Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Deo Volente

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Die oproep kom net toe ek op Seidelberg-landgoed uitklim om iets saam met my suster te gaan drink. Ek is minder as ‘n uur in die Kaap. Dis 18 Mei, en duisende mense in Suid-Afrika staan steeds in rye om te stem in die plaaslike verkiesings. Ek is hier vir my boekbekendstelling die volgende oggend in Kaapstad.

 

Dis ‘n skoolvriendin, Lucia Giesler, wat bel om te sê sy het by een van haar vriendinne gehoor Christa Jonker-Jordaan, my Faceboek-vriendin, is dood in ‘n motorongeluk. Die details is vaag, maar die nuus is verdoemend finaal: Christa is dood.

 

Vriendelike, vrolike Christa. Altyd-‘n-positiewe-woord-vir-ander-Christa. Inspirerende Christa. Woordmens, mense-mens.

 

Sy was net ‘n FB-vriendin. Ek tik die “net” met huiwering, want soos mede-skrywer Marion Erskine dit so mooi stel in sy huldeblyk-blog oor Christa, kan mens lief raak vir iemand wat jy nooit in lewende lywe ontmoet het nie.

 

Ek het wel die voorreg gehad om vir Christa te ontmoet. Minder as 24 uur voor haar dood, om presies te wees. Sy het spesiaal na my boekbekendstelling in Bloemfontein gekom. Vroeër, voordat die datum gefinaliseer was, het sy laat weet ek moet asseblief die aand voor dit by hulle kom oornag dat ons kan sjampanje drink. Kinderlik opgewonde oor my eerste boek, terwyl sy toe al ‘n hele paar op haar eie kerfstok gehad het. Gasvry. Ruimhartig.

 

Toe die datum gefinaliseer word, laat weet Christa dat sy ongelukkig dan uitstedig gaan wees. Want, vertel sy met duidelike trots, haar derde kleindogter word die dag na my bekendstelling met ‘n keisersnee gebore. In George. En sy en die trotse oupa gaan soontoe om hulle seun en sy vrou se vreugde oor ‘n eersteling te gaan meemaak. En sommer haar oudste dogter se 34e verjaarsdag te vier.

 

Maandag die 16e, op my verjaarsdag en ‘n dag voor die Bloemfontein-bekendstelling, kry ek ‘n e-pos van Christa. Hulle reisreëlings het verander, en hulle ry nou eers op die 18e Mei. Dus kan sy my boekbespreking bywoon.

 

Tienuur Dinsdagoggend stap ek by die biblioteek in Fichardtpark in, en sien dadelik vir Christa. Die enigste bekende gesig tussen die twintig plus mense wat my daar inwag. Hier, sê sy, na ons gegroet het, is jou verjaardagpersent. Vir gister. Binne-in is een van haar boeke, en ‘n bottel Charlie-lyfroom.

 

Die mooi gebaar betrap my onverhoeds. Dit was glad nie nodig nie, sê ek. Maar ek weet vir iemand soos Christa het dit nie gegaan oor nodig of onnodig nie. Sy het so iets gedoen omdat sy wil. Omdat dit was wie sy was: ‘n blymoedige gewer.

 

Sy het so effens teëgestribbel toe die Volksbla-fotograaf ons wil afneem. Nou is dit een van die heel laaste foto’s wat van haar geneem is. Dalk die laaste.

 

Na die tyd gesels ons. “Slaap julle oor?”, vra ek toe ons oor die reis George toe praat.

 

“Nee wat,” sê sy. “Nie die keer nie. George is maar net agt ure van Bloemfontein af.”

 

Maar net agt ure, wat sy nooit oorleef het nie. Iewers naby Victoria-Wes is sy op slag dood en haar man Gerrit ernstig beseer in ‘n motorongeluk. Wat gebeur het, weet ons buite die intieme kring van haar familie nog nie presies nie.

 

Wat ons wel weet, is dat die wêreld ‘n armer plek is sonder haar warmte. Met mense soos sy sal mens in ‘n oorlog kan gaan veg. Of nee, jy sou waarskynlik met Christa aan jou kant die oorlog in die eerste plek kon vermy. Sy sou selfs ‘n diktator anders kon oortuig met haar warmte, haar sagtheid, haar ingebore liefde vir mense.

 

Sy het een maal in ‘n gesprek so oor die afstand heen beken sy hou nie daarvan om voor mense te praat nie. Na my boekpraatjie los sy ‘n boodskap op my FB-muur dat sy my die gemak beny waarmee ek dit kon doen.

 

Nou, liewe Christa, hoef jy nooit weer daaroor te bekommer nie, liewe mens. Maar ek is seker daarvan jy het klaar ‘n skare mense bevriend in die hemel, en hulle luister maar te graag na wat jy sê. Inteendeel, ek dink jou friend requests stroom in.

 

Maar ons hier gaan jou mis. Erg baie. En dan wil ek nie eens begin om aan die hartseer te dink wat jou familie tans beleef nie. Daar het vanoggend ‘n nuwe babatjie haar eerste skreeu gegee te midde van diepe droefheid wat ver buite julle gesinskring rimpels maak. Ek glo dat sy vir jou hartsmense net vreugde sal bring, en ek weet dat jy haar kan sien. Dat jy trots is. Dat jy daar van waar jy is sal uitkyk vir haar.

 

Ek weet ook dat sy eendag van jou sal hoor. Jou boeke sal lees. En sal trots wees op die ouma wat ons wêreld ‘n beter plek gemaak het. Wat almal van tieners tot bejaardes geïnspireer het en ons dikwels op Facebook laat lag het. Of laat kalmeer het.

 

Rus sag, liewe Christa. Ek sal jou FB-boodskappe mis, jou SMSe op spesiale dae soos Moedersdag en Goeie Vrydag onthou. Jou grappige e-posse gaan nooit weer in my inboks land nie. Die ete wat ons vir 4 Junie in Johannesburg beplan het, gaan nie meer gebeur nie…

 

Ons enkele gesprekke onthou ek met deernis, en ek weet nou dit was gans te min. Maar ek is dankbaar dat ek jou kon geken het. Ek bid vir jou geliefdes, en ek weet duisende ander mense doen ook. Want jy was ons almal se ma en vriendin.

 

Jou dood laat my teruggryp na die afkorting. DV. Deo Volente. As God wil. Jou dood het my daaraan herinner dat ‘n kuier met ‘n vriendin en die weersiens van familie net genade is. Dat ons die dag moet gryp. Dat ons memories moet maak met ons geliefdes.

 

Maar veral dat ons onsself moet wees terwyl ons leef. Met oorgawe. En dat dit piekfyn is om hartlik en sag te wees.

 

Tot ons weer sien, Christa. Deo Volente.

Sien ek jou hierdie week by my boekbekendstellings in Bloem en Kaapstad?

Mei 15, 2011 in Sonder kategorie

Daar is nog ‘n paar plekke oop, so kom maak gerus ‘n draai. Hier is die kontakbesonderhede vir besprekings (vir spysenieringsdoeleindes).

Sien jou hopelik daar!

Broeis, ADD of plein mal?

Mei 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek is broeis.

There, I’ve said it.

Op amper 42 voel ek erg moederlik. Maar voor jy vrees ek gaan iets onbesonne aanvang, lees verder.

Die oorsaak vir al die tere gevoelens in my is omtrent 30 cm lank met beentjies wat omtrent 10 cm hoog staan. Van bo af lyk hy bietjie soos ‘n tafel. ‘n Klein, pikswart harige tafeltjie. Nie goed om enige iets op neer te sit nie, want daarvoor is hy veels te woelig. Gang op, gang af, tjaarts hy (soos ek glo graag kleintyd gepraat het).

Totdat snoestyd kom, en hy sy sagte bed en sy sagte speelgoed opsoek. Of ‘n mens. Die lekkerste slaap is immers vas teen ‘n menselyf, verkieslik hier by die hartklop rond. Dit hoor jy sommer aan die welbehaaglike suggies wat hy in sy slaap gee.

As ek op deadline is met werk, lyk enige iets vir my meer aanloklik as werk. Dis ‘n ou-ou probleem – al op universiteit tydens eindeksamens agtergekom ek is eintlik DOL oor blokkiesraaisels. En vreeslik deeglik! Ek kan nie ophou voor ek daardie heel laaste woord neergepen het nie…

Hierdie hele week voel ek weer so. Eerder as om die boek klaar te maak waaraan ek werk, of die tydskrifartikels vir die moedelose redakteur te stuur, eye ek my kaste en voel hoe my hande jeuk om dit reg te pak. Nou. Dadelik. Of dalk wil my hande bietjie in die tuin werk. Nou. Dadelik. Of ‘n trui brei. (En ek kan nie eers regtig brei nie… Net stokkensteek, soos my ma altyd gespot het.) Ek was selfs al lus vir admin! (En enige iemand wat my ken sal weet dat admin nie juis my sterk punt is nie…)

Een ding wat ek wel met ‘n rein gewete mag doen, is koerant lees. ‘n Joernalis moet mos darem ingelig bly. Maar selfs dit ontaard toe byna in ‘n volle dag in die bed. Want sien, my seun Peanut kom lê toe in my arms. En sug van lekkerte. En dan kan ‘n ma wat haar sout werd is, mos nie opstaan en aangaan met haar dag nie? Dis… uhm… wat is die woord? Harteloos. Dis reg. Harteloos. Want wie ontneem nou ‘n 12 weke oue baba-Yorkie van so ‘n lewensvreugde? Beslis nie ek nie!

Sug. Maar ek moes. Ter wille van my oortrokke fasiliteit veral. G’n werk, g’n betaling. En nou net bly ek en Peanut op straat. Maar terwyl ek so op sy bewende snorbaardjies lê en afkyk het, het ek gewonder oor die broeisgeit. Is dit omdat daar geen vooruitsigte meer vir ‘n regte baba is nie? Omdat hy so besonders cute is? Omdat my mensbabas al nege en twaalf is? Omdat vroumense maar altyd week raak by die aanskoue van iets klein en dierbaar?

Ek het ook teruggedink aan my oorlede ma. Toe ek in St.5 was, was sy omtrent 46. Nie ligjare ouer as wat ek is nie. En sy was heeltemal betotteld oor Yati, haar Toy Pom. En daar het ek gedog ek gaan nooit soos my ma word nie… Hah!

PS: Peanut het eintlik die verkeerde naam. Hy moet Pie-Naughty heet. Of Kraai. Nes ‘n kraai blinkgoed versamel en na sy nes toe sleep, doen hierdie woeilige seuntjie dit. Ek het al vanoggend ‘n Poetry-kershouer gaan red wat hy van ‘n ekstra lae koffietafel af ontvoer het. Gelukkig sonder skade. Hoe die klein lyfie dit gang-af gedra het teen daardie spoed sonder om oor sy eie pote te val, laat my verstom. Die kershouer is gevolg deur ‘n groot teddie van Zoe. Sy eie sagte speelgoed het die wêreld vol gelê soos hy dit vir homself wegsteek, maar Fudge was die uitverkore een. En later ‘n handdoek. En ‘n pen wat hy iewers vasgelê het. Ons het ook al ‘n kwas, ‘n paar skoene, ‘n T-hemp uit die wasgoedmandjie en stringe toiletpapier in sy nes gevind. (Bewaar jou siel as dit laag genoeg hang vir hom om af te trek…)

‘n Seker teken dat ek óf broeis óf mal is weens sperdatums óf uiters aandagafleibaar is onder druk, is dat ek elke streek en perkaat van hom te oulik vind…

Wag, ek moet gaan. Ek hoor die klokkie om sy nek soos hy in die gang afgetjaarts kom (‘n Veiligheidsmaatreel omdat hy so klein is dat mens hom kan miskyk.) Ek wonder wat hy nou vir my gaan bring!

(Op die foto slaap hy en sy meerkat na ‘n laaaaaaaaaaaaaaang dag. Knus in sy mandjie langs my lessenaar.)