Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Kos vir die siel

April 23, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie skryfsel het oorspronklik op Landbouweekblad se gesinsblad verskyn. Ek onthou die Saterdag wat ek dit geskryf het, baie goed. Dit was ook hier in April rond, en koud en natterig buite, omtrent tien jaar gelede. Nes vandag in Johannesburg (die nattigheid is in die lug, maar dit het eergister laas gereen.)

Intussen het ek ‘n seun bygekry, geskei en ‘n klomp nuwe kosherinneringe bygekry. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

Geseende Paasnaweek vir julle!

Buite is dit 7 grade (maksimum) en ek mor telefoonlangs oor die koue by my ouboet.

 

“Dan moet jy vandag kos vir die siel maak – pannekoek, ertjiesop, tuisgebakte growwe brood met regte botter, patats… dis alles kos vir die siel. Dalk maak dit vet, maar dis goed vir die siel!”

 

Ons eet nie net om nie van honger om te kom nie – ons eet agter die lekker aan, of uit assosiasie , of vir sosiale verkeer. Kos is ‘n kragtige simbool – daarmee onthou ons, vergeet ons, besweer ons, beïndruk ons en gedenk ons.

 

Limonade en glanskersies herinner my tot vandag toe aan my kleintydse siekbeddens – vyf jaar lank het dokters kopgekrap oor wat my siek maak, en was my lewe een van vurige koorsaanvalle, bloedtoetse en naarheid. Die koors het my ma besweer met limonade, en tydens koorsaanvalle het ek die smaak van rooi kersies in my mond gekry, wat natuurlik die naarheid versterk het. Dit was 5 jaar voordat ‘n pediater tydens ‘n noodoperasie die knoop in my derm opgespoor het, en 30 jaar voor ek weer ‘n glanskersie kon eet.

 

Hoenderpastei, skaapboud, witrys, gebraaide aartappels, soetpatat en blomkool met witsous is meeste van ons se herinnering aan Sondae se huiskos, met hier en daar so ‘n variasie op die groente. Vir party is dit ertjies, vir ander pampoenkoekies of gebraaide pampoenskywe. Maar vir byna almal van ons simboliseer so ‘n ete warmte, moederliefde en gasvryheid.

 

Dik boontjiesop of rokerige ertjiesop en pannekoeke is vir deurnat-dae, en trifle (wie eet nou koekstruif?) is Kers- en Nuwejaarskos. Dan mag jy neute en room en sjerrie en al die ander dekadensie geniet sonder ‘n enkele gedagte aan ‘n dieët.   Dis nou as jy plek het na die koue vleise met tuisgemaakte mosterdsous, kerriebone, aartappelslaai en koperpenniewortelslaai.

 

Kos vertel ook stories – my pa, ‘n kind tydens die Depressie, het jare terug ‘n storie vertel wat in my kop vasgesteek het. Noem die woord souskluitjie, en ek onthou met weemoedigheid sy verhaal van die arm boer uit hul kontrei wat ‘n skottel vol souskluitjies geskenk het vir die kerkbasaar. Vee kon hy nie afstaan nie, geld nog minder. En niemand wou van sy offer eet nie… die skottel is onaangeraak huis toe. Kossnobs is daar baie, en dis skynbaar nie ‘n snobisme wat die laaste dekade ontstaan het nie.

 

Basaarpoeding assosieer ek met my pa – by enige geleentheid waar deurmekaarpoeding te koop is, sal jy hom vind. Kerkbasaar, skoolkermis, noem maar op. En die mieliepap wat ons Sondae voor kerk geëet het met regte botter of vleissous van die vorige aand se braaivleis, was Pa se kooksel.

 

Papaja’s, avokadopere, piesangs en peri-peri prawns herinner my aan die drie wonderlike jare wat ek en my man in Zoeloeland gebly het – ek onthou die resies met die blou-apies om eerste die soet papaja’s te oes, en as jy te laat was, het jy maar rondom die gate gesny wat hul klein vingertjies in die soet vrug geruk het op hul daklangse strooptog. Ek ween en kners my tande as ek R3 vir ‘n enkele avokado moet betaal, en onthou hoe ek ‘n skrale twee jaar terug R5 vir ‘n stapeltjie avokadopere met bottergeel, romerige vleis betaal het. Ek onthou die bejaarde Zoeloevrou by wie ek dit gekoop het – sy wat met oorgawe Afrikaans gepraat het in ‘n deel waar Engels die voertaal was, en sommer ‘n paar ekstra vrugte in die sak gedruk het vir die lekkerte om te kon praat in die   taal waarmee sy grootgemaak is.

 

Die slegter tye in die lewe word ook skerper onthou deur sekere kos: sagopoeding soos in koshuiskombuise en weermagmenasies berei, inspireer niemand nie. Ook nie bredies met onnoembare bestanddele wat liefdeloos op ‘n bord gesmyt is nie. Of sop wat van al die oorskiet van die week gemaak is nie… Maar gelukkig was ek ‘n Matie, en kon my studente-sakgeld rek tot by ‘n pot tee en vars botterbroodjies met room by D’Ouwe Werf, of soms tot by kaas van die Simonsberg-kaasfabriek met growwe brood, olywe en ‘n bottel Eersteriviervallei Pinotage – ‘n winskoop teen R4 ‘n bottel omdat niemand toe nog die kelder ontdek het nie. Saam met jou vriende het jy gefees, landsprobleme opgelos en herinneringe geweef wat nou nog hou.

 

Vir party van ons lê die lekkerte in doodgewone smake: warm brood en botter met souterige biltong, gebakte poeding met dik vla, ‘n lekker pot skenkels. Ander kry lekker by die gedagte aan afval, vissop en kaviaar. Self sal ek moeilik verbyloop by Italiaanse kos of geroosterde koningklip met ‘n suurlemoen bottersousie. Of tjops soos my man en my pa dit braai. En Ma se veerligte kookmelkkoek sou heerlik wees saam met die elfuur-tee…

 

Dis jammer dat ons kos gekompliseer het met kilojoules en energie-waardes, kombinasies en cholesterol-tellings. Ons het die skepping se perfekte balans versteur, en probeer nou op allerhande maniere uit ons self-geskepte gemors kom.   “As God wou hê dat ons moes kilojoules tel, sou ons optelmasjientjies i.p.v.smaakknoppies op ons tonge gehad het” lees die e-pos spotprentjie wat ‘n vriendin onlangs vir my gestuur het.   Ek dink sy het ‘n punt daar beet….