Broeis, ADD of plein mal?

Mei 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek is broeis.

There, I’ve said it.

Op amper 42 voel ek erg moederlik. Maar voor jy vrees ek gaan iets onbesonne aanvang, lees verder.

Die oorsaak vir al die tere gevoelens in my is omtrent 30 cm lank met beentjies wat omtrent 10 cm hoog staan. Van bo af lyk hy bietjie soos ‘n tafel. ‘n Klein, pikswart harige tafeltjie. Nie goed om enige iets op neer te sit nie, want daarvoor is hy veels te woelig. Gang op, gang af, tjaarts hy (soos ek glo graag kleintyd gepraat het).

Totdat snoestyd kom, en hy sy sagte bed en sy sagte speelgoed opsoek. Of ‘n mens. Die lekkerste slaap is immers vas teen ‘n menselyf, verkieslik hier by die hartklop rond. Dit hoor jy sommer aan die welbehaaglike suggies wat hy in sy slaap gee.

As ek op deadline is met werk, lyk enige iets vir my meer aanloklik as werk. Dis ‘n ou-ou probleem – al op universiteit tydens eindeksamens agtergekom ek is eintlik DOL oor blokkiesraaisels. En vreeslik deeglik! Ek kan nie ophou voor ek daardie heel laaste woord neergepen het nie…

Hierdie hele week voel ek weer so. Eerder as om die boek klaar te maak waaraan ek werk, of die tydskrifartikels vir die moedelose redakteur te stuur, eye ek my kaste en voel hoe my hande jeuk om dit reg te pak. Nou. Dadelik. Of dalk wil my hande bietjie in die tuin werk. Nou. Dadelik. Of ‘n trui brei. (En ek kan nie eers regtig brei nie… Net stokkensteek, soos my ma altyd gespot het.) Ek was selfs al lus vir admin! (En enige iemand wat my ken sal weet dat admin nie juis my sterk punt is nie…)

Een ding wat ek wel met ‘n rein gewete mag doen, is koerant lees. ‘n Joernalis moet mos darem ingelig bly. Maar selfs dit ontaard toe byna in ‘n volle dag in die bed. Want sien, my seun Peanut kom lê toe in my arms. En sug van lekkerte. En dan kan ‘n ma wat haar sout werd is, mos nie opstaan en aangaan met haar dag nie? Dis… uhm… wat is die woord? Harteloos. Dis reg. Harteloos. Want wie ontneem nou ‘n 12 weke oue baba-Yorkie van so ‘n lewensvreugde? Beslis nie ek nie!

Sug. Maar ek moes. Ter wille van my oortrokke fasiliteit veral. G’n werk, g’n betaling. En nou net bly ek en Peanut op straat. Maar terwyl ek so op sy bewende snorbaardjies lê en afkyk het, het ek gewonder oor die broeisgeit. Is dit omdat daar geen vooruitsigte meer vir ‘n regte baba is nie? Omdat hy so besonders cute is? Omdat my mensbabas al nege en twaalf is? Omdat vroumense maar altyd week raak by die aanskoue van iets klein en dierbaar?

Ek het ook teruggedink aan my oorlede ma. Toe ek in St.5 was, was sy omtrent 46. Nie ligjare ouer as wat ek is nie. En sy was heeltemal betotteld oor Yati, haar Toy Pom. En daar het ek gedog ek gaan nooit soos my ma word nie… Hah!

PS: Peanut het eintlik die verkeerde naam. Hy moet Pie-Naughty heet. Of Kraai. Nes ‘n kraai blinkgoed versamel en na sy nes toe sleep, doen hierdie woeilige seuntjie dit. Ek het al vanoggend ‘n Poetry-kershouer gaan red wat hy van ‘n ekstra lae koffietafel af ontvoer het. Gelukkig sonder skade. Hoe die klein lyfie dit gang-af gedra het teen daardie spoed sonder om oor sy eie pote te val, laat my verstom. Die kershouer is gevolg deur ‘n groot teddie van Zoe. Sy eie sagte speelgoed het die wêreld vol gelê soos hy dit vir homself wegsteek, maar Fudge was die uitverkore een. En later ‘n handdoek. En ‘n pen wat hy iewers vasgelê het. Ons het ook al ‘n kwas, ‘n paar skoene, ‘n T-hemp uit die wasgoedmandjie en stringe toiletpapier in sy nes gevind. (Bewaar jou siel as dit laag genoeg hang vir hom om af te trek…)

‘n Seker teken dat ek óf broeis óf mal is weens sperdatums óf uiters aandagafleibaar is onder druk, is dat ek elke streek en perkaat van hom te oulik vind…

Wag, ek moet gaan. Ek hoor die klokkie om sy nek soos hy in die gang afgetjaarts kom (‘n Veiligheidsmaatreel omdat hy so klein is dat mens hom kan miskyk.) Ek wonder wat hy nou vir my gaan bring!

(Op die foto slaap hy en sy meerkat na ‘n laaaaaaaaaaaaaaang dag. Knus in sy mandjie langs my lessenaar.)

10 antwoorde op Broeis, ADD of plein mal?

  1. TS het gesê op Mei 4, 2011

    Ag hoe fraai… geniet die klein ding

  2. HeavyHenry het gesê op Mei 4, 2011

    Jis maak daai woelige kloklingel jou nie mal nie?

  3. ilsesalzwedel het gesê op Mei 4, 2011

    Hy lui darem saggies Henry! 🙂

  4. ilsesalzwedel het gesê op Mei 4, 2011

    Ek doen, Tina! Elke dag is pret.

  5. HeavyHenry het gesê op Mei 4, 2011

    🙂

  6. Modigliani het gesê op Mei 4, 2011

    Hy klink super oulik.
    My kinders is nog te klein vir my om broeis te raak….

  7. Maankind2 het gesê op Mei 4, 2011

    My oë sien vandag niks, ek kan nie sien of dit kat of hond is nie! Ai tog. Ek raak mos weer aan die koekies bak as daar iets is wat móét klaar.

  8. ilsesalzwedel het gesê op Mei 4, 2011

    Dis ‘n Yorkshire terrier, MaanKind.

  9. ilsesalzwedel het gesê op Mei 4, 2011

    Geniet hulle Jeanne!

  10. foot loose het gesê op Mei 7, 2011

    I really tried to understand this post maar my taal is just not up to it! Hope you get what you want.:-)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.