Die lewe deur die oë van Freud

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

Daar IS nie ‘n lekkerder werksplek in die land as my kantoor nie. Omring deur my honde en katte met die rustige geluide van my eie huis en tuin. Martha Moroke, al nege jaar my regter- en linkerhand (en soms dikwels my geheue!) wat in die huis werskaf. Potte wat uitgehaal word vir middagkos, haar sagte geneurie. Die bure se honde wat blaf vir al wat beweeg. Die geveerdes wat in die bome sit en tjirp en tjilp…

En Freud en Klokkie. My eie twee geveerdes. African Grey en kokketiel, albei ewe bekkig. Ek probeer nou onthou, maar kan nie eintlik uitwerk wie is die langste by ons nie. Feit is, albei is minstens ses jaar deel van hierdie ietwat vreemde huishouding.

En albei praat. Freud, synde ‘n papegaai, het ‘n groter woordeskat, maar Klokkie probeer sy bes om by te bly. “Hallo Klok, hallo Klok!” groet hy gereeld. En “kom piepie!” vir die honde. En hy gee sulke fyn niesies as een van ons nies. Nies, nies, nies. Altyd drie. En dan, dink ek altyd, sit en smaail hy by homself. Huismense vermaak – tiek dit van jou lys af, Klok.

As ek met die kinders raas, skree Klokkie saam. Hoe harder ek praat om myself te laat hoor, hoe harder skreeu hy. Kinders beskerm teen die nare heks – nog ‘n tiek.

Oor Freud kan ‘n mens ‘n boek skryf. Soos die keer wat hy onophoudelik sit en blaf – hy kan al ses honde se blaf perfek namaak, en het onlangs besluit om Liza-die-Jack-Russel-van-langsaan se geblaf deel van sy groeiende repertoire te maak. Ewentwel, een Sondag sit en blaf hy vroegoggend terwyl ek tee maak. Die hele huis is stil, en die kinders slaap nog. Ek koester die stilte en raas: “Freud, hou op blaf!” Waarop hy my skewekop aankyk en amper vraend-sê: “Miaau?” (By die drie katte geleer, natuurlik.)

‘n Ander keer speel-baklei die katte op die vloer voor sy hok. Die geskop en gesis en aanganery het hom later verveel, waarop hy vernaam op sy hok se dak klim en vir hulle begin blaf.

Glo jy my dalk nie? Vra enige papegaai-liefhebber oor hul geveerdes se sin vir humor en perfekte tydsberekening. Skrywer Chanette Paul vertel my eenkeer hoe sy na haar pa se papegaai moes omsien terwyl sy besig is om reg te maak vir ‘n groot onthaal. Sy werk met soveel ys dat haar hande later omtrent wil afval van die koue terwyl ta op sy hok sit en heeltyd in haar pa se stem sug: “Sjoe, maar dis warm!”

Na die soveelste lamentasie vererg Chanette haar en sê: “Lyk dié vir jou warm? Wat dink jy is dit?” En die klokhelder antwoord kom: “Ys!”

Ek laat maak vir Freud ‘n leertjie vir sy hok, want hy kou gereeld sy stokke deur. Maar hy vind die nuwe leer heeltemal te intimiderend, en ek haal dit vir eers uit en sit dit agter sy hok. En vergeet daarvan. Die volgende oggend maak ek sy hok oop, en hy klouter oor die nog-met-kombers-bedekte-hok na bo en stryk fluks aan na die vensterraam waaraan hy so graag kou. (Ek het toe al ‘n rubberhandskoen en ‘n sagte speelding daar gehang om hom af te skrik, maar niks werk nie.) Toe hy so oor die rand van die hok loer en die leertjie in die geliefde vensterbank sien staan, steek hy vierspoor – wel, tweespoor dan – vas en sê: “My f*k!” (Natuurlik NIE by deugsame ekke geleer nie! J) Ek is bly om te vertel dat die vensterraam nog nooit weer deurgeloop het nie, en dat ek vriend Ludi eerlik kon antwoord toe hy vra wat Freud van die leertjie dink wat hy gemaak het.

Op die dae wat die tuinman kom, sit Freud heeltyd op sy hok en roep “Alton!”. As iets ‘n lag vereis, giggel die grys gevogelte presies soos Zoë. As die telefoon lui, trek hy solank weg met “Ilse, hallo!”, en “Loekie Poekie” word gereeld geroep.  Soms betig hy homself met ‘n “stttoute hoender”, en ander kere “varkie, varkie, varkie” hy dat hoor en sien vergaan.

Martha is sy gunstelingmens op aarde (behalwe natuurlik die uwe) en as hy haar sien skree hy met ‘n spesiale stem wat hy net vir dié okkasies gebruik: “Marthatjie!” Of hy haar ooit herken? You do the math. Toe ek na my bejaarde pa gekyk het, was daar minstens drie verskillende verpleeghulpe wat gekom en gegaan het in skofte. Freud het nie een keer een van húlle vir Martha aangesien nie en net uit die hoogte na hulle sit en kyk. As Martha vir ‘n naweek weggaan, noem hy ook nie sommer haar naam nie, maar sodra sy by die kombuis instap, weet die hele buurt dit! Soggens as ons ontbyt eet, weet hy dis amper tyd vir Martha om in te kom, en roep hy soms na haar. Verlede week antwoord Luc hom: “Martha kom nou-nou, hoor!” Waarop Freud met ‘n baldadige “whieeeeeeeu!” reageer! Nes ‘n klein seuntjie!

Vanoggend besef ek dat dit selfs te gevaarlik raak om voor die slim gedierte te skinder. Ek vertel vir Martha hoe ek ‘n kennis maklik in sy slaap sou leed aandoen – okay, eintlik het ek gesê versmoor – as ek met hom getroud moet wees, toe Freud afhaak en ewe kordaat sê: “Hoekom?”

Nou weet ek hoekom daar altyd gespot word dat oujongnooiens papegaaie het. Waar kry mens sulke goeie geselskap? (En boonop wil hy nie rys, vleis en aartappels hê soos sy ma dit gekook het nie… R30 se saad ‘n maand doen sommer die truuk.)

9 antwoorde op Die lewe deur die oë van Freud

  1. Al is jy alleen, sal jy seker nooit regtig alleen of verveeld wees met ‘n pappegaai soos daai.

  2. Ons treur nog steeds oor die verlies van ons papegaai Iggy wat kersdag weggevlieg het en nooit weer verskyn het nie. Kan dit nie oor ons harte kry om van sy hok ontslae te raak nie. Sonder hulle besef mens eers hoeveel mens met hulle gesels.

  3. DV!!! Lekkkkkker om jou hier te sien! Ja, dis konstante geselskap en kameraadskap. Ek het hom nou-nou gaan kosgee, en sommer ‘n soen ook gekry. As hy my kind sien, maak hy sommer byvoorbaat al ‘n soengeluid.

  4. Beslis nie. Daar is altyd ‘n vrolike stem iewers in die huis (wat ‘n pyn kan wees as mens wil laatslaap, maar ‘n kombers oor die hok hou hom bietjie langer in lala-land.)

  5. Ja, Twolips, hulle vang mens soms lekker onkant!

  6. malma het gesê op Februarie 3, 2011

    Klink oulik, Tannemys.
    🙂

  7. Uitstekende storie

  8. Thanks MM!

  9. Dankie Geanann!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.