Boodskappe hemel toe.

Februarie 21, 2011 in Sonder kategorie

Vrydag skryf Annemarie van der Walt in Beeld ‘n pragrubriek oor briewe, en FB-vriend Francois Theron sê ek moet ook iets skryf. (Hy por seker net hoflik en subtiel aan dat ek weer ‘n slag moet blog…)

 

So dink ek die hele naweek. Oor briewe. En nostalgie. En oor ons sterflikheid – behalwe vir Lucas Maree, weet ek van vyf mense wat verlede week dood is (vriende of familie van vriende). Wat my so effe laat skrik, tot ek besef ons moderne mense met sosiale netwerke en groot vriendekringe en selgroepe en mega-gemeentes ken seker meer mense as ons ouers, en sal daarom seker ook weet van meer mense wat doodgaan.

 

Verlede week gaan werk ek in George, en kuier sommer by my pel sedert laerskooljare. Marliza se pa is vyf maande voor my ma pynlik dood aan pankreaskanker. Ons praat oor hoe ons hulle mis, en hoe die gemis sommer so op ‘n dag toeslaan. Soos ‘n hou uit die donker.

 

Vandag skryf twee FB-vriendinne oor hulle ma’s. Marsha du Toit (wat ek van skooldae af ken) se ouers leef nog, en sy was die naweek by hulle op die plaas. So skryf sy: “Tel jou seëninge. Tel hul een vir een. En as jy ouers soos myne het, tel hulle twee maal.”

 

Ek kan aan ‘n klomp redes dink hoekom mens so status update het na ‘n naweek by die huis. Vir een, omdat jy nog ‘n ouerhuis het om na toe te gaan. Vir my was dit soos ‘n hou in die maag toe ek besef ek sal nooit weer kan huis toe gaan nie. Dat iemand anders nou daar bly en selfs die telefoonnommer oorgeneem het.

 

As ‘n kind van dieselfde vallei as Marsha, weet ek ook dat haar motor waarskynlik toegepak was met alles wat lekker is hierdie tyd van die jaar uit die Breëriviervallei: geelperskes, hanepoot… en seker haar ma se huisbederfies. Hoe kan ek ooit my eie ma s’n vergeet? Van ‘n bord Sondagkos (toe ek nog in ‘n woonstel op Stellenbosch gebly het) tot ‘n kissie druiwe wat sorgvuldig saamgevlieg is van die Kaap af Johannesburg toe. En moenie die 2liter roomysbakke vol Hertzoggies en vlakoekies in haar tas vergeet nie…

 

Maar ek mis nie net die aardse seëninge van ‘n ma en pa nie. Ek mis alles van hulle, besef ek toe ek Marsha se inskrywing lees.

 

En wraggies, ek is nie alleen nie! Enkele posts ondertoe skryf Sonia Cabano, nog ‘n FB-vriendin: “Ek wens die hemel het ‘n Facebook gehad sodat ek met my ma kan gesels.”

 

Sy skryf verder: “Ek mis haar iets verskriklik. Het haar ou handgeskrewe kookboek gelees en reddeloos begin huil. Mens het net een ma, en niks proe soos haar kos nie.”

Ek weet, Sonia, ek weet. En ek onthou elke keer as ek die skewerige krapskriffie in my resepteboek raaklees. Ek onthou een Sondag van blinde paniek en ‘n baie werklike angs wat my beetgepak het. Ses maande na haar dood wil ek my gunsteling kindertydse poeding maak. Dis sommer net bruinpoeding genoem in ons huis. Dit bestaan uit ‘n sous waarin jy dan deeg skep, en alles saamstoom. Daar was twee weergawes. Die langer een, wat op die stoof gedoen is, en die mikrogolf-weergawe. Ek het een van hulle se bestanddele afgeskryf, maar nooit die metode nie. Dáárvoor het ek sommer Sondagoggende huis toe gebel en by Ma gehoor.

En toe, daardie dag, vat ek instinktief na die foon. Soos al die jare vantevore. En onthou Ma leef nie meer nie. Die angs wat my oorval was heeltemal buite verhouding tot die voorval. Dit was, na alles, net ‘n poedingresep – waarvoor ek met ‘n bietjie soek in my baie resepteboeke, wel ‘n metode sou kry.

Maar daar staan ek met ‘n bors wat toetrek van vrees en trane in my oë: sê nou net ek kan dit nooit weer eet nie? Dan verdwyn nie net die smaak van die poeding nie, maar een van die lekkerste herinnerings van my kindertyd. Want dit simboliseer rustige Sondagetes na kerk. Samesyn. Kos wat met liefde gekook is. Soveel meer as net die kaneelstroop se gemmerige smaak…

Sonia skryf verder: “Ek onthou hoe haar tuin gevoel het op sulke dae, vol koel skaduplekke en pragtige blomme wat later met skemer hul parfuum deur die tuin laat swewe het.” En oor Sondae: “En die koel huis binne, waar sy graag op Sondae klassieke musiek en opera gespeel het.”

Sondagmusiek vir my is die radio se “Alle volke loof die Here” Sondae voor kerk. Dit was die tyd van rustig klaarmaak vir kerk. Nie dieselfde paniekerige harwar van my eie huishouding op Sondagoggende nie.

My pa het Sondae ontbyt gemaak – dit was net so van ek kan onthou. Slap mieliepap, iets wat ek helaas nie kon geëet kry nie. (Moet iets te doen hê met my kleintydse noodoperasie en die twee weke in die Roomse Hospitaal in Windhoek waar die nonne graag – en baie gebiedend – slap mieliepap met ‘n gebreekte rou eier bo-oor op my trollie kom neerplonk het…) Maar Pa en Ma eet mieliepap, en ek ‘n sny roosterbrood. En ons drink Pa se moerkoffie wat in ‘n flennie koffiesak gemaak is. En op die radio word die Here geloof in Latyns en Afrikaans en watter taal ookal, deur kore en operasangers. En die omroeper se rustige stem draal deur dit alles. (Ek dink hy het tot onlangs nog uitgesaai.)

Daarna is ek en Pa kerk toe. Ma het nie Sondagoggende saamgekom nie, want sy het kosgemaak. Dit was in die dae voor mikrogolfoonde, en sy het nie geglo in kos warm hou in ‘n lou-oond nie. En daar is presies 12 uur geëet. Die 13h15-nuus is in die bed gelê en luister, die kombuis silwerskoon, die mae behaaglik vol vir die middagslapie. Saans is ons almal saam kerk toe.

Dit was Sondae. Dit was hoekom ek bruinpoeding weer móés proe.

Net soos Sonia wens ek ek kon boontoe bel. Veral Sondae, want dit was die gebruik. Een maal ‘n week is daar huis toe gebel. Minstens. Ek wens ek kon foto’s stuur – van jongste en oudste. Van my tuin waaroor sy mal sou wees (dis bont en deurmekaar met vloeiende beddings, so anders as die reguit, simmetriese beddings wat my pa altyd gemaak het). Ek sou vir haar wou grappe vertel – jy kon haar in ‘n wip vang met ‘n grap – net om weer daardie lekker skaterlag te hoor… Ek sou nog resepte wou kry, want soos Sonia tereg skryf: “Mens het net een ma, en niks proe soos haar kos nie.”

Al het my pa nog vir 13 maande voor sy dood by my gebly, was dit nie tyd waarin ons veel kon onthou nie. Pa was seniel van Alzheimers en verlang na Ma, en die gordyn van sy onthou was vir breukdele van sekondes oop. En dan wou hy gewoonlik net weet waar Ma is. My verlang en my onthou moes ek vir myself hou.

Ek verlang nog nie so dikwels en so séér na my pa nie – seker omdat ek maande tyd gehad het om aan sy naderende dood (uiteindelik van prostaatkanker) gewoond te raak. Omdat ek kon vrede maak, alles kon sê en doen wat belangrik was. Maar ek het heimwee oor hom.

Ek sien hom in sy kakiestofjas in die tuin – hy was altyd skoon, en het selfs sy tuinklere met groot ontsag behandel (tipies ‘n kind wat in die Depressie grootgeword het). Ek sien hom ingestap kom met ‘n skotteltjie vol vars groenbone uit die tuin, ‘n groen ui met die lobbe nog aan waarin my ma die tjoppies moes potbraai. Ek onthou dat hy weer verlei kon word met bruinerige soetpatats. En koekies by sy tee.

Ek onthou dat hy kon tjops braai soos niemand anders wat ek ken nie, en dat ook dit ‘n gedoente was waarvoor die stofjas uitgehaal is (darem net om die braai uit te stoot en vir die skoonmaak agterna). Ek onthou hoe lief hy vir jukskei was, en dink met hartseer daaraan dat al daardie ure en maande en jare van op komitees en keurkomitees dien en bane versorg nie eers onthou word nie. Dat niemand seker eers daaraan gedink het om ‘n “in memoriam”-stukkie vir die jaarlikse nasionale jukskei-jaarboek te stuur nie. Want hý het dit altyd gedoen vir almal wat voor hom gegaan het – sodat mense hulle nie so gou moet vergeet nie.

Ek stem saam met ‘n ander kommentaar op Sonia se status: eintlik sou Skype die lekkerste gewees het. Vir wys, en vir sien.

Want ek is seker as ons kon sien hoe gelukkig hulle nou is, sal ons nie so baie verlang nie. Of nee, ek sal steeds, want ek verlang uit en uit vir myself en my eie selfsugtige redes.

Maar nou moet jy my verskoon: ek wil gaan kyk of ek nog daardie bruinpoeding kan maak… Wie het gesê dis net vir Sondae?

14 antwoorde op Boodskappe hemel toe.

  1. Ag sou dit nie lekker wees nie!

  2. Hello Tannemys!!!! Dis Dappermuis! LOL! jitte, my snorre wapper sommer, kan jy nou meer… ons moet family van iewers wees! hehehehe
    Lekker aand

  3. Pa het gesterf in in motor ongeluk toe ek 14 was. My ma toe my seun een jaar oud was.

    Sonder ‘n ma het jy nie meer wortels nie behalwe as jy dit maak.

    Tel elke dag as ‘n geskenk as jou ouers nog leef….

  4. Dis baie waar, Carl. Dankie vir die besoek!

  5. Aangename kennis, Dapper Muis!

  6. Dankie Vlieg!

  7. Oudste het gesê op Februarie 22, 2011

    Dankie!!! Ek het geweet jy sal dit kan doen,,,en HOE het jy dit nie gedoen nie! My ma was, behalwe vir die resepte, ook goed met familiedinge en kort-kort wil ek haar weer bel om te vra oor waar pas wie in by die familie, maar besef dan dit sal ‘n la-a-ng oproep vra. Vir my pa wil ek elke keer as een van sy vriende oorlede is,gou laat weet, maar dan besef ek hy weet lankal!

  8. Toe my pa begrawe is, het die dominee die mooiste diens gehou. Hy het aangehaal uit die Bybel (waar kan ek nie onthou nie, maar ek het hom Sondag gevra vir die preeknotas) oor hoe die Here tyd spandeer met elke gelowige wat by Hom in die hemel kom. Hoe hy hom as’t ware rondwys. Ek glo graag dat almal vir wie ons geliefdes lief was, hulle inwag by die poorte. Lees ook Lizz Meiring se absoluut PRAGTIGE Bon Voyage-rubriek in vandeesmaand se Rooi Rose. Haar pa is verlede maand oorlede na ‘n lang en ernstige siekbed en vier byna-dood-episodes, en Lizz se stuk het my hart geruk. Oor dit so mooi en vertroostend is.

  9. zephur het gesê op Februarie 23, 2011

    Ja en wat snaaks is as jy iemand aan die dood afstaan dan volg dare mgewoontlik nog een of 2

    Toe ek in St6 was het ek my suster verloor, St7 my Ouma en in daai selfde jaar my Pa.

    Het nou die Januarie my stiefpa ook begrawe.

    Ja een ding is verseker…

    ‘YOUR NEVER GET OUT OF THIS LIFE ALIVE’

  10. Ai Zep! Sterkte! En ja, dood moet ons dood!

  11. Oudste het gesê op Februarie 24, 2011

    Ek dink vandag daraan dat ek nie oor Fanie Smit gepraat het nie. Hy’s steeds die aanbieder van (deesdae ter wille van politieke korrektheid, om volke uit te los)”Loof die Here” vir bykans dertig jaar. Hy is wel afgetree en woon op St Francisbaai, maar gaan maak nog gereeld opnames in P E. Ons het ‘n baie goeie werksverhouding gehad. Hy het destyds (jarrrrre terug) in Malawi, saam met Robert Schmidt Feba Radio gestig en daarvandaan christelike boodskappe na die Moslemlande en ander uitgesaai. Toe het hulle al opwen platespelers en kassetmasjiene ontwerp waar mee hulle boodskappe na statte toe geneem het wat oor en oor gespeel kon word. Ja… waar was die dae van pioniers…!

  12. Oudste het gesê op Februarie 24, 2011

    My ma en my vrou se pa het ‘n dag uitmekaar in Januarie verjaar (15 en 16) en elke jaar in Januarie leef ons terug in die verlede en verlang ons na van die dinge wat hulle gedoen of gesê het. Dit sal seker vir altyd so aanhou, want hulle leef nog in ons gedagtes. Ek het beide se begrafnisse behartig, maar moet mooi dink watter tekse ek gebruik het.

  13. my seunskind verjaar op 16 Januarie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.