Wit armoede

November 15, 2010 in Sonder kategorie

 

 

(Hierdie artikel het verskyn in verlede maand se rooi rose. Ek plaas dit graag hier vir die wat dalk nie rooi rose lees nie, of oorsee woon. )  

  

 Geen kos, werkloos, kinders om groot te maak… Ons lees dit feitlik daagliks op kartonborde in bedelaarshande. Al meer en meer van die moedeloses op ons daaglikse pad is wit. Ilse Salzwedel het gaan kyk hoe en waar leef ‘n paar van hulle.

 

Die gesigte van wit armoede

 

 

Dis ‘n koue Dinsdagmôre tussen seisoene. Die karavaanpark buite Kemptonpark se vaalte is neerdrukkend.

 

Hoe moet dit voel om hier te bly, wonder ek met die stilhouslag. Die stokou karavane, voos gebak deur die son, staan so meter of vier uitmekaar. Daar is sinkhuise ook.

 

So lyk ‘n wit plakkerskamp dan.

 

Al is hierdie, streng gesproke, nog nie ‘n plakkerskamp nie. Noem dit dan maar ‘n informele nedersetting.

 

Loeloe de Beer (40) en haar man Petrus het die kleinhoewe vyf jaar gelede gekoop. Voor dit het hulle, saam met baie van die mense wat nou op die kleinhoewe ‘n heenkome gevind het, in ‘n karavaanpark in Kemptonpark gewoon. Toe die park verkoop is, het inwoners een maand kennis gekry om te trek.

 

Waarheen, vra sy, moes hulle trek? “Ek is ‘n mense-mens,” sê sy in ‘n sagte stem. “Ek kan dit nie verdra om mense op straat te sien nie.”

 

Sy en Petrus het geld bymekaargeskraap en die kleinhoewe in Bredell gekoop, en al die ou karavane van die park gekoop teen R1 000 stuk.

 

Almal wat saam getrek het, betaal maandeliks huur vir hulle staanplekkie, en so, tussen almal, kan hulle die hoewe net-net bekostig.

 

Maar die huis-eienaars in die buurt was glad nie gelukkig toe hulle al die ou karavane en sinkhuisies hier kom staanmaak het nie, en die kwessie het al selfs in die hof gaan draai. Loeloe-hulle betaal steeds af aan regskoste van R80 000 vir ‘n saak wat die plaaslike munisipaliteit teen hulle gemaak het, maar is genadiglik nog nie van hulle grondjie afgeskop nie.

 

Loeloe vra maar min huur – R700 per maand vir pensioenarisse, en tussen R1 300 en R1 600 per maand vir ‘n gesin waar iemand darem ‘n werkie het.

 

Die huur sluit water en ligte in, maar die huurinkomste is nie naastenby genoeg om hul maandelikse uitgawes te dek nie. “Daar is op die oomblik R23 000 se huur uitstaande, maar ek kan tog nie net die mense wegjaag nie. Party kry nie staatspensioene nie, en ek móét hulle minstens probeer help tot die regering vir hulle begin sorg.”

 

Vir party mense gee sy selfs kos ook. ‘n Klein spaza-winkeltjie verskaf ekstra inkomste om die kamp te help oorleef, en verder maak Loeloe-hulle staat op donasies van welwillendes. Kos, klere, boumateriaal – enige iets is welkom.

 

Daar is iets van almal onder die plot se inwoners – van ‘n opgeleide lugwaardin tot ‘n voormalige team leader by ‘n bekende bankgroep. Daar is ook heelwat paneelkloppers en spuitverwers en mans met ander ambagte. Maar heelparty is ook huisvrouens en jongmense sonder enige vaardighede wat nog nooit gewerk het nie en moeilik ‘n werk sal kry in ‘n ekonomie waar meer as 1 miljoen werksgeleenthede verlede jaar alleen in die slag gebly het weens die wêreldwye resessie.

 

Loeloe se droom is om die plek soos ‘n vakansieoord te laat lyk. ‘n Tall order, dink ek by myself, en kyk na die mistroostigheid buite. Plek-plek is daar netjiese grasperke, op ander plekke net kaal grond. Voor een karavaan wat lyk of hy uit Noag se ark gekom het, is ‘n netjiese vierkantige groentetuintjie gemaak. Een stewige, netjiese sinkplaathuisie is netjies omhein, kompleet met ‘n tuinhekkie.

 

Voor ‘n ander lendelam sinkhuisie, vasgebou aan nog ‘n antieke karavaan, lê papiere en plastiekbottels. ‘n Oranje tabaksakkie lê bo-op die bondel vullis.

 

‘n Ou, beplooide vrou met hier en daar ‘n tand sit skewekop en half-oopmond in ‘n stoel en slaap. Sy bly nie hier nie, maar die inwoner van die mankoliekige huisie, Tina de la Rosa, het haar oor die seniele ou mens ontferm. “Dis tannie Georgina,” beduie sy. “Haar man is ‘n maand terug dood. Nou het sy niemand om na haar te kyk nie. Ek laat haar nou maar hier by my bly. Sy vergeet om toilet toe te gaan, nou vat ek haar maar. En ek was en trek haar aan.”

 

Tannie Georgina word wakker, staar nikssiende voor haar uit, die dowwe oë se sluiers dig getrek. Sy is net 69, maar lyk tagtig. Op die hardste grondpad van die lewe geloop, dié kan mens dadelik sien. Tina dink sy treur oor haar oorlede man, maar dit lyk vir my of die tannie in ‘n inrigting hoort. Nie dat daar meer inrigtings is vir mense soos sy nie. Honderde mense met geestesgesondheidsprobleme het eenvoudig op straat beland toe die staat ‘n paar jaar gelede inrigtings soos Weskoppies gesluit het.

 

Tannie Georgina-sonder-van slaap op ‘n tweesitplekbank in Tina se voorhuis. Die voorhuis is ook die kombuis en ingangsportaal. ‘n Dun gordyntjie skei Tina en Boetietjie (4) se slaapruimte van die voorhuis.      

 

‘n Maer seuntjie kom aangehardloop in ‘n fluweelrok. Maar nee, dis nie ‘n seuntjie nie, eintlik Tina se 9-jarige dogtertjie. Haar tweelingboetie speel eenkant in die stof.

 

Hoekom is die kinders nie in die skool nie? “Luise,” sê Tina – wat natuurlik die dogtertjie se kortgeskeerde hare verklaar. “Ek kan hulle net nie skool toe stuur nie – ek weet nie wat by daardie plek aangaan nie! Time en again het hulle nete en goggas,” verklaar sy, skynbaar opreg ontsteld oor die stand van sake.

 

Twee van haar kinders het grootgeword in kinderhuise – die 16-jarige is nou nog daar, maar die 19-jarige sit eenkant in die son en speel verveeld met ‘n selfoon. Sy is eintlik veronderstel om die kleintjies in Tina se “dagsorgsentrum” (eenkant in ‘n tent) op te pas. Tina gil op haar om na die kinders te kyk en die selfoon te los. Die staat gee vir dié kind ‘n grant, vertel sy trots.

 

Hoe dan so? Sy is tog al uit die skool uit, wil ek weet. Nee, sê die meisiekind by navraag, die dag toe sy die kinderhuis verlaat het hulle vir haar die vorms gegee, en ‘n maand of twee later het sy haar eerste “pensioen” gekry: R1 200.

 

Vir ‘n ekstra inkomste kyk Tina na mense van die omliggende kleinhoewes se kinders terwyl hulle bedags gaan werk. ‘n Gastehuis verskaf vir die kinders gesonde middagetes. Sy gaan haal trots die koelhouer om die netjies verpakte kinderetes te wys. Vandag kry die kinders pasta, ander kere kookkos.

 

Tina oorleef van ‘n ongeskiktheidspensioen, al is sy net 46. Soos tannie Georgina, lyk sy veel, veel ouer – dalk was hulle op dieselfde sinkplaatpad. Sy kry ook kindertoelaes vir die tweeling. Vir Boetietjie kry sy skynbaar niks.

 

In die karavaan neffens haar voorhuis woon “’n vriend” – die het darem ‘n werk.

 

Hoekom bly hulle hier? “Die lewe daar buite is te duur,” sê sy, eenvoudig. Maar sy bly baie lekker, dankie, en sy help waar sy kan.

 

Kan sy nie werk kry nie? Nee, sê sy, sy weet niks van rekenaars af nie. Maar sy het al gewerk in haar lewe. Haar eerste werk was om vliegtuie skoon te maak by Jan Smuts, lank gelede. Daarna was sy “security” by Checkers, maar dit was baie lank terug. Toe, meer onlangs, was sy “hosthostesses” by ‘n privaathospitaal.

 

Wat vir ‘n ding is ‘n hosthostesses, vra ek verward. “Die een wat tee bedien vir die pasiënte,” sê sy trots terwyl sy met die fluweelrok-kind poseer vir ‘n foto.

“O,” snap ek, “hostess! Soos ‘n kelnerin”.

Einste, lag sy.

 

Tannie Marge Botha (59) se huis staan in skreiende kontras teenoor Tina s’n. Alles is netjies en blinkskoon, die grasperk rondom die huis netjies toegespan sodat David, haar 3-jarige kleinseun, veilig kan speel.

 

 

Tannie Marge lyk ook veel ouer as haar ouderdom, en is al 19 jaar deel van die park en sy mense. Sy kom ook van die destydse karavaanpark. “My man het by ‘n besigheid langs die karavaanpark gewerk, en ek het in Kensington gebly. Hy kon net naweke huis toe kom, en toe besluit ons dat ek by die karavaanpark sal gaan bly. Daar was hulle doodgelukkig, tot met die uitsettingbevel. Nou bly hulle hier, skynbaar ewe gelukkig.

 

Die Botha’s se dogter Margaret bly ook by hulle. Sy en David het hulle eie kamer in die beskeie sinkhuisie met die volvloermat, sy werk nie.

 

Hulle kan nie enige ander plek bekostig nie. Haar man Dave (62) het sy lewe lank as vragmotorbestuurder gewerk, maar kry nie pensioen nie. “Ons het ‘n maand gelede aansoek gedoen vir ouderdomspensioen”.

 

Dave is nou ‘n “casual op die trokke”. Hy kry gemiddeld so R1 500 per maand vir sy nie-vaste werk. Hulle betaal R1 300 huur, maar is tevrede met die lewe.

Almal op die perseel gebruik gemeenskaplike badkamers en toilette.

 

Is dit nie moeilik om so te leef nie, wil ek weet? “Nee, hoekom sal dit nou moeilik wees? Ek is grootgemaak dat mens jou huis skoon en netjies hou.”

 

Het sy ‘n wenslys? “Dalk ‘n nuwe voorhuis-stel. Hierdie een is al baie oud.” Die leunings is toegegooi met netjiese gehekelde lappies. “En geld om die huisie reg te maak van lekplekke, of dalk om dit groter te maak.”

 

Sy is dankbaar vir die skenkings wat hulle van weldoeners ontvang, en daarom voel sy sy wil iets teruggee. Nou brei sy kombersies vir die “armes” met wol wat ‘n kerkgroep verskaf. “Daar is mense wat swaarder kry as ons,” sê sy terwyl sy trots na David kyk.

 

 

Verdien hulle dit nie maar nie?

Dis ‘n denkfout om te dink almal wat in ‘n wit plakkerskamp beland, is kômmin of dom of te lui om te werk. In ‘n plakkerskampe naby Pretoria het sy selfs al ‘n eertydse geoktroïeerde rekenmeester raakgeloop, vertel Surika van Schalkwyk, Helpende Hand se kommunikasiebestuurder. Nog ‘n interessante geval was ‘n jongman met ‘n graad in die filmwese wat net nog nooit werk kon kry nie. Hy maak ‘n bestaan deur lekkerruikgoed vir motors op straat te verkoop.

 

Paul Alberts, bekende fotograaf en bekend vir sy dokumentering van hedendaagse Suid-Afrikaanse geskiedenis, het al die foto’s geneem vir Gebroke Land: Armoede in die Afrikaanse gemeenskap sedert 1902. Ook hy vertel van gewone, hardwerkende mense wat ‘n rughandhou van die lewe gekry het en in ‘n huisie van seil en sink beland het. Of in familie se motorhuise of Wendyhuisies woon.

 

Die redes is legio, en wissel van afleggings weens die resessie, regstellende aksie, gebrekkige maatskaplike dienste deur die staat tot siekte of ongelukke wat veroorsaak het dat iemand nie weer kan werk nie. Baie bejaardes het ook jare vir staatsinstellings gewerk, maar hulle pensioene is heeltemal te min om huur én kos te betaal.

 

Die harde feite:

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ‘n omvattende verslag saamgestel oor wit armoede. So lyk die statistiek vir die geraamde 4, 47 miljoen wit Suid-Afrikaners.

 

• Volgens die Buro vir Marknavorsing het ‘n totaal van 1,8 miljoen wit mense van 16 en ouer in 2008 tussen R0 en R48 000 per jaar. Dus, minder as R4 000 p.m. Dié syfer sluit ook studerende jongmense, huisvroue en pensioenarisse in, maar dui steeds op ‘n groot groep brandarm wit mense.

 

• Volgens demograwe is daar 600 000 Afrikaners wat tans as arm geklassifiseer kan word.

 

• 46% van wit huishoudings kan nie ’n huis van meer as R200 000 bekostig nie.

 

• Daar is tans 77 wit plakkerskampe in Pretoria alleen en meer as 430 landswyd.

 

• Tussen 1994 en 2005 het wit armoede met 150% toegeneem.

 

• Daar is tans 131 000 wit huishoudings wat nie voldoende behuising het nie.

 

• Die behoefte aan voldoende huisvesting gaan na verwagting met ongeveer 7 500 huise per jaar toeneem.

 

• Om die agterstand van behuising onder arm wit mense oor die volgende tien jaar uit te wis, moet ’n gemiddeld van 14 000 HOP-huise per jaar vir arm wit mense gebou word.

• Navorsing toon die grootste behoefte aan behuising onder wittes is tans in Gauteng en die Wes-Kaap.

 

• Vir die eerste keer sedert die dertigerjare van die vorige eeu is daar groeiende getalle armblankes en is daar ‘n nuwe verskynsel van blanke plakkers-gebiede wat rondom veral groter stede soos Pretoria vorm.

 

• Navorsing deur Helpende Hand toon dat 63%

van die inwoners van die 77 wit informele

nedersettings in Pretoria 60 jaar en ouer is.

 

 

Nog drie verhale

• Jurie (61) en Susan Austen (78) bly in ‘n pomphuisie van 2x2m in familie se erf. Jurie het 23 jaar by die Spoorweg gewerk, maar sy werk verloor weens regstellende aksie. Toe hy sy werk verloor, moes hulle dadelik uit die spoorweghuis trek. Hy kry R700 ‘n maand pensioen, en R500 daarvan moet hy betaal vir die huur van die pomphuisie. Sy vrou het 25 jaar by die poskantoor gewerk as briewesorteerder. Sy kry nie ‘n pensioen nie. Die egpaar het ook nie ‘n badkamer nie, en was in ‘n skotteltjie.

 

• Elsie Botha (82) het vir twee jaar in ‘n watertenk op Susan Kruger van Pretoria se erf gewoon voordat sy ‘n Wendy-huisie by ‘n Helpende Hand-

ondersteuner geskenk gekry het. Susan het haar oor Elsie ontferm toe sy haar tien jaar gelede langs die hoofweg sien stap het met ‘n

tassie in haar hand. Tannie Elsie het na haar man se dood by sy broer en skoonsuster gewoon, maar hulle het haar mishandel en in ‘n duiwehok laat woon. Die kos, onthou sy, was “min en sleg.”

 

• Rita Dannhauser se gesig is misvorm nadat gevorder velkanker verlede jaar verwyder is. Rita het nie geld vir rekonstruktiewe chirurgie nie. Sy gaan haal haar 7-jarige Belinda elke dag met ‘n fiets by die skool. Hier drom kinders om hulle saam om na die “monster” te kyk. Rita word ongenadig gespot oor haar ma se gesig.

Tog het hierdie merkwaardige vrou nie gaan lê nie, en verkoop sy Sondae die Rapport op ‘n straathoek. In die son, en ten spyte van die velkanker wat steeds vererger. Rita het geen inkomste nie, en kry ook geen chemoterapie of ander kanker-behandeling nie.

Bron vir bg. gevallestudies: Helpende Hand

 

 

Hoe kan jy help?

Solidariteit Helpende Hand werk daagliks landswyd onder die armstes van die armes, en is totaal afhanklik van donasies. Kliek op www.helpendehand.co.za en raak betrokke.

2 antwoorde op Wit armoede

  1. Interessante stories. Het die plek eenmaal in a dokkie gesien, seker na aanleiding van die artikel. Dankie.

  2. inadk het gesê op November 17, 2010

    Daar is soveel verborge ‘agter’ die storie. Die hartseer klou aan mens vas – jy kan nie daarvan weg kom nie. Die stories agtervolg jou en kom weer en weer! Dankie dat jy dit met ons deel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.