Wat gebeur as mens laat in die aand TV-nuus kyk…

Februarie 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek het eers omtrent drie weke gelede DSTV gekyk nadat ek vir drie van die vier jaar sedert my egskeiding glad nie TV-konneksie gehad het nie. Nie eers om Es Y Bie Sie te kyk nie.

 

Maar omdat ek my alie gaan afwerk aan my volgende boek tussen nou en Junie, dog ek toe maar ek kry iets om die kinders te vermaak op al die aande wat ek vasgenael voor die rekenaar gaan sit.

 

So kyk ek toe gisteraand vir die eerste keer e-Nuus op KykNet. En lag my ‘n papie.

 

Nee, nie vir die mooi nuusleser met die onbeweeglike lippe nie (hoe DOEN sy dit???), en ook nie vir die weervrou wat die hele tyd met haar nie-beduiende hand óf ‘n V-teken óf ‘n stokstywe middelvinger vertoon nie. (Seriaas, gaan kyk bietjie – middelvinger, V, middelvinger… maar darem op heuphoogte, so dis seker net mense met siek breine wat dit raaksien. Soos ek…)

 

Nee, wat my laat lag het dat die bure seker laat wonder het presies WAT het die geskeide vrou langsaan persent gekry, was ‘n insetsel oor EFC. Die Extreme Fighting Championship, dommie. Overgesetzynde, hokgevegte. Nog meer overgesetzynde: mans wat in hokke klim en mekaar slaan en skop en bespring dat die sop spat. Letterlik. Soos in rofstoei, net met ‘n hok om. Kastig om te keer dat hulle mekaar uit die kryt smyt, maar waarskynlik eerder om te keer dat die verloorder weghol terwyl hy gil soos ‘n bakvissie by ‘n Justin Bieber-konsert.

 

Ek kyk die insetsel met ‘n halwe oog en omtrent ‘n kwart oor, want hokgevegte is SO last year! Gee mý eerder ‘n toespraak deur ‘n sekere joefleader om die adrenalien aan die pomp te kry… As Jewels die joefleader praat is ek altyd lus om hom iemand te klap.

 

Anyhoe, die kommentator Dirk Steenekamp se antwoord op die vraag oor hoekom mense dit kom kyk, trek toe my aandag. Nee, seg onse Dirk (verbatim, want ek het ‘n PVR en het dit oor en oor teruggespeel om seker te maak ek het reg gehoor) : “Dis seker maar net deel van menswees dat mense wil sien hoe twee mense in ‘n hok mekaar slaan.”

 

Toe wonder ek of ou Dirkman nie dalk ‘n hou te veel teen die kop gekry het op sy dag nie. Dit lyk immers of sy neus al ‘n paar keer gebreek was, en die neus en die brein is mos nogal naby mekaar…

 

Die effek van harde houe teen die kop word toe verder gedemonstreer deur ‘n ander deelnemer wat vertel dat hy “een van die die fiksste van al die ‘gevegters’ hier” is. Maar beslis nie een van die slimstes nie, hoor seuna!

 

Teen die tyd lag ek dat die honde gesteurd opkyk en die bure deur skrefies in hul slaapkamergordyne na my sitkamervenster loer. En hoe meer ek die juweeltjie terugspeel, hoe meer lag ek. (I should get out more, I know…)

 

Nog ‘n ander deelnemer vertel dat hy tot ses ure ‘n dag oefen, want dis ‘n “baie commiting” sport.

  

Nee regtig?

Committing klink vir my meer na ‘n gawe uitkoms vir deelnemers aan dié sportsoort…

9 antwoorde op Wat gebeur as mens laat in die aand TV-nuus kyk…

  1. “Different strokes for different folks” 🙂

    Sterkte met die boek.

  2. Min mense in hierdie dierbare land deel my sentimente, maar glo my, ek lag ewe so hard vir rugby. VERAL vir die onderhoude na die tyd. Wahahahaha. My nuutste verkneutering is die kommentators se halfgebakte kamma-informatiewe sinne (soms gegeur met ‘n verkleinwoordjie jier en daar)met die lang, niksseggende sug elke nou en dan tussen-in: “die sonnetjie wat uuuhm begin sak hier op uuuhm Nuweland”… En dan wag ek. WAT VAN DIE SON WAT SAK? WAT?

  3. hmvisser het gesê op Februarie 5, 2011

    Beste manier om nuus te kyk is om die klank heeltemal te “mute” en dan self die teks te lees. As die kinders aanwesig is, gaan met Barney fell down when he was dancing today and broke his big toe. For an X-rated version, begin of eindig sinne met “…. in die bed”. My persoonlike gunsteling is juis wanneer joefleader op is. Dan beskryf ek al die siektes waarvan ons op daai sex ed kursus geleer het… en nee, die kursus het nie praktiese sessies behels nie.

  4. Verlede jaar met ‘n toets het ek my ‘n papie gelag vir ‘n omroeper se Engels. Hy wou seg: “And he pushed forward”, en toe vergeet hy om die “h” in pushed uit te spreek…

  5. Ek kyk dit ook nie, maar hierdie kommentaar het my week gemaak!

  6. Dankie G!

  7. Ek ook. Miskien kan mens ‘n joefkongres in so hok hou…

  8. Ek gaan dit bietjie probeer. Maar ek moet bieg ek kyk baie min nuus. Ek lees eerder koerant.

  9. Dankie Two! Jy ook. Ek het dinnerparty gegee, en toe ek my rekenaar kom afsit sien ek julle kommentare. En toe lees ek eers e-pos, en nou is dit al amper halfeen, en ek wou nog gou die kombuis ook bydam!!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.