Suid Afrika is nog lank nie ‘n bieradvertensie nie

Weet julle mense, ek weet nie meer nie.  Is dit ek of is hierdie land besig om uitmekaar uit te bliksem? Dit is so frustrerend en ek voel magteloos.  So, daarom kots ek vanaand in die world wide web se skoot.

Vanaand kyk ek weer nuus soos meeste aande, wat ’n movie! Ek sê nog altyd Afrika is ’n kontinent wat met homself baklei.  Die mense weet nie eers waaroor hulle baklei nie, dis asof hulle iets soek om oor te baklei! Dit is alles so onnodig. Maar, voor julle my nou as ’n naïewe kolonialis uitmaak, dink nou mooi oor wat besig is om te gebeur.

Was dit Nietzsche wat gesê het insanity in individuals is rare – but in groups, parties, nations and epochs, it is the rule?

Mense staak en eis belaglike salarisse.  Kry hulle dit nie, dan beskadig en verbrand hulle die einste plekke waar hulle weer wil gaan werk as hulle gekry het wat hulle wil hê.  Hulle moor mekaar, brand karre uit en beskuldig wit mense daarvoor. Is dit net ek? Of wat? ’n Kleurling man van Swellendam verduidelik koorsagtig op die nuus vir die kamera hoe die “blanke mense onse menswaardigheid van ons vat!” ’n Kleurling vrou is baie ontevrede want sy moet “van die môre tot die aand vir hulle werk en ons kan dit nie mee verduur nie!”

Weet jy my skat, ek kan ook nie meer vir my baas van die môre tot die aand werk nie. Ek kan dit ook nie meer verduur nie. Sy is wit, so beteken dit dat ek alle wit mense moet haat? As jy dan so donners ontevrede is, staan van jou dik gat af op en soek ’n ander werk. Werk is skaars hoor jou sê, so is goeie werkers wil dit vir my voorkom. Vir jou sal ek in my lewe nooit werk gee nie, nooit nie. Nie dat ek in die posisie is om vir jou werk te gee nie, maar hipoteties gesproke… not a chance!

Selfs al is ek ook ontevrede oor my salaris, waag ek dit om te staak, sit ek so gou met my wit gat op straat…maar daar word derduisende mense op een slag afgedank en skaars ’n week daarna is hulle terug met ’n verhoging. Mense, vir die laaste byna agt jaar swot ek om iets agter my naam te kry sodat ek ’n beter werk kan kry. Op skool het ek by die Wimpy gewerk om geld te spaar vir my studies na skool. My ouers het nie geld gehad vir sulke dinge nie. Gedurende universiteit het ek drie werke gehad om alles betaal te kry. Wingerd gesnoei dat my hande blase is, hi-fi’s gesmous dat my ore suis en wyn verkoop dat my kop draai. Sodanig so dat ek in my derde jaar heeltemal gevou het en in die malhuis beland het.  Ek het my gat af gewerk en vandag sit ek steeds sonder ’n kwalifikasie, maar weet jy ek het steeds nie moed opgegee nie. Ek dans nie in straat om te kry wat ek wil hê nie, ek drink liewer bietjie minder oor ’n naweek, eet pap as dit moet om ’n paar vakke in ’n semester te doen.  Ek skaam my oë uit my kop uit om in die straat te gaan rond dans en asblikke om te gooi vir meer geld, omdat ek te sleg is om vir myself te dink.  We are all in the gutter, but some of us, some of us are looking at the stars (dankie Oscar).

Julle sal nou sê, wel dit is maklik om vir my om te praat ek is bevoordeel deur apartheid. Wel was ek bevoordeel toe my ma en my vierjarige self in die kas moes wegkruip toe my pa vir drie dae en drie nagte, twee kilometer onder die grond vasgekeer is deur oproerige stakers? Dat ons moet luister hoe die weermag skote afvuur, hoe stakers in die strate rond hardloop soos mal mense en klippe deur die vensters gooi.  Was ek bevoorreg om vir weke aaneen van brood en grondboontjie botter moes lewe omdat ek moes handboeke koop?  Hoe is ek bevoordeel toe ek vir die laaste drie posisies waarvoor ek aansoek gedoen het, vertel is dat ek te wit is? Nee my vriend, dink weer. Dit wat ek vandag het en is, het ek duur voor betaal – no jokes.

Daar was ’n tyd dat ek skaam was om ’n Afrikaner te wees. Wel dit is verby. Die rede daarvoor is ’n foto wat my suster by die myn hospitaal op haar foon geneem het.  Ek worstel al vir die laaste twee weke of ek dit moet plaas, want dit is skokkend.  Dat een mens dit aan ’n ander kan doen gaan my verstand te bowe – en dit net omdat hy werk toe wou gaan. Dit is barbaars, dit is evil!  ’n Man word met ’n panga aangerand, ’n ander se ore word afgesny en mense sit en tjank dat die polisie mense doodskiet.  Well save me! Ek sou self ’n paar voorbeelde gemaak het as ek in hulle skoene was. Ek het niks om oor skaam te wees nie.

Ek is baie dinge, maar ’n rassis is ek nie. Maar deesdae, verstaan ek baie dinge beter – oorlog is dalk nie so slegte idee nie…

[subscribe2]

 

9 thoughts on “Suid Afrika is nog lank nie ‘n bieradvertensie nie

  1. Ek lees hier dat jy, (soos die meerderheid) nou gatvol is vir die k@k wat nou in SA aangaan en dat oorlog miskien ‘n plan is. Nooit ‘n goeie idee nie, maar dinge moet tog een of ander tyd tot ‘n punt kom…

  2. Oorlog is die laaste ding wat ons nou nodig het.In oorlog is daar geen wenners nie!
    Wat die toestand in SA betref,het ons nie veel beheer daaroor nie en dit help nie om gal af te gaan oor die onnosele denke en optredes,waarmee ons aldag te doene kry nie.Dit versuur net jou eie lewe.So ‘n bietjie keelskoonmaak help darem,al verander dit niks nie!

  3. Pingback: 2012: Om te soek en om te praat |

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *