“Wat is die towerwoord?”

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek is geseën met twee baie bekkige, openhartige kinders. Wat al tot groot sports gelei het. (Gelukkig darem nog nie tot ernstige moeilikheid nie.)

 

Zoë het vroeg begin praat. Op ses maande, om presies te wees. Haar heel eerste woord was “teddie”. Ons was stomverbaas, en toe ek haar vra wat sy gesê het, het sy my met vrolike blou ogies aangekyk en dit herhaal. Met klem, soos wat mens maar met ‘n baie dom ma praat: “Te-die.” Lawwe vrou wat nie luister nie…

 

Vir die volgende drie maande het sy heerlik gekekkel. “Yt” was die volgende woord. Vir die honde natuurlik. En mamma en pappa het darem ook iewers opgeduik. En tapo, vir optel. En allerhande woordjies wat ek al vergeet het.

Op nege maande staan sy toe op ‘n dag op sonder woorde. Stomgeslaan, as’t ware. Want om te leer loop verg toe elke ons konsentrasie. ‘n Fisioterapeut-vriendin verseker my dis heeltemal normaal dat vroeë pratertjies ophou praat terwyl hulle leer loop, of andersom. Dit IS darem seker bietjie vergesog om te verwag dat enige mens – selfs ‘n vrou – op nege maande al kan multitask!

 

Anyhoe, die stilte het omtrent ‘n maand geduur, en toe sy nou lekker kan loop, begin sy weer praat. (En sy het nog nie weer opgehou nie… sug.)

 

Op 15 maande gebeur die ding waaroor ons tot vandag toe nog lag. Sy sit aan etenstafel en wag vir haar broodjie. Hand onder die ken, nogal. Dis asof ek haar voor my sien – ernstig honger.

 

Ek sit die gesmeerde broodjie voor haar neer, en, net toe ek terugdraai om die kaas te kry, haak sy af: “Ek wil kaas hê!” Niks goeiemôre of goeienaand of asseblief of dankie nie. Waarop hierdie kwaai ma natuurlik vra: “En wat is die towerwoord?”

 

Kennetjie-op-die-hand sit sy daar en dink vir ‘n l-a-a-a-a-n-g oomblik. Toe kom daar ‘n lig aan in die helderblou ogies. ‘n Aha-oomblik, sou Oprah dit dalk noem.

“Bl*ksem!” sê sy, baie ingenome met haarself…

 

*Naskrif: Haar pa was baie vies toe ek en haar halfbroer (op daardie stadium in standerd ses) onbedaarlik begin lag. Toe sit ek maar my hande oor my gesig en probeer sag lag, wat seker half stotterend en hikkend geklink het. Ek en boeta lag dat die trane oor ons wange stroom. Waarop sy opreg verbaas opkyk en vir my vra: “Hyl jy, huh?”

12 antwoorde op “Wat is die towerwoord?”

  1. My hyl-land. Pragtig.

  2. Dit beteken mos “lewe”. En dit is sy! Dis ook die naam wat die eerste Griekse Christene vir hul dogters gegee het om hulle te onderskei van die heidense Grieke.

  3. My (nou) oudste het ook op nege maande begin loop. Maar nooit verdomp geleer praat nie ! Noudat hy ‘n tiener is is dit net huh ..

  4. Pragtige storie. Wens ek het so ‘n kleinkind gehad…

    Seuntjie en sy ma sit in die trein en vriendelike tannie gee vir hom ‘n appel, wat hy woordeloos aanvaar.
    “Wat is die toorwoordjie?”” vra Mamma
    “Skil dit af…”

  5. Jy het so kleinkind! Jy’s dan die surrogaat-oupa. Oeps, vergeet jy’s sensitief oor “surrogaat”. Okay, okay, jy’s dan die AANNEEM-oupa!!

  6. En whahahaha vir daai towerwoord. Maar hy is duideliker baie beter grootgemaak as Zoe!

  7. Laat my dink aan Zits, so ‘n spotprent in Rapport en Beeld. Hy duh en huh en mompel en dajfjaljflajgljlkdjflkj ook maar net meestal. Sy ma het die anderdag ‘n “tolk” omgekoop om te vra wat hy alles seg…

  8. Wie? Ek? Lodewikus? Lodewikus Johannesburg? Of my alter ego (oorspronklike uitgawe?)

  9. Ag, sommer jy, Lodewikus, Lodewikus Johannesburg en al die ander stemme in jou kop!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.