Jy blaai in die argief vir 2008 Junie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kleinste Taalmuseum ter Wêreld

Junie 30, 2008 in Sonder kategorie

 Madlala het dié persverklaring aangestuur en gesê hy dink ek moet dit op my blog sit. So gemaak:

hAp

(HUIS VIR AFRIKAANSE POËSIE)

‘n Plek van Woorde. ‘n Tuiste vir Menswees.

WÊRELD SE KLEINSTE TAALMUSEUM IN PYPLYN

Die wêreld se kleinste Taalmuseum open 4-5 Oktober by die Huis vir Afrikaanse Poësie (hAp) in Capital Park, Pretoria.

‘n DROOM WORD GEBORE

hAp bestaan reeds sedert 2002 en het sy ontstaan gehad uit poësievoorlesings wat maandeliks in die voortuin plaasgevind het

Maar dié baba het heelwat groter geword. In 2005 is die Boekerij deur Mimi Coertse geopen, wat ‘n Letterkundige Naslaanafdeling vir Afrikaans, Nederlands en Engels bevat, sowel as ‘n afdeling waar boeke gekoop kan word. Op die Poësieroete in die bostuin kan jy weer van ons groot digters ontmoet. Die hAp kunsgalery bied altyd iets vir die kunsliefhebber.

Woordkunstenaars ontmoet reeds die afgelope 5 jaar elke Saterdag by hAp om aan hulle skryfwerk en gedigte te skaaf, deur woord en klank meegevoer te word en ander skrywers te ontmoet. hAp bied ook vanaf Mei 2008 twee kursusse oor die Afrikaanse Digkuns aan.

NUWE REIS BEGIN MET TAALMUSEUM

Met die byvoeging van ‘n Taalmuseum beloof hAp om voorwaar ‘n uitsonderlike taalhawe vir ieder en elk te wees.

‘n Ware Afrikataal wat wag om ontdek te word. Met ‘n mengelmoes van invloede deur Hollands, Maleis, Khoi, Frans, Portugees en ander inheemse tale het Afrikaans ontwikkel en gegroei tot die hartsuitdrukking van miljoene mense – elkeen so uiteenlopend soos hierdie unieke wêreldtaal, maar almal gebind deur ‘n gemeenskaplike klank.

Die hAp Taalmuseum Pretoria sal besoekers op ‘n reis neem na die ontspring van Afrikaans, padlangs verby Namakwa-Afrikaans, Bo-Kaap Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en haar vele ander tonge. En dan kronkel die taal met ‘n diaspora oor die groot blou water na Ausie-Afrikaans.

Maar haar klanke keer telkemale terug na Afrikabodem – ‘n plek wat haar altyd met trots sal ken oor stofpaaidjies, berg en seelangs – haar grondgebied en hartland.

Die Taalmuseum by hAp sal nie net die wêreld se kleinste en enigste privaat Taalmuseum wees nie, maar ook die wêreld se tweede Taalmuseum. Die Afrikaanse Taalmuseum in Paarl is natuurlik die enigste ander Taalmuseum in die wêreld. Welgedaan Afrikaans!!!

TAALSKENKINGS WELKOM

Persone of instansies wat graag items van belang in die Afrikaanse geskiedenis vir die hAp Taalmuseum wil skenk of betrokke wil raak by die vestiging van die museum kan Charl Pretorius by 076 842 9212 of info@hap.co.za kontak.

Word ‘n Vriend van die Taalmuseum – besoek ons webblad vir meer inligting.

BESOEK ONS!

hAp is Saterdae (09:00 – 17:00) en Sondae (11:00 – 17:00) oop. Vind ons by Venterstraat 116 en Malherbestraat 115, Capital Park, Pretoria.

Pak jou woordtas en kom reis saam met Afrikaans!

Besoek ons webblad by www.hap.co.za vir meer inligting oor die Taalmuseum en gebeure by hAp.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kung Fu Panda

Junie 29, 2008 in Sonder kategorie

Ja, ja, ek weet! Maar ek en knaap het dit gaan kyk en albei van ons het dit verskriklik geniet. Ek is allergies vir die Kung Fu-flieks, want ek weet die mense se “toertjies” is alles deur die rekenaar bemeester, so Jackie Chan en dies meer is glad nie my kos nie. (Hoewel Chan dikwels self sy rolle met die tong stewig in die kies speel.)

Maar ek hou van Chinese noedels, en die held van die fliek kán kook. Lekker.

Grootmense weet reeds wat gaan gebeur: Vet panda (met Jack Black se stem) word held wat woeste boosaard verslaan. Niks meer nie.

Gelukkig het die skeppers van Kung Fu Panda ’n sin vir humor gehad, so die fliek spot met die genre, dit probeer glad nie ernstig wees nie. Hulle gaan so ver om Chan en Luci Liu op te neem in die film. Chan se stem is dié van Monkey en Liu is Viper.

So? Wel, die tyd het gekom om die nuwe leier van die Kung Fu opperwêreld aan te wys. Vyf diere ding mee om die prys en dan val ’n vet panda hom des moers tussen vegters. En hy word aangewys. Oeps.

Die vyf diere, Tigress (Angelina Jolie), Monkey (Jackie Chan), Mantis (Seth Rogen), Viper (Lucy Liu), en Crane (David Cross), verwys natuurlik na die verskillende style in die filosofie van Kung Fu. (En, terloops, Tigress is uiters rondborstig, á la Jolie!)

Die fliek verloop soos te wagte, maar dis die humor wat tel. En, as ’n mens fyn oplet, sal julle verstaan hoekom dit juis ’n baie vet dier moes wees wat die bosaard, Tai Lung (Ian McShane) sou kon verslaan. Tai Lung sou enige een van die ander kon uitoorlê as hulle té goed gebou was. Kyk maar self hoe Po, die panda, lê en giggel teen die einde.

Vir alle ouers wat die kinders op hamsterwieletjies wil laat hardloop, of self teen die mure wil uitklim, hier is ’n lekker manier om hulle ’n ruk lank besig te hou.

Vir diegene wat ’n werklik interessante en intelligente gesprek oor die film wil lees, kliek hier om Shaun de Waal se resensie te lees. Die resensie maak die fliek die moeite werd. Volwassenes sal baat daarby om De Waal se stuk te lees en dan self die fliek te sit en geniet.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Durbanville Kinderhuis

Junie 28, 2008 in Sonder kategorie

Reeds vir 125 jaar gee die wonderlike mense van die Durbanville Kinderhuis om vir kinders.

Dis vir hulle wat die R1000 prysgeld gaan.

Gaan besoek hulle gerus.

www.durbanvillekinderhuis.org.za

Profile photo of izakdv

by izakdv

Dankie!

Junie 27, 2008 in Sonder kategorie

Griet, ek kom ewe doodmoeg by die huis vanaand en loer gou na die blogs. Blikskottel! Was ek verras!

Baie dankie, Krokodil.

Ek moet onmiddellik ook sê ek voel nog meer verbaas omdat ek so sukkel om tyd te kry vir alles wat ek graag wil doen. Ek doen nogal moeite om soveel van die blogs as moontlik te lees, maar eish. My werk is meer as voltyds, my seun hou my besig en dan moet ’n ou seker nou en dan slaap ook!

Mense, ek geniet die blog, en julle almal maak die lewe so ’n stappie ligter.

Baie dankie.

Ek sou baie graag die prysgeld wil skenk aan die Durbanville Kinderhuis. Hulle doen fantastiese werk. Melt, ek sal hulle rekening aan jou e-pos.

Aan julle almal. Hier is glasie op ons! Viva die bloggers, viva!

Krok, jy’t my dag gemaak.

Terloops, dié krokodil het ek afgeneem by die Mopaniedam in die Kruger Wildtuin. Die myne maak deesdae dat daardie krokodille almal vrek. Ons sal iets moet doen, anders gaan ons LitNet-krokodil een van die dae baie eensaam wees.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Stem vir jou gunstelingboek

Junie 27, 2008 in Sonder kategorie

Nielsen Book, ’n Britse maatskappy, is op soek na lesers se gunstelingboek.

Lesers ken dalk nie Nielsen Book se rol nie. Hulle hou ’n databank van boeke wat verskyn en stel die data beskikbaar aan boekwinkels. Gaan soek ’n boek by Exclusive Books of Wordsworths, en jy sal sien hulle kyk gou op ’n rekenaar. Die kans is goed dat hulle Nielsen Book se databank opsoek. Ook Kalahari.net maak gebruik van hierdie databasis.

Suid-Afrika het ook ’n tak, ek dink hulle is in Somerset-Wes.

Hoe ook al, dis ’n Britse maatskappy en hulle soek inskrywings. Daar is ’n inskrywingsvorm wat jy hier kan aflaai.

Onthou, hulle is Brits, so Trompie en die Boksembende mag dalk buite hulle verwysingsraamwerk val.

Wat gaan julle stem? Ek stel belang om te hoor.

En, Melt, kan ons nie ’n lekker local kompetisie hou om die gunsteling-Afrikaanse boek te kies nie?

Profile photo of izakdv

by izakdv

In die wolke

Junie 24, 2008 in Sonder kategorie

Okay. Laasnag tot verby middernag gewerk, maar vanaand opgemaak!

Ek was nou net saam met ‘n vriend op in ‘n Piper Cherokee. Opgestyg agter ‘n Boeing 737-800 (groot!) en toe geklim tot 1500 voet. Gitdonker om jou, net liggies waar jy kyk. Gevlieg tot by Atlantis, omgedraai.

Toe gee hy my die stuur en ek vlieg ons terug tot naby Muizenberg.

Hy’t gelukkig geland.

Yiha!

Profile photo of izakdv

by izakdv

NP van Wyk Louw, Stoffel Nienaber en lesende kinders

Junie 23, 2008 in Sonder kategorie

Om jou kind te laat lees is ’n enorme ding. Groots. Fantasties. Hier is heelwat bloggers wat dit duidelik doen. Nou wil ek julle in julle kwaad stook. Daar is ’n wonderlike stuk in Saterdag (21 Junie 2008) se BY wat ek graag vir alle bibliofiele aanbeveel. Ena Jansen, een van ons voorste akademiese uitvoerprodukte, het vyftig jaar na NP van Wyk Louw se vertrek uit Amsterdam ’n bietjie saam met sy dogter, Reinet, in Amsterdam gaan rondloop.

Ek gaan nie Jansen se stuk herhaal nie, lees dit gerus self. Julle gaan rol van die lag as julle sien wat Reinet met Adam en Eva aangevang het voor die hele skool!

Maar, ek wil graag twee goed verder toelig: a) Louw se grootse poging om kinders te laat lees, en b) iets baie persoonlik sê oor die verhouding tussen Louw en Shiela Cussons.

Oor lesende kinders

Reinet vertel in die vermelde artikel aan Ena Jansen dat haar pa haar toegelaat het om alles in die huis te lees, selfs van ’n baie jong ouderdom af; vandaar haar uitsonderlike vermoë om Adam en Eva te skets! En hoekom nie? (Ek glo nie jy moet kinders onnodig weerhou van “grootmensboeke” nie, behalwe as daar geweld in is wat hulle te ná aan die hart lê. My seun het byvoorbeeld nagmerries gehad oor Tsotsi, omdat hy treine ken. Aan die ander kant lees hy elke week die Mail & Guardian saam met my en hy wil baie graag meer weet as daar foto’s oor geweld is in Zimbabwe, of oor die slagoffers van xenofobie in is. Beperkte sekstonele en naaktheid kan kinders maar sien, maar nie is dit gewelddadig of skokkend is nie. Dis beter dat hulle baie vroeg al te laat verstaan wat gaan vir wat.)

As julle JC Steyn se biografie oor Van Wyk Louw lees, sal julle ook sien hoe hard Louw gewerk het om kritiese lesers onder die Afrikaanse kinders te kweek. Hy het keihard gewerk aan maniere om die nuus, die wetenskap en kuns aan jonger lesers voor te lê. Maar lees gerus die biografie. Dis toonkrullekker, al is dit so dik.

Louw se antwoord oor wat kinders moet lees, sou dus heel waarskynlik gewees het: “Alles.” Maar lees self, want ek interpreteer nou.

Oor Sheila Cussons

Ja, Louw en Cussons het ’n affair gehad. En, op ’n vreemde manier, het dit ’n enorme uitwerking op my lewe gehad.

Hoe so? Wel, in my blog oor Anne Frank het ek genoem dat my oupa, Jan van der Bom, dood is in die Tweede Wêreldoorlog.

Na die oorlog het heelwat Afrikaanse akademici hulle in Nederland bevind. Sommige het klas gegee, ander het verder studeer. Vier van diegene was NP van Wyk Louw en sy vrou Truida, en Stoffel Nienaber en sy vrou Sheila Cussons.

Die vier was vriende. Toe Stoffel se pa op sterwe lê, besluit hy om, per boot, na Suid-Afrika te vertrek. Volgens Stoffel het hy glo vir Van Wyk Louw gevra om “na Sheila te kyk”.

Nou ja. Wyk hét na Sheila gekyk.

Ena Jansen se artikel, waarna ek hierbo verwys, toon hoe Wyk en Truida mekaar uiteindelik weer gevind het, ook dat hulle baie lief gebly het vir mekaar.

Tussen Stoffel en Sheila het dit ongelukkig nie uitgewerk nie.

Die voordeel, vir mý, was dat Stoffel toe die jong weduwee, Miep van der Bom-Luitingh raakloop en al te gou dink dat die skattige, sewejarige Marianne darem nét te oulik is.

Stoffel en Miep het na Suid-Afrika teruggekeer. (Stoffel eerste, Miep en Marianne later.) Dirk (DJ) Opperman het die bruid weggegee in Kaapstad se Grootte Kerk. Onmiddellik daarna het die nuwe paartjie, Miep en Stoffel, amptelik die jonge Marianne aangeneem. Op dié manier het sy haar jong lewe lank in Suid-Afrika haar nuwe pa, die enigste wat sy ooit geken het, se van gehad.

So het dit dan ook gekom dat Stoffel en Miep my oupa en ouma was. En, soos Wyk vir Truida, het Stoffel en Miep my aangemoedig om alles te lees wat voorkom.

Ek onthou hou oupa Stoffel vir my en my sussie skyfies gewys het van die wêreld se groot kunswerke. Enige iets van Rembrandt tot Dali is vertoon. Ek het ook Magersfontein, o Magersfontein gelees in die dae tot dit nog ’n verbode boek was. (Ek het niks verstaan nie!)

Dus. Dankie, NP van Wyk Louw. Jy het aan my ’n oupa en ouma besorg wat ’n liefde vir lees aan my ma, Marianne, oorgedra het. Stoffel en Miep het verder baie gedoen om my te laat lees.

Was dit nie vir NP van Wyk Louw en Sheila nie, sou my ma in Nederland agtergebly het en haar kinders sou Kasies gewees het, wat waarskynlik niks van die Afrikaanse letterkunde sou weet nie!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Breyten Breytenbach se Windvanger

Junie 22, 2008 in Sonder kategorie

   

Breyten Breytenbach het op 20 Junie 2008 die Hertzogprys vir Windvanger ontvang.

Minder bekend, hier in die Kaap in elk geval, is dat Breyten op 16 Junie (hoe gepas!) ook die Universiteit van Johannesburg-Prys vir Skeppende Skryfwerk ontvang het, ook vir Windvanger.

En graag wil ek vir julle aanbeveel om Willie Burger se stuk te lees wat hy, as commendatio, geskryf het vir die geleentheid. Doen die moeite, dis dit werd!

Ek het destyds die bundel gekoop, pas na die verskyn het, maar ek moet erken dat ek gesukkel het om alles te verstaan. Daar is egter wonderlike oomblikke en pragtige grepe in wat ek wel raakgelees en baie geniet het.

Koop die bundel. Dit is by Kalahari.net te kry:

Dan, ’n huldeblyk aan Breyten, uit die pen van my ou pel, Madlala.

pastorale oomblikke

breyten
ek het nie ’n groen trui nie
ek het nie ’n graf nie
dus geen gans kon ikonoklasties
met my beendere bewerk gaan nie
dis my steelsels dié wat stinkend
die beddings van my verbeelding voed
wat bome laat bars
uit warm misigloos
dis die gesteelde bome wat rooiborsduiwe lok
lok na die tuine in my kop
en meisies om onder die bome te sit
en seuns om onder die meisies te sit
en my drome
om boeke, boeke met breyten digte
dig onder die tonge van die seuns sit
tjie tjie tjie, tjie tjie tjie

­- Madlala Makhaza

Profile photo of izakdv

by izakdv

Anne Frank nou Afrikaans

Junie 21, 2008 in Sonder kategorie

    

In die afgelope paar maande het ons die malligheid van xenofobie aan ons eie basse gevoel. My baas het gedurende dié tyd ’n gesin van Zimbabwe onder dak gehad. Een Vrydagmiddag, oor ’n glas rooiwyn, het sy ons vertel hoe dié ervaring haar laat wonder het oor hoe sy sou reageer as haar gesin dalk daar onder so moes ly – soos die geval sou gewees het as sy Jode sou moes wegsteek tydens die Tweede Wêreldoorlog.

My ma is tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore, in Nederland, en my ouma het baie vertel van die bomme en die hongerwinter. My oupa is dood tydens dié oorlog. Ek het dus ooggetuieverslae gehoor van daardie mal tyd, tog was een van die eerste gewaarwordinge wat ék van daardie oorlog gehad het, die dagboek van Anne Frank. Ons leef moes deur boeke, nie waar nie?

Ek het dit in Engels gelees.

Die goeie nuus is dat haar dagboek deesdae in Afrikaans beskikbaar is. Ons groot digteres, Lina Spies, het die dagboek uit die oorspronklike Nederlands vertaal. Die vertaling word genoem Die Agterhuis. Dis voorwaar iets wat julle kan oorweeg om te koop.

Nie net is Anne Frank se verhaal iets wat alle lesers sal bybly nie, maar om dit in Afrikaans te lees, sal wonderlik wees. Lina is ’n baie fyn woordkunstenaar en sy ken Nederlands baie goed. Daar sal nuanses in hierdie teks wees wat ek nooit in Engels kon lees nie.

Wat meer is, die Engelse teks wat ek in die sewentigs gelees het, het deurgeloop onder sensuur. Van die “intieme” passasies is uitgelos. Ons Lina sal nie dit doen nie.

Reeds in 1971 het Lina die gedig “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” gepubliseer, maar dit het langer geneem vir haar om die tyd te vind om hierdie liefdestaak te voltooi.

Vir ’n volledige resensie van Die Agterhuis, lees gerus wat Alphonso Groenewald te sê het.

In 2006 het Lina Spies ’n stuk geskryf “In die skadu van Auschwitz”. Dis die moeite werd om dit te lees.

Die Agterhuis is by Kalahari.net te koop.

Profile photo of izakdv

by izakdv

JK Rowling by Harvard

Junie 18, 2008 in Sonder kategorie

Mense, ek stuur nie maklik “inspirational” goed aan nie, maar hier is iets wat elke mens moet lees. JK Rowling het die gradeplegtigheid by Harvard toegespreek. Lees dit self. Hier is een klein aanhaling.

If you choose to use your status and influence to raise your voice on behalf of those who have no voice; if you choose to identify not only with the powerful, but with the powerless; if you retain the ability to imagine yourself into the lives of those who do not have your advantages, then it will not only be your proud families who celebrate your existence, but thousands and millions of people whose reality you have helped transform for the better. We do not need magic to change the world, we carry all the power we need inside ourselves already: we have the power to imagine better.

En moenie Ezile se blog oor die Voëlvry-beweging vergeet nie!