Jy blaai in die argief vir 2008 Mei.

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Nuwe begin

Mei 30, 2008 in Sonder kategorie

My seun was vreeslik beïndruk met Hello-Kietie se inskrywing “Murphy en die Goggafamilie.” Knaap is nou eenmaal ook mal oor goggas en wou hy baie graag weet wat hierdie seuntjie met sy goggaboks doen.

Sien, my knaap het ook ’n goggaboks én hy het onlangs ’n klomp “wurms” in die tuin gevang en in ’n roomysbak aangehou. Hierdie “wurms” is ruspes wat op ons kamferfoelie wei. Kleinman het gereeld nuwe blare ingegooi. Een vir een het die “wurms” in papies verander en, tot ons vreugde, het daar die ander dag ’n skoenlapper uitgekom. (Hy was eweneens beïndruk met Meisiekind se foto’s en was heel vies toe hoor ek het hulle nie geneem nie.)

Ek wil dit heel metafories aanhaak by kommentaar wat Kittie onlangs op my blog gelaat het: Hoe begin ons weer die stukkies optel na xenofobie en hoe stuur ons mense weer terug na hulle ou lewens en huise toe? Dit was basies haar vrae op my inskrywing oor die visstokstorie.

Ek het wel hoop: Jare terug, in die vroeë 1990’s, het ek en Madlala mekaar daar in die townships van Pietermaritzburg leer ken. Hy het ’n groot Afro gehad, ek het lang hare gehad. Ek was ’n bietjie verlief op een van sy vriendinne (kom ons noem haar Z). Z was ’n klein mensie. Die huis langs hulle s’n is afgebrand een nag. Z se huis het vol bekers gestaan wat sy met redenaarskompetisies gewen het. Maar ons het nooit geweet of haar huis dalk volgende kon wees nie. Of Madlala s’n, of …

Z en Madlala het in die ANC-zone gebly. Dit alleen was genoeg om ’n petrolbom te verwag.

Ek het ook mense geken in die IVP-zone. Hulle was ewe bang vir aanvalle van die jong Turke in die ANC.

Vandag is Madlala gemaklik. Ons pel Themba is ’n bestuurder by ’n enorme konstruksiemaatskappy. Ons ander pel, Sku, is ’n baie hoë kop by SARS (dis hoekom ek weet ek nooit belasting kan ontduik nie.)

Gaan ry vandag daar in daardie townships en jy sal nie kan glo dat ons soms daar gesit het en gehoor het hoe die faksies op mekaar skiet met outomatiese gewere nie. (’n AK en ’n R4 klink eenders as jy in die middel sit!)

Vir Z het die daais nie so mooi geval soos vir my ander pelle nie. Dalk oor sy ’n meisie was en verantwoordelik moes wees vir die meisiekind (ewe petite) wat ’n paar jaar later gebore is.

Die punt is: Dit is moontlik vir ’n gemeenskap om op te hou haat en weer te begin.

My dilemma is dat ons ’n langtermynoplossing moet soek vir die armoede wat ons land steeds in die gesig staar. En vir die onderwyskrisis. (Kyk ’n bietjie wat het Chollas en Clinton hieroor gesê op my inskrywing “Born Free? Ga!”)

Kassie sê hulle het vanmiddag tydens happy hour daaroor gepraat by die werk. Al sy base het voorbeelde gehad van Zimbabwiërs wat uitstekende Engels praat, goed opgelei is, en baie eenvoudige werk doen. Plaas hulle teen ons ongeletterde matrikulante…

Weer eens moet ek moed skep. Daar uit die toenmalige tuisland van Venda het talle dokters en ander professionele mense gestap. Talle. Van hulle is vandag bekende name in ons samelewing. Maar weet julle wat? Hulle het almal een skool in gemeen. Mbilwi Hoërskool.

Mbilwi het deur al die donker jare uitstekende studente gelewer. Een vriendin van ons, Ntondeni, is ’n baie senior persoon in die mediese politiek. Haar ma verkoop vandag nog tamaties langs die pad. Tog kon Ntondeni dit maak tot in die hoogste kringe in ons land se staatsdiens.

En so kan ek aangaan. Mbilwi het dit vir Ntondeni moontlik gemaak, al het haar ma geen formele opleiding nie.

’n Paar mense wat saamspan kan ’n enorme verskil maak. En uit ’n lelike “wurm” kan ’n pragtige skoenlapper kom.

Mooiloop!


(Ek het die een buite Pietermaritzburg afgeneem.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Born Free? Ga!

Mei 28, 2008 in Sonder kategorie

 (Ek het dié foto net buite Johannesburg geneem.)

Elize, Kassie se vrou, is op die oorlogpad. Sy het gehoor iemand het verwys na die “born frees” wat nie na Zuma wou luister nie en net wil oorlog maak teen die buitelanders.

Die argument was glo dat die “born frees” geen gevoel van die struggle het nie en dus glad nie omgee as die ANC, die “liberator”, praat nie.

Ek moes giggel toe ek hoor die jong klomp het vir Zuma middelvinger gewys, maar ek dink Elize het ’n punt beet. Haar argument is dat dié kinders wel ná apartheid gebore is, maar dat daar van vryheid geen sprake is terwyl jy ekonomies nog in kettings leef nie.

Kom ons wees eerlik, die spul dronklappe wat mense vermoor en huise afbrand, doen dit omdat hulle besef die “ander” is beter daaraan toe as hulle. Die “ander” werk, hulle begin spazas en hulle kry klaarblyklik meer vroue. (Die kwessie van ’n gebrek aan vroue is maar ’n teer punt as ’n man eers ’n bier of twee in het.)

Hier is ’n dilemma: 50% van alle kinders wat vanjaar matriek gaan maak, sal nooit in die formele sektor werk kry nie. Vryheid? Nee.

Om te kan stem is een ding, om jou plek in te neem in die stoet van hulle wat huis opsit, ’n geliefde neem en kinders grootmaak is ’n ander ding.

Ek weet hoe moeilik dit is om vir ’n uitstekende, swart matrikulant werk te kry. Sy het ’n matriek, het rekenaarkursusse gedoen, kinderopleiding en noodhulp … Enige iemand wat haar in diens wil neem? Ek kan nie enige iemand kry nie. Nou betaal ons haar maar. Sy verdien egter beter.

Ons weet die regering, en die vakunies, mors met die onderwys. Die gemiddelde leerder wat vandag matriek maak, is funksioneel ongeletterd. Glo julle my nie? Toets ’n bietjie daardie kinders met hulle matrieksertifikate.

Die dilemma is dat daar mense van Rwanda, Uganda, Somalië en Nigerë kom wat grade het en bereid is om basiese arbeid te verrig, of die kennis en vaardighede het om ’n besigheid te begin.

Ons skoolverlaters weet nie eens wat ’n begroting is nie.

Natuurlik is dit grotendeels Bantoe-onderwys se skuld, maar die gebrek aan vordering die afgelope twaalf jaar moet volledig voor die deur van ANC en Cosatu gelê word.

’n Kind wat in 1990 gebore is, is nou 18.

Op 18 wil ’n seun meisies optel, werk kry, dalk selfs ’n tweedehandse kar koop.

Vir ’n jong seun in die township wat vandag 18 is, is dit ’n voorreg om nie honger te gaan slaap nie.

Is ons verbaas dat hulle kwaad en is en die “ander” uit die land wil jaag omdat hulle self geen toekoms het nie?

Ons moet nog dôners hard werk in hierdie land as ons ’n hele generasie “born frees” wil maak.

A luta continua!


Het hierdie pragtige kinders ’n toekoms? (Ek het dié foto net buite Stellenbosch geneem.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Goue grondboontjie

Mei 28, 2008 in Sonder kategorie

Vanoggend se goue grondboontjie gaan aan Jimmy Carter, ’n toenmalige president van die VSA. Carter het dié naweek die leiers van Europa gesmeek om die VSA se gek beleid jeens die Midde-Ooste teen te staan.

Too little too late, Jimmy, old boy?

Dalk, maar die feit dat ’n senior Amerikaanse politikus so iets in die openbaar kan sê, is verblydend.

Wat tans in die Gaza gebeur, is veel erger as die xenofobie in Suid-Afrika.

Ons moet dit verdoem.

Have a peanut, mr Ex-Prez!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Jonathan Kaplan wen die internasionale Robert Burns Humanitêre Prys

Mei 27, 2008 in Uncategorized

Wie van julle ken The Dressing Station (2001) en Contact Wounds (2007), deur Jonathan Kaplan?

Kaplan is in Suid-Afrika gebore en het medies geswot by UCT. Na sy internjaar het die weermag hom egter in die hande gekry en, omdat hy geweier het om vir NP te veg, het hy landuit gevlug.

Kaplan is egter geen sissie nie en het hom baie gou op die internasionale gevegsfronte van die wêreld bevind. En só het hy naam gemaak. In mediese kringe is hy bekend vir sy geweldige kennis, sy vaardigheid as snydokter en sy selflose opoffering onder verskriklike toestande.

In literêre kringe is hy bekend vir die aangrypende boeke wat hy geskryf het.

Die Robert Burns Internasionale Humanitêre Prys word toegeken aan diegene wat ander se menswees eerste stel. Dié prys is Skotland se weergawe van ’n Nobelprys vir Vrede.

Viva Suid-Afrika!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Pa, maak vir my ’n visstok, Pa

Mei 26, 2008 in Sonder kategorie

My seun sê gister vir sy ma: “Mamma, ek wens Pappa was nie ’n boekman nie, maar ’n visserman.”

Eish. Arme kind. Pa moes weer ’n manuskrip red (iemand anders s’n).

Maar pa het darem tyd gemaak om met hom te speel ook. En, ons het selfs ’n visstok gebou. (Ek sal nie foto’s stuur nie, maar die katrol werk, al kom dit van ’n stukkende randsnyer af.)

Ek en Knaap was ook die naweek by een van die skuilings. Die rustigheid daar het my opgeval. Mense het sit en kaart speel, party het gelees en ander het maar gesit en gesels.

’n Helder bal het daar rondgelê.

En hoekom nie? In die malligheid moet ons voortgaan, moet ons lewe.

Ek het baie gedink aan Sonia se opmerking dat ons by die kosfees in die KIKS kos weggee, maar nie vir die arme mens onder die brug naas die KIKS nie.

Die punt is, ons móét leef. Ons móét visstokke maak. Ek móét aandag gee aan my seun se drome en wense, al is daar mal mense wat ons land ontwrig. Ons moet ook die kokke ondersteun en die pikante smaak van vars tuna leer onderskei van die gemorskos in kitskosplekke. Ons moet egter ook ons kinders nou en dan hulle sin gee sodat daardie mense in die kitskosplekke hulle McJobs kan behou.

Iemand, ek weet werklik nie wie nie, het eenmaal gesê kinders is Zen-Meesters. Hulle leer ons om in die oomblik te leef.

Een van Kassie se vriende het vir sy dogter ’n partytjie gehou vir haar sestiende verjaarsdag tydens die slagting in Rwanda (in Rwanda).

Ek werk vir ’n moewiese groot internasionale maatskappy. Ons het miljoene dollars geskenk aan die slagoffers van Burma se orkaan en China se aardbewing. Die Suid-Afrikaanse tak het egter nie op ons laat wag nie, ons het ons eie insameling begin vir die vlugtelinge wat nou swaarkry. En raai wat? Hulle het amptelik gevra dat die skenkers nie sal vergeet om balle te gee nie.

Ek het gedink dis moerse.

Ons moet speel. Ons moet voortgaan.

En, mense, ons moet die nuwe regering (ek dink klaar Post-Mbeki) op hulle tone hou. Wat by Polokwane gebeur het was die begin van die revolusie wat nie in 1994 gebeur het nie. Dit kan verskriklik positief wees, of dit kan verskriklik negatief word.

My inligting, en Kassie se vrou bevestig dit, toon dat die nuwe regering besef hulle het die siviele gemeenskap nodig. Mbeki is soos Jan Smuts. Hulle twee is / was wêrelddenkers, maar nie een kon die plaaslike mense verstaan nie.

Zuma is ’n tweegatjakkals wat enige iets vir enige een sal sê, maar hy het soliede mense agter hom. Zweli Mkhize is besig om die minister en die LUR’e van Gesondheid ore aan te sit. Die TAC se goeie netwerk steek tans enorme gate in die regering se swak intelligensie, en nie net oor Vigs nie. (Moenie vergeet nie, dit was Zackie sterk punt in die 80’s!)

Daar is mense in die nuwe regering wat luister. Moenie alles in die Zuma-kamp verdoem nie. (Julle mag kom kritiseer!)

As ek en my seun oor tien jaar nog langs die viswaters wil staan, dan moet ons dit regkry om armoede te beveg, buitelanders te help, en ons buurstate op te hef. Ons kan. Maar dan moet almal hande vat en stem dik maak teen dit wat verkeerd is.

Net soos ons almal saamgestaan het teen die onnosel geweld van die afgelope paar dae.

(Terloops: Ek pes visvang, maar ek sal dit enige tyd doen as dít kwaliteit-tyd saam met my seun sal waarborg!)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Viva Suid-Afrika!

Mei 25, 2008 in Sonder kategorie

(Vir die stuk oor Pahad (amptelik vs nie-amptelik), kliek hier.)

Dis lekker om ‘n Suid-Afrikaner te is, te is!

Ek is werklik bemoedig deur die fantastiese samewerking tussen al die verskillende gemeenskappe om die mense in nood te help.

Gister was ek ’n kort ruk by een van die kerke waar mense skuil, en raai wat, daar stap toe ’n aantal Moslems in met kos!

Dis mos nou hoe dit moet wees. Alle rasse, alle gelowe, alle denominasies, een doel, een kontinent.

Lekker!

My droom is egter steeds dat ons die regering sover kan kry om die armoede op die langer termyn te beveg. Dit is half hartseer dat ons nou kos uitdeel, maar daar is steeds soveel behoefte onder ons eie landgenote.

Weer eens wil ek sê daar is wonderlike organisasies regdeur die land wat geweldig baie doen. Ek was verlede jaar ’n kort rukkie deurmekaar met ’n fondsinsameling wat daar in die middestad van Johannesburg gebeur het. Ek het eenvoudig net van my foto’s professioneel laat druk en aan hulle geskenk. Dié is dan verkoop. Klein verskilletjie, ja, maar dis die punt. Dis so maklik!

Ek moes werk die naweek, maar ek het ook tyd spandeer aan my seun. Dit was heerlik. Ek gaan probeer om môreaand daaroor te skryf.


Dis een van die foto’s wat ek destyds gestuur het. En dis heel gepas vir nou. Anders, maar saam in een potjie is ons!

Profile photo of izakdv

by izakdv

SOS: Hande benodig

Mei 24, 2008 in Sonder kategorie

Kassie se vrou het pas gebel. Hou op preek en kom help, was haar boodskap.

Die Metodiste Kerk in Kaapstad loop oor. Die Somalies is pas geskuif na een van die Moskees, want meer Zimbabwiërs is op pad.

Dis ’n ware SOS. Enige iemand in Kaapstad wat kos, kombers, klere of hande het, kontak asseblief die Metodiste Kerk, of die stad se noodspanne. Hulle het hulp nodig.

Profile photo of izakdv

by izakdv

God is ’n kreet

Mei 23, 2008 in Sonder kategorie

Dié titel is ’n reël uit Neil gedig “Ambraal: Die kleiner dood”. Soos die meeste gesprekke oor die teologie maar verloop, gaan ek sy versreël ’n bietjie uit verband ruk, maar ek dink dit is ’n ontsettende mooi waarheid. (En dis nie net omdat Neil nice was met my nie, ek is gewoon mal oor daardie reël uit sy gedig.)

God is ’n kreet.

Dit kan ’n vloek wees, maar dit kan ook die antwoord op die kreet wees. En dis die antwoord op die kreet, die menslikheid, wat tel. Ek het nog altyd gedink die waarde van enige religie lê in die manier waarop dit ons inspireer om aan ons medemens goed te doen.

God kan op baie maniere manifesteer. Ek glo nie sy is vasgevang in geboue, boeke, of rekenaars nie. Ook nie eens in godsdienste nie.

Een van Neil se ondersteuners, Emma, het ook dié reëltjie, waarvan ek hou, uitgelig in haar kommentaar.

Emma is self ’n digtende blogger. In haar gedig “humanity is a prostitute” skyf sy “humanity became a / prostitute, undressing / the creature, we / once called man”.

Gelukkig weet ons daar staan in ’n baie bekende boek dat ’n rebelse Jood eenmaal gereageer het op ’n noodkreet van ’n ontugtige vrou. En hy het vir die al die skynheilige blikskottels wat haar wou seermaak daarop gewys dat hulle kaler is die prostituut, of haar klaarblyklike kliënte.

Ons is almal kaal. En ons kan almal antwoord.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Maar wat kan ek doen?

Mei 22, 2008 in Sonder kategorie

Ek is bly julle het my Pahad-stuk geniet. Ek wil vanaand effens meer stemmig raak, omdat ek ’n interessante goed raakgeloop het op my en ander se blogs. Dit is belangrik om perspektief te probeer behou in hierdie malligheid.

Sonia Cabano het “realiteit-ontwykingsindroom” gepleit toe sy kommentaar gelewer het op my inskrywing “Trane en ’n klomp berou”. Dit was haar manier om te verduidelik waarom sy nie kommentaar lewer op die xenofobie nie. Tog, gaan lees haar blog. Kyk hoe gee sy om vir die bergies wat by haar kom aanklop. (Dis nou as sy nie kaal poseer nie!)

Natie Niemand het weer baie meer persoonlik gesê oor ’n Zimbabwe-vlugteling wat soms vir haar werk: “Ek werk solank aan plan B om vir hom alternatiewe blyplek te kry dat hy wanneer dit nodig raak baie vinnig uit die township kan kom. Maar wat van die ander miljoene wat nie iemand het wat vir hulle ‘n plan kan maak nie?” (Sien my inskrywing “Berigte ter velde”)

En dis die punt. Ons kan hier sit en tik, maar … Sonia is reg, help die armes en duik as die ander goed nie binne jou bereik is nie.

Ek wil graag aanbeveel dat julle hierdie stuk lees as julle meer wil weet. Dit is geskryf deur die Southern Africa Trust. Hulle doen opheffingswerk regdeur Suidelike Afrika. In het korte sê hulle die geweld is grootliks te wyte aan armoede. Dit is nie toevallig dat dit uitbreek op ’n tyd wat kospryse geweldig vinnig styg nie.

Dus: Ons kan help deur armoede te beveg. Hoe? Deur kos uit te deel, soos Sonia. Deur ’n verskil te maak aan een persoon, soos Natie. Ek skenk geld aan die Southern Africa Trust, dis hoekom ek hulle nuusbrief kry. Dalk is daar ’n sopkombuis in jou omgewing?

Alle bietjies help. Ons kan nie die miljoene help nie, Natie.


Ek het dié foto in ’n township buite Stellenbosch geneem. Dis een van die outjies wat ek so op ’n manier ondersteun.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Amptelike vs nie-amptelike nuus

Mei 21, 2008 in Sonder kategorie

Vanaand se kwota spot moet gelê word voor die deur van Aziz Pahad. Raai wat sê hy oor Zimbabwe? Hy vertel vandag vir die media dat hulle suig. Hoekom? Want hulle publiseer hulle feite oor Zimbabwe sonder om eers by die regering te kom hoor of dié feite waar is.

Blikskottel. Dink aan hierdie Monty Python-stuk:

Joernalis: Ek was daar, in Zimbabwe, meneer Pahad. Ek het met die slagoffers gepraat. Die geweld is erg.

Pahad: Weet jy. Volgens die regering, en veral ons loflike president, gaan dit eintlik baie goed daar. Dis die Britte wat wil hê ons moet dink dit gaan sleg.

Joernalis: Maar, meneer Pahad. Ek het foto’s! Ek is darem al jare lank ’n joernalis. Ek het voorbereid gekom vir die vergadering.

Pahad: Foto’s? Nee, wat ou seun. Ek het baie foto’s wat ek op Google kan aflaai. Hier is selfs een van ’n kaal … Oeps. Nee, wat, ons weet almal hoe die kamera’s lieg.

Joernalis: Maar, meneer Pahad. Wat dan van al die Zimbabwiërs wat tans in ons land is?

Pahad: O, jy bedoel almal wat hier kom inkopies doen het? Nee, wat, was jy vandag by die stasie? Daar was honderde Zimbabwiërs wat op pad terug is Zim toe.

Joernalis: Meneer Pahad, met respek. Hulle vlug van die geweld hier in ons land!

Pahad: Geweld in ons land? Nee, wag ou seun, voor jy sulke nonsens verkoop moet ons jy eers hoor of die regering sê daar is geweld in ons land …

Madlala sê dalk moet die slim man ’n slag letterkunde lees. Almal wat belangstel in die letterkunde kan vir jou sê dat die grootste sprong in die geskiedskrywing gekom het na die Amerikaanse soldate uit Viëtnam uitgekom het en begin het om húlle verhale te vertel. En, dit weet ons almal, daardie verhale het redelik skerp verskil van die VSA-regering se standpunt!

“Ja,” sê ou Kassie. “Ons het bo in Angola gesit en met die radio’s opgevang hoe Pik vir die land vertel dat daar nie ’n enkele Suid-Afrikaanse soldaat in Angola was nie.”

Nou moet ek darem ’n beurt kry om slim te wees: “Het julle gehoor dat die VSA-regering onsuksesvol probeer het om die blogs te stop van die soldate in Irak en Afganistan?”

“Dalk moet jy ’n blog skryf daaroor,” sê Kassie en gooi nog ’n knertsie.