Radio Glory in die traumakamer

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

Die dag as daardie nuwe babatjie in jou arms gesit word, klim jou hart uit jou bors. En stap vir ewig buite jou lyf rond. Nie dat die nuwe eienaar dadelik kan stap nie. Hy rol eers, dan kruip hy, dan steier hy. En eendag, nes jy (of hy) dit die minste verwag, gee hy sy eerste trotse treetjies.

Daarna stap jou hart selde. Hy hardloop, klim bome, val uit bome uit, val van sy fiets af, spring selfgeboude “ramps” met sy skaatsplank… en trap af en toe in ‘n by, net om die stukkie hart wat in jou oorgebly het, bietjie tot stilstand te bring.

Ek is natuurlik ‘n wonderwerk. (Meeste ma’s is.) Ek het TWEE harte wat buite my lyf rondloop. Die oudste werk egter baaaaaaaaaaaie versigtiger met my hart. Synde ‘n meisiekind, klim en val en spring sy veel minder. Sy het eenkeer te na aan ‘n breinvliesontstekingkiem gekom, en vir dae het ek in die pediatriese eenheid se isolasiekamer langs haar bed geslaap. Op die harde vloer, nogal. Maar darem knus in my eie vereduvet, en deur so ‘n diep-moegheid in die slaap ingelok dat ek ook heel gemaklik op ‘n bed vol spykers sou slaap.

Sussie was nie dramaties siek nie, hoewel sy baie siek was. Niks shows en scenes nie. Soos net ‘n vroumens dit kan doen. (Ek dink dis geneties in ons geslag geprogrammeer om mense nie te veel te verontrief as jy siek is nie…)

Maar o wee, die jongste. Ons twee se eerste besoek aan die Unie-hospitaal se ongevalle-eenheid was toe hy op ‘n Vrydagaand, pas gebad en met sy blonde babaseuntjie-haartjies nog klam in die nek gekrul, sy sussie jaag (of sy hom, ek kan nie meer onthou nie) en met sy wankelrige beentjies reguit in ‘n muur se hoek vashardloop dat jy net bloed sien spat.

Steke, sien ons dadelik, is wat hier kort, want sy voorkop is oop tot op die been.

Nee, seg die slimme dokter by die ER, hy ráák nie aan hierdie kind voor hy nie slaap nie. Gee hom ‘n inspuiting, stel ek voor, en werk toe die kop. (Sy pa val amper flou vir my harteloosheid, en die dokter lyk of hy ‘n mental note maak om my by ‘n maatskaplike werker te verkla.)

Maar nee, geen inspuiting nie, wel ‘n stropie om hom te kalmeer. Wat toe eintlik net vir hom spoed gee om vir die volgende twee ure in die hospitaal se foyer ondersoek in te stel na alles en almal wat lank genoeg stilsit.

Dis Vrydagaand, en die pa brom. Die ma is ewe keelvol en wil kort-kort sê “ek het jou mos gesê”, maar ewe sereen sit ek daar en kyk na die blits in sy blou babygrow wat almal verlei met ‘n glimlag as hy verbyhol. Toe hy weer naby my verbykom, gryp ek hom en dra hom skoppend en gillend na die dokter en sê deur geknerste tande: “NOU werk jy dit toe dat ons kan huis toe gaan.”

Ek sien hy maak sy tweede mental note vir die aand: “Moenie met ‘n mal vrou sukkel nie…” en neem die gillende kind uit my arms, draai hom netjies toe in ‘n laken soos ‘n mummie, spuit die plekkie vinnig dood en woerts die vier steke in. Alles binne vyf minute of so.

Ons moet buite wag, en ek moet practically bo-op die pa sit dat hy nie instorm om die dokter te gaan slaan wat sy kind so aanrand nie. Om te verduidelik dat dit erger klink as wat dit is en dat Luc piekfyn gaan wees in ‘n minuut of twee, val nie op ontvanklike ore nie. Anyhoe, ‘n paar minute later stap ons met ‘n betraande kind wat klaar weer breed glimlag by die hospitaal uit.

Maar ons wag nou nog dat die stropie hom laat slaap…

Toe hy op 15 maande longontsteking kry, slaap ek vier nagte langs sy bed in die kindersaal en probeer keer dat hy die suurstofpypies uit sy neus uit stoei. Twee jaar later, in die week van my egskeiding, weer vier nagte, hierdie keer vir moontlike obstruksie in die derm.

Albei kere is my kind doodsiek, maar die tweede keer het ‘n onverwagte bonus: in die bed langs hom lê ‘n siek seuntjie wat omtrent pas begin praat, en ek en sy ma begin gesels en word boesemvriendinne. Soveelso dat Cornelia en haar man nou, vier jaar later, Luc en Zoë se peetouers is en my steunpilare was deur dik en dun..

Twee jaar terug trap hy in ‘n dooie by, en nog vier dae langs sy hospitaalbed volg. Die heel eerste bysteek ‘n jaar voor dit het hom net baie siek gemaak, maar darem nie in die hospitaal laat beland nie. Hierdie keer is ons egter nie so gelukkig nie, en hy word bitter siek. Sy voet word blou, die kliere in sy oksel is binne 15 minute na die steek so groot soos ‘n tennisbal, ten spyte van Celestamine, sy koors skiet die hoogte in… Vier dae lank baklei ons teen die gif. Hy het koors en pyn en is ongemaklik weens al die geswelde kliere, selfs in sy buikholte.

Eergister is dit toe weer sulke tyd. Hy trap in ‘n by op pad kar toe na skool, en ek jaag deur die dorp soos ‘n wafferse ambulansman. Flikkerende ligte, toetend deur kruisings… Want die pediater én huisdokter het gesê die reaksietyd gaan elke keer korter word, en die reaksie intenser.

Binne 15 minute na die steek is hy op ‘n kortisoon- en sterk antihistamiendrip, en ek sit en huil in die wagkamer. Heeltemal buite my aard, maar ek het in my geestesoog gesien hoe sterf my kind dalk vandag.

Ja, ons het teenmiddel, maar omdat dit onder 25 grade gehou moet word, is dit in die yskas. As ons weggaan vir ‘n naweek, pak ek dit in ‘n koelsak. Hospitaal was die logiese, vinnigste opsie, maar wat maak ek nou met al die adrenalien in my lyf? Dit laat my lam. Moeg en huilerig, soos ons op universiteit gesê het.

Na ‘n rukkie vee ek my trane af, en besef ek lyk WEER nie so dat ‘n handsome ER-dokter twee keer gaan kyk nie. (Gelukkig was Woensdag se dokter ‘n vrou, so ek wou nie hê sy moes belangstel nie.)

Maar nog elke keer wat ek met iemand ongevalle toe moes jaag (Zoë destyds, my pa twee maal terwyl hy by my gebly het, Luc vier keer) lyk ek soos iets wat pas agteruit deur my wasgoedmandjie getrek is. Dalk omdat siekte meestal snags toeslaan. Of nee, ek onthou ek het twee keer met Luc darem heel skaflik gelyk. Met my pa was dit eenkeer vyfuur in die oggend en ek papnat gesweet na die gesukkel om hom in die rolstoel en in die kar en weer by die hospitaal uit te kry. En ek was vol bloed, want hy het in sy slaap deur sy neus en later deur sy oë begin bloei omdat hy sy bloed te dun geraak het weens Warfarin.

En hier sit ek weer Woensdag: ‘n sight vir sore eyes, want dis deadline week en ek dra selde grimering as ek by die huis sit en werk. Wie voorsien nou ‘n vinnige jaagtog ER toe?

Maar eind goed, alles goed. Luc is buite gevaar, verseker die dokter my, maar sy wil hom vir ‘n paar uur hou vir observasie. Ek mag ingaan en by hom gaan sit. Twee ure later is hy so okay dat hy vra vir koeldrank en Dorito’s (neem in ag dat die arme ding ontbyt laas geëet het). Ek is so verlig dat hy beter voel, dat ek selfs ‘n Coke-trok sou beroof as dit sy wens was. Wel, amper…

Toe ek terugstap in die traumasaal met al sy biepende masjiene (Luc lê self lekker en biep) hoor ek die gelag. Albei die susters aan diens is by sy bed en lag lekker vir sy wyshede, onder meer hoe hy skool HAAT!

Toe die suiker sy bloedstroom tref, voel hy aansienlik beter, en lees hy al die tekens teen die mure (en daar is nogal ‘n paar in die trauma-eenheid van die Unie, een van die beste trauma-eenhede in Gauteng en dalk die land).

Sy oë steek vas op RADIOLOGY, en hy vra so tussen die Coke-drinkery deur: “En wat is hierdie radio glory nou eintlik?”

En op daardie oomblik weet ek my hart is weer okay…

14 antwoorde op Radio Glory in die traumakamer

  1. Nonlocal het gesê op Maart 11, 2011

    My oudste se koors het al by 39 gedraai, dan vat ons hom ook ER toe, pas daar aangekom, dan breek hy die mure af en hardloop die ganage op en af, hy lyk so gesondd een van die susters het al vir my gevra; is dit nou die siek kind die?

  2. Hi Tannemys. Hope your weekend is great. xxx

  3. Maankind2 het gesê op Maart 22, 2011

    Elke keer as ek jou lees, wens ek jy wou jou blog skuif LitNet toe.

  4. Maankind, dink jy dit sal help vir meer lesers???

  5. Hey AD! Mine was rough (sick children, sick dog that I had to have put down), but I’m fine now. Hope you had a good one!

  6. Jip, tipies!!

  7. Maankind2 het gesê op Maart 23, 2011

    Absoluut! Probeer dit dalk ‘n ruk, dis mos maklik om net jou platform te stel, as dit nie vir jou werk nie, kan jy mos altyd weer terugkom.

  8. Oh dear, that sounds awful, Hope they’re all recovered now. I’m in the USA at the moment and will be away for 3 months. xxx

  9. Maankind2 het gesê op April 14, 2011

    Net kom kyk of hier iets nuuts is…

  10. iduplessis het gesê op April 18, 2011

    Ons het ook net so ervaring gehad op Oukersaand in Margate se hospitaal. Ons is die middag so 3-uur by die hospitaal gewees. Daai aand 9-uur toe stap ons eers daar uit. Hoe meer hulle vir haar gegee het om uit te pass hoe meer het sy die hospitaal op horings geneem. Dit was naderhand dronk-dronk, maar sy wou net nie omkap nie.

  11. Izak, en maak nie saak hoe ons as ouers protesteer nie, die dokters weet beter, ne?

  12. Uiteindelik iets nuuts, Maankind! Skies, maar die boek vreet al my oortollige energie!

  13. dirk.lucas het gesê op Julie 15, 2011

    Ek het nou die pos gelees en dit werklik geniet! Dankie. Daar is so baie waarmee ek kan “relate”.
    Lekker dag en naweek!

  14. Dankie Dirk! Welkom!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.