Die geheue van jou tong

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek ‘n baie klein dogtertjie was – omtrent so twee – het my pa soggens donker al gaan werk, en dan later in die oggend, as die oueres skool toe is, kom ontbyt eet. Ontbyt was altyd dieselfde: ‘n sagte gebakte eier op roosterbrood. Met die eier dik gestrooi van witpeper.

 

Ek was elke oggend op dieselfde plek: op sy skoot. Waar ek happies van sy ontbyt gebedel het. Peper of te nie.

 

Omtrent drie weke gelede koop ek vir die eerste keer in jare weer witpeper. Swartpeper het mos mode geword. En saam met die sterk witpeper word ‘n klomp nuwe smake weer deel van my lewe. Ek leer die oudste en die jongste hoe anders dit proe.

 

Vanoggend, na ‘n nag waarin my kop nie kon afskakel nie, word ek wakker met ‘n lus vir saggerige eier met baie witpeper op roosterbrood. Beslis nie my gewone ontbyt nie. En vir Ma se tuisgemaakte marmelade. Pond-vir-pond, het sy altyd vertel as iemand haar daaroor vra. ‘n Pond suiker op ‘n pond sitrusvrugte. Pa se ma se resep, maar my ma se forté.

 

Toe ons na haar gru-dood die huis gaan opruim terwyl Pa nog in Windhoek herstel van sy beserings, kom ek en my sus af op lemoenkonfyt (dis nooit in ons huis marmelade genoem nie) in die spens. Die spens in die aftreehuis waarop sy so ontsettend trots was. Daar is genoeg konfyt vir al vier ons kinders. Die datum op die proppies, in Ma se kenmerkende skewe skrif, is ‘n maand voor die ongeluk. Pa het met sy beroerte-hande die vrugte in dun repies gesit en sny met die knipmes, Ma het gekook en skuim afgeskep. Ons het alles oor die foon gehoor – van hoe Pa wil help, maar dat sy bang is hy trek die pot kokende konfyt op hom om. Want voor sy beroerte het hy mos ontpop in die konfytkoning, en daar was ‘n woeste kompetisie. Ons kinders het al die pad gesmaail, want ons kaste was nooit sonder tamatie- en appelkooskonfyt of ingelegde koejawels nie. Maar na die beroerte was Pa broos en Ma altyd aan die uitkyk vir hom.

 

Met die huis-oppak kry ons hoenderpastei en soetpatats en groenbone en sagte gestoofde lamstjoppies in die vrieskas. Ons twee eet daardie laaste naweek ooit in ons ouerhuis dat die trane loop – letterlik. ‘n Galgemaaltyd, soort van. Want, soos Zoë eenkeer gesê het toe sy van die koekies eet wat Ouma met liefde gebak en gepos het vir die twee Fillistyne: “Ek proe my ouma se handjies in hierdie koekies.”

 

Na my ma se dood het my pa by my kom bly. En summier geweier om sy mond aan voorheen-gunstelingkos te sit. Behalwe patats. Daarmee kon jy hom in ‘n wip vang. (My ma het immers gekla dat sy al so moeg is vir patat, want my pa wil dit elke dag eet.) 

 

Selfs tee het hy afgesweer, en letterlik net kitskoffie gedrink. Kitskoffie het ons nooit in ons huis gedrink nie. Pa het elke oggend van my lewe regte Koffiehuis moerkoffie gemaak in ‘n Hart-ketel met ‘n koffiesak van flennie wat Ma gemaak het. Kitskoffie was beperk tot melkkoffie – soms, soos Sondagaande na kerk. Helfte melk, helfte water. Tee was vir elfuur en vieruur en na etes, koffie vir ontbyt, elke dag van my vier dekades..

 

Was my pa se aandrang op kitskoffie met koue melk rou of rebellie? Hoe sal ek weet, want hy het sy verstand verloor toe Ma hemel toe is. Die een keer wat ek vir hom tee gemaak het in daardie laaste dertien maande, het hy dit met minagting gedrink. So glad nie hoe hy ooit was nie. Ek verkies om te glo dit was rou wat hom laat besluit het om nooit weer die een ding te drink wat hom en sy vrou van 54 jaar se mees konstante daaglikse ritueel gekenmerk het nie.

 

Ek het laat verlede jaar die laaste bottel lemoenkonfyt oopgemaak. Gelukkig is daar nie gesondheidsowerhede in my spens nie, want dan sou hulle dalk besluit het die konfyt het sy vervaldatum bereik. Dit was nog perfek. En vanoggend steeds, toe ek die peperige eierontbyt afsluit met roosterbrood en lemoenkonfyt, het dit geproe of dit gister gekook is.

 

Ma en Pa was vanoggend hier by my. Rus sag, julle twee, en dankie vir die geheue van my tong.

 

 

 

 

 

19 antwoorde op Die geheue van jou tong

  1. swijte het gesê op Februarie 7, 2011

    Mooi woorde aan twee spesiale mense. Dit het my ook laat glimlag, want my dogtertjie is pal op pa se skoot, of hy eet of nie!! En daai woorde van Zoe is waar, mens kan hulle handjies in die koekies proe. Ai, hoe verlang ek vandag na my oumsie!!

  2. inadk het gesê op Februarie 7, 2011

    Ten tye van ma se dood sê iemand – ‘nou gaan jou ma vir jou lewendig word’ – so lewendig soos witpeper op die tong. Goeie onthou wat jy vandag oorvertel.

  3. Dankie vir hierdie sielekos ! Ek verstaan dit so goed want weke nadat my dogtertjie dood is, het ek nog van my lipstiffies in haar handsakkies gekry – die wat ek so gesoek het. En lekkertjies wat sy in haar kas gebere het – haar koekies wat sy by die skool gebak het, ‘n dag voor haar dood, in ‘n koekblik in die kas… Dis so pragtig Ilse ! Dankie !

  4. Ai Riana, ek weet nie hoe mens ooit oor die dood van ‘n kind kom nie. My ouers se dood was al klaar vir my so ongelooflik swaar. Sterkte ook vir jou en joune!

  5. Dankie Ina. Ja, op ‘n manier is hulle nou meer in mens se kop as toe hulle geleef het, ne?

  6. Dankie MamaT. Vir die besoek en die kommentaar.
    Zoe was omtrent vier toe sy hierdie wysheid kwytgeraak het.
    Nou het sy “ouma se reuk” ook in haar kamer, want sy het afgekom op ‘n bottel motbolle en besluit om van dit in haar kas te sit. Weird kind, my 12-jarige.

  7. Dankie Vlieg! Hopelik onthou ons kinders ons ook vir smake!

  8. Ilse
    Ek het nou gesnik soos ek huil! Hoe wonderlik is die onthou! My ma het altyd so wonderlike hamtert gemaak en ons almal het altyd gesê sy moet die vrieskas gestock hou, want wat gaan ons doen as sy dood is!

    Ek verstaan jou pa se rebellie. Ek eet nie eers oxtail nie, maar dit was die laaste kos wat ek vir my ma geneem het om te eet en toe sy later vir my die bord terug bring,”Sê sy dit was nou vreeslik lekker!’Dit was die laaste woorde wat ek haar hoor sê het! Ek het in 10 jaar dit nog nooit weer gemaak nie!

    Dankie vir jou mooi stuk! Dit is pragtig! Met geure en klanke sal ons hulle by ons hou….

  9. Inderdaad, Christa. My pa het nog die middag voor hy in ‘n koma is gevra vir kitskoffie, en ek het dit vir hom met ‘n strooitjie gevoer. Van water en energade wou hy niks weet nie, maar hy het soos ‘n kind gesuig aan daardie kouerige, slegte hospitaalkoffie.

  10. My ma is in ‘n motorongeluk dood. Ons laaste ete saam was ook die eerste keer in 13 jaar wat ons vier kinders aan dieselfde tafel en onder dieselfde dak was (die okkasie was my oudste broer se tweede troue). My sus en my jongste broer het lamskerrie gekook met regte, egte Indiese speserye. Baie van ons gesin se onthou draai om kos, want my ma was ‘n bitter goeie kok, en al vier ons Herselman-kinders is lief vir kosmaak, ook my broers.

  11. Dis lieflik geskryf, Ilse; die onthou is bittersoet – net soos lemoenkonfyt.

  12. Inderdaad. Die potjie nader nou sy einde, en dan het ek net die onthou.

  13. In ons huis is dit ook lemoenkonfyt genoem. Ek het nog ‘n skraapsel van my ma se laaste kooksel.

  14. Ek en mev. Johannesburg praat baie hieroor, dis nou die reuke en smake waarmee ons mense en dinge assosieer. Mens kan selfs die reuk of smaak herroep wanneer jy aan iets of iemand dink. Wat die tong betref, is die smaak van water in ‘n sinkbeker een van die helderste herinneringe. Ons Sandveld-huis het nie water naby gehad nie, ons moes water aanry vanaf die rivier wanneer dit in die winter geloop het. Die water se smaak was ‘n mengsel van berg, sand, en natuurlik die blik of sink. Drinkwater het in ‘n sinkemmer by die agterdeur gestaan en die drinkbeker was langsaan op die tafeltjie. As mens die beker na jou mond gelig het, was die mengsel van geure kenmerkend – eers op die neus en dan op die tong. Ai, hoe verlang ek nou!

  15. Ai, en jy en Mevrou het juis sulke wonderlike kindertydstories. Wanneer begin jy blog, Lodewikus???? Huh??

  16. Myne is regtig nou al amper op. Maar ek spaar dit…

  17. Blog? Wie? Ek? Lodewikus? Liewer my vriend Squire, Lodewikus is ‘n Stirrer

  18. Dis ‘n baie mooi inskrywe! (hugs)!

  19. 🙂 Thanks Single Girl!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.