Vir Paul Alberts, wat sterwend is

November 15, 2010 in Sonder kategorie

Soms ontmoet mens iemand veels te laat in jou lewe. Een so ‘n mens is Paul Alberts, bekroonde fotograaf uit die apartheidsera wat die laaste paar jaar ook baie gedoen het om die onregte van die nuwe bestel met sy kamera vas te vang. En wat ‘n reuse rol gespeel het in die bewaring van foto’s en dokumentasie van dele van ons geskiedenis (soos die Anglo Boereoorlog).

 

Paul is sterwend van pankreaskanker, en le vandag in die ICU van Bloemfontein se Medi-Clinic met longe wat platgeval het. Hy is omtrent 14 maande gelede met pankreaskanker gediagnoseer, en het vriend en vyand en medici verbaas met sy dapper stryd teen die siekte. Maar dit wil lyk of die einde baie naby is, en daarom plaas ek vandag my artikel oor Paul wat ‘n paar maande gelede in Rooi Rose verskyn het.

 

My hart gaan uit na Charmaine en die seuns, maar gelukkig weet ons Paul se saak is reg met sy Skepper en met sy gesin. Vir my vriend: mag jou oorgang sag wees, en mag die Here engele stuur om jou te kom verlos van die pyn en ongemak. En ek sal onthou om na Charmaine te kyk (as sy net nie so independent was nie!!!)…

 

Paul Alberts, een van SA se fotografie-meesters, het oor die jare sy kamera ingespan om te praat oor die onregte en stryd in ons samelewing. Nou is hy self gewikkel in die stryd van sy lewe: teen pankreaskanker. Ilse Salzwedel vertel meer.

 

 

Paul Alberts hou nie van etikette nie. “Ek het ‘n broertjie dood daaraan,” sê hy ferm waar ons sit en gesels in die biblioteek van die gerestoureerde hotel waar hy en sy gesin al 17 jaar woon.

 

En Paul behoort te weet van etikette. Hy het al almal om die nek gehad: van verlig en pienk liberalis en verloopte Afrikaner tot verkrampte, rassis en regse Afrikaner. “Hier op Brandfort noem party mense my nog steeds ‘n kommunis.” Hy lag, bietjie sinies, oor die ironie.

 

Kyk mens na die foto’s wat oor dekades voor sy kamera se lens afgespeel het, wéét jy nie een van die etikette is gepas nie. Want Paul Alberts is in die eerste plek ‘n mens.

 

‘n Mens wat nie skroom om hart en siel betrokke te raak by wat ook al afgeneem moet word om bewaar te word vir die nageslag. Die soort fotograaf wat in die 1970’s twee weke lank in ‘n plakkerskamp in Nyanga ingetrek het om die lewe op die laagste van die grondvlak te beleef. Die soort fotograaf wat gebly het toe die stootskrapers Nyanga binnerol kom om die plakkershutte te kom omstoot.

 

In die vorige bedeling is hy geïntimideer, bietjie rondgestamp en was hy selfs in aanhouding omdat sy vriende te links na die regering se smaak was. Nou, in ‘n nuwe eeu en onder ‘n nuwe bedeling, word hy weer as te regs beskou omdat hy passievol voel oor die Anglo-Boereoorlog en die nagedagtenis van duisende vroue en kinders wat met hul lewens daarvoor geboet het.

 

Maar die etikette om sy nek is nou van minder belang. Want Paul Alberts veg nou, op 64, ‘n ander stryd. Een van daaglikse oorlewing. Die vyand is onsigbaar maar gedug: pankreaskanker.

 

Tog, die soldaat is, net soos in sy loopbaan, dapper en gefokus. Dié ding mag dalk statisties gesproke die oorhand hê – Paul se kankertelling by diagnose was die hoogste wat nog ooit by die Medi-Clinic in Bloemfontein gemeet is en so hoog dat ‘n tweede laboratorium ingeroep is om die toetse te herhaal – maar Paul se gees is sterk, sy geloof onverbiddelik.

 

Dis ‘n Saterdagaand in Brandfort. Hy het twee dae gelede chemoterapie gehad, en vanoggend nog ‘n funksie by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein 50 km van sy huis af gaan bywoon. Vanaand praat hy met die energie en drif van ‘n gesonde, jonger man.

 

“Jong, as dit nie vir my vrou Charmaine was nie, was ek seker lankal dood. Sy dra vitamiene aan en kyk dat ek elke dag my medikasie reg gebruik.”

 

Hy weet van die vernietiging van lewe, het dit immers al hoeveel kere voor sy lens sien afspeel. “Van ‘n baie siek John Vorster, goedversorg in ‘n goeie hospitaal, tot die sterwende mens alleen in sy plakkershut.”

 

Dit maak dit egter nie noodwendig makliker om die dood daagliks so in die oë te kyk nie. “Ek is nie bang om dood te gaan nie. Dis net dat daar dinge is wat ek nog graag sou wou doen. Ek sal graag vir Dewald, my jongste seun, wou sien klaarmaak met skool. En ek het nog so baie werk wat ek sou wou doen!”

 

Hoeveel werk, wonder ek, kan mens dan nog oorhê as jy al die foto’s geneem het vir nege fotografiese boeke en verskeie uitstallings en boonop ‘n paar koffietafelboeke se historiese foto’s self gerestoureer het?

 

Daar, reg aan die begin, vertel hy, was die kanker vir hom moeiliker. Die diagnose uit die bloute. Die enigste voorteken was ‘n seer kuit. Trombose in die been, bevind ‘n dokter uiteindelik, maar drie, vier weke later het Paul steeds die onverklaarbare moegheid en olikheid. Terug Bloemfontein toe, spesialis toe, en toe, die skok.

 

Na die eerste chemo het hy ‘n maand lank dodelik siek gevoel en letterlik daagliks gebid om te sterf. “Ek was naar, mislik. Ek kon nie eers lees nie.”

Ja, hy het selfs aan selfmoord begin dink.

 

Toe kom die draaipunt. Twee dae na nog ‘n chemoterapie-sessie het hy sy swaer gevra om te kom help om ‘n testament op te stel. Van toe af, op daardie Saterdag, besit hy niks meer aardse goed nie. “Skielik, die volgende dag, was ek totaal beter. Dis ‘n wonderwerk – ek kan dit op geen ander manier aan jou verduidelik nie.”

 

Met my kuier kon hy nog vol dae se werk insit. Hy is juis besig om sy foto’s te organiseer, afdrukke te maak, hier en daar foto’s te laat onderteken deur die mense wat hy afgeneem het. Ek moes juis stapels fotografiese papier en ink uit Johannesburg vir hom saambring. Alles om dinge reg te kry vir Charmaine. Sodat sy darem na sy dood nog ‘n paar rand kan verdien uit sy foto’s. Wat, ironies soos dit is, dan veel meer werd sal wees as nou.

 

Die hele naweek hoor ek die onuitgesproke refrein in alles waarvan hy vertel: Charmaine en die seuns.

 

Hy het haar ontmoet na ‘n slegte tyd in sy lewe. Hy was geskei van sy eerste vrou en in ietwat van ‘n middeljarekrisis. “Ek het fotografie op internasionale vlak beoefen, en was suksesvol genoeg dat ek in die Oos-Kaap op die dorpie Rhodes kon bly en elke twee weke met my eie vliegtuig Kaap toe kon vlieg om vir my klein seuntjie te gaan kuier vir ‘n week. In my werk het ek die hoogste piek geklim, net om bo te kom en te sien daar lê nog ‘n berg.”

 

Toe, op ‘n dag, ontmoet hy vir Charmaine. Sestien jaar jonger as hy, en ‘n weduwee met ‘n klein seuntjie. Nou, na 22 jaar se getroude lewe en nog twee seuns later, huil hy saam met haar oor die doodsvonnis juis omdat hy dit vir haar en sy seuns anders sou wou hê. “Elkeen van die seuns weet wat wag. Charmaine ook. Sy kry baie swaar. Ons is nou in die stadium van ons huwelik en lewe waar ons eintlik moes gaan reis het.”

 

Tog, glo Paul, is die siekte die wil van sy Hemelse Vader. “En dis goed so. Ek glo onwrikbaar hierdie siekte is ‘n toets vir my geloof.”

 

Daar is iets anders in alles wat hy my vertel. Ek hoor die dankbaarheid vir ‘n goeie lewe, vir ‘n groot talent, vir merkwaardige geleenthede. Dis ‘n maand voor Eugéne Terre ‘Blanche se dood, toevallig ook ‘n Saterdagaand, en ons praat onverwags oor ET en hoe ons hom albei ervaar het tydens onderhoude. My eie ontmoeting was vlugtig, ‘n oggend lank. Paul s’n was ‘n weeklange opdrag: word ET se skaduwee, volg hom vir ‘n week lank, waar hy ook al gaan. Die foto’s was vir ‘n artikel in ‘n liberale tydskrif. “Ek en my kamera het hom oral gevolg, maar daar was altyd ander mense of lyfwagte teenwoordig. Toe, een oggend, hoor ek ons moet Barberton toe ry vir ‘n AWB-vergadering daar. ET daag by die ontmoetingsplek op met sy klein Datsun 1200-bakkie en nooi my om saam met hom van Pretoria af Barberton toe te ry. Ek moes bestuur, en hier sit hy langs my, net homself.”

 

Hy vertel van die man agter die fasade, van hoe die opdrag heel anders uitgedraai het as wat hy in sy linkse liberalis-hart gedink het. Hoe AWB-ondersteuners hom letterlik opgetel en uitgedra het uit die stadsaal en soos ‘n warmpatat neergesit het toe hul leier sê hulle moet hom uitlos. Hoe hy Eugéne die mens leer ken het, al was hulle geskei deur ‘n ideologie.

 

“Na daardie ontmoeting het ek ophou ontken ek is ‘n Afrikaner. Ek het nie ET en sy mense se siening gedeel nie, maar ek het geweet die Afrikaners is my mense.”

 

Dít, besef ek later, is een van die redes hoekom Paul Alberts een van Suid-Afrika se grootstes sal bly. Omdat hy verby die dogma en die ideologie kon kom, verby die politiek en die velkleur, sodat hy sy onderwerp se siel vir ewig op papier kon vasvang met die druk van ‘n knoppie.

 

Wat neem hy die graagste af? “Bejaardes en kinders,” kom die antwoord sonder om twee maal te dink. Van sy beste werk verskyn juis in Faces of Age, ‘n boek oor die lot van bejaardes wat hy in samewerking met die S.A. Menseregtekommissie uitgegee het, en Some Evidence of things seen: Children of South Africa, ‘n opdragwerk van die National Children’s Rights Committee met die ondersteuning van UNICEF.

 

Sy kamera het dikwels die lot van weerlose mense op film vasgelê – verlede jaar, al klaar baie siek aan die kanker, het hy ‘n boek, Gebroke Land, en ‘n uitstalling oor die armoede onder Afrikaners voltooi vir Solidariteit en die Helpende Hand-fonds. “Jong, ek veg maar my lewe lank vir die underdog. Ek skreeu selfs vir die verloorspan as ek rugby kyk!”

 

Dis juis sy passie vir die bewaring van die geskiedenis van die Afrikaner wat hom in sommige kringe ‘n (onverdiende) regse etiket gegee het. “Verbeel jou, ek regs! Ek het juis destyds by Die Burger bedank nadat Piet Cillie my ingeroep het oor my betrokkenheid by linkses en hul dinge. Ek sal sy woorde nooit vergeet nie: ‘Hier binne sê jy wat jy wil, maar as jy hier uitstap, dan ís jy Die Burger. As jy dit nie kan wees nie, dan weet jy wat om te doen.’ Ek kon nie langer saamleef met die onmenslikheid van ‘n Broederbondbeheerde-media nie, en ek hét toe bedank. ‘n Mens moet fyn onderskei tussen ‘n nuusblad en ‘n nasionale propagandablad.”

 

In 2003 is hy deur die Oorlogsmuseum in Bloemfontein opdrag gegee om ‘n tentoonstelling saam te stel met die tema van lyding tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy het meer as 9000 foto’s en negatiewe (sommige selfs van glas) gehad om mee te werk. “Ek het materiaal gesien wat in daardie oorlog geneem is wat kan meeding met oorlogsfotografie op internasionale vlak. Daar was drie Suid-Afrikaanse fotograwe wat die oorlog gedokumenteer het wie se werk my asem weggeslaan het.”

 

Die foto’s wat hy met groot sorg geretoesjeer het, is drie maande lank in die Oliewenhuis-Kunsmuseum in Bloemfontein ten toon gestel en daarna in verskeie Europese stede, waaronder Moskou in Rusland.

 

Daar was foto’s wat hom diep geraak het, en baie ander, soos die brandmaer konsentrasiekamp-kindertjies wat as’t ware uitgestal is op luiperdvelle en drapeersels materiaal, wat hom tot vandag toe nog ontstel. “Daar moet iets grotesk verkeerd wees in so ‘n fotograaf se siel om ‘n kind só te drapeer en uit te stal net vir ‘n goeie foto.”

 

Die foto’s was eenvoudig te aangrypend om nie in boekvorm uitgegee te word nie, en so het Die smarte van oorlog ontstaan. Hy het dit self uitgegee in sy uitgewery Kraal-Uitgewers – “in ‘n kraal word verskillende dinge saamgetrek wat jy teen die aanslae van buite beskerm”. Die titel van die boek is ontleen aan die gelyknamige boek oor die oorlog wat Emily Hobhouse, vir wie Paul ‘n groot bewondering het, geskryf het om die Britte bewus te maak van die onreg van die oorlog.

 

Paul voel so sterk oor die ontberings wat vroue en kinders in die oorlog deurgegaan het dat hy selfs ‘n plasie buite Brandfort, waarop ‘n konsentrasiekamp eens gestaan het, gekoop het om die kampbegraafplaas te kan bewaar. “Geen politieke toespraak sal ooit weer op daardie grond plaasvind nie,” sê hy driftig met verwysing na die toespraak wat Thabo Mbeki, vorige president, tydens die oorlog se herdenking op die einste plaas gehou het.

 

Met die bewaring en die boeke wil hy nie oorlog teen die Engelse verklaar nie. Allermins. Hy wil bloot hê die “dapperste van alle dapper mense, die onskuldige vroue en kinders van die Anglo-Boereoorlog” moet onthou word. Ook daardie swartes wat weens hul lojaliteit aan die Boere gesterf het in soortgelyke kampe.

 

“Ek het ‘n onwrikbare bewondering vir vroue. Die wêreld sou ‘n baie beter plek gewees het as vroue dit bestuur het. Daar sou nie oorloë gewees het nie – ‘n vrou dra nege maande lank aan ‘n nuwe lewe, gee geboorte in pyn. En daarom, juis daarom, glo ek she’ll be damned eerder as om ‘n lewe te neem.”

 

As hy sy lewe kon oorhê sal hy “sonder twyfel” presies dieselfde beroep kies. “Maar ek sal meer van my tyd afstaan aan ontspanning. Baie meer selfsugtig wees met my tyd. Ek kon mos nooit nee sê vir iemand nie. Maar afgesien daarvan het ek ‘n wonderlike lewe gehad – ek sou niks anders wou hê nie.”

 

Oor sy fotografiese nalatenskap is hy, tipies Paul, baie beskeie. Ja, hy het ‘n “paar boeke en ‘n paar foto’s” verkoop, en daar is seker ‘n paar foto’s wat “op die kant van die wêreldtafel van fotografie ingeskuif kan word”.

 

Wat vir hom meer beteken, is die respek van mense. Net nou die dag sê ‘n swart munisipale amptenaar van Brandfort so half troostend vir hom: “Ntathi, ons gaan vir jou goed bêre as jy dood is.” ‘n Ander keer het ‘n PAC-man vir hom ‘n geraamde prent van die Slag van Bloedrivier gebring omdat hy weet Paul hou van geskiedkundige goed. Dis sulke dinge, die liefde en deernis op grondvlak, wat die gebrek aan amptelike erkenning vir sy bydrae tot die struggle en alles wat daarna gekom het, vir hom uitbalanseer.

 

Hy weet hierdie lewe is binnekort volbring. “En dis reg so.”

 

Maar hulle moet hom tog net nie begrawe nie – eerder veras. En daar moet ‘n boom vir hom geplant word. Saam met die byna 100 ander wat hy al hier op sy reuse erf in Brandfort geplant het. En vir my klink dit reg so. Want dan gaan nog iets behalwe sy foto’s voortleef.

 

  

 

 

 

 

 

4 antwoorde op Vir Paul Alberts, wat sterwend is

  1. inadk het gesê op November 15, 2010

    Dankie dat jy met ons deel in hierdie hartseer tyd. Die lewe se ritmes waartmee ons groot word, tog nooit verstaan en nooit leer ken nie maar ons tog help groei. Mag die Engele hulle vlerke saggies oor almal hou.

  2. Dankie Ina!

  3. Baie dankie vir die eerbetuig. Alberts was inderdaad ‘n baie dapper fotograaf.

  4. malma het gesê op November 15, 2010

    A good tribute to him, Tannemys.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.