junie 9, 2008

    izak, dankie vir jou woorde.

    ek het die film gesien en ek is gek daaroor, juis saterdag so by die rugby in ‘n pub in kaapstad met ‘n vriend oor die film gepraat. en gister vir hom op stellenbosch my kopie van ‘n biografie oor dylan geleen.

    as mens bob dylan se verhaal ken, maak dit die film soveel, hmm, hoe kan ek dit sê – soveel *lekkerder* – of eerder, mens BESEF soveel meer waaroor gebeure in die film gaan en dit maak dat jy die film soveel meer waardeer en net terugstaan in absolute verwondering. ek was stom na die film en het toe maar gaan bier drink en daar het ek en my ou die film van ‘n kant af bespreek.

    ek wens almal wat hou van dink wil hierdie film sien. veral dié’s wat lief is vir bob dylan se musiek.

    ek gaan definitief liewe breyten se boek gaan ondersoek.

    dankie vir jou uitstekende posts
    groete, jana
    xx

  7. Izakdv het gesê op Junie 9, 2008

    Jana, ek dink jy’s doodreg. En ek is bly dat ander ook so mal was oor die film soos ek!
    Mooiloop, en dankie vir die saamgesels!
    Izak

Los ’n antwoord vir soniacabano. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.