Die enigste verskil is genade

Junie 10, 2011 in Sonder kategorie

Ek sit hier en lewer ‘n besliste bydrae tot Eskom se kragverbruik. Dis VREK koud in Johnnesburg. Eintlik sou ek ‘n ander byvoeglike naamwoord wou gebruik, maar die is ‘n blog vir ordentlike mense… (Wel, meestal.)

Ek is dankbaar dat ek elektrisiteit het, en dit kan bekostig om hierdie winter ‘n verwarmer aan te skakel. My hart wil breek vir die armes. En ons is omring van hulle. Ek hoor gister dat 41% van mense tussen 18 en 29 werkloos is. En volgens Solidariteit se navorsing in 2010 is byna ‘n kwart van “employable” wit mense in SA ook werkloos.

Ek en jy sien die armoede elke dag nader kruip. Ons sien hoe die asdromkrappers meer word, hoe die mense op straathoeke wat in reen en koue (selfs op ‘n dag soos vandag waar dit lyk of dit enige oomblik kan begin sneeu) steeds hoopvol wag op ‘n dag se werk. Ons sien die mense by verkeersligte met plakate wat hul treurige penaries uitspel.

Nee, seg iemand gister vir my, hy gee nie vir bedelaars nie. Dis onbybels. Dan lees ons seker maar verskillende Bybels. Want myne sê juis dat hy wat iemand honger of ongekleed sien en iets daaraan doen, dit vir God self doen.

En dis die bottomline, soos hulle in Engels sê: ons wat met ons monde bely dat ons Christene is, moet dit ook met ons hande wys. ‘n Goeie hart beteken niks as dit nie tot in jou hande wys nie.

Ons moet God se hande en voete op aarde word. Dit help regtig niks dat jy saans vir die armes en koues en werkloses en siekes bid as jy priester- en Levietstyl by hulle gaan verbyloop en anderpad kyk nie. Jy en ek moet die barmhartige Samaritaan wees.

En nee, dis nie net die regering se plig om armes en siekes te help nie. Ja, dis primêr die regering se plig. En ja, die arm mense moet ophou kinders hê. En ja, hulle moet probeer om iets vir hulleself te doen. En ja op ‘n duisend ander argumente.

Maar nie één van daardie argumente kanselleer ons Goddelike opdrag wat sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself nie.

So, gee vandag ‘n koppie koffie, of ‘n kombers, of ‘n ou trui, of ‘n bord kos. Omdat jy kan, en omdat jy moet. En onthou: there, but for the grace of God go I…

13 antwoorde op Die enigste verskil is genade

  1. Hahahahaaaa! Jy nie daarvan gehou nie?

  2. inadk het gesê op Junie 10, 2011

    . . en selfs net ‘n glimlag en gesêlsie maak al harte warm . . dar is soveel vreugde in ‘deel’ met jou medemens . maar ja, ook ek kry bibber koud!

  3. Vetjan het gesê op Junie 10, 2011

    Ilse soms gee ek iets teen my beterwete, as jy vir die gomkoppie by die robot gee, dan verseker jy hy plus 3 maatjies is môre daar, hulle loop sommer weg van die skuiling af …

  4. lora2me het gesê op Junie 10, 2011

    Ilse, jy is reg. Dit klink miskien simplisties, maar vandat ek meer gee, het ek altyd geld in my beursie OM te gee. ‘n Man het nou die dag “hugs” verkwansel vir ‘n donasie en ek het nogal gedink dis snaaks, want al is die mense gullible, ja, het hulle ge-hug dat die ribbes kraak. Jy kan nie glo hoe uitgehonger mense vir mekaar se liefde en aandag is nie.

  5. Daar is myns insiens definitief ‘n beginsel van saai en maai in die lewe, Lora. Of jy nou glo in God, of nie. Noem dit karma, noem dit wat jy wil, maar wat jy uitgee kom terug na jou toe. Ook as jy ‘n oop hand het vir ander mense. Ek het dieselfde ondervind. As ek gee, het ek altyd genoeg om te gee.
    En ja, ons is almal velhonger. Dink net hoeveel geskeides ken jy, of weduwees, of weeskinders. Ons het mekaar nodig, of ons dit nou wil weet of nie.

  6. Heeltemal reg, Twolips. Ek gee ook nie graag vir mense wat ek kan sien drankprobleme het nie. Of serial bedelaars. Jy ken mos die soort 0 hulle wat jare lank al professioneel bedel nie. En ja, ek beskou my huishulp en tuinman as deel van my tiende as dit kom by ekstra gee. Dit help bloedmin ek gaan lewer kos af by ‘n charity as my eie werkers honger ly of koudslaap nie.
    As ek wonder of my gawe vir drank of gom of swiets gebruik gaan word, onthou ek: dis nie my probleem nie. Dis ‘n saak tussen daai een en sy gewete.

  7. Toegegee. Maar as ek in hierdie JHB-winter moes buite slaap, sou ek dalk ook wou gom snuif. Dan voel jy nie die koue nie.
    Natuurlik hoef mens nie vir obvious misbruikers te gee nie. Maar ek voel jammer vir mense op wie se gesig jy die swaarkry kan sien.

  8. Jy is reg, Ina. Partykeer kan selfs jou vriendelikheid iemand se dag maak.

  9. het tuinier wat regtig niks beteken nie – hy is egter altyd op sy pos en vee darem die stoep en ander los blare op. Ons “charity case” as daar regtig swaar werk is wat gedoen moet word, kry ek iemand anders

  10. jannel1 het gesê op Junie 17, 2011

    Ek lees nou die dag van ‘n onbekende man wat op straat verkluim het. NIEMAND verdien DIT nie, al is hy/sy ook hoe sleg in ons oë. Ek bly skuldig voel as ek daaraan dink.

    Op ‘n ander noot:

    Baie dankie vir die bemarking wat jy vir ons en my dan ook spesifiek daar by Rooi Rose gedoen het. Ek hoop net die Rooi Rose tannies weet waarvoor hulle, hul inlaat as hulle Jan se Twak gaan lees 🙂

  11. Groot plesier, Jan!
    En ja, ek stem saam, GEEN mens verdien so tragiese einde nie. Dink net hoe dit moet voel.

  12. Dankie Vlieg! 🙂

  13. Ek stem saam, Roos. Charity begins at home, en in ons gevalle is dit iemand soos die.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.