Look at Malema’s little HOP-house. And his little HOP-car… The poor, poor baby!

Februarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Dis nie net ons wat lekker met Malema en kie spot nie! Lood (skrywer van Lood se praatjies in Beeld) doen dit net so lekker! Lees die juweel wat vandag uit sy pen gekom het.

Lood se praatjies

2010-02-25 09:54

Julius Malema se informele nedersetting in die noorde van Johannesburg. Regs voor is ’n Hop-motor.Foto: SA inkomstediens (oukei, nie regtig nie)

Foto’s   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto’s Stuur vir ons jou foto’s  ·  Stuur vir ons jou foto’s

Iewers moet daar ’n spesiale soort hel vir gevalle ANC-helde wees; ’n plek waar verbitterde comrades gedwing kan word om net First Watch te drink, roomkleurige safaripakke te dra en in ongelisensieerde Hi-Aces rond te ry.

Hulle sal in Hop-huise bly, met water en elektrisiteit wat deur ’n ANC-stadsraad aan hulle “voorsien” sal word.

Hiervoor sal hulle elke ses maande ’n enorme foutiewe rekening van die Johannesburgse metroraad ontvang – wat hulle dan sal moet gaan bevraagteken by ’n nors, ongeletterde vent wat net deur ’n eenrigting-venstertjie in ’n gebou in Braamfontein met hulle sal praat.

Spesifiek sal hul vullis deur die Tshwane-metroraad verwyder word, hul riool deur Sannieshof bestuur word en hul drinkwater uit die Hartbeespoortdam kom.

Elke liewe straat sal Thabo Mbeki-rylaan heet en geen naamsverandering sal toegelaat word nie.

Jacob Zuma sal die skoolhoof wees en die hoofseun, Julius Malema, sal elke middag in ’n Aston Martin by hom opdaag om skyn-detensie te sit.

Robert McBride sal die spietkop wees, Jackie Selebi die poeliesman, John Hlophe die landdros en Carl Niehaus die predikant.

Tony Yengeni en Joe Modise sal tweedehandse motors verkoop. Die dorp sal ’n tenderraad hê waarvan al vier lede se van Shaik is, maar hulle sal net kontrakte mag toeken aan ondernemings met Cope-bande.

Brett Kebble sal keer op keer as burgemeester herkies word; en PW Botha, Chris Hani en Steve Biko sal beurte maak om snags die hel uit hulle almal te kom spook.

Toegegee, dis eintlik maar net die soort plek waarin die res van ons in elk geval woon …

Salig is die armes

Bogenoemde nedersetting sal natuurlik ’n spesiale plekkie vir jong Julius hê, laat weet Lood se gesant by die jeuglieger se mediakonferensie Maandag in Johannesburg.

Die land se voorste vriend van ’n ingenieur laat hoor toe hy besit net een motor (’n Mercedes-Benz wat R814 000 kos).

Die ander vuurwaens waarin hy soms gesien word (of in afgetrek word), het die jeugliga óf vir hom gehuur óf hy het dit by een van sy ewe arm comrades geleen.

Die Range Rover in die oprit by sy huis (sien foto) is dus iemand anders s’n?

Resekteer die ANC

In Luthuli-huis se ingangsportaal waar genoemde mediakonferensie gehou is, is ’n spoggerige muurversiering van krale wat die ANC se gunsteling-dekmantels in allerhande kleure en vorme uitbeeld: Woorde soos “Reconciliation”, “Respect” en “Freedom”.

Net jammer die “Respect” mis die “p” en nou’s dit net “Resect”. En die Reconciliation se “n” is verkeerd ­om sodat die skuinsstrepie oploop pleks van afloop.

Dalk was daar ongerymdhede met die muurbehangsel se tender?

Bulls 1, Mugabe 0

Louis Fick, ’n Suid-Afrikaanse boer in Zimbabwe, vertel vroeër vandeesweek in Pretoria hy was verlede naweek op Loftus toe die Bulls die Brumbies verwoes het.

“Dit was wonderlik om te sien. In die week gee die war veterans ons baie opdraande, maar as die Bulls en die Blou Bulle naweke wen, het ons weer nuwe moed.”

Lood se bron sê al wat dié bittereinders in Zimbabwe oor het, is mekaar, hul geloof en die span met die horings.

[email protected]

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.