Dawie-die-geboertevlek-man

Augustus 19, 2010 in Sonder kategorie

Toe ek my twee oë vanoggend oopmaak, weet ek: hierdie hoofpyn gaan nie wyk nie. Nee, niks gedrink of gerook wat kon lei tot die ysterband wat ek nou al weet my hoof heeldaglank gaan knel nie. Die twee geel generiese pynpille wat ek saam met my eerste koppie tee afsluk, maak nie ‘n duik nie. Inteendeel. Elfuur weer twee. Zip. Zilch. Nada. Niks. Die belt word vaster getrek, maar ek het niks sterker pille in die huis nie..

 

Om op deadline te wees vir ‘n boek en ‘n klomp artikels help nie. Ek skryf, maar die pyn bly klop agter my oë. In my slape. Agter my kop. Vir afwisseling voel ek af en toe ‘n skietpyn deur my regterkantste slaap.

 

Oudste klim kla-kla in die kar toe ek hulle by die skool kry. Gister geval oor haar bruidegom. Laaaaaang storie, maar nee, sy is nie ‘n kinderbruid nie. Wel ‘n aspirant-aktrise/regisseur/diktator wat haar drie groeplede dril asof vir ‘n Oscar. Maar eintlik is dit net vir ‘n kuns-en-kultuur-mondeling. Wat toe lei tot ‘n onseremoniële val oor haar medester se voet.

 

Ewentwel, aangesien sy gister ook oor die seer pols gekla het, en die pyn nou na die res van die arm geskuif het, gaan ons maar dokter toe. Sit lank genoeg in die wagkamer dat ek my hele koerant kan lees. Nog steeds met die kop wat klop.

 

Vra toe sommer die arts of daar nie iets is wat beter sal help as die no name geel pille van die apteek nie. Alteseker, seg hy. So sit ons af apteek met voorskrifte. (Kind se pols nie gebreek nie, net bietjie verstuit. My migraine nie weens hoë bloeddruk of sinus nie, net gewone ou stres.)

 

Ek is min lus vir die praterige apteker. Veral omdat hy die irriterende gewoonte het om vir my te sê “gee vir my ‘n ou glimlaggie, toe”. F! (Vul jou eie ontbrekende letters in.)

 

So stuur ek toe vir oudste in met die voorskrifte. Slegte ma, ja ek weet, maar die laaste ding waarvoor ek en my kloppende hoof nou krag het, is ‘n getroude man wat dink hy is God’s gift to single mothers.

 

Dis toe ek en die jongste in die kar sit, minding my own business en alles, dat Dawie my suutjies bekruip. Behalwe dat ek toe nog nie weet dis Dawie nie.

 

Ewe skielik staan die verrimpelde Boesmantjie langs my kar met, van alle dinge, ‘n pienk-en-blou babakappie op sy kop. Die paar krullerige snorhaartjies is ewe grys as wat dit rooi is. Op sy wange, op sy slape en bokant die yl kenbaardjie wat lyk soos die kleure van ‘n tortoisseshell-kat, is daar verrimpelde tatoeërmerke. Groenblou teen die kleur van sy koperbruin vel. Op die een oorlel is ‘n parmantige blou inkster.

 

“Hallo mê,” sê hy met ‘n skoorvoetende noot in sy stem. Byvoorbaat gereed om stert tussen die bene weg te stap as die wit vrou hom wil wegjaag. Sotho, dink ek toe ek die mê hoor. “Het mê dan nie vir my ‘n ou tweerandjie vir ‘n bietjie pap nie?” Ek meet onwillekeurig die afstand na die kafee regs en die drankwinkel links agter. Ewe ver van altwee af, maar iets sê vir my Dawie mik vir laasgenoemde.

But there but for the grace of God en al daai dinge, en in elk geval wil ek en my hoofpyn net vrede hê. Ek gee hom R5, want as mens se gesig so lyk van die plooie en die tatoeërmerke is die kans goed dat jy ‘n paar dinge het wat jy wil vergeet. En wat hy uiteindelik met my gawe maak is seker sy saak.

 

Hy vat die geld dankbaar – en gee dit skaars twee minute later vir ‘n ander (netjiese) man met ‘n selfoon. “Dê, hiesa, hie’s vi’ jou tien sent,” hoor ek hom sê.

 

“Hei,” wil ek weet, net so effens verontwaardig. “Hoekom gee jy jou R5 vir daai man?”

Issie, seg hy. “Issie R5 gewies nie, is tien sent. Kyk, hier is die R5,” sê hy, en haal ‘n 5c uit sy sak.”

 

“Daai is ‘n 5c, nie ‘n R5 nie. Hoekom gee jy vir daai man jou geld?” dring ek aan. Vyf rand is darem vyf rand.

 

“Ag, lat hy ma’ ka’ hys toe gaan. Mê wiet mos nou wat kos ‘n taxi.”

 

Is dit dalk sy seun, wonder ek. Hardop.

 

Nee, seg tattoeman. “Dis my niefietjie.”

 

Die oudste staan steeds in die praterige apteker se ry, en ek kan netsowel luister terwyl Dawie familie uitlê.

 

“Nou waar kom jy vandaan?” wil ek weet.

 

“Vannie Baai af,” antwoord hy, hand voor die mond. Sy hand skiet elke kort-kort na sy mond, let ek op. Elke keer as hy praat of lag, om presies te wees. (Of hy tande het, weet ek nou nog nie.)

 

“Nou wat maak jy hier?”

 

Toe vertel Dawie die gewone sad storie. Van ‘n werk wat was en nou nie meer is nie. Hoe lank terug die werk was, sal g’n mens kan sê nie, want ek sien hom al jare hier in die straat voor die apteek karre rangeer.

 

Toe kan ek nie meer my nuuskierigheid hou nie. Want, vermoed ek, die lewe het hom waarskynlik al met ‘n ompad deur die tronk geneem, vandaar die amateuragtige tatoeërmerke. “En daai tatoeërmerke?”

 

“Nie, dis mos nou geboertevlekke,” seg hy, hand voor die mond. En lag gie-gie-gie vir homself.

 

Ek kan nie help om te begin lag nie. “Maar jy lieg mos nou,” skater ek. Want vir een of ander vreemde rede kan ek my nie vererg vir die nonsensprater nie. (Dalk daai vier geel pille…)

 

Toe hy sien hy het ‘n audience, skrik die standup komediant in die verrimpelde mannetjie skielik helder wakker.

 

“Nei, ek is nou nog kwat vi’ my ma hie’oor,” gie-gie-gie hy weer agter sy hand, die geplooide oë toe soos hy lag.

 

“Nou hoe lank na geboorte het jy daai merke gekry?”

 

“Nie, soe kort na geboorte. Toe ek mar eendag in ‘n spieël kyk, sit die merke daa’. En ek vra my ma nou hoeko’ het sy dit gedoen, ma’ sy antwoord niks.”

 

Gie-gie-gie, lag hy.

 

Bwahahaha. Lag ek. Vir die tenger lyfie wat telkens amper voor ‘n kar beland soos hy vir sy eie grappies lag, hand voor die mond. En ook vir die komieklike pienk-en-blou babakappie waarvan die toue langs die tortoiseshell-kroesies op sy slape afhang.

 

En die kappie?

“Nie, die kappiekie kom oek mos van geboerte af sam met my. Ek en die kappiekie. Ons loep saam.” Gie-gie-gie.

 

Uiteindelik stel hy homself voor. Dawie. Dawie Adams. Of Eddems, nes mê wil.

 

Dawie-met-die-vreemde-geboertevlekke.

 

Ek besluit so performance mag nog geld kry, en maak my motor se asbakkie in sy hand leeg.

 

Vir pap sê ek. En, moedswillig, seker vir ‘n bier ook.

 

“Nie, mê, ek drink mossie.”

 

Ja, jy drink, sê ek. Maar nie kwaai nie, want alle lus om ‘n toespraak af te steek oor hoe hy nie moet drink nie, het my verlaat.

 

Nee regtig, verseker hy my, hy drink nie juis nie. “Net oor naweke.”

 

“Maar elke dag is mos naweek,” terg ek.

 

Gie-gie-gie, lag Dawie Adams/Eddems, hand oor die mond. Gie-gie-gie.

 

In die volgende paar minute hoor ek die res van sy verhaal. (Die tou in die apteek was lank…) Hy’t kinders, maar hulle bly in die Baai. Nee, hy gaan nie gereeld nie. Was twee jaar laas daar. Ja, hy het ‘n huis, hy hoef nie op die straat te slaap nie. Maar nee, dis nie eintlik ‘n huis nie, dis mos nou ‘n shack. Daar in ‘n lokasie by Kliprivier. En hy’s 54 (al lyk hy 154).

 

Nou waar gaan hy taxigeld kry om nou-nou huis toe te gaan?

Nie, seg Dawie, ek sal maar nog ‘n ander merrim gaan vra vir ‘n geldjie vir pap.”

 

“Is jy ‘n Boesman?” wil ek weet.

 

“Nie, ek’s ‘n Kleurling, ma’ mense noem ons mos Boesmans.”

“Nee,” verduidelik ek, “is jy ‘n Khoi-San?”

 

O. Gie-gie-gie. ‘n Regte Boesman.

 

Ja nee, hy’s ‘n Khoi-San. “Van my ma se hand se kant af. En as sy mos nou kwat geraak het, praat sy so kwe kwa kwe in haar eie taal.”

 

Net toe klim die oudste in die kar, en Dawie-die-geboertevlek-man en ek moet groet.

 

Maar die kans is baie goed dat my dogter van nou af in die apteektou sal staan terwyl ek eerder op die sypaadjie met Dawie ginnegaap…

4 antwoorde op Dawie-die-geboertevlek-man

  1. love die storie!

  2. zephur het gesê op Augustus 25, 2010

    Great

    Tannemys hoe gaan dit

  3. Heerlik gelees by jou. Gie-gie-gie…hoop die boek se blaaie vlieg onder jou vingers uit!

  4. Haai julle slaaiblare! Boek vlieg inderdaad, dankie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.