Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

My boek is terug van die drukkers!

Februarie 22, 2011 in Sonder kategorie

En so lyk hy (net sodat jy hom kan herken as jy hom op die winkelrakke sien, en dadelik kan koop Smile. Onthou, ek het kinders en honde en katte om kos te gee…)

Boodskappe hemel toe.

Februarie 21, 2011 in Sonder kategorie

Vrydag skryf Annemarie van der Walt in Beeld ‘n pragrubriek oor briewe, en FB-vriend Francois Theron sê ek moet ook iets skryf. (Hy por seker net hoflik en subtiel aan dat ek weer ‘n slag moet blog…)

 

So dink ek die hele naweek. Oor briewe. En nostalgie. En oor ons sterflikheid – behalwe vir Lucas Maree, weet ek van vyf mense wat verlede week dood is (vriende of familie van vriende). Wat my so effe laat skrik, tot ek besef ons moderne mense met sosiale netwerke en groot vriendekringe en selgroepe en mega-gemeentes ken seker meer mense as ons ouers, en sal daarom seker ook weet van meer mense wat doodgaan.

 

Verlede week gaan werk ek in George, en kuier sommer by my pel sedert laerskooljare. Marliza se pa is vyf maande voor my ma pynlik dood aan pankreaskanker. Ons praat oor hoe ons hulle mis, en hoe die gemis sommer so op ‘n dag toeslaan. Soos ‘n hou uit die donker.

 

Vandag skryf twee FB-vriendinne oor hulle ma’s. Marsha du Toit (wat ek van skooldae af ken) se ouers leef nog, en sy was die naweek by hulle op die plaas. So skryf sy: “Tel jou seëninge. Tel hul een vir een. En as jy ouers soos myne het, tel hulle twee maal.”

 

Ek kan aan ‘n klomp redes dink hoekom mens so status update het na ‘n naweek by die huis. Vir een, omdat jy nog ‘n ouerhuis het om na toe te gaan. Vir my was dit soos ‘n hou in die maag toe ek besef ek sal nooit weer kan huis toe gaan nie. Dat iemand anders nou daar bly en selfs die telefoonnommer oorgeneem het.

 

As ‘n kind van dieselfde vallei as Marsha, weet ek ook dat haar motor waarskynlik toegepak was met alles wat lekker is hierdie tyd van die jaar uit die Breëriviervallei: geelperskes, hanepoot… en seker haar ma se huisbederfies. Hoe kan ek ooit my eie ma s’n vergeet? Van ‘n bord Sondagkos (toe ek nog in ‘n woonstel op Stellenbosch gebly het) tot ‘n kissie druiwe wat sorgvuldig saamgevlieg is van die Kaap af Johannesburg toe. En moenie die 2liter roomysbakke vol Hertzoggies en vlakoekies in haar tas vergeet nie…

 

Maar ek mis nie net die aardse seëninge van ‘n ma en pa nie. Ek mis alles van hulle, besef ek toe ek Marsha se inskrywing lees.

 

En wraggies, ek is nie alleen nie! Enkele posts ondertoe skryf Sonia Cabano, nog ‘n FB-vriendin: “Ek wens die hemel het ‘n Facebook gehad sodat ek met my ma kan gesels.”

 

Sy skryf verder: “Ek mis haar iets verskriklik. Het haar ou handgeskrewe kookboek gelees en reddeloos begin huil. Mens het net een ma, en niks proe soos haar kos nie.”

Ek weet, Sonia, ek weet. En ek onthou elke keer as ek die skewerige krapskriffie in my resepteboek raaklees. Ek onthou een Sondag van blinde paniek en ‘n baie werklike angs wat my beetgepak het. Ses maande na haar dood wil ek my gunsteling kindertydse poeding maak. Dis sommer net bruinpoeding genoem in ons huis. Dit bestaan uit ‘n sous waarin jy dan deeg skep, en alles saamstoom. Daar was twee weergawes. Die langer een, wat op die stoof gedoen is, en die mikrogolf-weergawe. Ek het een van hulle se bestanddele afgeskryf, maar nooit die metode nie. Dáárvoor het ek sommer Sondagoggende huis toe gebel en by Ma gehoor.

En toe, daardie dag, vat ek instinktief na die foon. Soos al die jare vantevore. En onthou Ma leef nie meer nie. Die angs wat my oorval was heeltemal buite verhouding tot die voorval. Dit was, na alles, net ‘n poedingresep – waarvoor ek met ‘n bietjie soek in my baie resepteboeke, wel ‘n metode sou kry.

Maar daar staan ek met ‘n bors wat toetrek van vrees en trane in my oë: sê nou net ek kan dit nooit weer eet nie? Dan verdwyn nie net die smaak van die poeding nie, maar een van die lekkerste herinnerings van my kindertyd. Want dit simboliseer rustige Sondagetes na kerk. Samesyn. Kos wat met liefde gekook is. Soveel meer as net die kaneelstroop se gemmerige smaak…

Sonia skryf verder: “Ek onthou hoe haar tuin gevoel het op sulke dae, vol koel skaduplekke en pragtige blomme wat later met skemer hul parfuum deur die tuin laat swewe het.” En oor Sondae: “En die koel huis binne, waar sy graag op Sondae klassieke musiek en opera gespeel het.”

Sondagmusiek vir my is die radio se “Alle volke loof die Here” Sondae voor kerk. Dit was die tyd van rustig klaarmaak vir kerk. Nie dieselfde paniekerige harwar van my eie huishouding op Sondagoggende nie.

My pa het Sondae ontbyt gemaak – dit was net so van ek kan onthou. Slap mieliepap, iets wat ek helaas nie kon geëet kry nie. (Moet iets te doen hê met my kleintydse noodoperasie en die twee weke in die Roomse Hospitaal in Windhoek waar die nonne graag – en baie gebiedend – slap mieliepap met ‘n gebreekte rou eier bo-oor op my trollie kom neerplonk het…) Maar Pa en Ma eet mieliepap, en ek ‘n sny roosterbrood. En ons drink Pa se moerkoffie wat in ‘n flennie koffiesak gemaak is. En op die radio word die Here geloof in Latyns en Afrikaans en watter taal ookal, deur kore en operasangers. En die omroeper se rustige stem draal deur dit alles. (Ek dink hy het tot onlangs nog uitgesaai.)

Daarna is ek en Pa kerk toe. Ma het nie Sondagoggende saamgekom nie, want sy het kosgemaak. Dit was in die dae voor mikrogolfoonde, en sy het nie geglo in kos warm hou in ‘n lou-oond nie. En daar is presies 12 uur geëet. Die 13h15-nuus is in die bed gelê en luister, die kombuis silwerskoon, die mae behaaglik vol vir die middagslapie. Saans is ons almal saam kerk toe.

Dit was Sondae. Dit was hoekom ek bruinpoeding weer móés proe.

Net soos Sonia wens ek ek kon boontoe bel. Veral Sondae, want dit was die gebruik. Een maal ‘n week is daar huis toe gebel. Minstens. Ek wens ek kon foto’s stuur – van jongste en oudste. Van my tuin waaroor sy mal sou wees (dis bont en deurmekaar met vloeiende beddings, so anders as die reguit, simmetriese beddings wat my pa altyd gemaak het). Ek sou vir haar wou grappe vertel – jy kon haar in ‘n wip vang met ‘n grap – net om weer daardie lekker skaterlag te hoor… Ek sou nog resepte wou kry, want soos Sonia tereg skryf: “Mens het net een ma, en niks proe soos haar kos nie.”

Al het my pa nog vir 13 maande voor sy dood by my gebly, was dit nie tyd waarin ons veel kon onthou nie. Pa was seniel van Alzheimers en verlang na Ma, en die gordyn van sy onthou was vir breukdele van sekondes oop. En dan wou hy gewoonlik net weet waar Ma is. My verlang en my onthou moes ek vir myself hou.

Ek verlang nog nie so dikwels en so séér na my pa nie – seker omdat ek maande tyd gehad het om aan sy naderende dood (uiteindelik van prostaatkanker) gewoond te raak. Omdat ek kon vrede maak, alles kon sê en doen wat belangrik was. Maar ek het heimwee oor hom.

Ek sien hom in sy kakiestofjas in die tuin – hy was altyd skoon, en het selfs sy tuinklere met groot ontsag behandel (tipies ‘n kind wat in die Depressie grootgeword het). Ek sien hom ingestap kom met ‘n skotteltjie vol vars groenbone uit die tuin, ‘n groen ui met die lobbe nog aan waarin my ma die tjoppies moes potbraai. Ek onthou dat hy weer verlei kon word met bruinerige soetpatats. En koekies by sy tee.

Ek onthou dat hy kon tjops braai soos niemand anders wat ek ken nie, en dat ook dit ‘n gedoente was waarvoor die stofjas uitgehaal is (darem net om die braai uit te stoot en vir die skoonmaak agterna). Ek onthou hoe lief hy vir jukskei was, en dink met hartseer daaraan dat al daardie ure en maande en jare van op komitees en keurkomitees dien en bane versorg nie eers onthou word nie. Dat niemand seker eers daaraan gedink het om ‘n “in memoriam”-stukkie vir die jaarlikse nasionale jukskei-jaarboek te stuur nie. Want hý het dit altyd gedoen vir almal wat voor hom gegaan het – sodat mense hulle nie so gou moet vergeet nie.

Ek stem saam met ‘n ander kommentaar op Sonia se status: eintlik sou Skype die lekkerste gewees het. Vir wys, en vir sien.

Want ek is seker as ons kon sien hoe gelukkig hulle nou is, sal ons nie so baie verlang nie. Of nee, ek sal steeds, want ek verlang uit en uit vir myself en my eie selfsugtige redes.

Maar nou moet jy my verskoon: ek wil gaan kyk of ek nog daardie bruinpoeding kan maak… Wie het gesê dis net vir Sondae?

Die geheue van jou tong

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek ‘n baie klein dogtertjie was – omtrent so twee – het my pa soggens donker al gaan werk, en dan later in die oggend, as die oueres skool toe is, kom ontbyt eet. Ontbyt was altyd dieselfde: ‘n sagte gebakte eier op roosterbrood. Met die eier dik gestrooi van witpeper.

 

Ek was elke oggend op dieselfde plek: op sy skoot. Waar ek happies van sy ontbyt gebedel het. Peper of te nie.

 

Omtrent drie weke gelede koop ek vir die eerste keer in jare weer witpeper. Swartpeper het mos mode geword. En saam met die sterk witpeper word ‘n klomp nuwe smake weer deel van my lewe. Ek leer die oudste en die jongste hoe anders dit proe.

 

Vanoggend, na ‘n nag waarin my kop nie kon afskakel nie, word ek wakker met ‘n lus vir saggerige eier met baie witpeper op roosterbrood. Beslis nie my gewone ontbyt nie. En vir Ma se tuisgemaakte marmelade. Pond-vir-pond, het sy altyd vertel as iemand haar daaroor vra. ‘n Pond suiker op ‘n pond sitrusvrugte. Pa se ma se resep, maar my ma se forté.

 

Toe ons na haar gru-dood die huis gaan opruim terwyl Pa nog in Windhoek herstel van sy beserings, kom ek en my sus af op lemoenkonfyt (dis nooit in ons huis marmelade genoem nie) in die spens. Die spens in die aftreehuis waarop sy so ontsettend trots was. Daar is genoeg konfyt vir al vier ons kinders. Die datum op die proppies, in Ma se kenmerkende skewe skrif, is ‘n maand voor die ongeluk. Pa het met sy beroerte-hande die vrugte in dun repies gesit en sny met die knipmes, Ma het gekook en skuim afgeskep. Ons het alles oor die foon gehoor – van hoe Pa wil help, maar dat sy bang is hy trek die pot kokende konfyt op hom om. Want voor sy beroerte het hy mos ontpop in die konfytkoning, en daar was ‘n woeste kompetisie. Ons kinders het al die pad gesmaail, want ons kaste was nooit sonder tamatie- en appelkooskonfyt of ingelegde koejawels nie. Maar na die beroerte was Pa broos en Ma altyd aan die uitkyk vir hom.

 

Met die huis-oppak kry ons hoenderpastei en soetpatats en groenbone en sagte gestoofde lamstjoppies in die vrieskas. Ons twee eet daardie laaste naweek ooit in ons ouerhuis dat die trane loop – letterlik. ‘n Galgemaaltyd, soort van. Want, soos Zoë eenkeer gesê het toe sy van die koekies eet wat Ouma met liefde gebak en gepos het vir die twee Fillistyne: “Ek proe my ouma se handjies in hierdie koekies.”

 

Na my ma se dood het my pa by my kom bly. En summier geweier om sy mond aan voorheen-gunstelingkos te sit. Behalwe patats. Daarmee kon jy hom in ‘n wip vang. (My ma het immers gekla dat sy al so moeg is vir patat, want my pa wil dit elke dag eet.) 

 

Selfs tee het hy afgesweer, en letterlik net kitskoffie gedrink. Kitskoffie het ons nooit in ons huis gedrink nie. Pa het elke oggend van my lewe regte Koffiehuis moerkoffie gemaak in ‘n Hart-ketel met ‘n koffiesak van flennie wat Ma gemaak het. Kitskoffie was beperk tot melkkoffie – soms, soos Sondagaande na kerk. Helfte melk, helfte water. Tee was vir elfuur en vieruur en na etes, koffie vir ontbyt, elke dag van my vier dekades..

 

Was my pa se aandrang op kitskoffie met koue melk rou of rebellie? Hoe sal ek weet, want hy het sy verstand verloor toe Ma hemel toe is. Die een keer wat ek vir hom tee gemaak het in daardie laaste dertien maande, het hy dit met minagting gedrink. So glad nie hoe hy ooit was nie. Ek verkies om te glo dit was rou wat hom laat besluit het om nooit weer die een ding te drink wat hom en sy vrou van 54 jaar se mees konstante daaglikse ritueel gekenmerk het nie.

 

Ek het laat verlede jaar die laaste bottel lemoenkonfyt oopgemaak. Gelukkig is daar nie gesondheidsowerhede in my spens nie, want dan sou hulle dalk besluit het die konfyt het sy vervaldatum bereik. Dit was nog perfek. En vanoggend steeds, toe ek die peperige eierontbyt afsluit met roosterbrood en lemoenkonfyt, het dit geproe of dit gister gekook is.

 

Ma en Pa was vanoggend hier by my. Rus sag, julle twee, en dankie vir die geheue van my tong.

 

 

 

 

 

Wat gebeur as mens laat in die aand TV-nuus kyk…

Februarie 5, 2011 in Sonder kategorie

Ek het eers omtrent drie weke gelede DSTV gekyk nadat ek vir drie van die vier jaar sedert my egskeiding glad nie TV-konneksie gehad het nie. Nie eers om Es Y Bie Sie te kyk nie.

 

Maar omdat ek my alie gaan afwerk aan my volgende boek tussen nou en Junie, dog ek toe maar ek kry iets om die kinders te vermaak op al die aande wat ek vasgenael voor die rekenaar gaan sit.

 

So kyk ek toe gisteraand vir die eerste keer e-Nuus op KykNet. En lag my ‘n papie.

 

Nee, nie vir die mooi nuusleser met die onbeweeglike lippe nie (hoe DOEN sy dit???), en ook nie vir die weervrou wat die hele tyd met haar nie-beduiende hand óf ‘n V-teken óf ‘n stokstywe middelvinger vertoon nie. (Seriaas, gaan kyk bietjie – middelvinger, V, middelvinger… maar darem op heuphoogte, so dis seker net mense met siek breine wat dit raaksien. Soos ek…)

 

Nee, wat my laat lag het dat die bure seker laat wonder het presies WAT het die geskeide vrou langsaan persent gekry, was ‘n insetsel oor EFC. Die Extreme Fighting Championship, dommie. Overgesetzynde, hokgevegte. Nog meer overgesetzynde: mans wat in hokke klim en mekaar slaan en skop en bespring dat die sop spat. Letterlik. Soos in rofstoei, net met ‘n hok om. Kastig om te keer dat hulle mekaar uit die kryt smyt, maar waarskynlik eerder om te keer dat die verloorder weghol terwyl hy gil soos ‘n bakvissie by ‘n Justin Bieber-konsert.

 

Ek kyk die insetsel met ‘n halwe oog en omtrent ‘n kwart oor, want hokgevegte is SO last year! Gee mý eerder ‘n toespraak deur ‘n sekere joefleader om die adrenalien aan die pomp te kry… As Jewels die joefleader praat is ek altyd lus om hom iemand te klap.

 

Anyhoe, die kommentator Dirk Steenekamp se antwoord op die vraag oor hoekom mense dit kom kyk, trek toe my aandag. Nee, seg onse Dirk (verbatim, want ek het ‘n PVR en het dit oor en oor teruggespeel om seker te maak ek het reg gehoor) : “Dis seker maar net deel van menswees dat mense wil sien hoe twee mense in ‘n hok mekaar slaan.”

 

Toe wonder ek of ou Dirkman nie dalk ‘n hou te veel teen die kop gekry het op sy dag nie. Dit lyk immers of sy neus al ‘n paar keer gebreek was, en die neus en die brein is mos nogal naby mekaar…

 

Die effek van harde houe teen die kop word toe verder gedemonstreer deur ‘n ander deelnemer wat vertel dat hy “een van die die fiksste van al die ‘gevegters’ hier” is. Maar beslis nie een van die slimstes nie, hoor seuna!

 

Teen die tyd lag ek dat die honde gesteurd opkyk en die bure deur skrefies in hul slaapkamergordyne na my sitkamervenster loer. En hoe meer ek die juweeltjie terugspeel, hoe meer lag ek. (I should get out more, I know…)

 

Nog ‘n ander deelnemer vertel dat hy tot ses ure ‘n dag oefen, want dis ‘n “baie commiting” sport.

  

Nee regtig?

Committing klink vir my meer na ‘n gawe uitkoms vir deelnemers aan dié sportsoort…

“Wat is die towerwoord?”

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

Ek is geseën met twee baie bekkige, openhartige kinders. Wat al tot groot sports gelei het. (Gelukkig darem nog nie tot ernstige moeilikheid nie.)

 

Zoë het vroeg begin praat. Op ses maande, om presies te wees. Haar heel eerste woord was “teddie”. Ons was stomverbaas, en toe ek haar vra wat sy gesê het, het sy my met vrolike blou ogies aangekyk en dit herhaal. Met klem, soos wat mens maar met ‘n baie dom ma praat: “Te-die.” Lawwe vrou wat nie luister nie…

 

Vir die volgende drie maande het sy heerlik gekekkel. “Yt” was die volgende woord. Vir die honde natuurlik. En mamma en pappa het darem ook iewers opgeduik. En tapo, vir optel. En allerhande woordjies wat ek al vergeet het.

Op nege maande staan sy toe op ‘n dag op sonder woorde. Stomgeslaan, as’t ware. Want om te leer loop verg toe elke ons konsentrasie. ‘n Fisioterapeut-vriendin verseker my dis heeltemal normaal dat vroeë pratertjies ophou praat terwyl hulle leer loop, of andersom. Dit IS darem seker bietjie vergesog om te verwag dat enige mens – selfs ‘n vrou – op nege maande al kan multitask!

 

Anyhoe, die stilte het omtrent ‘n maand geduur, en toe sy nou lekker kan loop, begin sy weer praat. (En sy het nog nie weer opgehou nie… sug.)

 

Op 15 maande gebeur die ding waaroor ons tot vandag toe nog lag. Sy sit aan etenstafel en wag vir haar broodjie. Hand onder die ken, nogal. Dis asof ek haar voor my sien – ernstig honger.

 

Ek sit die gesmeerde broodjie voor haar neer, en, net toe ek terugdraai om die kaas te kry, haak sy af: “Ek wil kaas hê!” Niks goeiemôre of goeienaand of asseblief of dankie nie. Waarop hierdie kwaai ma natuurlik vra: “En wat is die towerwoord?”

 

Kennetjie-op-die-hand sit sy daar en dink vir ‘n l-a-a-a-a-n-g oomblik. Toe kom daar ‘n lig aan in die helderblou ogies. ‘n Aha-oomblik, sou Oprah dit dalk noem.

“Bl*ksem!” sê sy, baie ingenome met haarself…

 

*Naskrif: Haar pa was baie vies toe ek en haar halfbroer (op daardie stadium in standerd ses) onbedaarlik begin lag. Toe sit ek maar my hande oor my gesig en probeer sag lag, wat seker half stotterend en hikkend geklink het. Ek en boeta lag dat die trane oor ons wange stroom. Waarop sy opreg verbaas opkyk en vir my vra: “Hyl jy, huh?”

Die lewe deur die oë van Freud

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

Daar IS nie ‘n lekkerder werksplek in die land as my kantoor nie. Omring deur my honde en katte met die rustige geluide van my eie huis en tuin. Martha Moroke, al nege jaar my regter- en linkerhand (en soms dikwels my geheue!) wat in die huis werskaf. Potte wat uitgehaal word vir middagkos, haar sagte geneurie. Die bure se honde wat blaf vir al wat beweeg. Die geveerdes wat in die bome sit en tjirp en tjilp…

En Freud en Klokkie. My eie twee geveerdes. African Grey en kokketiel, albei ewe bekkig. Ek probeer nou onthou, maar kan nie eintlik uitwerk wie is die langste by ons nie. Feit is, albei is minstens ses jaar deel van hierdie ietwat vreemde huishouding.

En albei praat. Freud, synde ‘n papegaai, het ‘n groter woordeskat, maar Klokkie probeer sy bes om by te bly. “Hallo Klok, hallo Klok!” groet hy gereeld. En “kom piepie!” vir die honde. En hy gee sulke fyn niesies as een van ons nies. Nies, nies, nies. Altyd drie. En dan, dink ek altyd, sit en smaail hy by homself. Huismense vermaak – tiek dit van jou lys af, Klok.

As ek met die kinders raas, skree Klokkie saam. Hoe harder ek praat om myself te laat hoor, hoe harder skreeu hy. Kinders beskerm teen die nare heks – nog ‘n tiek.

Oor Freud kan ‘n mens ‘n boek skryf. Soos die keer wat hy onophoudelik sit en blaf – hy kan al ses honde se blaf perfek namaak, en het onlangs besluit om Liza-die-Jack-Russel-van-langsaan se geblaf deel van sy groeiende repertoire te maak. Ewentwel, een Sondag sit en blaf hy vroegoggend terwyl ek tee maak. Die hele huis is stil, en die kinders slaap nog. Ek koester die stilte en raas: “Freud, hou op blaf!” Waarop hy my skewekop aankyk en amper vraend-sê: “Miaau?” (By die drie katte geleer, natuurlik.)

‘n Ander keer speel-baklei die katte op die vloer voor sy hok. Die geskop en gesis en aanganery het hom later verveel, waarop hy vernaam op sy hok se dak klim en vir hulle begin blaf.

Glo jy my dalk nie? Vra enige papegaai-liefhebber oor hul geveerdes se sin vir humor en perfekte tydsberekening. Skrywer Chanette Paul vertel my eenkeer hoe sy na haar pa se papegaai moes omsien terwyl sy besig is om reg te maak vir ‘n groot onthaal. Sy werk met soveel ys dat haar hande later omtrent wil afval van die koue terwyl ta op sy hok sit en heeltyd in haar pa se stem sug: “Sjoe, maar dis warm!”

Na die soveelste lamentasie vererg Chanette haar en sê: “Lyk dié vir jou warm? Wat dink jy is dit?” En die klokhelder antwoord kom: “Ys!”

Ek laat maak vir Freud ‘n leertjie vir sy hok, want hy kou gereeld sy stokke deur. Maar hy vind die nuwe leer heeltemal te intimiderend, en ek haal dit vir eers uit en sit dit agter sy hok. En vergeet daarvan. Die volgende oggend maak ek sy hok oop, en hy klouter oor die nog-met-kombers-bedekte-hok na bo en stryk fluks aan na die vensterraam waaraan hy so graag kou. (Ek het toe al ‘n rubberhandskoen en ‘n sagte speelding daar gehang om hom af te skrik, maar niks werk nie.) Toe hy so oor die rand van die hok loer en die leertjie in die geliefde vensterbank sien staan, steek hy vierspoor – wel, tweespoor dan – vas en sê: “My f*k!” (Natuurlik NIE by deugsame ekke geleer nie! J) Ek is bly om te vertel dat die vensterraam nog nooit weer deurgeloop het nie, en dat ek vriend Ludi eerlik kon antwoord toe hy vra wat Freud van die leertjie dink wat hy gemaak het.

Op die dae wat die tuinman kom, sit Freud heeltyd op sy hok en roep “Alton!”. As iets ‘n lag vereis, giggel die grys gevogelte presies soos Zoë. As die telefoon lui, trek hy solank weg met “Ilse, hallo!”, en “Loekie Poekie” word gereeld geroep.  Soms betig hy homself met ‘n “stttoute hoender”, en ander kere “varkie, varkie, varkie” hy dat hoor en sien vergaan.

Martha is sy gunstelingmens op aarde (behalwe natuurlik die uwe) en as hy haar sien skree hy met ‘n spesiale stem wat hy net vir dié okkasies gebruik: “Marthatjie!” Of hy haar ooit herken? You do the math. Toe ek na my bejaarde pa gekyk het, was daar minstens drie verskillende verpleeghulpe wat gekom en gegaan het in skofte. Freud het nie een keer een van húlle vir Martha aangesien nie en net uit die hoogte na hulle sit en kyk. As Martha vir ‘n naweek weggaan, noem hy ook nie sommer haar naam nie, maar sodra sy by die kombuis instap, weet die hele buurt dit! Soggens as ons ontbyt eet, weet hy dis amper tyd vir Martha om in te kom, en roep hy soms na haar. Verlede week antwoord Luc hom: “Martha kom nou-nou, hoor!” Waarop Freud met ‘n baldadige “whieeeeeeeu!” reageer! Nes ‘n klein seuntjie!

Vanoggend besef ek dat dit selfs te gevaarlik raak om voor die slim gedierte te skinder. Ek vertel vir Martha hoe ek ‘n kennis maklik in sy slaap sou leed aandoen – okay, eintlik het ek gesê versmoor – as ek met hom getroud moet wees, toe Freud afhaak en ewe kordaat sê: “Hoekom?”

Nou weet ek hoekom daar altyd gespot word dat oujongnooiens papegaaie het. Waar kry mens sulke goeie geselskap? (En boonop wil hy nie rys, vleis en aartappels hê soos sy ma dit gekook het nie… R30 se saad ‘n maand doen sommer die truuk.)

Welkom, welkom!

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

Ek blog aan en af sedert 2007, maar het dit nog nooit op hierdie forum in my hoedanigheid as joernalis vir ‘n spesifieke publikasie gedoen nie. Maar dis ‘n groot eer om ROOI ROSE se lesers van vandag af amptelik te nooi om te kom deel in die pret (meestal) en ernstige sake (soms) van my seepkis.

Toe ek in 2007 die eerste post op my blog gedoen het, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Dit was onder my eie naam (is nog altyd – die Tannemys deel is eintlik net om die KGB van die spoor af te gooi), en ek het wel deeglik besef ek stel myself bloot vir kritiek.

Maar gedurende die afgelope vier jaar was die kritiek min en die pret baie. Ook die kameraadskap van die Blogvillers. Hier kon ek my hart uitstort toe my ma in my arms dood is na die gru-motorongeluk waarin ons was. Hulle het verstaan toe ek ‘n paar maande net “van die lug af” verdwyn het om te treur. Toe my bejaarde verswakte pa by my kom bly het, was hierdie mense wat ek nog nooit in lewende lywe gesien het nie, my ondersteuningstelsel. Die lewenslyn wat my met die buitewêreld verbind het in tye wat ek noodgedwonge huisgebonde was en my pa letterlik nie alleen kon los nie. Hier, in die kuberruim, kon ek my hart leegskryf oor hoe dit is om langs nog ‘n ouer se sterfbed te sit – stoksiel-alleen en skaars 15 maande na my ma se dood.

Maar hier het ons ook al gelag dat ons huil. Vir Zapiro se spotprente, vir my kinders se sê-goed, vir mede-bloggers en hul geite… Ons deel in mekaar se lewens, verkneukel ons in die lekkertes om ons, kyk deur mekaar se kameralense na die heelal raas met die regering, spot met onsself, deel resepte en lewenswysheid…

Aan al die Rooi Rose-lesers wat nou aangesluit het: mag jy jouself gate uit geniet hier in ons kubersitkamer en gou deel voel van my wonderlike virtuele vriendekring.

Registreer jouself en neem gerus deel aan die kommentaar, debat en pret.