Brood op die water

Maart 6, 2011 in Sonder kategorie

Werp jou brood op die water…

 

Dié woorde het my altyd fassineer. Van kleins af, toe ek dit die eerste keer gehoor het.

 

Vir ‘n kleuter roep dit natuurlik ‘n letterlike beeld op: brood wat op water dryf. En dan miskien ‘n paar eendjies wat oorwikkel om die brood te kom opvreet. So much vir brood op die water, het ek in my kinderlike gemoed gedink. As iets dit nie opvreet nie, gaan dit water opsuig en sink en die visse gaan dit vreet, en dan is daar in elk geval niks oor nie. So, wat gaan nou kastig na jou toe terugkom? (Behalwe miskien ‘n vet vis?)

 

Die lewe se afvlerk-voëltjies trek my altyd soos ‘n magneet. Ek, die ewige redder, wil altyd red, deur die drif trek, por, paai, stoot en stamp – enige iets, net om die arme underdog vir ‘n slag ‘n kans te gee om darem op sy voete te kom.

 

Natuurlik wou ek myself bo van my stoel af lag toe ons skool se voorligtingsielkundige (wie onthou hulle nog?) vir my sê my aanlegtoetse toon dat ek ‘n goeie maatskaplike werker sal maak.

 

Wie? Ek? Newwwwwwwer! Ek gaan ‘n kick-ass prokureur word, en só die armes en bedremmeldes en verneuktes help.

 

Wat toe nie gebeur het nie, want ek en Privaatreg II kon mekaar net nie vind nie… Dit sou dalk gehelp het as ek meer as 10 keer in die jaar in die klas was… Maar toe het ek die lekkerte van politieke wetenskap ontdek, en eintlik gedog ek sou dáármee ‘n verskil kon maak.

 

Toe ook nie. Ek was te liberaal vir die destydse NP-regering se diplomatieke diens (my studentepolitiek-rekords – wat maar flouerig was vergeleke met ‘n paar van my tydgenote s’n – het my gepootjie toe dit by sekuriteitsklaring kom). Toe stap Nelson Mandela sy epiese laaste treë na vryheid, en regstellende aksie begin. Toe’s ek weer te wit om ‘n verskil te kan maak in die politieke arena.

 

Vir ‘n paar jaar het ek van al my drome en aspirasies vergeet en ‘n flippen goed gekwalifiseerde kelnerin/girl friday/restaurantbestuurder/gastehuisbestuurder geword. En toe getrou en swanger geraak.

En amper glad niks geword nie, ten spyte van my graad en my talent en my goeie opvoeding. Die lewe gebeur mos maar terwyl mens sit en planne maak…

 

Altyd deur was daar iewers in my agterkop ‘n wete dat ek bestem is om meer te wees as ma en kok en iemand se vrou, vasgevang in ‘n liefdelose huwelik. Dat ek ‘n talent het wat ek nie uitleef nie, ‘n Goddelike roeping wat ek nog nie gehoorsaam nie. Iets wat ek nog altyd wou doen (van ek my verstand gekry het) en een of twee keer halfhartig probeer doen het, maar nog nooit gedoen het nie: skryf.

 

Op 28, pas getroud en nog nie swanger nie, het ek ‘n klein kansie gekry wat die deure vir my oopgemaak het. Brood op die water, maar nie soos dit tradisioneel verstaan word nie.

 

Buks Pietersen, nou een van my FB-vriende maar destyds in beheer van Rapport se streeksblaaie (‘n blad wat op elke streek se eie nuus fokus) het in Rapport adverteer dat hy streekskorrespondente soek. Ek bel hom toe dadelik, en so begin ek nuuswenke deurstuur vir Richardsbaai en omgewing. Buks stuur ‘n joernalis en fotograaf (destyds was dit Pieter Malan, kort daarna hoofverslaggewer, en Eugene van Wyk – ek hoop ek het sy van reg, maar dis die fotograaf wat tragies beswyk het aan ‘n hartaanval by ‘n Springbok-oefenkamp) om my nuuswenke in stories te omskep.

 

Nee man, seg Pieter en Eugene die aand oor ete, jy kan mos sélf skryf. Ons kan dit sien, en Buks dink ook so! Van nou af skryf jy jou eie stories.

 

En daar begin dit. Buks glo genoeg in my dat ek ‘n hele klompie klein beriggies in Rapport kry. Ook toe ons later Christiana toe trek en hy soek vir nuus uit die Noord-Kaap en Vrystaat. Met ‘n baba wat speel om my voete begin ek skryf: langhand en op papier. Ek skryf die stories en faks dit deur. Buks-hulle tik dit in. Ek doen dieselfde vir Beeld se streeksblaaie. E-pos bestaan nog nie, so dis hoe dinge werk.

 

My skoonsus Dene bel eendag uit Windhoek uit. “Nee, so kan jy nie aangaan nie. Wat het jy nodig om ‘n loopbaan te kry? Kan jy nie intussen iets swot nie? Ek kan nie toekyk hoe jy net by die huis sit en jou talente mors nie!”

 

‘n Rekenaar, sê ek uiteindelik. Sodat ek meer kan skryf. Want ek dink DIS wat ek gebore is om te doen. En met twee stiefkinders se en ‘n eie baba en die feit dat ek ‘n huisvrou is (met geen gebruik vir ‘n graad in politieke wetenskap op ‘n dorp soos Christiana nie) strek my man se salaris nooit so ver soos ‘n rekenaar nie. Die kinders kom eerste.

 

‘n Paar weke later staan my broer Hendrik en skoonsus Dene se geskenk op my lessenaar. ‘n Rekenaar en drukker uit hulle kantoor. My suster Marlize gee ‘n faksmasjien (en my Telkomlyn is tot vandag toe nog in haar naam, al betaal ek dit.)

 

En so word ek ‘n joernalis – nog nie volgens die res van die media nie, maar darem in my eie kop. Ek stuur ewe braaf ‘n artikel vir Rooi Rose, wat op daardie stadium pas ‘n maand-tydskrif word en afskaal op medewerkers. Hulle gee dit vir Vrouekeur, en my naam verskyn vir die eerste keer in ‘n tydskrif. Ek onthou daardie eerste keer so goed… Toe was ek nog BAIE pretensious, en het ek “gepubliseer” as Ilse Herselman-Salzwedel as dit by tydskrifte kom. (Snaaks, met Buks en Rapport het die gedagte nie eers by my opgekom nie…Die dubbeldoor-naam het eendag gesneuwel toe ‘n teksredakteur laat weet het dat dit regtig te lank is…)

 

Nou het my naam al in meeste publikasies verskyn, selfs ook in ‘n paar Engelses. Ek het in die laaste vier jaar vyf van die hoogste vererings wat daar vir joernaliste in SA is, ontvang. Ek het ‘n droomlewe as joernalis en sien plekke en ontmoet mense waarvan die meeste mense maar net kan droom. My eerste boek het pas verskyn, ‘n tweede kontrak is reeds geteken en ‘n derde een word opgestel terwyl ek hier tik…

 

Wat het dit met brood op die water te doen?

 

Alles. En niks. Want as iemand nie genoeg geglo het in my om hulle brood op die water te gooi nie (Buks om my eerste pogings te aanvaar, my familie se hulp met die tegnologie, ‘n redakteur wat ‘n skerfie talent raakgesien het…) dan was daar nou niks.

 

Nie dat enige iets noodwendig na húlle teruggekeer het nie.

 

Maar hulle brood op die water kon darem help dat ek in die afgelope 14 jaar hopelik ‘n verskil kon maak met my pen. Kon skryf namens al die underdogs wat nie vir hulleself kan praat nie. Kon bewustheid kweek, kon geld insamel, broodnodige kennis kon help versprei, kon baklei teen onreg, ander onreg kon keer…

 

Want, weet ek sonder twyfel, dit kon ek gewees het wat by die robot bedel met my kind op my rug. Of wat my kinders in moes grootsukkel in ‘n plakkerskamp. Of wat begin koes sodra ek my man by die voordeur hoor instap… Of wat nie weet waar ek ooit ‘n werk gaan kry nie…

 

There, but for the grace of God… Nét genade maak ‘n verskil. En brood op die water.

 

Vir wie gaan jý vandag ‘n broodjie op die water sit?

14 antwoorde op Brood op die water

  1. amydem2 het gesê op Maart 6, 2011

    jou boek gesoek in E B laas week… pta brooklyn… niks nie! gsn woordfeestoe volg week… ( by default maar kla nie) dalk daar? kfx

  2. Hi
    As jy sukkel, inbox my. Dit was jaareinde by LAPA en al die winkels, ek dink dit bemoeilik die inneem van nuwe voorraad. Ek glo dit kan dalk by Woordfees wees.
    EB in Pta het almal bestel, weet ek.

  3. Hanliebez99 het gesê op Maart 7, 2011

    Wat ‘n lekkerte om te lees hoe jou talent geloop het deur die lewe. Ai, ekself is al halfpad deur die lewe – ek WEET die skryfding is in my – en ek doen alles BEHALWE dit. Wat ‘n vermorsing van kanse. Hoekom wou ek nooit daai brood op die water werp nie? Ek wonder wat is dit wat my hand vasgepen het – om te skryf – maar om dit nie iewers heen te stuur nie.. Ai. Dankie dat jy met ons deel.

  4. Dankie Vlieg!

  5. Begin net skryf, Wannebe!

  6. My uitgewer se die boek moet definitief vandeesweek op die rak wees. Die probleem was die finansiele jaareinde. Niemand wil nuwe stock inneem voor alles nie afgehandel is nie.
    As EB dit nie het nie, se hulle moet bestel.
    ISBN 9780799349306, Lapa Uitgewers

  7. Jy kan dit ook hier bestel, dan pos LAPA dit vir jou:
    http://www.lapa.co.za/Web/Boek/Boek.aspx?Boek=4448&tema=1

  8. MACKAROONEY het gesê op Maart 7, 2011

    BRILJANT !

  9. Now what happened to the English translations you promised me? I can’t read such a long blog in Afrikaans 🙁

  10. zephur het gesê op Maart 10, 2011

    Somebody said that it couldn’t be done,
    But, he with a chuckle replied
    That “maybe it couldn’t,” but he would be one
    Who wouldn’t say so till he’d tried.

    So he buckled right in with the trace of a grin
    On his face. If he worried he hid it.
    He started to sing as he tackled the thing
    That couldn’t be done, and he did it.

  11. zephur het gesê op Maart 10, 2011

    So darem was daar nie eendjies om daai brood te verslind nie…

  12. Dankie Zep! Dis mooi. En ja oor die eendjies, maar partykeer is dit ook ‘n goeie rede vir die brood op die water…

  13. Hop on a plane and come for a personal translation. How are you, silly man??

  14. Dankie Mack!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.