Deo Volente

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Die oproep kom net toe ek op Seidelberg-landgoed uitklim om iets saam met my suster te gaan drink. Ek is minder as ‘n uur in die Kaap. Dis 18 Mei, en duisende mense in Suid-Afrika staan steeds in rye om te stem in die plaaslike verkiesings. Ek is hier vir my boekbekendstelling die volgende oggend in Kaapstad.

 

Dis ‘n skoolvriendin, Lucia Giesler, wat bel om te sê sy het by een van haar vriendinne gehoor Christa Jonker-Jordaan, my Faceboek-vriendin, is dood in ‘n motorongeluk. Die details is vaag, maar die nuus is verdoemend finaal: Christa is dood.

 

Vriendelike, vrolike Christa. Altyd-‘n-positiewe-woord-vir-ander-Christa. Inspirerende Christa. Woordmens, mense-mens.

 

Sy was net ‘n FB-vriendin. Ek tik die “net” met huiwering, want soos mede-skrywer Marion Erskine dit so mooi stel in sy huldeblyk-blog oor Christa, kan mens lief raak vir iemand wat jy nooit in lewende lywe ontmoet het nie.

 

Ek het wel die voorreg gehad om vir Christa te ontmoet. Minder as 24 uur voor haar dood, om presies te wees. Sy het spesiaal na my boekbekendstelling in Bloemfontein gekom. Vroeër, voordat die datum gefinaliseer was, het sy laat weet ek moet asseblief die aand voor dit by hulle kom oornag dat ons kan sjampanje drink. Kinderlik opgewonde oor my eerste boek, terwyl sy toe al ‘n hele paar op haar eie kerfstok gehad het. Gasvry. Ruimhartig.

 

Toe die datum gefinaliseer word, laat weet Christa dat sy ongelukkig dan uitstedig gaan wees. Want, vertel sy met duidelike trots, haar derde kleindogter word die dag na my bekendstelling met ‘n keisersnee gebore. In George. En sy en die trotse oupa gaan soontoe om hulle seun en sy vrou se vreugde oor ‘n eersteling te gaan meemaak. En sommer haar oudste dogter se 34e verjaarsdag te vier.

 

Maandag die 16e, op my verjaarsdag en ‘n dag voor die Bloemfontein-bekendstelling, kry ek ‘n e-pos van Christa. Hulle reisreëlings het verander, en hulle ry nou eers op die 18e Mei. Dus kan sy my boekbespreking bywoon.

 

Tienuur Dinsdagoggend stap ek by die biblioteek in Fichardtpark in, en sien dadelik vir Christa. Die enigste bekende gesig tussen die twintig plus mense wat my daar inwag. Hier, sê sy, na ons gegroet het, is jou verjaardagpersent. Vir gister. Binne-in is een van haar boeke, en ‘n bottel Charlie-lyfroom.

 

Die mooi gebaar betrap my onverhoeds. Dit was glad nie nodig nie, sê ek. Maar ek weet vir iemand soos Christa het dit nie gegaan oor nodig of onnodig nie. Sy het so iets gedoen omdat sy wil. Omdat dit was wie sy was: ‘n blymoedige gewer.

 

Sy het so effens teëgestribbel toe die Volksbla-fotograaf ons wil afneem. Nou is dit een van die heel laaste foto’s wat van haar geneem is. Dalk die laaste.

 

Na die tyd gesels ons. “Slaap julle oor?”, vra ek toe ons oor die reis George toe praat.

 

“Nee wat,” sê sy. “Nie die keer nie. George is maar net agt ure van Bloemfontein af.”

 

Maar net agt ure, wat sy nooit oorleef het nie. Iewers naby Victoria-Wes is sy op slag dood en haar man Gerrit ernstig beseer in ‘n motorongeluk. Wat gebeur het, weet ons buite die intieme kring van haar familie nog nie presies nie.

 

Wat ons wel weet, is dat die wêreld ‘n armer plek is sonder haar warmte. Met mense soos sy sal mens in ‘n oorlog kan gaan veg. Of nee, jy sou waarskynlik met Christa aan jou kant die oorlog in die eerste plek kon vermy. Sy sou selfs ‘n diktator anders kon oortuig met haar warmte, haar sagtheid, haar ingebore liefde vir mense.

 

Sy het een maal in ‘n gesprek so oor die afstand heen beken sy hou nie daarvan om voor mense te praat nie. Na my boekpraatjie los sy ‘n boodskap op my FB-muur dat sy my die gemak beny waarmee ek dit kon doen.

 

Nou, liewe Christa, hoef jy nooit weer daaroor te bekommer nie, liewe mens. Maar ek is seker daarvan jy het klaar ‘n skare mense bevriend in die hemel, en hulle luister maar te graag na wat jy sê. Inteendeel, ek dink jou friend requests stroom in.

 

Maar ons hier gaan jou mis. Erg baie. En dan wil ek nie eens begin om aan die hartseer te dink wat jou familie tans beleef nie. Daar het vanoggend ‘n nuwe babatjie haar eerste skreeu gegee te midde van diepe droefheid wat ver buite julle gesinskring rimpels maak. Ek glo dat sy vir jou hartsmense net vreugde sal bring, en ek weet dat jy haar kan sien. Dat jy trots is. Dat jy daar van waar jy is sal uitkyk vir haar.

 

Ek weet ook dat sy eendag van jou sal hoor. Jou boeke sal lees. En sal trots wees op die ouma wat ons wêreld ‘n beter plek gemaak het. Wat almal van tieners tot bejaardes geïnspireer het en ons dikwels op Facebook laat lag het. Of laat kalmeer het.

 

Rus sag, liewe Christa. Ek sal jou FB-boodskappe mis, jou SMSe op spesiale dae soos Moedersdag en Goeie Vrydag onthou. Jou grappige e-posse gaan nooit weer in my inboks land nie. Die ete wat ons vir 4 Junie in Johannesburg beplan het, gaan nie meer gebeur nie…

 

Ons enkele gesprekke onthou ek met deernis, en ek weet nou dit was gans te min. Maar ek is dankbaar dat ek jou kon geken het. Ek bid vir jou geliefdes, en ek weet duisende ander mense doen ook. Want jy was ons almal se ma en vriendin.

 

Jou dood laat my teruggryp na die afkorting. DV. Deo Volente. As God wil. Jou dood het my daaraan herinner dat ‘n kuier met ‘n vriendin en die weersiens van familie net genade is. Dat ons die dag moet gryp. Dat ons memories moet maak met ons geliefdes.

 

Maar veral dat ons onsself moet wees terwyl ons leef. Met oorgawe. En dat dit piekfyn is om hartlik en sag te wees.

 

Tot ons weer sien, Christa. Deo Volente.

18 antwoorde op Deo Volente

  1. Dankie Vlieg. Ek het dit daar gepost. Ek hoop Volksblad stuur vir hulle die foto wat Dinsdag geneem is.

    Lekker slaap!

  2. zephur het gesê op Mei 20, 2011

    Great Tannemys…hier loop ek jou raak. Welkom hier

    Ja ek is skaars gewees, maar is stadig maar seker besig om my frekwensie van besoeke hier weer te verhoog.

    Ja ek sien op die resultate die Wes Kaap is omtrent DA blou…dink dis tyd om soontoe te trek

  3. TS het gesê op Mei 20, 2011

    Jammer … *drukkie*

  4. betsgreyling het gesê op Mei 20, 2011

    Vandag is ek saam met jou hartseer oor iemand wat ek nooit geken het nie.

  5. katrina het gesê op Mei 20, 2011

    Pragtig geskryf en ek stem saam – ‘n mens kan baie lief word vir ‘n mens se kubervriende en -vriendinne…

  6. inadk het gesê op Mei 20, 2011

    Woensdagaand bel Hanlie uit Bloemfontein en vertel . . en nou jou pragtige woorde. ‘n Drukkie vir jou en vir Hanlie – Christa het julle albei fyn aangeraak!

  7. Dankie Ina.

  8. Inderdaad, Katrina.

  9. Sy was ‘n fantastiese mens.

  10. Dankie Tina.

  11. Hi Zep! Ek is ook maar skaars. Moes inderhaas nog ‘n boek skryf in minder as twee maande, en dan is daar nog al die ander gewone sperdatums.
    Jip, as daar net baie werk vir my was in die Kaap…
    Maar aan die ander kant: eenmaal lief vir Johannesburg, altyd lief vir Johannesburg.

  12. Maankind2 het gesê op Mei 20, 2011

    Ek huil sommer weer as ek hier lees. Net so het ek haar ervaar.
    Haar hart was ruimer as haar boesem. Het jy Marion se huldeblyk gelees?

  13. Ja, ek het. Dit was pragtig.

  14. Modigliani het gesê op Mei 20, 2011

    ‘n Pragtige huldeblyk.
    Ek sluk met moeite aan die knop in my keel.

  15. Jeanne, ons sluk almal. En vee trane af oor ‘n mens wat ons nie eers ooit ten volle kon ken nie.

  16. jannel1 het gesê op Mei 20, 2011

    + Respekte +

  17. Dankie Jan!

  18. zephur het gesê op Mei 26, 2011

    Ja nes jy daar seg

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.