Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Radio Glory in die traumakamer

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

Die dag as daardie nuwe babatjie in jou arms gesit word, klim jou hart uit jou bors. En stap vir ewig buite jou lyf rond. Nie dat die nuwe eienaar dadelik kan stap nie. Hy rol eers, dan kruip hy, dan steier hy. En eendag, nes jy (of hy) dit die minste verwag, gee hy sy eerste trotse treetjies.

Daarna stap jou hart selde. Hy hardloop, klim bome, val uit bome uit, val van sy fiets af, spring selfgeboude “ramps” met sy skaatsplank… en trap af en toe in ‘n by, net om die stukkie hart wat in jou oorgebly het, bietjie tot stilstand te bring.

Ek is natuurlik ‘n wonderwerk. (Meeste ma’s is.) Ek het TWEE harte wat buite my lyf rondloop. Die oudste werk egter baaaaaaaaaaaie versigtiger met my hart. Synde ‘n meisiekind, klim en val en spring sy veel minder. Sy het eenkeer te na aan ‘n breinvliesontstekingkiem gekom, en vir dae het ek in die pediatriese eenheid se isolasiekamer langs haar bed geslaap. Op die harde vloer, nogal. Maar darem knus in my eie vereduvet, en deur so ‘n diep-moegheid in die slaap ingelok dat ek ook heel gemaklik op ‘n bed vol spykers sou slaap.

Sussie was nie dramaties siek nie, hoewel sy baie siek was. Niks shows en scenes nie. Soos net ‘n vroumens dit kan doen. (Ek dink dis geneties in ons geslag geprogrammeer om mense nie te veel te verontrief as jy siek is nie…)

Maar o wee, die jongste. Ons twee se eerste besoek aan die Unie-hospitaal se ongevalle-eenheid was toe hy op ‘n Vrydagaand, pas gebad en met sy blonde babaseuntjie-haartjies nog klam in die nek gekrul, sy sussie jaag (of sy hom, ek kan nie meer onthou nie) en met sy wankelrige beentjies reguit in ‘n muur se hoek vashardloop dat jy net bloed sien spat.

Steke, sien ons dadelik, is wat hier kort, want sy voorkop is oop tot op die been.

Nee, seg die slimme dokter by die ER, hy ráák nie aan hierdie kind voor hy nie slaap nie. Gee hom ‘n inspuiting, stel ek voor, en werk toe die kop. (Sy pa val amper flou vir my harteloosheid, en die dokter lyk of hy ‘n mental note maak om my by ‘n maatskaplike werker te verkla.)

Maar nee, geen inspuiting nie, wel ‘n stropie om hom te kalmeer. Wat toe eintlik net vir hom spoed gee om vir die volgende twee ure in die hospitaal se foyer ondersoek in te stel na alles en almal wat lank genoeg stilsit.

Dis Vrydagaand, en die pa brom. Die ma is ewe keelvol en wil kort-kort sê “ek het jou mos gesê”, maar ewe sereen sit ek daar en kyk na die blits in sy blou babygrow wat almal verlei met ‘n glimlag as hy verbyhol. Toe hy weer naby my verbykom, gryp ek hom en dra hom skoppend en gillend na die dokter en sê deur geknerste tande: “NOU werk jy dit toe dat ons kan huis toe gaan.”

Ek sien hy maak sy tweede mental note vir die aand: “Moenie met ‘n mal vrou sukkel nie…” en neem die gillende kind uit my arms, draai hom netjies toe in ‘n laken soos ‘n mummie, spuit die plekkie vinnig dood en woerts die vier steke in. Alles binne vyf minute of so.

Ons moet buite wag, en ek moet practically bo-op die pa sit dat hy nie instorm om die dokter te gaan slaan wat sy kind so aanrand nie. Om te verduidelik dat dit erger klink as wat dit is en dat Luc piekfyn gaan wees in ‘n minuut of twee, val nie op ontvanklike ore nie. Anyhoe, ‘n paar minute later stap ons met ‘n betraande kind wat klaar weer breed glimlag by die hospitaal uit.

Maar ons wag nou nog dat die stropie hom laat slaap…

Toe hy op 15 maande longontsteking kry, slaap ek vier nagte langs sy bed in die kindersaal en probeer keer dat hy die suurstofpypies uit sy neus uit stoei. Twee jaar later, in die week van my egskeiding, weer vier nagte, hierdie keer vir moontlike obstruksie in die derm.

Albei kere is my kind doodsiek, maar die tweede keer het ‘n onverwagte bonus: in die bed langs hom lê ‘n siek seuntjie wat omtrent pas begin praat, en ek en sy ma begin gesels en word boesemvriendinne. Soveelso dat Cornelia en haar man nou, vier jaar later, Luc en Zoë se peetouers is en my steunpilare was deur dik en dun..

Twee jaar terug trap hy in ‘n dooie by, en nog vier dae langs sy hospitaalbed volg. Die heel eerste bysteek ‘n jaar voor dit het hom net baie siek gemaak, maar darem nie in die hospitaal laat beland nie. Hierdie keer is ons egter nie so gelukkig nie, en hy word bitter siek. Sy voet word blou, die kliere in sy oksel is binne 15 minute na die steek so groot soos ‘n tennisbal, ten spyte van Celestamine, sy koors skiet die hoogte in… Vier dae lank baklei ons teen die gif. Hy het koors en pyn en is ongemaklik weens al die geswelde kliere, selfs in sy buikholte.

Eergister is dit toe weer sulke tyd. Hy trap in ‘n by op pad kar toe na skool, en ek jaag deur die dorp soos ‘n wafferse ambulansman. Flikkerende ligte, toetend deur kruisings… Want die pediater én huisdokter het gesê die reaksietyd gaan elke keer korter word, en die reaksie intenser.

Binne 15 minute na die steek is hy op ‘n kortisoon- en sterk antihistamiendrip, en ek sit en huil in die wagkamer. Heeltemal buite my aard, maar ek het in my geestesoog gesien hoe sterf my kind dalk vandag.

Ja, ons het teenmiddel, maar omdat dit onder 25 grade gehou moet word, is dit in die yskas. As ons weggaan vir ‘n naweek, pak ek dit in ‘n koelsak. Hospitaal was die logiese, vinnigste opsie, maar wat maak ek nou met al die adrenalien in my lyf? Dit laat my lam. Moeg en huilerig, soos ons op universiteit gesê het.

Na ‘n rukkie vee ek my trane af, en besef ek lyk WEER nie so dat ‘n handsome ER-dokter twee keer gaan kyk nie. (Gelukkig was Woensdag se dokter ‘n vrou, so ek wou nie hê sy moes belangstel nie.)

Maar nog elke keer wat ek met iemand ongevalle toe moes jaag (Zoë destyds, my pa twee maal terwyl hy by my gebly het, Luc vier keer) lyk ek soos iets wat pas agteruit deur my wasgoedmandjie getrek is. Dalk omdat siekte meestal snags toeslaan. Of nee, ek onthou ek het twee keer met Luc darem heel skaflik gelyk. Met my pa was dit eenkeer vyfuur in die oggend en ek papnat gesweet na die gesukkel om hom in die rolstoel en in die kar en weer by die hospitaal uit te kry. En ek was vol bloed, want hy het in sy slaap deur sy neus en later deur sy oë begin bloei omdat hy sy bloed te dun geraak het weens Warfarin.

En hier sit ek weer Woensdag: ‘n sight vir sore eyes, want dis deadline week en ek dra selde grimering as ek by die huis sit en werk. Wie voorsien nou ‘n vinnige jaagtog ER toe?

Maar eind goed, alles goed. Luc is buite gevaar, verseker die dokter my, maar sy wil hom vir ‘n paar uur hou vir observasie. Ek mag ingaan en by hom gaan sit. Twee ure later is hy so okay dat hy vra vir koeldrank en Dorito’s (neem in ag dat die arme ding ontbyt laas geëet het). Ek is so verlig dat hy beter voel, dat ek selfs ‘n Coke-trok sou beroof as dit sy wens was. Wel, amper…

Toe ek terugstap in die traumasaal met al sy biepende masjiene (Luc lê self lekker en biep) hoor ek die gelag. Albei die susters aan diens is by sy bed en lag lekker vir sy wyshede, onder meer hoe hy skool HAAT!

Toe die suiker sy bloedstroom tref, voel hy aansienlik beter, en lees hy al die tekens teen die mure (en daar is nogal ‘n paar in die trauma-eenheid van die Unie, een van die beste trauma-eenhede in Gauteng en dalk die land).

Sy oë steek vas op RADIOLOGY, en hy vra so tussen die Coke-drinkery deur: “En wat is hierdie radio glory nou eintlik?”

En op daardie oomblik weet ek my hart is weer okay…

Brood op die water

Maart 6, 2011 in Sonder kategorie

Werp jou brood op die water…

 

Dié woorde het my altyd fassineer. Van kleins af, toe ek dit die eerste keer gehoor het.

 

Vir ‘n kleuter roep dit natuurlik ‘n letterlike beeld op: brood wat op water dryf. En dan miskien ‘n paar eendjies wat oorwikkel om die brood te kom opvreet. So much vir brood op die water, het ek in my kinderlike gemoed gedink. As iets dit nie opvreet nie, gaan dit water opsuig en sink en die visse gaan dit vreet, en dan is daar in elk geval niks oor nie. So, wat gaan nou kastig na jou toe terugkom? (Behalwe miskien ‘n vet vis?)

 

Die lewe se afvlerk-voëltjies trek my altyd soos ‘n magneet. Ek, die ewige redder, wil altyd red, deur die drif trek, por, paai, stoot en stamp – enige iets, net om die arme underdog vir ‘n slag ‘n kans te gee om darem op sy voete te kom.

 

Natuurlik wou ek myself bo van my stoel af lag toe ons skool se voorligtingsielkundige (wie onthou hulle nog?) vir my sê my aanlegtoetse toon dat ek ‘n goeie maatskaplike werker sal maak.

 

Wie? Ek? Newwwwwwwer! Ek gaan ‘n kick-ass prokureur word, en só die armes en bedremmeldes en verneuktes help.

 

Wat toe nie gebeur het nie, want ek en Privaatreg II kon mekaar net nie vind nie… Dit sou dalk gehelp het as ek meer as 10 keer in die jaar in die klas was… Maar toe het ek die lekkerte van politieke wetenskap ontdek, en eintlik gedog ek sou dáármee ‘n verskil kon maak.

 

Toe ook nie. Ek was te liberaal vir die destydse NP-regering se diplomatieke diens (my studentepolitiek-rekords – wat maar flouerig was vergeleke met ‘n paar van my tydgenote s’n – het my gepootjie toe dit by sekuriteitsklaring kom). Toe stap Nelson Mandela sy epiese laaste treë na vryheid, en regstellende aksie begin. Toe’s ek weer te wit om ‘n verskil te kan maak in die politieke arena.

 

Vir ‘n paar jaar het ek van al my drome en aspirasies vergeet en ‘n flippen goed gekwalifiseerde kelnerin/girl friday/restaurantbestuurder/gastehuisbestuurder geword. En toe getrou en swanger geraak.

En amper glad niks geword nie, ten spyte van my graad en my talent en my goeie opvoeding. Die lewe gebeur mos maar terwyl mens sit en planne maak…

 

Altyd deur was daar iewers in my agterkop ‘n wete dat ek bestem is om meer te wees as ma en kok en iemand se vrou, vasgevang in ‘n liefdelose huwelik. Dat ek ‘n talent het wat ek nie uitleef nie, ‘n Goddelike roeping wat ek nog nie gehoorsaam nie. Iets wat ek nog altyd wou doen (van ek my verstand gekry het) en een of twee keer halfhartig probeer doen het, maar nog nooit gedoen het nie: skryf.

 

Op 28, pas getroud en nog nie swanger nie, het ek ‘n klein kansie gekry wat die deure vir my oopgemaak het. Brood op die water, maar nie soos dit tradisioneel verstaan word nie.

 

Buks Pietersen, nou een van my FB-vriende maar destyds in beheer van Rapport se streeksblaaie (‘n blad wat op elke streek se eie nuus fokus) het in Rapport adverteer dat hy streekskorrespondente soek. Ek bel hom toe dadelik, en so begin ek nuuswenke deurstuur vir Richardsbaai en omgewing. Buks stuur ‘n joernalis en fotograaf (destyds was dit Pieter Malan, kort daarna hoofverslaggewer, en Eugene van Wyk – ek hoop ek het sy van reg, maar dis die fotograaf wat tragies beswyk het aan ‘n hartaanval by ‘n Springbok-oefenkamp) om my nuuswenke in stories te omskep.

 

Nee man, seg Pieter en Eugene die aand oor ete, jy kan mos sélf skryf. Ons kan dit sien, en Buks dink ook so! Van nou af skryf jy jou eie stories.

 

En daar begin dit. Buks glo genoeg in my dat ek ‘n hele klompie klein beriggies in Rapport kry. Ook toe ons later Christiana toe trek en hy soek vir nuus uit die Noord-Kaap en Vrystaat. Met ‘n baba wat speel om my voete begin ek skryf: langhand en op papier. Ek skryf die stories en faks dit deur. Buks-hulle tik dit in. Ek doen dieselfde vir Beeld se streeksblaaie. E-pos bestaan nog nie, so dis hoe dinge werk.

 

My skoonsus Dene bel eendag uit Windhoek uit. “Nee, so kan jy nie aangaan nie. Wat het jy nodig om ‘n loopbaan te kry? Kan jy nie intussen iets swot nie? Ek kan nie toekyk hoe jy net by die huis sit en jou talente mors nie!”

 

‘n Rekenaar, sê ek uiteindelik. Sodat ek meer kan skryf. Want ek dink DIS wat ek gebore is om te doen. En met twee stiefkinders se en ‘n eie baba en die feit dat ek ‘n huisvrou is (met geen gebruik vir ‘n graad in politieke wetenskap op ‘n dorp soos Christiana nie) strek my man se salaris nooit so ver soos ‘n rekenaar nie. Die kinders kom eerste.

 

‘n Paar weke later staan my broer Hendrik en skoonsus Dene se geskenk op my lessenaar. ‘n Rekenaar en drukker uit hulle kantoor. My suster Marlize gee ‘n faksmasjien (en my Telkomlyn is tot vandag toe nog in haar naam, al betaal ek dit.)

 

En so word ek ‘n joernalis – nog nie volgens die res van die media nie, maar darem in my eie kop. Ek stuur ewe braaf ‘n artikel vir Rooi Rose, wat op daardie stadium pas ‘n maand-tydskrif word en afskaal op medewerkers. Hulle gee dit vir Vrouekeur, en my naam verskyn vir die eerste keer in ‘n tydskrif. Ek onthou daardie eerste keer so goed… Toe was ek nog BAIE pretensious, en het ek “gepubliseer” as Ilse Herselman-Salzwedel as dit by tydskrifte kom. (Snaaks, met Buks en Rapport het die gedagte nie eers by my opgekom nie…Die dubbeldoor-naam het eendag gesneuwel toe ‘n teksredakteur laat weet het dat dit regtig te lank is…)

 

Nou het my naam al in meeste publikasies verskyn, selfs ook in ‘n paar Engelses. Ek het in die laaste vier jaar vyf van die hoogste vererings wat daar vir joernaliste in SA is, ontvang. Ek het ‘n droomlewe as joernalis en sien plekke en ontmoet mense waarvan die meeste mense maar net kan droom. My eerste boek het pas verskyn, ‘n tweede kontrak is reeds geteken en ‘n derde een word opgestel terwyl ek hier tik…

 

Wat het dit met brood op die water te doen?

 

Alles. En niks. Want as iemand nie genoeg geglo het in my om hulle brood op die water te gooi nie (Buks om my eerste pogings te aanvaar, my familie se hulp met die tegnologie, ‘n redakteur wat ‘n skerfie talent raakgesien het…) dan was daar nou niks.

 

Nie dat enige iets noodwendig na húlle teruggekeer het nie.

 

Maar hulle brood op die water kon darem help dat ek in die afgelope 14 jaar hopelik ‘n verskil kon maak met my pen. Kon skryf namens al die underdogs wat nie vir hulleself kan praat nie. Kon bewustheid kweek, kon geld insamel, broodnodige kennis kon help versprei, kon baklei teen onreg, ander onreg kon keer…

 

Want, weet ek sonder twyfel, dit kon ek gewees het wat by die robot bedel met my kind op my rug. Of wat my kinders in moes grootsukkel in ‘n plakkerskamp. Of wat begin koes sodra ek my man by die voordeur hoor instap… Of wat nie weet waar ek ooit ‘n werk gaan kry nie…

 

There, but for the grace of God… Nét genade maak ‘n verskil. En brood op die water.

 

Vir wie gaan jý vandag ‘n broodjie op die water sit?